Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 7/1 bl. 24-27
  • Hoe om Christelike persoonlikhede in ons kinders te bou

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om Christelike persoonlikhede in ons kinders te bou
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die fondament
  • Die gebou
  • ’n Suksesvolle bouwerk
  • Die vuur
  • Die beloning
  • Bou met vuurvaste materiale
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Sal jou werk die vuur deurstaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • ’n Boodskap van vertroosting word in Italië verkondig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 7/1 bl. 24-27

Hoe om Christelike persoonlikhede in ons kinders te bou

WANDA se ma, wie se man haar verlaat het, het hard daaraan gewerk om Christelike eienskappe in haar dogter te bou. Toe Wanda 12 was, is hierdie opleiding op die proef gestel. Wanda, en ’n jonger broer en suster, was verplig om haar ma te verlaat en ’n ruk lank by haar pa te gaan woon. Haar pa was nie ’n gelowige nie, en die vraag was dus: Hoe sou Wanda optree wanneer haar ma nie daar was om haar dop te hou nie?

Daar kom ’n tyd wanneer alle Christenouers hulle kinders hul eie besluite moet laat neem, wat hulle eie geloof op die proef stel. Die kinders word dalk van hulle Christenouers geskei, soos met Wanda gebeur het. Hulle kan by die skool te staan kom voor portuurdwang om verkeerd te doen. Of hulle moet geweldige versoekinge trotseer. Christenouers hoop en bid dat wanneer daardie tyd aanbreek hulle kinders Christelike persoonlikhede sal hê wat sterk genoeg is om die toets te weerstaan.

Hoe kan ouers sterk Christelike eienskappe in hulle kinders bou? Voordat ons uitvind wat met Wanda gebeur het, kan ons gerus eers kyk hoe die Bybel ons help om daardie vraag te beantwoord. Die grondslag vir die antwoord word in hierdie woorde van die apostel Paulus aan die Christene in Korinthe gevind: “Niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.”—1 Korinthiërs 3:11-13.

Die fondament

Waarom het Paulus hierdie woorde geskryf? Hy het ’n program begin om Christelike persoonlikhede in Korinthe te bou, maar die program het probleme opgelewer. Paulus se bouprogram het natuurlik niks met eie vleeslike kinders te doen gehad nie. Dit het betrekking gehad op diegene wat deur sy prediking Christene geword het. Maar hy het aan hulle as sy geestelike kinders gedink, en wat hy gesê het, is ook vir ouers van waarde.—1 Korinthiërs 4:15.

Paulus het vroeër na Korinthe gekom en ’n Christengemeente daar gestig. Diegene wat aan sy prediking gehoor gegee het, het groot veranderinge in hulle persoonlikhede aangebring. Party van hulle was voorheen onsedelike persone, diewe, afgodedienaars en dronkaards (1 Korinthiërs 6:9-11). Maar hulle kon hulle denkwyse na ’n Christelike denkwyse verander, omdat Paulus as ’t ware ’n goeie fondament gelê het. Wat was daardie fondament? “Niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.”—1 Korinthiërs 3:11.

Hoe het Paulus hierdie fondament gelê terwyl hy hierdie nuwe gelowiges in Korinthe geleer het? Hy sê vir ons: “Toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie, want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Korinthiërs 2:1, 2; Handelinge 18:5). Hy het nie die aandag op homself gevestig of die waarheid opgesmuk om ’n oppervlakkige, intellektuele aantrekkingskrag daaraan te verleen nie. Hy het eerder die aandag op Jesus Christus gevestig en op die manier waarop Jesus deur God gebruik is.

Trouens, Jesus is ’n wonderbaarlike sterk fondament vir Christelike bouwerk. Hy het die losprysoffer voorsien. Hy is nou ’n hemelse Koning en sal binnekort in hierdie hoedanigheid God se vyande by Armageddon vernietig. Dan sal hy God se geregtigheid gedurende ’n duisendjarige heerskappy toepas, en as God se Hoëpriester sal hy die mensdom geleidelik tot volmaaktheid ophef. Watter ander fondament sou ’n mens wou hê?

Wanneer ons gevolglik Christelike persoonlikhede in ons kinders bou, sal dit goed wees as ons Paulus navolg en seker maak dat hulle hierdie belangrike feite waardeer. Ons moet ons kinders van kleins af leer om Jesus lief te hê vir wat hy al vir ons gedoen het en steeds vir ons doen.—1 Petrus 1:8.

Die gebou

Hoewel Paulus hierdie goeie fondament gelê het, het die bouwerk egter ná sy vertrek etlike terugslae gehad (1 Korinthiërs 3:10). Die probleem was nie anders as wat baie ouers vandag ondervind nie. Hulle maak hulle kinders in die Christelike geloof groot en hulle is seker dat die kinders verstaan wat die waarheid is. Maar wanneer die kinders groter word, dryf hulle weg of verwerp hulle die geloof. Waarom gebeur dit? Dit is dikwels as gevolg van die boumateriaal wat gebruik is.

Paulus het gesê dat persoonlikhede gebou kan word met kosbare stowwe: goud, silwer en kosbare stene. Of hulle kan gebou word met goedkoop stowwe: hout, hooi en stoppels (1 Korinthiërs 3:12). As ’n bouer goud, silwer en kosbare stene gebruik, rig hy sekerlik ’n voortreflike struktuur, een van hoë gehalte, op. Maar die bouer wat hout, hooi en stoppels gebruik, bou net iets wat tydelik, verganklik en goedkoop is.

Dit lyk asof die geestelike stowwe wat in Korinthe gebruik is van ’n swak gehalte was. Sommige wat die bouwerk op Paulus se fondament voortgesit het, het met goedkoop stowwe gebou en nie sterk, duursame strukture opgerig nie. Die Korinthiërs het mense begin navolg, en daar was verdeeldheid, jaloesie en twis onder hulle (1 Korinthiërs 1:10-12; 3:1-4). Hoe kon hulle dit vermy het? Deur beter gehalte en duursame stowwe te gebruik.

Hierdie stowwe verteenwoordig daardie waardevolle eienskappe wat ’n noodsaaklike deel van ’n Christen se persoonlikheid is. Watter eienskappe? Die apostel Petrus het een gemeld: “Die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud” (1 Petrus 1:6, 7). Koning Salomo het nog twee genoem: wysheid en onderskeidingsvermoë, want die verkryging daarvan “is beter as dié van silwer” (Spreuke 3:13-15, vgl. NW). En koning Dawid het ons daaraan herinner dat die vrees van Jehovah en ’n waardering vir sy gebooie “begeerliker as goud” is.—Psalm 19:10, 11.

Hierdie en ander waardevolle stowwe kan in Christelike persoonlikhede gebou word om ons kinders te help om deur toetse staande te bly. Hoe kan ons egter seker maak dat ons met sulke stowwe bou? Deur ag te gee op harte, ons kinders s’n sowel as ons eie.

’n Suksesvolle bouwerk

Die aandeel wat ’n ouer se hart in hierdie bouwerk het, word gesien uit die opdrag wat Jehovah aan ouers in die eertydse nasie Israel gegee het: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees.” Toe het hy verder gesê: “En jy moet dit jou kinders inskerp” (Deuteronomium 6:6, 7). Daarom moet ons onsself eers opbou, vóór ons ander kan opbou. Ons kinders moet in die dinge wat ons sê en doen, kan sien dat ons persoonlikheid van die regte stowwe gemaak is.—Kolossense 3:9, 10.

Dan moet ons onderrigting hulle hart bereik. Jesus, die suksesvolste bouer van Christelike persoonlikhede, het harte deur die gebruik van illustrasies en vrae bereik (Mattheüs 17:24-27; Markus 13:34). Ouers vind dat hierdie selfde onderrigtingstegnieke baie doeltreffend is. Hulle gebruik illustrasies om Christelike waarhede by die hart van hulle jong kinders te laat ingang vind, en hulle gebruik deurdagte vrae om uit te vind wat hulle ouer kinders werklik dink en hoe hulle in hul hart redeneer.—Spreuke 20:5.

