Bou met vuurvaste materiale
“Party bou met goud of silwer of juwele. Ander bou weer met hout of gras of strooi.”—1 KORINTHIËRS 3:12, Die Lewende Bybel.
1, 2. (a) Wat is pynliker as om te sien hoedat ’n mens se huis tot op die grond afbrand? (b) Watter soortgelyke teleurstelling het Christenbedienaars soms?
DIT is beslis ’n treurige gesig om te sien hoe ’n pragtige huis tot op die grond afbrand. Dit sou veral droewig wees as jy daardie huis gebou het! Dit sou voorwaar pynlik wees om te sien hoe jou tyd en inspanning in rook opgaan. En tog is daardie pyn niks vergeleke met die hartseer van die Christenouer wie se seun of dogter die waarheid verlaat vir die dinge van die wêreld nie. Min dinge kan pynliker wees as om te sien hoedat ’n mens se kind geestelik ondergaan.
2 Die gevoel in die hart van sulke ouers kom dalk in ’n mate ooreen met die teleurstelling wat jy al as ’n Christenbedienaar ervaar het. Jy het moontlik ’n Bybelstudie met ’n individu begin en hom dan maande of selfs jare lank gehelp om kennis van die waarheid te verkry. Jy sien hoedat hy vergaderinge bywoon en selfs begin om aan die veldbediening deel te neem. Maar dan word hy skielik geestelik swak en onbedrywig en hervat hy moontlik selfs sy vorige slegte gebruike. Hoe teleurstellend tog!
3. Watter vrae ontstaan vanselfsprekend in sulke situasies, en waarvan hang die antwoorde af?
3 Ongelukkig gebeur dit van tyd tot tyd. Dit is dus net natuurlik om te vra: Waarom gebeur dit? Is daar enigiets wat ons daaromtrent kan doen? Hoewel die individu se harttoestand ’n faktor is,
hang die antwoorde op daardie vrae in ’n mate af van die antwoord op ’n ander vraag: Bou jy, wanneer jy ander onderrig, met vuurvaste materiale op die regte fondament? ’n Duidelike begrip van wat dit beteken en hoe om dit te doen is ’n sleutel om diegene wat ons onderrig—ons Bybelstudente en ons kinders—te help om vas te staan in die waarheid.
Wie doen die bouwerk?
4. Waarmee vergelyk Paulus die Christenbedienaar in 1 Korinthiërs 3:10, 11, en hoe?
4 Vir ’n antwoord hierop, blaai ons na 1 Korinthiërs hoofstuk 3, waar Paulus die Christenbedienaar met ’n bouer vergelyk. Ons lees: “Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ’n bekwame boumeester die fondament gelê, en ’n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Maar niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.”—Verse 10, 11.
5. (a) Watter soort bouwerk bespreek Paulus, soos blyk uit die verband? (b) In watter sin bou die
5 Van watter soort bouwerk praat Paulus? Wel, kyk na die verband: “Die gebou van God is julle.” “Julle [is] ’n tempel van God” (1 Korinthiërs 3:9, 16). Dit is dus ’n figuurlike bouwerk, een waarby mense betrokke is. Dit wil sê, die Christenbedienaar ‘bou mense’ in die sin dat hy probeer om ’n Christelike persoonlikheid in belangstellendes te bou en dissipels van hulle te maak.—Mattheüs 28:19, 20.
6, 7. (a) Op wie se verantwoordelikheid vestig Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 3:9-15 die aandag? (b) Hoe is dit nietemin ’n gesamentlike bouwerk? (c) Wat sal ’n verdere bespreking van Paulus se woorde ons help om te besef?
6 Wil dit sê dat die Christenonderrigter die volle verantwoordelikheid dra vir die wyse waarop die student ontwikkel? Glad nie. In eerste instansie is ons “medewerkers van God”. Hoewel Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 3:9-15 die aandag vestig op die verantwoordelikheid van die een wat bou, of onderrig, is dit in werklikheid ’n gesamentlike bouwerk waarby die student ook betrokke is. Ons kan dit vergelyk met die voorbereiding van ’n soldaat vir die geveg. Ander kan hom oplei en toerus, maar wanneer hy op die slagveld is, moet die soldaat veg deur toe te pas wat hy geleer het. Sy lewe hang daarvan af! Die onderrigter poog eweneens om ’n ware Christen te bou, een wat die druk en versoekings van hierdie stelsel kan weerstaan. Die student het egter ook ’n verantwoordelikheid; hy moet die dinge wat hy leer in sy lewe toepas.—Mattheüs 7:24-27; Filippense 2:12, 13.
7 Die feit bly nietemin staan dat die onderrigter ’n swaar verantwoordelikheid het. Wanneer ons Paulus se woorde verder bespreek, sal ons sien hoe belangrik dit is om God se Woord op bekwame wyse aan ander te leer ten einde waardering vir ons hemelse Vader in ander te bou.
Lê die regte fondament
8. Wat is die fondament in hierdie figuurlike bouwerk?
8 Voordat jy ’n gebou kan oprig, moet jy eers die fondament lê. Wat is dan die fondament in die bouwerk aan dissipels? Paulus antwoord: “Niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus” (1 Korinthiërs 3:11). Ja, die regte fondament waarop ons moet bou, is Jesus Christus.—Vergelyk Efesiërs 2:20-22 en 1 Petrus 2:4-6.
9. (a) Wat behels dit om Christus as ’n fondament te lê wanneer ons ander onderrig? (b) Waarom is dit belangrik dat ons Bybelstudente die hele waarheid aangaande Jesus verstaan?
9 Hoe kan ons Christus as ’n fondament lê wanneer ons ander onderrig? Ons moet, om mee te begin, die waarheid aangaande Jesus aan ander leer en hulle help om hulle lewens om daardie waarheid te bou. Dit sluit hulp aan hulle in om hulle geloof in Jesus te stel as ons Helper en die Een deur wie Jehovah die losprys voorsien (Mattheüs 20:28; 1 Johannes 2:1, 2, vgl. NW). Maar dit is nie al nie. Jesus Christus is die aangestelde hoof van die Christengemeente (Kolossense 1:18). Hy is ook die aarde se regmatige Koning, en in daardie hoedanigheid sal hy binnekort sy oorwinning by Armageddon “voltooi” (Openbaring 6:1, 2, NW). Om Christus as ’n fondament te lê, moet ons gevolglik die hele waarheid aangaande hom aan ander leer en hulle help om Jesus se rol in die ontplooiing van God se voorneme te verstaan. Waarom is dit so belangrik? As ons studente hulle geloof stel in Jesus as God se heersende Koning sal hulle nie maklik ontmoedig word deur wêreldtoestande en die probleme van die daaglikse lewe nie.—Jesaja 28:16; 1 Petrus 2:6-8.
10. (a) Wat nog is volgens Efesiërs 3:17-19 nodig om Christus as ’n fondament te lê? (b) Hoe laat ons Christus ‘in ons harte woon’?
10 Maar om Christus as ’n fondament te lê, behels meer. Ons moet dieselfde doelwit as die apostel Paulus hê. Sy gebed vir die Efesiërs was dat “Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrondves is [op die fondament], en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God” (Efesiërs 3:17-19, vgl. NW). Let op dat Christus ‘in ons harte moet woon’ as ons ‘op die fondament gewortel en gegrond’ wil wees. Wat beteken dit? Wel, Christus ‘woon in ons harte’ wanneer ons toelaat dat sy voorbeeld en leerstellings ons gevoelens en dade beïnvloed.
11, 12. (a) Hoe kan ons ander help om Christus ‘in hulle harte te laat woon’? (b) Wat meer is nodig as om net van Jesus te leer?
11 Hoe kan ons diegene wat ons onderrig, help om Christus ‘in hulle harte te laat woon’? Die oordra van kennis is noodsaaklik, want hulle moet “begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte” van die waarheid van God se Woord is, veral soos dit in verband staan met die lewe en leerstellings van Jesus Christus. Ons wil hê dat ons studente “die sin van Christus” moet kry en hom deeglik as ’n lewende, gevoelvolle persoon moet ken (1 Korinthiërs 2:16). Dit sal hulle harte roer.
12 Maar let op dat Paulus ook gesê het: “En die liefde van Christus . . . ken [Grieks, gnonai’, om “prakties, deur ondervinding” te ken] wat die kennis oortref.” Ons kan Christus se “liefde” ken deur te leer wat die Bybel ons meedeel oor sy lewensweg en die wyse waarop hy ander behandel het. Maar dit is deur Jesus as persoon na te volg dat ons waarlik sy gevoelens kan waardeer. Dit is op hierdie manier, deur ondervinding, dat ons “die liefde van Christus . . . wat die kennis oortref”, leer ken.
13, 14. (a) Hoe kan ons ons studente help om Jesus se eienskappe na te volg? (b) Waarom sal dit ons studente help om ’n goeie verhouding met Jehovah te verkry as hulle probeer om soos Jesus te wees? (c) Waaraan benewens die regte fondament moet ons aandag skenk?
13 Vestig die aandag op Jesus se eienskappe wanneer jy die fondament lê—sy liefde (Johannes 15:13, 14), hartlikheid en gevoel (Mattheüs 11:28-30), nederigheid (Johannes 13:1-15) en medelye (Markus 6:30-34), om ’n paar te noem. Spoor jou student aan om hierdie eienskappe in sy lewenswyse na te volg. Dit sal ’n goeie fondament voorsien waarop ander belangrike eienskappe gebou kan word. Wanneer jy Bybelverhale oor Jesus bespreek, sal dit soms nodig wees om stil te staan en te vra: ‘Watter eienskap openbaar Jesus hier? Hoe kan jy hierdie eienskap in ’n groter mate in jou lewe openbaar?’ Verduidelik vir die Bybelstudent dat as hy Jesus se persoonlikheid navolg, dit hom sal help om ’n sterk, intieme verhouding met Jehovah te verkry. Hoe so? Dit is omdat Jesus sy Vader se persoonlikheid so volmaak weerspieël het dat ons in werklikheid vir Jehovah self navolg wanneer ons probeer om Jesus na te volg!—Johannes 14:9.
14 Dit is belangrik om die regte fondament te hê. Maar is dit genoeg? Paulus antwoord: “Maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou.” Ja, wat van die materiale wat ons gebruik om die gebou op te rig wat op die fondament gaan rus?
Die vuurvaste materiale
15, 16. (a) Watter teenstelling tref Paulus klaarblyklik in 1 Korinthiërs 3:12? (b) Watter vraag word gestel met die oog op Paulus se gelykenis?
15 Dit bring ons by vers 12 van 1 Korinthiërs hoofstuk 3, waar Paulus verskeie boumateriale bespreek: “En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels.” Dit is ’n groot verskeidenheid uiteenlopende materiale! Doen Paulus aan die hand dat ons ’n bietjie van elk in ons studente moet inbou? Klaarblyklik nie. Kyk hoe stel ander vertalings dit: “Party bou met goud of silwer of juwele. Ander bou weer met hout of gras of strooi” (Die Lewende Bybel). “Op hierdie fondament kan jy met goud, silwer en juwele bou, of met hout, gras en strooi” (The Jerusalem Bible). Paulus tref klaarblyklik ’n teenstelling tussen twee soorte geboue. Enersyds is daar as ’t ware ’n pragtige paleis wat met goud, silwer en kosbare stene versier is. In teenstelling hiermee is daar ’n grasdakhut wat gemaak is van houtplanke of -pale wat mure van droë gras wat met modder gemeng is, ondersteun.
16 Met die oog op Paulus se gelykenis is die vraag nou: Bou jy “paleise” of “hutte” wanneer jy ander onderrig? Die rede waarom sommige jongmense en nuwelinge afdwaal, is dalk dat nie almal met dieselfde materiale gebou word nie. Wat is die verskil? Die situasie in die gemeente in antieke Korinthe lig die verskil toe wanneer daar met vuurvaste en brandbare materiale gebou word.
17, 18. (a) Watter ernstige probleem het in die gemeente in antieke Korinthe bestaan, en hoe het Paulus sake reggestel? (b) Wat is gevolglik ’n sleutelfaktor om te bepaal of ons met “goud” of “hooi” bou?
17 Paulus het sy deel gedoen deur die regte fondament te lê, maar sommige in Korinthe het klaarblyklik daarop voortgebou met ‘hout, hooi en stoppels’—swak materiale wat eienskappe voorstel wat nie duursaam is nie (1 Korinthiërs 3:12). Paulus moes gevolglik aan die broers aldaar skryf: “Daar [is] twiste onder julle . . . Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Cefas, en ek van Christus. Is Christus verdeel?” (1 Korinthiërs 1:11-13). Die lede van die gemeente was dus in faksies verdeel. En waarom? Omdat hulle te veel belangrikheid aan sekere mense geheg het. Paulus het hulle reggehelp en verduidelik: “Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? . . . Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.”—1 Korinthiërs 3:5-7.
18 Kortom, die probleem was die volgende: Omdat hulle te veel belangrikheid aan die navolging van mense geheg het, het sommige lede van die gemeente in Korinthe nie ’n sterk, intieme verhouding met Jehovah gehad nie. Dit is ’n sleutelfaktor om te bepaal of ons met “goud” of “hooi” bou, of ons as ’t ware “paleise” of “hutte” bou.
19. (a) Hoe kan die onderrigter onopsetlik te veel aandag op homself of op ’n ander mens vestig? (b) Wat moet ons probeer doen as ons met ‘goud, silwer en kosbare stene’ wil bou?
19 Ons kan ’n waardevolle les daaruit leer. Sommige sal sê: ‘Maar ek leer ander nie om ’n mens te volg nie.’ Maar dit kan maklik gebeur al bedoel ons nie om dit te doen nie. Wanneer ’n student byvoorbeeld vrae stel en ons herhaaldelik sê: ‘Broer (of Suster) So-en-so sê . . .’, vestig ons dan nie onopsetlik dalk te veel aandag op ’n onvolmaakte man of vrou nie? Of wanneer vrae geopper word, en ons sê: ‘Wel, ek is nie seker nie, maar ek sou sê . . .’, vestig ons dalk nie onbewus te veel aandag op onsself nie? Onthou, dit is baie maklik vir ’n student om ’n hoë dunk van sy onderrigter te kry. (Vergelyk Handelinge 10:25, 26 en Openbaring 19:10.) As ons “paleise” wil bou, moet ons oppas dat ons nie volgelinge van mense bou nie. Ons moet eerder ons studente help om ’n intieme verhouding met Jehovah te verkry. Te dien einde moet ons met ‘goud, silwer en kosbare stene’ bou. Wat stel dit voor?
20. Wat stel die ‘goud, silwer en kosbare stene’ voor? (Spreuke 3:13-15)
20 As ons tekste soos Psalm 19:8-12, Spreuke 2:1-6 en 1 Petrus 1:6, 7 vergelyk, vind ons dat goud, silwer en kosbare stene soms figuurlik gebruik word om eienskappe soos sterk geloof, godvrugtige wysheid, geestelike insig, lojaliteit en liefdevolle waardering vir Jehovah en sy wette voor te stel. Sulke eienskappe is onontbeerlik vir ’n sterk, intieme verhouding met Jehovah God. Hierdie eienskappe maak die persoonlikheidstruktuur uit wat ons probeer bou in diegene wat ons onderrig. Bou jy op hierdie manier?
Sal dit die “vuur” deurstaan?
21. (a) Waarom is dit so belangrik dat ons duursame eienskappe bou in diegene wat ons onderrig? (b) Wat stel die “vuur” voor?
21 Waarom is dit so belangrik dat ons help om sulke duursame eienskappe te bou in diegene wat ons onderrig? Die apostel Paulus verduidelik voorts: “Elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is” (1 Korinthiërs 3:13). Die “vuur” sal dus bewys presies op watter manier ons gebou het. Wat stel die “vuur” hier voor? Gewelddadige, fisiese vervolging? Klaarblyklik nie. Want let op dat “elkeen se werk” aan die “vuur” onderwerp gaan word. Nie alle Christene word op gewelddadige wyse vervolg nie. Die “vuur” stel dus enige van die vorme van druk of versoekings voor wat ’n mens se geestelikheid kan vernietig.
22. Wat is sommige van die vurige beproewinge wat party kan ondervind?
22 Vir sommige kan die “vuur” kom in die vorm van die neutraliteitsgeskil. Daar kan byvoorbeeld druk op party uitgeoefen word om aan politieke bedrywighede deel te neem as hulle nie tronk toe wil gaan nie (Johannes 15:19). Soms kan die “vuur” subtieler wees. Dit is miskien die versoeking om na rolprente of TV-programme te kyk wat seks en geweld uitbeeld. Vir jong Christene kan die “vuur” kom in die vorm van blootstelling aan seksuele provokasie, uitnodigings om dwelms te gebruik of die druk om deel te hê aan die wêreld se verdorwe vermaak. Die natuurlike begeerte om deur ander aanvaar te word, kan geweldige druk op jong Christene uitoefen om te konformeer.—1 Johannes 2:16.
23. (a) Watter vrae word geopper oor hoe studente in sulke beproewinge gaan vaar, en waarvan hang die antwoorde af? (b) Wat gaan in die volgende artikel bespreek word?
23 Die meeste ware Christene het sulke vurige beproewinge met welslae deurstaan. Ander het ongelukkig nie. Ons moet onsself gevolglik afvra: Hoe sal diegene wat ons onderrig het, vaar wanneer hulle voor die “vuur” te staan kom? Sal hulle soos daardie pragtige paleis wees wat met vuurvaste goud, silwer en kosbare stene versier is, en vasstaan? Of sal hulle soos daardie hut wees wat van hout, hooi en stoppels gemaak is, en verbrand? Baie hang natuurlik van die student af. Maar baie hang ook van ons as onderrigters af—hoe ons gebou het. Hierdie vraag moet dus nog beantwoord word: Hoe bou jy sulke duursame eienskappe in diegene wat jy onderrig? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.
Kan jy verduidelik:
◻ Hoe ’n gesamentlike bouwerk plaasvind wanneer ander onderrig word?
◻ Hoe jy Christus as ’n “fondament” lê?
◻ Wat ons kan leer uit wat in die gemeente in antieke Korinthe gebeur het?
◻ Wat die “vuur” is, en hoe dit die belangrikheid daarvan beklemtoon om duursame eienskappe in ander te bou?
Christenbedienaar ‘mense’?
[Prent op bladsy 11]
Bou jy met vuurvaste of brandbare materiale wanneer jy ander onderrig?