Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 8/1 bl. 5-7
  • Help jou kinders om na aan God te wees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Help jou kinders om na aan God te wees
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Van kleins af”
  • Maak God ’n deel van hulle lewens
  • Ons kinders—’n kosbare erfenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Hoe om jou kinders groot te maak sodat hulle Jehovah liefhet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Hoe om ’n geestelike sterk gesin te bou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 8/1 bl. 5-7

Help jou kinders om na aan God te wees

DIE Bybelskrywers beskryf die eerste 30 jaar van Jesus se lewe met minder as duisend woorde. Maar hulle lewer met tienduisende woorde verslag oor die laaste drie-en-’n-half jaar. Dit is omdat Jesus se openbare bediening—nie sy geboorte, kinderjare en jeug nie—die hoofonderwerp van die Evangelie verslae was. Die Bybel se kort verwysings na Jesus se kinderjare toon nietemin duidelik dat selfs jong persone na aan God kan wees.

As ons ons Bybels oopslaan by hoofstuk 2 van Lukas se verslag vind ons die twaalfjarige Jesus in die tempel waar hy “in die midde van die leraars” van God se wet sit. Hy het ‘na hulle geluister en hulle uitgevra’, maar hulle ook verbaas met “sy verstand en sy antwoorde” (Lukas 2:46, 47). Ons lees verder dat hy ook in wysheid en insig toegeneem het namate hy liggaamlik gegroei het.—Lukas 2:40, 52.

Hoe kan ons hierdie geestelike neiging van Jesus verklaar? Ten minste ’n deel van die eer kom sy ouers toe. As Jode was hulle onder verpligting om Jehovah se raad oor kinderopvoeding te volg. God se profeet Moses het gesê: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 6:6, 7). God het ongetwyfeld daarvoor gesorg dat sy Seun gebore word in ’n gesin wat hierdie raad sou volg. Ouers moet vandag dieselfde belangstelling in hulle kinders toon. Help jy hulle om Jehovah te ken en hom te wil dien?

“Van kleins af”

Geestelike opleiding is nie iets wat met reg uitgestel kan word totdat kinders ouer is nie. Timotheüs het byvoorbeeld ’n besondere Christen geword. Maar hy is “van kleins af” in die heilige Skrifte onderrig (2 Timotheüs 3:15). In ooreenstemming hiermee is daar sommige Christenmoeders wat hardop om Jehovah se seën vra voordat hulle vir hulle babas ’n bottel gee. Dit is geen wonder dat hierdie babas gou begin om na sulke gebede “amen” te sê nie! Dit is ’n klein, eerste stap om hulle te help om waardering aan te kweek vir al die geestelike en materiële gawes wat hulle van God ontvang.

Michael en Sephorah (onderskeidelik sewe en agt jaar oud) het die gevolge van goeie ouerlike onderrig getoon. Toe hulle en hulle ouers eenkeer op reis gegaan het, het hulle die inisiatief geneem en God se leiding en beskerming gevra. En toe hulle hulle bestemming bereik het, het die kinders onthou om Jehovah vir ’n veilige aankoms te dank.

Christian en Eric (drie en ses jaar oud) was saam met hulle ouers in ’n park. Soos soms met kinders gebeur, het hulle verdwaal. Wanneer het die ouers hulle gevind? Net nadat die seuntjies tot Jehovah gebid het om hulle te help!

Kinders kan op baie maniere met sukses opgelei word terwyl hulle baie jonk is. By ’n groot Christenbyeenkoms in België is driejarige Gino na die verhoog gebring en op ’n hoë stoel gesit. Die spreker het hom gevra om die name van al 66 boeke van die Bybel vir die gehoor voor te dra. Kan jy dit doen? Wel, Gino kon! Hy het aangehou om onder sy ouers se opleiding vooruitgang te maak en vandag dien hy as ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies. Nie alle kinders het natuurlik dieselfde leervermoë nie, maar dit lig wel die voordeel van geestelike onderrig toe.

’n Mens kan jong kinders selfs help om Bybelleerstellings te verstaan. By ’n kleuterskool in die Groothertogdom van Luxemburg het vierjarige Kai geweier om saam met die ander kinders te bid. Toe hy om ’n rede gevra is, het hy geantwoord: “Ons glo nie in ’n driehoekige god nie!” Kai se begrip van die Katolieke drie-enige godheid was weliswaar nie heeltemal akkuraat nie, maar dit was genoeg om hom te laat besef dat hy dit nie moet aanbid nie!—Markus 12:29.

