Na vore met die Koninkryksgeskil!
“Sing tot eer van [Jehovah] ’n nuwe lied . . . Sê onder die volke: [Jehovah] is Koning!”—PSALM 96:1, 10.
1. (a) Watter lied kon tereg eers in 1914 gesing word, en waarom? (b) Van watter vertrapping het Jesus in Lukas 21:24 gepraat?
DIT was eers in die jaar 1914 dat die woorde “The ‘Gentile Times’ have ended, for their kings have had their day” tereg gesing en toegepas kon word.a Teen 1 Oktober 1914 het die Eerste Wêreldoorlog reeds meer as twee maande lank gewoed. Daardie woorde oor die Tye van die Nasies het gesinspeel op die profesie van Jesus Christus oor wanneer eerste-eeuse Jerusalem en sy tempel vernietig sou word. Daardie vernietiging het in 70 G.J. plaasgevind. In Lukas 21:24 word Jesus soos volg aangehaal: “En hulle [die Jode] sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.” In die dae van koning Dawid van Israel is die stad Jerusalem die hoofstad van die tipiese koninkryk van God gemaak. Jerusalem het gevolglik die simbool geword van die tipiese koninkryk van Jehovah God in die hande van sy gesalfde koning oor die onafhanklike nasie Israel. Jesus se woorde in Lukas 21:24 het dus betrekking op die vertrapping van die tipiese koninkryk van God.
2. (a) Wanneer het die vertrapping begin, en hoe? (b) Waarom is die Messiaanse Koninkryk nie na Jerusalem se vernietiging in 70 G.J. opgerig nie?
2 Wanneer het daardie vertrapping begin? Nie in die jaar 70 G.J., 37 jaar nadat Jesus sy profesie geuiter het nie. In daardie jaar is die herboude stad Jerusalem vernietig, hierdie keer deur die Romeinse leërs. Maar die vertrapping waaroor Jesus geprofeteer het, was ’n voortsetting van die vertrapping wat met die eerste vernietiging van Jerusalem deur die Babiloniërs in die jaar 607 voor ons Gewone Jaartelling begin het. Toe die Romeine die herboude Jerusalem eeue later in 70 G.J. vernietig het, het die “tye van die nasies” nog nie verstryk nie. Jesus het dit vooruit geweet, en daarom het hy nie gesê dat die komende vernietiging van die herboude Jerusalem deur die Romeine onmiddellik gevolg sou word deur die oprigting van die ware of teenbeeldige koninkryk van God in die hande van die Messias, die Christus, nie. Die tipiese koninkryk van God, soos verteenwoordig deur die Jerusalem van sy dag, sou eerder steeds deur die onbesnede nasies vertrap word totdat die vasgestelde “tye van die nasies” volgens God se rooster verstryk het.
3. (a) Hoe kan ons die lengte en einde van die Tye van die Nasies bereken? (b) Watter allerbelangrikste geskil het in 1914 na vore gekom?
3 As ons nou na hoofstuk 4 van Daniel se profesie blaai, sal ons vind dat daar sewe van hierdie “tye” sou wees. Die getal jare in elkeen is gelyk aan die getal dae in ’n profetiese maanjaar, naamlik 360 dae. Elke dag verteenwoordig ’n jaar, gemeet op die manier waarop nie-Joodse nasies tyd bereken. Volgens hierdie berekening is die “sewe tydperke” gelyk aan 2 520 jaar. (Vergelyk Daniël 4:16, 23, 25, 32.) Aangesien dit begin het toe die Babiloniërs die tipiese koninkryk van God in Jerusalem in die laaste helfte van 607 v.G.J. omvergewerp het, moes dit in die laaste helfte van die jaar 1914 van ons Gewone Jaartelling eindig. Gedurende daardie besondere tydperk het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek. Hoewel dit baie interessant is, is die belangrikste betekenis wat ons aan die einde van die “[vasgestelde] tye van die nasies” (vgl. NW) in daardie oorlogsjaar moet heg, die volgende: Die teenbeeldige, geestelike koninkryk van God in die hande van sy gesalfde Seun, Jesus Christus, het in die hemele begin regeer. Die feit dat die godsdiensleiers van die Christendom en ander dit betwis, maak dit ’n “geskil” van die allergrootste belang! En ons moet dit onder die oë sien!
Geregverdig in die geskil
4. Wie is deur wêreldgebeure geregverdig?
4 Ons sal dus eerstens vra: Wie het jare tevore die hele wêreld se aandag gevestig op die feit dat die “tye van die nasies” in die laaste helfte van 1914 sou eindig? Dit was die Internasionale Bybelstudente, wat die kolomme van Die Wagtoring en ander publikasies van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap gebruik het. Hulle staan vandag wêreldwyd as Jehovah se Getuies bekend. Het wêreldgebeure hulle geregverdig? Ja!
5. (a) Watter antwoord is gegee aan diegene wat dit betwis dat God se koninkryk opgerig is? (b) Hoe staaf die vervulling van Lukas 21:25-27 dat die Tye van die Nasies in 1914 verstryk het?
5 Die meeste mense skenk vandag geen aandag aan daardie berekening van God se tyd nie. En die Christendom met honderde sektes en denominasies betwis die korrektheid daarvan. Het daardie teenstanders, wat Jehovah se Getuies verreweg in getal oortref, gevolglik die kwaai woordestryd oor die oprigting van God se koninkryk in die hande van Christus in die hemele in 1914 G.J. gewen? Die vervulling van Jesus se profesie aangaande die teken van die “voleinding van die wêreld” antwoord oorverdowend Nee! Nege-en-sestig jaar na 1914 sien ons die toedrag van sake wat Jesus in Lukas 21:25-27 voorspel het: “Op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ’n wolk, met groot krag en heerlikheid.” Die leer dat die Tye van die Nasies in die laaste helfte van 1914 verstryk het, berus dus steeds op ’n geskiedkundige grondslag en is heel gepas een van die fundamentele Koninkrykswaarhede waarin ons vandag moet glo.
6. Waarom verheug Jesus se hedendaagse dissipels hulle en deel hulle nie die nasies se angs nie?
6 Moet almal se harte beswyk van vrees vir die dinge wat oor die wêreld kom? Het Jesus gesê dat almal so oor sake sou voel? Glad nie! Jesus self het ’n uitsondering van sy getroue dissipels gemaak deur daarna vir hulle te sê: “As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat Julle verlossing naby is” (Lukas 21:28). Volgens Mattheüs 24:32, 33 het Jesus ook gesê: “Leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” (Kyk ook Markus 13:28, 29.) Omdat hulle die tasbare bewys in wêreldtoestande en -gebeure het dat hulle verlossing naby is, as ’t ware voor die deur, verheug hulle hulle en deel hulle nie die angs van die Heidense nasies nie.
Lojale ondersteuners van die Koninkryk
7, 8. (a) Waar het die geestelike “broeders” van Christus hulle standpunt ingeneem, en waarom? (b) Watter verpligting het hulle nagekom?
7 Aan watter kant van die Koninkryksgeskil neem hierdie persone vandag hulle standpunt in? Die hedendaagse oorblyfsel van Christus se dissipels, wat hy sy geestelike ”broeders” noem en wat die hoop het om saam met hom in sy hemelse koninkryk te regeer, ondersteun Jehovah se koninkryk in die hande van Christus lojaal (Mattheüs 25:40). Hulle vertolk die tekens van die tye korrek, naamlik dat die Koninkryk waarvoor daar al so lank gebid word, aan die einde van die Tye van die Nasies in 1914 opgerig is en met sy werksaamhede begin het. Hulle besef dat die tyd vir hulle aangebreek het om aan almal te verkondig dat daardie bomenslike, hemelse regering sedert 1914 regeer en dat dit hierdie wêreldstelsel heeltemal gaan uitwis en sodoende die universele soewereiniteit van die allerhoogste God op heerlike wyse sal regverdig. Hulle staan onder verpligting om Jesus se profesie te vervul:
8 “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:14; Markus 13:10.
Aan watter kant die “skape” hulle skaar
9. Hoe het Christus se “broeders” die profetiese bevel uitgevoer, en met watter gevolg?
9 Daardie profesie van Jesus is ’n bevel aan die geesgesalfde dissipels van die Koning van die konings, Jesus Christus, wat nou heers. In gehoorsaamheid daaraan het hulle die Koninkryksboodskap reeds na 205 lande en eilande uitgedra. En die heerlike boodskap word in 174 tale aan die mensdom verkondig, gebaretale uitgesluit. Baie ander bewoners van die aarde moet ongetwyfeld nog met al die hedendaagse kommunikasiemiddele bereik word sodat feitlik “die hele wêreld” “’n getuienis” voor “die einde” sal ontvang.
10, 11. (a) Hoe het die Koninkrykspredikingswerk die geskil na vore gebring? (b) Wat het Jesus gesê toe hy die laaste deel van die “teken” ingelei het?
10 Maar wat was reeds die reaksie op die wêreldwye Koninkrykspredikingswerk—ja, ondanks al die teenstand en vervolging wat volgens Jesus deel sou wees van “die teken” van sy “teenwoordigheid” in die hemelse Koninkryk en van “die voleinding van die wêreld”? Die bewoners van die aarde is duidelik in twee kampe verdeel—vir en téén die Koninkryk. Jesus het hierdie skeidingswerk in sy profesie oor “die teken” voorspel, en dit is die hoogtepunt van sy profesie soos deur die apostel Mattheüs opgeteken. Jesus het hierdie laaste gelykenis in sy profesie ingelei deur te sê:
11 “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.”—Mattheüs 25:31-34.
12. Uit watter profesie het Jesus die uitdrukking “die Seun van die mens” oorgeneem, en wat se dit vir ons omtrent die Koninkryk?
12 Ons merk op dat Jesus die uitdrukking “die Seun van die mens” gebruik het toe hy daardie profetiese gelykenis ingelei het. Dit kom uit Daniël 7:13, 14, waar ons lees: “Kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ’n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”
13. (a) Watter opname maak die Koning van ons aarde uit sy gunstige posisie in die hemele? (b) Wat bewys dat die Volkebond nie ’n beliggaming van God se koninkryk was nie?
13 Dit is voor hierdie heersende Koning dat volke en nasies sedert die einde van die Tye van die Nasies in 1914 versamel is. Uit sy hemelse posisie kan die Koning hulle almal waarneem terwyl ons aardbol om sy as draai. Hy weet dat die Eerste Wêreldoorlog nie ter wille van sy Koninkryksheerskappy gevoer is nie. Nee, want na daardie afgryslike oorlog het die Volkebond in Versailles, Frankryk, tot stand gekom, en die Federale Raad van die Kerke van Christus in Amerika het dit bestempel as “die politieke beliggaming van die koninkryk van God op aarde”. Maar as dit die geval was, waarom is die Volkebond dan deur die Tweede Wêreldoorlog buite aksie gestel, en waarom is dit deur die Verenigde Volke opgevolg?
14. (a) Voor watter persoonlike vraag kom elkeen van ons nou te staan? (b) Hoe kan ’n mens die Koning se guns verkry? (c) Op watter positiewe maniere ondersteun die “skape” die Koning se “broeders”?
14 Dit is hoe die nasies as politieke entiteite getoon het waar hulle ten opsigte van die Koninkryksgeskil staan, ’n geskil waarmee hulle sedert 1914 gekonfronteer is. Maar die persoonlike vraag waarvoor elkeen van ons te staan kom, is: ‘Waar staan ék ten opsigte van die Koninkryksgeskil?’ Is jou standpunt dieselfde as dié van die simboliese “skape” wat aan die regterhand van die heersende Koning, Jesus Christus, versamel is? Hierdie herderlike Koning deel ons mee wat ’n persoon geskik maak sodat hy aan die kant van goddelike guns gesit kan word in teenstelling met die bokagtige mense. Dit is deur goed te doen aan die geestelike “broeders” van die heersende Koning wat nog op aarde oor is en wat saam met hom op sy hemelse troon gaan sit. Sulke weldade beteken dat hulle die Koninkryksgetuieniswerk van die geestelike “broeders” van die Koning goedkeur. Hulle ondersteun dit op elke moontlike manier en skaam hulle nie vir hierdie verkondigers van die evangelie van die Koninkryk nie, selfs nie eens wanneer dié in die tronk gesit word nie, maar probeer om hulle te help om uit sulke gevangenskap te kom, soos dit die geval in die naoorlogse jaar 1919 was. Maar hulle gaan selfs verder en het ’n regstreekse aandeel in die verkondiging van “hierdie evangelie van die koninkryk” saam met die gesalfde oorblyfsel, net soos Jesus in Mattheüs 24:14 voorspel het. Hulle doen dit in die openbaar en van huis tot huis.
15. (a) Hoe verskil die “skape” se beloning van die beloning wat Jesus se “broeders” ontvang? (b) Hoe hou dit verband met God se oorspronklike voorneme? (c) Waarom is ’n hemelse koninkryk nodig om hierdie doel te verwesenlik?
15 Daardie “skape” sal beloon word aangesien die Koning hulle sal nooi om ‘die koninkryk te beërf wat vir hulle berei is van die grondlegging van die wêreld af’ (Mattheüs 25:34). Dit beteken nie dat hulle moet sterf en ’n opstanding tot lewe in die hemel saam met die geestelike “broeders” van die Koning moet hê nie. Hy noem hulle nie sy “broeders,” nie. Hulle is persone wat van die nasies afgeskei en voor sy troon versamel is. Hulle sien daarna uit om deur die koninkryk van Jesus Christus en sy geestelike “broeders” geseën te word. Hulle beërf dus die aardse ryk van die Koninkryk, waar die Paradys oor die hele aardbol herstel sal word. Toe Jehovah God ons aarde gemaak het, was dit sy voorneme dat dit oral ’n paradys moes wees en het hy die man en vrou op die aarde gesit om dit daarin te omskep deur met die Tuin van Eden of Paradys van Genot te begin. Adam en Eva se sondeval en dood het God se voorneme nie die nekslag toegedien nie (Jesaja 55:11). Hy het dadelik voorbereidings getref om die aardwye Paradys tot stand te bring deur middel van ’n hemelse koninkryk waarin sy lojale Seun die Heerser of Koning sou wees. Dit moet ’n hemelse regering wees as dit die bewerker van sonde en bedrog, Satan die Duiwel, ’n magtige geesskepsel, geheel en al moet verbrysel.—Genesis 3:15.
16. (a) Hoe sal die “skape” besonder begunstig wees? (b) Wanneer gaan die “bokke” weg in “die ewige straf”?
16 Die “skape” sal hierdie Paradysryk van die hemelse koninkryk beërf. ’n “Groot menigte” van hulle sal dit beërf sonder om ooit op aarde te sterf en ’n opstanding tot lewe op aarde nodig te hê (Openbaring 7:9; 21:4). Watter wonderlike manier is dit tog vir hulle om “die ewige lewe” as “regverdiges” in te gaan! Hulle sal toeskouers wees wanneer al die “bokke” op aarde aangesê word om ‘weg te gaan in die ewige straf (Mattheüs 25:41-46). Dit sal plaasvind gedurende die “groot verdrukking” wat sy klimaks sal bereik met die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” op die slagveld genaamd Armageddon (Openbaring 7:14; 16:14-16). Daar sal die laaste van die vervloekte “bokke” vir ewig hul aardse lewe ontneem word.
17. (a) Voor watter dringende vraag kom jy nou te staan? (b) Watter voorregte sal jy geniet as jy die Koninkryk van ganser harte ondersteun?
17 Met sulke alternatiewe vooruitsigte vir die bewoners van die aarde is die vraag uiters dringend: ‘Waar staan jy ten opsigte van die Koninkryksgeskil?’ Saam met wie wil jy geklassifiseer word—saam met die goedgekeurde “skape” of saam met die vervloekte “bokke”? Diegene wat hulle standpunt onvoorwaardelik vir die Koninkryk inneem, sal nie alleen die aardse Paradys beërf nie, maar sal ’n uiters verfrissende aandeel hê in die regverdiging van die universele soewereiniteit van Jehovah, die God van die gode en die Here van die konings.—Psalm 136:2; Daniël 2:47.
[Voetnoot]
a Kyk die lied met die naam “Our King is Marching On”, bladsye 162, 163 van die liedereboek Hymns of the Millennial Dawn, kopiereg 1905.
Hoe sal jy die volgende in verband met die Koninkryksgeskil beantwoord:
◻ Watter tydperk word gedek deur die Tye van die Nasies van Lukas 21:24?
◻ Watter gebeure kenmerk die einde van die Tye van die Nasies volgens Lukas 21:25-27?
◻ Hoe het Jehovah se Getuies ooreenkomstig Lukas 21:28 op die huidige wêreldkrisis gereageer?
◻ ln watter verband word die “Seun van die mens” in die profesieë beskryf, en watter positiewe optrede word by sy koms van ons verwag?
[Prent op bladsy 10]
Hierdie woorde van “Hymns of the Millennial Dawn” is sedert 1914 van toepassing