God se verenigde “magtige nasie” vul die aarde
“Die kleinste sal ’n geslag word en die geringste ’n magtige nasie. Ek, die HERE, sal dit op die regte tyd gou laat kom.”—JESAJA 60:22.
1, 2. (a) Wat het van wêreldeenheid en -orde geword? (b) Wat is besig om met Jehovah se knegte te gebeur te midde van ’n ontaarde wêreld?
INGELIGTE mense is dit eens dat hierdie wêreld al hoe meer verdeeld en wanordelik raak. ’n Hoofartikel in The New York Times het gesê: “Politieke geweld brei oor die aarde uit soos selde tevore. . . . Daar is nou so baie geweld dat ’n mens kwalik kan bybly.” Dit het opgemerk: “Die feit is dat niemand meer die wêreld bestuur en ’n skyn van orde bewaar nie.” Maar hierdie agteruitgang is presies wat God se Woord vir ons dag voorspel het.—2 Timotheüs 3:1-5, 13; Mattheüs 24:3-13.
2 Vir Jehovah se verenigde knegte is die toenemende wanorde ’n gewisse teken dat ’n ou stelsel ten einde loop terwyl ’n nuwe stelsel nader kom (Lukas 21:28). En tog, te midde van ’n wêreld wat sy ontaarde god, Satan die Duiwel, al hoe meer naboots, is Jehovah besig om sy volk te reinig en na ’n skitterende Nuwe Orde te lei. Hy versamel hulle na sy reine aanbidding, wat verhoog is asof op ’n berg, ver verhewe bo alle ander vorme van aanbidding. Diegene wat hulle na hierdie verenigde aanbidding van die ware God wend, sê dan aan ander: “Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel” (Jesaja 2:2, 3). Diegene wat in hierdie verenigde aanbidding ingebring is, sien met afwagting uit na ‘nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid sal woon’.—2 Petrus 3:13.
Die skeiding van “skape” en “bokke”
3, 4. (a) Wat het sedert 1914 plaasgevind? (b) Hoe word mense van mekaar geskei vir oorlewing?
3 Volgens God se rooster van Bybelprofesie is die “nuwe hemele” (die hemelse Koninkryk van God onder die heerskappy van Christus) in die kritieke jaar 1914 opgerig. Sedertdien is die aanwysing van die 144 000 medeheersers van die “nuwe hemele” merendeels voltooi (Openbaring 14:1-4). Nou roep Jehovah mense om aardse onderdane van daardie Koninkryk te wees. Hulle sal as oorlewendes “uit die groot verdrukking kom” en onder Koninkrykstoesig begin om ’n regverdige nuwe orde te bou.—Openbaring 7:9, 14; Mattheüs 14:21.
4 Jesus het hierdie versamelwerk met hierdie woorde voorspel: “Wanneer die Seun van die mens [Christus] in sy heerlikheid [in hemelse Koninkryksmag] kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.” Met watter gevolg? Jesus het gesê: “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is [die wat soos skape is], sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beerf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. . . . Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand [die wat soos bokke is] sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur [ewige vernietiging] wat berei is vir die duiwel en sy engele . . . En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.”—Mattheüs 25:31-46.
5. Hoe word Jehovah se barmhartigheid nou geopenbaar?
5 Jehovah is nietemin ’n barmhartige, liefdevolle God. “Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9). Daarom is dit God se wil dat sy knegte die boodskap van hoop op die ewige lewe op ’n regverdige Nuwe Orde verkondig voordat hy ’n einde maak aan hierdie verdeelde, strydende wêreld. Sy Seun het gevolglik gesê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:14.
6. Wie gebruik Jehovah in Koninkrykspredikingswerk?
6 Wie moet hierdie verkondiging van die Koninkryk doen voordat die einde kom? Dit spreek vanself dat Jehovah nie persone sal gebruik wat hom nie wil dien nie. Die persone wat hy in die Koninkrykspredikingswerk gebruik, is die wat hulle gewillig aan hom onderwerp. Dit is met betrekking tot die oorblyfsel van geestelike Israel dat die profesie vervul is: “Ek sal hulle bymekaarbring soos skape in ’n kraal” (Miga 2:12, NAV). Die “ander skape” deel nou hulle eenheid (Johannes 10:16). Saam vorm hulle die internasionaal verenigde getuies van Jehovah. Onder hulle is oues en jonges, manne en vroue, want die geïnspireerde psalmis sê: “Halleluja! . . . jongelinge en ook jongedogters, oues saam met die jonges—laat hulle die Naam van die HERE loof!” “Die vroue wat die goeie tyding gebring het, was ’n groot skare.”—Psalm 68:12; 148:1, 12, 13.