Maak God ’n deel van hulle lewens

Kinders het somtyds probleme. In plaas daarvan om stil te bly daaroor, moet hulle hul ouers in hulle vertroue neem. Maar die kinders moet ook aangespoor word om ‘hulle sorg op Jehovah te werp’ (Psalm 55:23). Hulle kan gehelp word om te besef dat Jehovah hulle versoeke nie sal minag nie, want sy Seun, Jesus Christus, het gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie” (Markus 10:14). En kinders moet geleer word om deur Jesus Christus tot God te bid.—Johannes 14:6.

Wanneer kinders leer om op Jehovah te vertrou vir hulp en die gevolge daarvan sien, het dit dikwels ’n dramatiese uitwerking op hulle geloof. Jacquy, ’n jong man wat nou by een van die Wagtoringgenootskap se takkantore dien, vertel van iets wat gebeur het toe hy 14 jaar oud was: “Ons kringbyeenkoms was daardie jaar gereël vir die naweek net voor die eindeksamen. Die probleem was dat ons onderwyser die hersieningsmateriaal eers Vrydag vir ons gegee het. Nadat ek die saak met my ouers bespreek het, het ons besluit dat ek nie die byeenkomsprogram moes misloop nie, al sou dit beteken dat ek baie min tyd sou hê om te leer [Hebreërs 10:24, 25]. Ek het tot Jehovah gebid om my te help met my pogings om na my beste vermoë vir die eksamen voor te berei.

“Maandagoggend was al die leerlinge baie senuweeagtig omdat die eksamen vir die eerste keer mondeling sou wees. Ek het weer tot Jehovah gebid om my te help. Wat het gebeur? Ek het die hoogste punte onder al die leerlinge behaal vir die vakke wat daardie dag behandel is. Een eksaminator het my selfs verder ondervra en gesê: ‘Ek wil sien presies hoe ver hy kan gaan’. Tog kon ek al sy vrae beantwoord.”

Wat het Jacquy uit hierdie goeie verloop van sake geleer? “Ek het nog nader aan Jehovah gekom deur sy hulp te ondervind. Ek het geleer dat ons oor niks besorg moet wees nie, maar dat ons ons met elke vorm van gebed en smeking tot Jehovah moet wend.”—Filippense 4:6, 7.

Ja, dit is belangrik dat ons ons jongmense help om Jehovah te “ken”, om hom ’n deel van hulle daaglikse lewe te maak. Sal dit nie vir hulle ’n baie groter aansporing wees om aan te hou om Jehovah getrou te dien as hulle sien dat hy hulle bystaan, as wat dit sou wees as hulle net van hom sou hoor en lees nie? Dit sal natuurlik nie maklik wees om hulle op hierdie manier op te lei nie. Maar jongmense sal nie gou die entoesiasme en pligsgetrouheid vergeet waarmee hulle ouers hulle geestelike erfenis van kennis van Jehovah aan hulle oorgedra het nie. Jehovah sal ook nie sulke getroue pogings vergeet nie (Hebreërs 6:10-12). Laat diegene van ons wat ouers is ons dan inspan om ons jongmense te help om die beloning te ontvang wat ons hemelse Vader beloof aan diegene wat hom ken en deur hom geken word—“die ewige lewe”.—Johannes 17:3.

[Venster op bladsy 7]

Woorde wat die hart verbly

AGTJARIGE Debora se vader het vir haar gevra: “Bid jy tot Jehovah?” Haar antwoord: “Ja, baie.” “Wanneer?” “Wanneer ek alleen is.” “Waarom dan?” “Sodat niemand my pla nie!”

’n Moeder het vir sesjarige Laurent gevra: “Wil jy hê ek moet vannag die lig in jou kamer aan los?” (Laurent was bang vir die donker en hulle het gesê dat hy tot Jehovah oor die saak moes bid.) “Nee, ek is nie meer bang nie, want Jehovah is by my.”

‘n Dogtertjie van ses jaar het in gebed gesê: “Dankie vir die opstandingshoop, Jehovah. Dit is ’n baie goeie idee!” In ’n ander gebed het sy gesê: “Jehovah, wanneer ons in die Paradys is, sal U baie werk hier in ons land hê, want dit reën so verskriklik baie hier.”

Driejarige Udo het gebid: “Asseblief, Jehovah God, laat my pappie die Bybel lees sodat hy nie by Armageddon sal sterf nie!” Die deur van die seuntjie se slaapkamer was oop en sy vader het die gebed gehoor. Dit het sy laaste weerstand teen die waarheid afgebreek, en hy is vandag ’n getroue dienaar van Jehovah.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel