Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 4/15 bl. 3-4
  • Die mensdom verenig—Wat dit kan beteken

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die mensdom verenig—Wat dit kan beteken
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Soortgelyke materiaal
  • Kan hierdie wêreld ooit eenheid bewerkstellig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Mense regoor die wêreld word verenig—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Die droom van Europese eenheid
    Ontwaak!—1991
  • Waar kan ons eenheid vind in hierdie wêreld vol tweedrag?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 4/15 bl. 3-4

Die mensdom verenig—Wat dit kan beteken

“DINK net in watter skitterskoon, onbesoedelde en pragtige wêreld ons sou lewe as ons, hetsy ons Hindoes of Katolieke, Jode of Lutherane, Kwakers of Moslems, Boeddhiste, Amiese of Mormone is, met net soveel ywer en oorgawe probeer het om ’n hemel reg hier op Aarde te skep as wat ons die hiernamaals nastreef.”

Met daardie woorde het die Amerikaanse joernalis Mel Ellis die begeerte van baie mense vandag uitgespreek. Hulle wil graag in ’n pragtige wêreld lewe. Maar hulle klou terselfdertyd vas aan hulle godsdienstige, politieke, ekonomiese en maatskaplike verdeeldhede—die einste dinge wat deur die geskiedenis heen tot soveel haat, tweedrag en bloedvergieting gelei het.

Die aarde kan nietemin heeltemal verander word as mense maar net dieselfde doel wou nastreef. Een onmiddellike gevolg sal wees dat oorloë sal ophou. Dan sal uitdrukkings soos “wapenwedlope” en “kernwapenarsenale” tot die verlede behoort. Oorlog sal nooit weer menseliggame vermink en verstande skaad nie. Gesinne sal nooit weer die hartseer ondervind om dierbares in wapenstryde te verloor nie.

Die geld wat vandag aan wapens en militêre paraatheid bestee word, beloop nagenoeg ’n biljoen rand per jaar. Wat ’n verandering kan daar tog plaasvind, selfs onder die huidige onvolmaakte toestande, as daardie geld vir vreedsame doeleindes aangewend word! Dink aan die nodige huise, hospitale, skole, basiese sanitêre geriewe, skoon water en ander dinge wat voorsien kan word. En dit alles kan moontlik lei tot volle indiensneming van diegene wat dinge bou tot voordeel van die mensdom. As alle mense hulle vir almal se gemeenskaplike welsyn beywer, sal daar ook oorgenoeg voedsel vir almal wees. André Fontaine, ’n Franse koerantredakteur, het gesê: “Daar is genoeg rykdom vir almal, as ons dit net tot voordeel van die mensdom wil gebruik.”

Dink net wat ’n verenigde mensdom kan beteken. Dit kan liefdevolle samewerking in plaas van meedoënlose mededinging beteken; empatie in plaas van blinde haat; opbouende vrede in plaas van sinlose geweld; verenigende, wedersydse respek in plaas van verdelende nasionalisme.

Maar hoe kan sulke veranderinge ooit teweeggebring word? Dit moet tog sekerlik in die denke van mense begin. En om die denke te verander, moet daar ’n volkome verandering in morele en geestelike opvoeding wees om mense van alle verdelende invloede te suiwer. Maar waar kan jy daardie soort verenigende opvoeding vind? By die politieke, ekonomiese, godsdienstige of onderwysstelsel van hierdie wêreld?

Die Bybel gee ons die duidelike antwoord in die volgende woorde van die profeet Jeremia: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.

Daardie gevolgtrekking word gestaaf deur die woorde van Mark Thee, direkteur van die Internasionale Vredesnavorsingsinstituut in Noorweë. Hy het gesê: “Die internasionale situasie word vandag gekenmerk deur ’n diepgaande krisis wat feitlik alle sfere van die mens se bedrywigheid deurdring: die ekonomiese en maatskaplike, die politieke en militêre, die geestelike en morele sfeer. Konfliksituasies vererger, gewelddadigheid neem toe en die gebruik van geweld as ’n beleids- en diplomatieke instrument het alledaags geword. . . . Die balans tussen vrede en oorlog word al hoe gevaarvoller.”

Is dit dan nie baie duidelik dat mense, op hulle eie, nie die oplossings het nie? Hulle het nie die wysheid om hulle voetstappe na wêreldeenheid te rig nie. Party dink miskien dat dit ’n oordrywing is en dat mense wel eendag op hulle eie eenheid sal kan bewerkstellig. Maar wat leer die geskiedenis ons? Gee dit ons enige rede tot hoop dat een of meer van hierdie wêreld se elemente ’n invloed tot wêreldeenheid kan wees? Indien nie, wat kan?

[Prent op bladsy 4]

Dink net wat selfs nou gedoen kan word as al die geld wat aan wapens bestee word, gebruik word om ’n vreedsame wêreld te bou!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel