Vrae van lesers
▪ Is Jesus die “God” waarvan Hebreërs 1:8 melding maak?
Nee. Die oorwig van die getuienis toon dat dit Jehovah is. Volgens die New World Translation lui Hebreërs 1:8: “Maar met betrekking tot die Seun: ‘God is u [die Seun se] troon tot in ewigheid.’“ Dit toon dat Jehovah, die almagtige God, die bron is van Jesus se troon, sy amp of gesag as heerser.
Voorstanders van die Drie-eenheid verkies egter die Afrikaanse Bybel, wat Hebreërs 1:8 so weergee: “Maar van die Seun: U troon, O God, is tot in alle ewigheid.” Volgens hulle bewys dit dat Jesus en die almagtige God een en dieselfde persoon is. Waarom is dit onjuis?
Let ten eerste op die verband. In baie vertalings lui Hebreërs 1:9, òf in die hoofteks òf in die kantruimte: “Daarom het, O God, U God U gesalf.” Hieruit blyk dit dat die aangesprokene in vers 8 nie God is nie, maar iemand wat God aanbid en deur hom gesalf is.
In die tweede plek moet daarop gelet word dat Hebreërs 1:8, 9 ’n aanhaling uit Psalm 45:7, 8 is, wat oorspronklik aan ’n mensekoning van Israel gerig is. Die skrywer van die psalm het tog sekerlik nie gedink dat hierdie mensekoning die almagtige God is nie, en die skrywer van Hebreërs het ewe min gedink dat Jesus die almagtige God is. Die geleerde B. F. Westcott het die volgende kommentaar hieroor gelewer: “Dit is nouliks moontlik dat אלוהים [‘Elo·himʹ, “God”] in die oorspronklike teks tot die koning gerig kan wees. . . . Oor die geheel lyk dit dus die beste om in die eerste sinsdeel die volgende vertaling te aanvaar: God is U troon (of, U troon is God), dit wil sê, ‘U koninkryk is op God gebou.’” Dit is dus met goeie rede dat die New World Translation en verskeie ander vertalings Hebreërs 1:8 weergee met: “God is u troon.” (Kyk An American Translation, Moffatt; ook die kantlesing in American Standard Version, Revised Standard Version en The New English Bible.) Dit blyk dan dat die “Seun”, Jesus Christus, ’n God het wat hoër as hy is.
▪ Sluit die onkruid in Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid diegene in wat onlangs afvallig geword het?
Nee, want streng genome is hulle nie “onkruid” nie.
Hierdie gelykenis en Jesus se uiteensetting daarvan word in Mattheüs 13:24-30, 37-43 aangetref. In die “saailand”, wat die wêreld is, het die “Seun van die mens” aanvanklik “goeie saad” gesaai, wat “die kinders van die koninkryk”, ware, gesalfde Christene, voorstel. Toe het die Duiwel “onkruid” gesaai wat soos “koring” lyk, maar wat in werklikheid “die kinders van die Bose” was, blykbaar namaak-Christene wat gelyktydig met die koringagtige ware Christene bestaan. Hierdie toestand het veral ná die dood van die apostels ontstaan (2 Thessalonicense 2:6, 7). Deur die eeue heen was daar baie wat bloot bely het dat hulle Christene is, waaronder die geestelikes wat valse leringe verkondig het.
Jesus het gesê dat die “onkruid” gedurende die oestyd, die “voleinding van hierdie wêreld”, bymekaargemaak en “met vuur verbrand” sal word. Sommige beskou miskien die handjievol persone wat onlangs afvallig geword het as “onkruid” wat bymekaar gemaak word. Maar Jesus het nie gesê dat die “onkruid” eenmaal “koring” was wat toe sleg geword het nie. Hulle is as “onkruid” gesaai en bly “onkruid”, ooreenkomstig die genetiese reël dat plante “volgens hulle soorte” voortbring (Genesis 1:11, 12). Ons moet egter duidelik in gedagte hou dat toe Jesus van die “onkruid” gepraat het, hy die verskyning van ’n bepaalde soort valse of namaak-Christen voorspel het. Hy het nie gepraat van lede van die “koring”-klas wat sleg word, soos verrotte koringhalms nie.
Die “onkruid” stel nie afvalliges van die apostels se dag en hulle hedendaagse eweknieë voor nie. Die Bybel toon nietemin dat sulke afvalliges “nie van ons” is nie, dat hulle by God in onguns staan en dat lojale Christene hulle moet vermy. Mense wat afvallig word en hulle nie voor die einde van hierdie stelsel bekeer nie, gaan dieselfde einde tegemoet as die “onkruid”, wat “met vuur verbrand” of totaal vernietig sal word.—Titus 3:10; 1 Johannes 2:18, 19; 2 Johannes 9-11.