Exodus—van tirannie tot teokratiese orde
JEHOVAH het hulle hulpgeroep as slawe “onder tirannie” gehoor. Dit was tyd om op te tree, en hy het dit gedoen as hulle almagtige Verlosser. Kort daarna het God sy uitverkore volk as ’n goed georganiseerde teokrasie opgerig.
Dit is in wese die aangrypende verhaal wat jy in die Bybelboek Exodus sal vind. Dit is deur die Hebreeuse profeet Moses geskryf en verhaal die ondervindinge van die Israeliete van 1657 tot 1512 v.G.J. Verbasende wonderwerke en voortreflike wetgewing is deel van die boek se boeiende inhoud.
Maar het Exodus werklik betekenis in ons 20ste eeu? Dit het inderdaad, soos ons kort bespreking sal toon.
’n Samevatting van Exodus
As inwoners van Egipte vermenigvuldig Jakob se afstammelinge so vinnig dat hulle in opdrag van die koning slawe “onder tirannie” word. Farao beveel selfs dat alle Israelitiese babaseuntjies gedood moet word. Een baba spring daardie lot vry wanneer sy moeder hom in ’n papirusark op die Nyl plaas. Farao se dogter vind hom en neem die kind aan. Sy noem hom Moses, wat beteken “uit water gered”. Hoewel Moses in die koninklike huisgesin grootgemaak word, kies hy op die ouderdom van 40 die kant van sy verdrukte volk deur ’n Egiptenaar dood te maak. Hy is verplig om te vlug en gaan na Midian, waar hy trou en ’n herder word. Intussen sterf Farao, maar ’n ander Farao heers met hardheid oor die Israeliete. Mettertyd hoor God hulle hulpgeroep.—Exodus 1:1-2:25.
Eendag sien Moses ’n bos wat brand maar wat op wonderdadige wyse nie verteer word nie. Deur ’n engel gee Jehovah hom daar die opdrag om na Egipte terug te keer en die Israeliete uit despotiese slawerny te lei. God stel sy broer Aäron as sy woordvoerder aan.—Exodus 3:1-4:31.
Moses en Aäron verskyn voor Farao en versoek dat die Israeliete toegelaat word om ’n fees ter ere van Jehovah in die wildernis te vier. Die Egiptiese heerser weier uitdagend, maar dan tree Jehovah op om vir homself ’n naam te maak. Trotse Farao en sy towenaars is beslis nie opgewasse teen Moses, wat deur Jehovah gebruik word om die Egiptenaars swaar plae toe te dien nie. Maar selfs na nege plae is die Egiptiese tiran steeds hardkoppig!—Exodus 5:1-10:29.
ln afwagting van die 10de plaag beveel Jehovah dat die Israeliete ’n “pasga” moet vier. Op 10 Nisan neem hulle ’n lam of ’n bokkie vir elke gesin. Die dier word op 14 Nisan doodgemaak, en sy bloed word teen die deurposte en die bo-drumpels van hulle huise gesprinkel. Hulle braai en eet dit na sononder, tesame met bitter kruie en ongesuurde brood. Terwyl al hierdie gesinne binnenshuis is trek Jehovah se engel teen middernag deur die land, maar hy slaan elke Israelitiese huis oor. Die 10de slag word toegedien. Al die eersgeborenes van Egipte, Farao se oudste steun inkluis, sterf. Daarop laat hy die Israeliete gaan.—Exodus 11:1-12:36.
Maar kort daarna sit die Egiptiese verdrukker en sy krygsmagte hulle agterna. Jehovah bied egter verlossing deur ’n noodgang deur die Rooi See te open. Met die Israeliete veilig op die ander oewer laat God die see terugvloei op die agtervolgende Farao en sy leër sodat hulle almal verdrink. Watter manier tog om Jehovah en sy ontsagwekkende krag te leer ken!—Exodus 12:37-15:21.
Vandaar tot die berg Sinai in Arabië leer die Israeliete herhaaldelik meer omtrent Jehovah wanneer hy bitter water soet maak, ’n oorvloed kwartels voorsien en vir hulle smaaklike voedsel gee wat hulle manna noem. In die derde maand na hulle verlossing uit Egiptiese tirannie slaan, hulle laer op aan die voet van die berg Sinai. Daar ontvang hulle God se wette, onder meer die “tien woorde” (die Tien Gebooie), en sluit hulle ’n verbond met Jehovah, hulle almagtige Verlosser.—Exodus 15:22-24:18; Deuteronomium 4:13.
Moses bring 40 dae op die berg deur waartydens hy instruksies ontvang oor ware aanbidding en die bou van Jehovah se tabernakel, ’n vervoerbare tempel. Intussen maak en aanbid die Israeliete ’n goue kalf. Wanneer Moses van die berg afkom, sien hy dit en word hy so kwaad dat hy die twee tafels waarop die Tien Woorde wonderdadig geskryf is, verpletter. Nadat die afgodedienaars behoorlik gestraf is, klim hy weer teen die berg uit en ontvang hy daar nog ’n stel tafels. God se heerlikheid word vir Moses getoon en hy hoor hoedat Jehovah sê dat hy barmhartig is maar nooit ’n oortreder ongestraf laat bly nie.—Exodus 25:1-34:7.
Nadat Moses die tweede keer van die berg afgekom het, begin hulle om die tabernakel te bou volgens die patroon wat deur Jehovah voorsien is. Teen die einde van Israel se eerste jaar van vryheid is hierdie wonderlike tent en al sy toebehore voltooi. Dit tabernakel word opgerig en ten volle toegerus, en daarna vul Jehovah dit met sy heerlikheid.—Exodus 34:8-40:38.
Jy is waarskynlik diep geroer deur die hersiening van hierdie aangrypende gebeure. Maar wanneer jy Exodus lees, sal daar dalk vrae ontstaan, waarvan sommige moontlik beantwoord sal word wanneer ons nou die drie hoofkenmerke van die boek deur middel van vrae en antwoorde bespreek.
‘Slawe onder tirannie’
• 3:1—Watter soort priester was Jetro, Moses se skoonvader?
Jetro was klaarblyklik die patriargale hoof van ’n Midianitiese stam en was daarvoor verantwoordelik om hulle in sekulêre en godsdienstige aangeleenthede te onderrig en te lei. Aangesien die Midianiete Abraham se afstammelinge deur Ketura was, was hulle bekend met Jehovah se aanbidding wat Abraham by sy huisgesin ingeskerp het. Ons weet nie hoe rein die stam se godsdiens in Moses se dag was nie. Maar Jetro het groot waardering vir Jehovah getoon hoewel, hy nie spesiaal deur God aan gestel is nie.—Exodus 18:1-24.
• 4:11—Is Jehovah verantwoordelik vir gebreke soos blindheid?
Nee, Jehovah is nie verantwoordelik vir elke geval van fisiese gebreke soos blindheid en doofheid nie. Dit is hoofsaaklik toe te skryf aan die feit dat God toegelaat het dat ’n sondige mensdom in aansyn kom, daar die sondaars Adam en Eva hulle eie volmaaktheid verloor het en gevolglik ook hulle vermoë, om volmaakte kinders voort te bring (Job 14:4; Romeine 5:12). Namate hulle afstammelinge kinders gehad het, het al hoe meer onvolmaakthede, fisiese gebreke inkluis, duidelik geword. Deur toe te laat dat hierdie situasie ontstaan, kon God van homself praat as die een wat die stommes, dowes en blindes ‘bestem’ (NW). By enkele geleenthede het Jehovah om spesifieke redes fisiese blindheid en stomheid veroorsaak (Genesis 19:11; Lukas 1:20-22; 62-64; Handelinge 13:8-11). Indien mense verkies om geestelik doof en blind te wees, Iaat hy hulle toe om in hulle ongeloof voort te gaan en sy boodskap te verwerp, en sodoende ‘bestem’ hy die geestelike dowes en blindes (Jesaja 6:9, 10). Maar Jehovah het geestelike gehoor en gesig gegee aan diegene wat hom probeer behaag. Deur sy Koninkryk in die hande van Jesus Christus sal die liefdevolle God, Jehovah, daarbenewens die mensdom bevry van fisiese blindheid en alle ander gebreke.—Jesaja 61:1, 2; 1 Johannes 4:8; Openbaring 21:1-4.
• 4:24-26—Wie se lewe, het in gevaar verkeer en wat het gebeur?
Omdat hierdie gedeelte onduidelik is, stel ons die volgende verduideliking voor: Moses se seun is met die dood gedreig omdat hy nie volgens die vroeëre besnydenisverbond besny is nie (Genesis 17:9-14). Nadat Sippora die kind se voorhuid afgesny het; het sy bewys dat daar in ooreenstemming met die verbond opgetree is aan die verstoflikte engel se voete laat raak en sodoende getoon dat daar nie langer ’n rede bestaan het waarom haar seun moes sterf nie. Indien sy Jehovah deur die engel as “’n bloedbruidegom” aangespreek het, was dit asof sy ’n vroulike posisie in die besnydenisverbond aangeneem het, met God as die man.
• 6:2—In watter sin het God nie sy naam aan Abraham, Isak en Jakob bekend gemaak nie, aangesien hulle die naam Jehovah gebruik het?
Die naam Jehovah beteken letterlik “Hy laat word”, dit wil sê, volgens God se voorneme. Abraham, Isak en Jakob het die goddelike naam gebruik en beloftes van Jehovah ontvang. Hulle het Jehovah egter nie leer ken as die Een wat hierdie beloftes ten volle vervul het nie (Genesis 12:1, 2; 15:7, 13-16; 26:24; 28:10-15). Maar Jehovah se naam sou kort daarna groter betekenis vir hulle afstammelinge, die Israeliete, verkry. Hulle sou die ware betekenis daarvan leer ken wanneer Jehovah sy voorneme met Israel volbring het deur hulle uit tirannie te verlos en dan vir hulle die Beloofde Land te gee ter vervulling van sy verbond met hulle voorvaders.
• 7:22—Waar het die Egiptiese priesters water gekry wat nog nie in bloed verander het nie?
Hulle kon water gebruik het wat voor hierdie slag of plaag uit die Nyl geneem is. Daarbenewens kon onveranderde water klaarblyklik verkry word deur putte in die klam grond rondom die Nyl te grawe (Exodus 7:24). Die priesters het moontlik sulke water gebruik om hulle bedrog te bewerk.
• 12:29—Is seuns sowel as dogters as eersgeborenes beskou?
Die eersgeborenes het slegs seuns ingesluit. Dit blyk uit die feit dat later, toe die Leviete in ruil vir die eersgeborenes aan Jehovah gegee is, slegs die manlike eersgeborenes gereken is (Numeri 3:40-51). Farao was self ’n eersgeborene, maar hy is nie gedood nie omdat hy sy eie huisgesin gehad het en dit nie die hoof was wat op daardie Pasganag gesterf het nie, maar die eersgebore seun van die huisgesin.—Exodus 12:12.
Deur Jehovah verlos
• 18:8—Het die water van die Rooi See gevries aangesien dit “styf geword” het?
Die Hebreeuse woord wat hier weergegee word as “styf geword”, beteken om te krimp of dik te word. ln Job 10:10 word die uitdrukking gebruik in verband met kaas wat dik word. Dit beteken dus nie noodwendig dat die watermure kliphard bevrore was nie. Omdat niks sigbaar die water teruggehou het nie, sou dit lyk of die water gestol het of styf of dik geword het om staande te bly. Indien die wind wat vroeër gemeld is, koud genoeg was om die water te laat vries, sou daar ongetwyfeld ’n verwysing na die bittere koue gewees het.—Exodus 14:21.
Georganiseer as ’n teokrasie
• 20:5—Beteken dit dat getroues gestraf sou word?
Nee, omdat elke individu op grond van sy eie gedrag en gesindheid geoordeel word nadat hy die ouderdom van toerekenbaarheid bereik het. (Vergelyk Esegiël 18:20.) Maar toe die nasie Israel later afgodediens begin beoefen het, het hulle geslagte lank die bose gevolge daarvan gely. Getroues is nie persoonlik vir die nasie se sonde gestraf nie, hoewel hulle sommige gevolge daarvan ondervind het. Dit was vir hierdie handhawers van onkreukbaarheid moeilik om hulle teen die gety van nasionale, godsdienstige ongehoorsaamheid te verset. Maar in die proses het hulle Jehovah se goedertierenheid geniet.
