God se Woord is lewend
Die wêreld waarvoor Jesus nie gebid het nie
DIE nag voor sy dood het Jesus gebid: “Ek bid vir hulle [sy dissipels]; Ek bid nie vir die wêreld nie” (Johannes 17:9). Vroeër daardie aand het Jesus van “die owerste van hierdie wêreld” gepraat. Die Bybel identifiseer hierdie owerste as Satan die Duiwel “die god van hierdie wêreld [wat] die [ongelowiges se] sinne verblind het”—Johannes 16:11; 2 Korinthiërs 4:4.
Maar wat is hierdie wêreld waarvan Satan die owerste is en waarvoor Jesus nie gebid het nie? Dit is hierdie georganiseerde mensegemeenskap wat afsonderlik van of buitekant God se sigbare organisasie bestaan. Satan se wêreldorganisasie bestaan in die besonder uit drie dele wat nou met mekaar verband hou.
Eerstens is daar valse godsdiens wat in die Bybel voorgestel word as ’n bloedskuldige hoer genaamd “Babilon die Grote”. Die Bybelse verklaring dat ‘al die nasies deur haar towery verlei is’, toon dat hierdie hoer ’n godsdiensstelsel afbeeld (Openbaring 18:23). Daar word gesê dat hierdie slegte vrou: “op ’n skarlakenrooi dier . . . met sewe koppe en tien horings” sit.—Openbaring 17:3.
’n Tweede, belangrik deel van Satan se wêreldorganisasie is die politieke regerings, wat in die Bybel deur diere voorgestel word (Daniël 8:20, 21). ’n Gesig wat deur die apostel Johannes neergeskryf is, toon dat die dierlike regerings van die wêreld hulle mag van Satan ontvang: “Ek het ’n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings . . . en die draak [Satan die Duiwel] het hom sy krag gegee.”—Openbaring 13:1, 2; 12:9.
’n Derde, vername deel van Satan se wêreldorganisasie is die hebsugtige en verdrukkende kommersiële stelsel. Dit word in die Bybel voorgestel deur “handelaars”. Die “handelaars” staan ver weg en ween wanneer Babilon die Grote vernietig word.—Openbaring 18:11, 15.
Nog iets wat kenmerkend van Satan se wêreld is, is die losbandigheid en onsedelikheid wat daar aangehef word. Daarom het beide, die apostels Paulus en Petrus Christene gewaarsku om die slegte gebruike van mense van die nasies te vermy (Efesiërs 4:17-19; 1 Petrus 4:3, 4) Die mense van hierdie georganiseerde mensegemeenskap bou hulle lewens om “die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe”.—1 Johannes 2:15, 16.
In ooreenstemming met Jesus se woorde oor sy volgelinge, “hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie”, sal Christene vandag op hulle hoede wees sodat hulle nie ’n deel van Satan se wêreld word nie (Johannes 17:16). Hulle sal geen aandeel hê in die verdorwe godsdiens en politiek daarvan of in die oneerlike sakegebruike daarvan nie. Hulle sal die onsedelike lewenswyse daarvan vermy.
[Prente op bladsy 23]
Valse godsdiens
Verdorwe politiek
Hebsugtige handel
Onsedelikheid