Eendragtige prediking
7. (a) Watter eenheid geniet Jehovah se Getuies? (b) Hoe kan ons seker wees dat hierdie eenheid bewaar sal word?
7 Jehovah, Jesus Christus en die heilige engele sorg daarvoor dat die aardse organisasie van Koninkrykspredikers God se boodskap eendragtiglik verkondig (Mattheüs 28:19, 20; Johannes 14:26; Openbaring 14:6, 7). Jehovah se Getuies doen dus wat God se geïnspireerde Woord sê. Hulle is heeltemal “verenig . . . in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening”. ‘Eendragtiglik uit een mond verheerlik hulle die God en Vader van hulle Here Jesus Christus.’—1 Korinthiërs 1:10; Romeine 15:6.
8. Wat is ’n sleutel tot eenheid van aanbidding?
8 Om hierdie eenheid ten opsigte van gesindheid, voorneme en prediking te bereik, bestudeer Jehovah se Getuies gereeld God se Woord van waarheid. Hulle doen dit privaat, by jaarlikse byeenkomste en ook by vyf gemeentelike vergaderinge elke week. So ontvang hulle verenigende geestelike voedsel by Jehovah se tafel (Mattheüs 24:45-47; Hebreërs 10:24, 25). Ander erken dat hierdie Bybelonderrig die sleutel tot hulle verenigde aanbidding is. Die Katolieke skrywer William Whalen het byvoorbeeld in die tydskrif U.S. Catholic gesê: “Enige koninkryksaal [van Jehovah se Getuies] verskaf in ’n maand meer volwassene-onderrig as die meeste Katolieke gemeentes in ’n hele jaar.” Ja, Bybelonderrig is die sleutel as mense “dieselfde gesindheid” en “dieselfde mening” wil hê en uit “een mond” wil praat.
9. Hoe kan ons diegene identifiseer wat Jehovah gebruik om die Koninkryksboodskap te verkondig?
9 As jy enige twyfel het oor wie Jehovah gebruik om sy “evangelie van die koninkryk” te verkondig, kan jy jouself afvra: Wie is dit wat mense by hulle huise besoek om oor Jehovah en sy Koninkryk te praat? Almal weet dat dit Jehovah se Getuies is. Hoe dikwels besoek mense van ander gelowe jou om met jou oor Jehovah en sy Koninkryk te praat? Hoe dikwels praat sulke mense hoegenaamd oor hierdie dinge, waar hulle ook al is? Die aanhangers van hierdie wêreld se verdeelde gelowe swyg oor Jehovah en sy Koninkryk. Min van hulle weet eers wie Jehovah is of wat sy Koninkryk vir hierdie aarde sal beteken. Tog is Jehovah en sy Koninkryk wêreldskuddende nuus, want, soos Daniël 2:44 voorspel het, Jehovah se Koninkryk sal binnekort ‘alle ander regerings verbrysel en ’n einde daaraan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan’.
Vinnige groei van ’n klein begin af
10. Hoe talryk was Jehovah se knegte voor 1914, maar hoe moet ons die werk beskou wat toe gedoen is?
10 Hedendaagse Koninkryksverkondiging het klein begin. Van die sewentigerjare van die vorige eeu tot die kritieke jaar 1914 was daar maar ’n handjievol Koninkryksverkondigers. Maar daardie getroue werkers het die grondslag vir die toekoms gelê. Hoewel dit ’n klein begin was, herinner dit ons aan die teks wat sê dat ons nie ‘die dag van klein dinge moet verag nie’ (Sagaria 4:10). Vir Jehovah se knegte was dit voor 1914 ’n “dag van klein dinge”, maar daar sou spoedig baie meer kom.
11, 12. (a) Watter getuienis is daar van die werking van heilige gees ná 1914? (b) Watter kommentaar is meer as 30 jaar gelede oor die Koninkrykswerk gemaak, en wat kan ons nou daaroor sê?
11 Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het die ou stelsel sy “laaste dae” binnegegaan (2 Timotheüs 3:1). Die Koninkryk het ook in 1914 begin heers (Openbaring 12:10-12). Christus is toe gemagtig om die “skape” van die “bokke” te begin afskei. God se heilige gees het dus begin om baie vaardig te word oor sy getroue knegte. (Vergelyk Handelinge 2:16-21.) Die geledere van die Koninkryksverkondigers het aangegroei van ongeveer 4 000 in 1918 tot oor die 260 000 in 1948, ’n tydperk van 30 jaar. Aangaande daardie tyd het C. S. Braden, ’n professor in godsdiensgeskiedenis, geskryf: “Jehovah se Getuies het die aarde letterlik met hulle getuieniswerk oordek. . . . Daar kan waarlik gesê word dat geen enkele godsdiensgroep in die wêreld meer ywer en volharding aan die dag gelê het in hulle poging om die goeie nuus van die Koninkryk te versprei as Jehovah se Getuies nie.”
12 Maar dit was ver oor die 30 jaar gelede! Daar is vandag meer as tien keer soveel Koninkryksverkondigers oor die hele wêreld as wat daar in 1948 was! Aangesien, soos Braden gesê het, Jehovah se Getuies die aarde destyds met die Koninkryksboodskap “oordek” het, laat dit ’n mens wonder wat nou oor die omvang van die Koninkrykswerk gesê kan word. En dit kan ons met vertroue sê: Daar wag nog baie meer in die onmiddellike toekoms!
13. Watter verwikkelinge oor die hele wêreld heen dui daarop dat Jesaja 60:22 nou vervul word?
13 Verslae uit meer as 200 lande vertel van uitbreiding in die geledere van die Koninkryksverkondigers. Om hiermee tred te hou, moes nuwe Wagtoring-takgeriewe gebou of bestaande geriewe vergroot word. Daar is nuwe masjiene, nuwe en vinniger drukmetodes, grootskaalse rekenarisering, en gewillige werkers in groeiende Bethelgesinne oor die hele wêreld heen. Al hierdie vinnige uitbreiding bewys dat ons voor ons oë die vervulling sien van die bemoedigende belofte wat lank gelede in verband met God se getroue en geduldige knegte gemaak is: “Die kleinste sal ’n geslag word en die geringste ’n magtige nasie. Ek, die HERE, sal dit op die regte tyd gou laat kom” (Jesaja 60:22). Daar bestaan geen twyfel oor die feit dat Jehovah se Getuies geestelik toegerus en as ’n organisasie voorberei word om die grootste getuienis vir Jehovah en sy Koninkryk in die geskiedenis van die wêreld te lewer nie!
14. Waarom kan ons sê dat Jehovah se knegte goed op pad is om “’n magtige nasie” te word?
14 Vandag is daar meer as twee-en-’n-halfmiljoen bedrywige Christenbedienaars van die goeie nuus. Hulle word in meer as 46 000 gemeentes dwarsoor die wêreld aangetref. Toe Jehovah se Getuies op 29 Maart 1983 vergader het om Christus se dood te herdenk, het 6 767 707 persone byeengekom en sodoende hulle belangstelling in God se Koninkryk getoon. Daardie getal oorskry die individuele bevolking van bykans twee derdes van die nasies van die wêreld! Ja, Jehovah se verenigde knegte is goed op pad om “’n magtige nasie” te word, al is hulle betreklik min in vergelyking met die totale wêreldbevolking van ongeveer vier-en-’n-halfmiljard.—Mattheüs 7:13, 14.
15. Wat het die afgelope paar jaar gebeur in verband met die insameling van regskapenes?
15 Die insameling van regskapenes het onlangs groter vaart gekry. Opregte persone stroom nou na Jehovah se organisasie vir aanbidding. Sodoende neem hulle deel aan die opwindende vervulling van God se belofte in Haggai 2:7, waar Jehovah sê: “Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul.” Hierdie kosbare, nederige persone sê vir Jehovah se knegte: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.”—Sagaria 8:23.
16, 17. Hoe sal Jehovah sy volk gebruik voor hy hierdie goddelose stelsel vernietig?
16 Die groeiende sigbare organisasie van Jehovah nader nou die tyd wanneer hy dit op nog ’n kragtige manier sal gebruik: om sy finale oordeelsboodskap teen hierdie stelsel te lewer. Dit kan vergelyk word met die tyd toe die Israeliete, wat alreeds ses dae lank een maal per dag om Jerigo getrek het, beveel is: “Op die sewende dag moet julle die stad sewe maal omtrek; en die priesters moet op die horings blaas; . . . as julle die geluid van die horing hoor, moet die hele volk ’n groot krygsgeskreeu aanhef: dan sal die stadsmuur op sy plek inval.” Op die laaste dag is die werk dus sewevoudig versnel! Toe daar op die horings geblaas is, het die volk ’n krygsgeskreeu aangehef en “die muur het op sy plek ingeval”.—Josua 6:2-5, 20.
17 Vandag word die “sagte” waters van die waarheid na die mense geneem om hulle aan te moedig om hulle tot Jehovah te keer. Maar die dag sal eersdaags aanbreek wanneer die boodskap “hard” sal word. Dit sal die dreigende einde van hierdie hele sataniese stelsel aankondig. Die sagte waters van die waarheid sal vries en verander in die harde haelstene van die waarheid. So kragtig sal hierdie finale oordeelsboodskappe wees dat hulle vergelyk word met “groot hael, omtrent ’n talent swaar”, dit wil sê, enorme haelstene. Dit is hoekom Openbaring 16:21 sê dat “sy plaag ontsettend groot was”.
“’n Magtige nasie” vul die aarde
18. (a) Hoe werklik is God se Koninkryk? (b) Wat toon Daniël 2:35 dat die Koninkryk uiteindelik sal doen?
18 Die Koninkryk van God waaraan Jehovah se Getuies hulle hoogste trou toesê, is inderdaad ’n werklike regering. Dit het Christus en sy 144 000 metgeselle as hemelse heersers. Dit het regte wette en ’n “grondwet”—God se Woord. Hierdie werklike regering het ook regte onderdane wat ’n groeiende nasie uitmaak—miljoene mense wat as een volk verenig is. En die Bybel voorspel dat, nadat hierdie Messiaanse Koninkryk alle wêreldlike regerings verbrysel het, dit ‘die hele aarde sal vul’ (Daniël 2:35). Hoe sal dit gebeur?
19, 20. Hoe sal Jehovah se knegte in die volste sin “’n magtige nasie” word?
19 Diegene wat Armageddon oorlewe, sal begin om die Paradys te bou waarvan Jesus in Lukas 23:43 gepraat het (Openbaring 16:14, 16). Mettertyd sal daar “’n opstanding . . . wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges” (Handelinge 24:15). Gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus in Koninkryksmag sal almal die geleentheid kry om standpunt in te neem vir Koninkryksbewind. Diegene wat nie regverdige heerskappy wil hê nie, sal uit die weg geruim word (Openbaring 20:6, 11-15). Aan die einde van die duisend jaar sal elkeen wat op aarde lewe dus ’n toegewyde aanbidder van Jehovah wees! Dan sal Jesaja 11:9 in die volle sin vervul wees: “Die aarde sal vol wees van die kennis van [Jehovah] soos die waters die seebodem oordek.”—Vergelyk NW.
20 Watter wonderlike tyd sal dit tog nie wees nie! Elkeen wat jy teëkom, sal ’n aanbidder van Jehovah wees, met “dieselfde gesindheid”, “dieselfde mening”, “een mond”. Duisendmiljoene verenigde aanbidders wat tot menslike volmaaktheid verhef is, sal die paradysaarde vul. Hulle sal dan waarlik “’n magtige nasie” wees, die magtigste nasie wat die aarde ooit gesien het. Nee, ’n verenigde mensdom is nie net ’n droom nie. Dit is nou reeds in die maak! Is jy deel daarvan?
Vrae ter hersiening
◻ Wat gebeur met Jehovah se volk terwyl die wêreld in groter wanorde verval?
◻ Watter groot skeidingswerk word tans gedoen?
◻ Waarom kan ons daarvan seker wees dat die eenheid van Jehovah se knegte bewaar sal word?
◻ Hoe is Jehovah se sigbare organisasie besig om tot “’n magtige nasie” te ontwikkel, en waartoe sal dit lei?
[Prent op bladsy 27]
Soos ’n herder skape van bokke skei, so skei die Koning, Jesus Christus, mense vandag van mekaar
[Prent op bladsy 29]
Bethelhuise en -drukkerye soos hierdie word gebou of vergroot om die Koninkrykspredikingswerk te bevorder
Ebina, Japan
Abidjan, Ivoorkus
Ingleburn, N.S.W. Australië
Enebakk, Noorweë
Ajalvir (Madrid), Spanje