• 23:20-23—Wie was die engel wat hier gemeld word, en hoe was Jehovah se naam “in Hom”?
Ander engele benewens die voormenslike Jesus Christus is gebruik om God se wet aan Moses oor te dra (Johannes 1:1-3, 14; Hebreërs 2:2, 3). Maar dit is redelik om die gevolgtrekking te maak dat die engel van wie Jehovah gesê het “my Naam is in Hom” Jesus in sy voormenslike gestalte was. Hy is gebruik om die Israeliete na die Beloofde Land te lei (1 Korinthiërs 10:1-4). Jesus, wie se naam beteken “Redding van Jehovah”, is die vernaamste verdediger en regverdiger van sy Vader se naam.
• 32:25—Waarom is Aäron nie gestraf omdat hy die goue kalf gemaak het nie?
Aäron het dit in opdrag van die volk gedoen, nie omdat hy hartgrondig ten gunste van die afgodediens was nie. Later het hy klaarblyklik by sy mede-Leviete aangesluit en sy standpunt vir Jehovah ingeneem teen diegene wat Moses by hierdie geleentheid teëgestaan het. Om en by 3 000 persone (waarskynlik voorbokke) is om die lewe gebring, maar meer was skuldig, want na die dood van die 3 000 het Moses die volk daaraan herinner hulle ’n groot sonde begaan het. Aäron was dus nie die enigste persoon wat by daardie geleentheid Jehovah se barmhartigheid ontvang het nie.—Exodus 32:1-6, 26-35.
• 34:26—Wat was die betekenis van hierdie gebod om nie ’n bokkie in sy moeder se melk te kook nie?
Die gebruik om ’n bokkie in sy moeder se melk te kook, was glo ’n heidense ritus om reën te veroorsaak. Hierdie wet is dus moontlik aan die Israeliete gegee om hulle vry van sulke gebruike te hou. Maar hierdie gebod, tesame met ander, beklemtoon blykbaar die feit dat daar ’n behoorlike en gepaste orde in alle sake is. Jehovah het die moeder se melk voorsien sodat sy haar kleintjies kon voed. Maar deur haar lam daarin te kook, sou dit hom benadeel en die dood meebring, net mooi die teenoorgestelde van die melk se doel. Hierdie wet het blykbaar ook ’n les bevat wat vir God se verbondsvolk getoon het dat hulle nie gevoelloos moes optree nie, maar medelydend moes wees.
Groot betekenis vir die getroues
Exodus is ’n roerende verhaal van slawerny onder tirannie, goddelike verlossing en die organisering van die teokratiese gemeenskap. Maar wat kan 20ste-eeuse getuies van Jehovah uit hierdie boek leer?
Jehovah onderskraag sy volk. Hy het dit gedoen deur die Israeliete te onderskraag en te seën toe hulle slawe “onder tirannie” was (Exodus 1:7, 14, NW). Jehovah onderskraag sy hedendaagse getuies eweneens ondanks intense vervolging.
Jehovah is die onvergelyklike Verlosser. Hoe duidelik was dit tog by die Rooi See! Sy hedendaagse getuies kan gevolglik seker wees dat hulle, as ’n groep, die komende “groot verdrukking” onder die almagtige hand van hierdie grootse Verlosser sal oorlewe.—Mattheüs 24:20-22; Openbaring 7:9, 14.
Jehovah die God van teokratiese organisasie. Wanneer sy wette gehoorsaam is, het dit die Israeliete in staat gestel om hom ordelik, veilig en blymoedig te aanbid op ’n wyse wat sy naam vereer het. Jehovah het sy hedendaagse getuies eweneens tot ’n ordelike, veilige en gelukkige broederskap georganiseer. Ons moet dus vir ons eie veiligheid en geluk God getrou dien as deel van hierdie teokratiese gemeenskap wat sy heilige naam verheerlik.—Psalm 100:1-5; 1 Petrus 2:17.
Dit is ’n paar van die talle voordele wat die boek Exodus inhou. Mag ons geloof versterk word terwyl ons nadink oor hierdie aangrypende verhaal van goddelike verlossing uit tirannie tot teokratiese orde.
[Prent op bladsy 27]
By die berg Sinai het Jehovah die Israeliete tot ’n teokrasie georganiseer