Toe Moses in die Israeliete ’n begeerte probeer opbou het om getrou te bly, het hy gesê: “Hou die gebooie van die HERE en sy insettinge . . . dat dit met jou goed kan gaan” (Deuteronomium 10:13). Ouers sal eweneens sukses behaal as hulle nie net God se standaarde duidelik aan hulle kinders uiteensit nie, maar hulle ook oortuig dat dinge soos eerlikheid, sedelike reinheid en goeie omgang in hulle eie belang is.

Laastens het Jesus gesê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Wanneer kinders Jehovah op ’n vroeë ouderdom persoonlik leer ken, leer om met hom oor hulle probleme te praat en sien hoe hy hulle gebede verhoor, ontwikkel hulle die belangrikste deel van ’n Christelike persoonlikheid: ’n persoonlike verhouding met hulle Skepper.

Die vuur

Paulus het gevind dat wêreldse neigings, soos ’n sektegees en verdeeldheid, posgevat het toe die bouwerk in Korinthe nie behoorlik gedoen is nie. Dit was gevaarlik omdat, soos hy verduidelik het: ‘die vuur elkeen se werk op die proef sal stel’.—1 Korinthiërs 3:13.

Wat is die vuur? Dit kan enige toets wees wat Satan oor ’n Christen bring. Dit kan portuurdwang, vleeslike versoeking, materialisme, vervolging en selfs die ondermynende invloed van twyfel wees. Sulke toetse sal beslis kom. “Elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word.” Verstandige ouers bou hulle kinders se persoonlikhede in die verwagting dat die kinders getoets gaan word. Maar hulle is vol vertroue dat hulle kinders met Jehovah se hulp deur die toetse staande sal bly. As ouers hierdie gesindheid het, sal hulle grootliks geseën word.

Die beloning

Paulus het gesê: “As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang” (1 Korinthiërs 3:14). Die apostel Paulus het ’n beloning ontvang. Hy het aan Christene in die stad Thessalonika, waar hy ook bouwerk gedoen het, geskryf: “Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms? Want julle is ons eer en blydskap.”—1 Thessalonicense 2:19, 20.

Wanda se moeder het hierdie beloning gehad. Toe 12-jarige Wanda van haar moeder geskei is, het sy haarself in die begin aan die slaap gehuil. Toe het sy haar moeder se raad onthou om haar probleme met Jehovah in gebed te bespreek. Sy het gebid en het weldra daaraan gedink om deur die telefoonboek te blaai en te kyk of daar enige Getuies van Jehovah naby hulle gebly het. Sy het met hulle in aanraking gekom en uitgevind dat daar ’n gesin onder in dieselfde straat as haar pa gewoon het. “Was ek bly!” sê Wanda.

Met die aanmoediging van hierdie gesin het Wanda haar jonger broer en suster gehelp om weer aan Christelike bedrywighede te begin deelneem. “Dit was my verantwoordelikheid om ons vir die vergaderinge gereed te kry”, verduidelik sy. “Ek moes ons klere was, ons hare kam en seker maak dat ons skoon en netjies was.” Dit was harde werk vir ’n jong dogter, maar sy het dit gedoen. Haar vader het hulle eenkeer probeer verhinder om vergaderinge by te woon, maar die kinders het by hom gepleit, en hy het hulle laat gaan.

Later is die kinders met hulle moeder herenig. Toe Wanda 15 was, het sy ’n gedoopte Christin geword, en het uiteindelik gesê dat sy ’n sendeling wil word. Ja, die werk van Wanda se moeder het die toets deurstaan. Sy het die beloning gehad om te sien hoe haar dogter op haar eie ’n ferm standpunt vir die waarheid inneem. Mag alle Christenouers soortgelyke sukses behaal in hulle werk om Christelike persoonlikhede in hulle kinders te bou.

[Venster op bladsy 27]

Soos hierdie artikel toon, probeer ouers hard om Christelike persoonlikhede in hulle kinders te bou, maar die kinders het self ook ’n verantwoordelikheid. Hulle moet, soos alle Christene, in hulleself ’n bouwerk doen (Efesiërs 4:22-24). Ofskoon ouers ’n wonderlike geleentheid het om hiermee te help, moet elke persoon uiteindelik self besluit of hy Jehovah gaan dien.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel