Wanneer ons harte ons dring om te doen wat ons kan
DIT is 12 Nisan 33 G.J. Jesus Christus nuttig ’n maal saam met ander in die huis van Simon die melaatse in Betanië, naby Jerusalem. Onder die aanwesiges is ’n getroue dissipelin genaamd Maria. Sy breek ’n albaste fles en gooi die duur, welriekende olie Jesus se hoof uit.
‘Waarvoor hierdie verkwisting?’ protesteer party, hierdie olie kon verkoop en die geld aan die armes gegee geword het!’ Maar Jesus antwoord: ‘Laat haar staan, want julle het altyd die armes by julle en kan aan hulle goed doen. Maar my het julle nie altyd nie. Sy het gedoen wat sy kon deur my liggaam met welriekende olie te salf met die oog op my begrafnis.’—Mattheüs 26:6-13; Markus 14:3-9; Johannes 12:1-8.
Maria van Betanië kon niks doen om Jesus se lyding te verlig toe hy net twee dae later—op 14 Nisan 33 G.J.—aan die paal genael is nie. Maar nou kon sy hom met duur olie salf. Dit is dus soos Jesus gesê het: “Wat sy kon, het sy gedoen” (Markus 14:8). Maria se hart het haar inderdaad gedring om te doen wat sy kon.
Gedring om te doen wat ons kan
As Jehovah se Getuies, of as individue wat God se waarheid leer, is ons moontlik gretig om die evangelie van die Koninkryk in hierdie “laaste dae” te verkondig (Mattheüs 24:14; 2 Timotheüs 3:1-5). Trouens, ons het moontlik ’n groot aandeel in daardie werk.
Maar gesinsverantwoordelikhede, gesondheidsprobleme en ander faktore maak dit miskien vir ons onmoontlik om as ’n sendeling in ’n afgeleë land te dien. Ons is miskien nie in staat om lede van die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier- of takkantoorpersoneel te wees nie. Dit is dalk nie vir ons moontlik om as reisende opsieners en dies meer te dien nie. Maar niks verhoed ons om ons middele ter bevordering van Koninkryksbelange te gebruik nie (Mattheüs 6:33). Ons kan inderdaad in staat wees om ‘Jehovah uit ons goed te vereer’. Dit sal ’n seën meebring, want ‘ons skure sal vol word van oorvloed’.—Spreuke 3:9, 10.
Hulle het gedoen wat hulle kon
Ja, ons kan dieselfde gees openbaar as Maria van Betanië en ander godvresende persone van die verlede. Ter toeligting: die Israeliete van Moses se dag is die voorreg gegee om Jehovah te vereer toe die tabernakel vir sy aanbidding gebou is. Nie almal kon dieselfde dinge doen nie, maar hulle harte het hulle gedring om te doen wat hulle kon. Sommige vroue het byvoorbeeld die bokhaar wat gebruik is, gespin. Sekere manne het gedien as ambagsmanne wat allerlei werke gedoen het. En die mense oor die algemeen? Wel, hulle het Jehovah vereer deur goud, silwer, koper, wol, linne en ander dinge te gee sodat die tabernakel voltooi kon word. Almal wat gewillig van hart was, het met graagte hierdie “offergawe aan die HERE” gebring, en dit was ’n “vrywillige offergawe” (Exodus 35:4-35). Hoeveel het hulle gegee? Die materiaal wat bygedra is, was “genoeg om die hele werk tot stand te bring; ja, daar het oorgebly”! (Exodus 36:4-7). Ja, hulle het gedoen wat hulle kon.
Baie jare later het koning Dawid baie bygedra tot die tempel wat deur sy seun Salomo gebou sou word. Dawid het selfs sy “spesiale besitting” van goud en silwer vir daardie doel gegee. Toe het hy vir die volk van Israel gevra: “Wie bied hom dan vandag gewillig aan om sy hand te vul vir ’n offer aan die HERE?” Daarop het vorste en owerstes gawes gebring, en “by wie edelgesteentes gevind is, hulle het dit gegee vir die skat van die huis van die HERE”. Dit is nie teësinnig gedoen nie, want ons word meegedeel: “En die volk was bly oor hulle gewilligheid, want met ’n volkome hart het hulle vrywillig aan die HERE gegee, en ook koning Dawid was baie bly” (1 Kronieke 29:3-9). Hulle het almal gedoen wat hulle kon.
As individue het talle vroeë Christene bygedra tot die bevordering van die Koninkryksverkondiging. Die bejaarde apostel Johannes het byvoorbeeld daarop gewys dat lede van die Christengemeente onder verpligting gestaan het om reisende verteenwoordigers wat uitgestuur is te help “sodat ons mede-arbeiders van die waarheid kan word”. Johannes het Gajus ook geprys vir die gasvryheid wat hy toewys het aan “vreemdelinge”, dit wil sê, aan diegene wat Gajus vantevore nie geken het nie maar wat hy hartlik ontvang het as gevolg van die diens wat hulle aan die gemeente verrig het (3 Johannes 5-8). Die meeste getuies van Jehovah in ’n bepaalde gebied kon nie groot afstande ten behoewe van die “evangelie” aflê nie, maar hulle het gedoen wat hulle kon.
Hele gemeentes het ook hulle materiële middele gebruik om die Koninkrykswerk te bevorder. Die apostel Paulus kon byvoorbeeld vir die gelowiges in Filippi sê: “Ook in Thessalonika het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur. Nie dat ek die gawe soek nie, maar ek soek die vrug wat oorvloedig word op julle rekening” (Filippense 4:15-17). Die hele gemeente kon nie saam met die apostel reis nie, maar hulle het gedoen wat hulle kon.
Hoe sommige voel
Jesus Christus het gesê: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.” Dit verbaas ons dus nie dat God se volk hulle grootliks verbly het toe hulle, in koning Dawid se dag “vrywillig aan die HERE gegee” het nie (1 Kronieke 29:9; Handelinge 20:35). Daar bestaan vandag ’n soortgelyke gees.
Een getuie van Jehovah het aan die Wagtoringgenootskap geskryf en gesê: “Ek is 81 jaar oud en kan as gevolg van belemmerende gewrigsontsteking nie meer veel in die diens [die veldbediening] doen nie, maar ek wil graag iets ter bevordering van die diens doen. Solank as wat ek kan, sal ek elke maand ’n bydrae aan julle stuur, en ek wil veral graag die gegradueerdes [van die Wagtoring-Bybelskool Gilead] help wat na ander lande gaan.” Hierdie bejaarde vrou kon nie self as ’n sendelinge dien nie, maar haar hart het haar gedring om te doen wat sy kon.
Hele gesinne het saamgewerk om iets by te dra om drukonkoste te help dek en die Genootskap se uitbreidingsprogram te help finansier. Een gesin het geskryf: “Ons het as ’n gesin verplig gevoel om ’n aandeel hierin te hê. . . . Dit het ons baie bly gemaak toe ons twee jong tienderjarige seuns ons genader en die begeerte uitgespreek het om by te dra tot ons gesin se bydrae aan die Genootskap. Hulle aandeel kom uit geld wat hulle vir deeltydse werkies ontvang en toe gespaar het. Ons is verheug oor die talle pragtige publikasies en al die geestelike voedsel wat ons gereeld van Jehovah se tafel ontvang.”
Hoe dit moontlik kan wees
Onder Jehovah se Getuies is daar nie baie wat materieel ryk is nie, en baie het vandag met ekonomiese probleme te kampe. Maar wanneer hulle ’n klein bedraggie ter bevordering van Koninkryksbelange gee, moet hulle nooit dink dat hulle bydrae onbeduidend is nie. Toe Jesus gesien het dat ’n weduwee twee klein muntstukkies in die tempel se skatkis gooi, het hy nie op haar neergesien nie. Hy het eerder gesê: “Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het. Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe” (Lukas 21:1-4). Hoewel die geldelike waarde van haar gawe klein was, het sy gedoen wat sy kon.
Om iets te hê om by te dra moet daar gewoonlik beplan word, hetsy deur individue en gesinne of deur gemeentes. Toe ’n behoefte onder Christene in Judea ontstaan het, het medegelowiges in Korinthe wat hulle graag wou help, dienooreenkomstig ’n nuttige wenk van die apostel Paulus ontvang. Hy het geskryf: “Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galasië gereël het. Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insameling nie eers plaasvind as ek kom nie.”—1 Korinthiërs 16:1, 2.
Net soos ’n persoon geld vir ’n noodgeval kan spaar, kan individuele Getuies, gesinne of gemeentes gereeld iets opsy sit vir ’n bydrae ter bevordering van ware aanbidding. Trouens, hele gemeentes dra dikwels oortollige geld by ter bevordering van die Koninkrykswerk. Hulle doen dit deur resolusies in daardie verband voor te berei en aan te neem. Individue met gewillige harte vind ook dat dit moontlik is om Christelike predikingsbedrywighede dwarsoor die aarde te help ondersteun deur persoonlike bydraes vir daardie doel te gee. Hierdie behoorlike mededeelsaamheid vergroot hulle geluk en gee hulle die genoegdoening van die wete dat hulle doen wat hulle kan.
Die Wagtoringgenootskap erken alle bydraes per brief. Individue, gesinne of gemeentes wat sulke bydraes wil gee, kan dit stuur aan die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, Privaatsak 2, Elandsfontein, 1406.
Al die bydraes wat die Genootskap ontvang, word hoog op prys gestel en gebruik om die evangelie van God se Koninkryk te verkondig. Dit is byvoorbeeld met sulke middele dat sendinghuise en -bedrywighede in verskeie lande gefinansier word. Ook drukkerye, wat noodsaaklik is vir die verspreiding van Bybellektuur, word op hierdie wyse aan die gang gehou en vergroot, waar nodig. Danksy sulke bydraes kan reisende kring- en streekopsieners Christengemeentes dwarsoor die aarde besoek en geestelike bystand aan medegelowiges verleen (Romeine 1:11, 12). Ander in die voltydse bedieningswerk word ook op hierdie wyse bygestaan.
Vroeë voorstanders van ware aanbidding het ’n seën uit die hemel ontvang omdat hulle Jehovah uit hulle goed vereer het. En hoe gelukkig was hulle tog! Wanneer ons vandag Koninkryksbelange ondersteun, word ons eweneens ryklik geseën. Laat ons dus positief reageer wanneer ons harte ons dring om te doen wat ons kan.