’n Vrugbare olyfboom
“So sal die hele Israel gered word.”—ROMEINE 11:26
1. Wat kan van olyfbome gesê word?
DIT is bekend dat olyfbome honderde jare oud word. Selfs wanneer die ou, dikwels hol, stam eindelik doodgaan, loop nuwe lote dikwels uit die wortels sodat een of meer nuwe olyfbome ontstaan. Hoe dit ook al sy, daar is ’n olyfboom wat byna 4 000 jaar gelede geplant is en wat vandag nog lewe en vrug dra!
2. In verband met watter belofte praat Paulus van die olyfboom, en wat lig dit toe?
2 In sy brief aan die Romeine gebruik die apostel Paulus ’n olyfboom om die wonderlike wyse toe te lig waarop Jehovah deel van ’n belofte vervul wat Hy eeue tevore aan Abraham gemaak het:
“Ek sweer . . . dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag [saad, NW] grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag [saad] sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag [saad] sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.”—Genesis 22:16-18.
Die Abrahamitiese verbond
3, 4. (a) Hoe het Abraham pas tevore sy geloof getoon? (b) Wat is deur hierdie voorval afgebeeld?
3 Abraham het pas tevore getoon dat hy bereid was om Isak, sy enigste seun by sy eerste vrou, Sara, op te offer. (Hebreërs 11:17-19; lees asseblief Genesis 22:1-18.) Christene sien al van die vroegste tye af in hierdie voorval ’n afbeelding van hoe Jehovah sy Seun opoffer en hom dan deur middel van die opstanding terugontvang. Ja, “so lief het God die wêreld [van die mensdom] gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.
4 In hierdie profetiese beeld het Abraham Jehovah God afgebeeld, en Isak—’n jong man wat hom teen sy 125-jarige vader kon verset het—Jesus Christus, wat sy menselewe gewillig as die losprysoffer neergelê het—Hebreërs 7:27; 10:12.
5. Wat is in God se verbond met Abraham omtrent die beloofde saad van Genesis 3:15 geopenbaar?
5 As gevolg van Abraham se groot geloof het Jehovah tevore ’n verbond met hom gesluit wat in 1943 v.G.J. van krag geword het (Genesis 12:4, 7; Galasiërs 3:17). Sowat 50 jaar later, nadat Jehovah die beproefdheid van Abraham se geloof gesien het, selfs in verband met Isak, het Jehovah sy verbondsbelofte herhaal en daarop uitgebrei, soos opgeteken in Genesis hoofstuk 22. Hierdie volledige Abrahamitiese verbond het besonderhede verstrek oor die ontplooiing van God se wonderlike voornemens. Dit het getoon dat die saad van verlossing wat in Eden beloof is as ’n afstammeling van Abraham sou verskyn, dat dit ’n veelvuldige saad sou wees (die presiese getal is nie destyds geopenbaar nie), dat dit sy vyande sou verslaan, en laastelik, dat al die nasies van die aarde deur daardie saad seëninge sou verkry.—Genesis 3:15.
Hoe om die Saad van Abraham te identifiseer
6, 7. (a) Wie is volgens die Skrif die primêre Saad van Abraham? (b) Hoe weet ons dat daar ’n sekondêre saad van Abraham sou wees? (c) Wanneer is die presiese getal geopenbaar, en wat is dit?
6 Elke besonderheid van hierdie belofte is van belang vir persone wat Abraham se geloof deel en wat deur Jehovah geseën wil word (Romeine 4:16). Wie was allereers die saad van Abraham, waardeur al die nasies van die aarde hulle mettertyd sou seën? Die apostel Paulus identifiseer hierdie primêre Saad as Christus.—Galasiërs 3:16.
7 En watter persone sou die sekondêre deel van Abraham se saad uitmaak, aangesien Jehovah Abraham beloof het dat hy sy saad sou vermeerder? Wie sou “volgens die belofte erfgename” wees, “mede-erfgename” van die primêre Saad, Christus? (Galasiërs 3:29; Romeine 8:17). Net soos “die sterre van die hemel” of “die sand wat aan die seestrand is”, was die getal van diegene wat die sekondêre ‘saad van Abraham’ sou uitmaak sowat 2 000 jaar lank vir die mens onbekend. Toe, teen die einde van die eerste eeu G.J., het die apostel Johannes “die getal van die verseëldes gehoor: honderd-vier-en-veertigduisend verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel”.—Genesis 22:17; Openbaring 7:4.
8. Watter besondere geleentheid het die besnede Jode gehad?
8 Uit wie sou hierdie 144 000 “kinders van Israel” egter gekies en verseël word? Indien genoeg vleeslike Israeliete die Wetsverbond as ’n “tugmeester na Christus [die primêre Saad van Abraham] toe” gevolg het, kon hulle die hele 144 000 lede van die sekondêre saad van Abraham voorsien het en aldus “’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie” geword het tot seën van al die nasies van die aarde (Galasiërs 3:24; Exodus 19:5, 6). Maar was genoeg van hulle ware kinders van Abraham, “die vader . . . van almal wat glo”?—Romeine 4:11.
9. Hoe het Johannes die Doper getoon dat die geestelike saad van Abraham nie noodwendig net uit Jode sou bestaan nie?
9 Selfs voordat Jesus met sy aardse bediening begin het, het Johannes die Doper Joodse godsdiensleiers gewaarsku: “Moenie dink om by julleself te sê: ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek. Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi” (Mattheüs 3:9, 10). Teen Paulus se dag is die wonderlik verstandige manier waarop Jehovah die volle getal van die sekondêre saad van Abraham sou opwek, geopenbaar (Romeine 16:25-27). Paulus verduidelik dit in besonderhede in sy brief aan die Romeine.
Paulus se brief aan die Romeine
10. Wat het die vleeslike Jode verkeerdelik geglo?
10 Die Jode was baie bewus daarvan dat hulle God se uitverkore volk was. Van die uitdrukking “uitverkore volk” sê The Concise Jewish Encyclopedia: “’n Benaming wat die oortuiging uitdruk dat die Jode ’n spesiale verhouding met God het. Die begrip is gebaseer op die verbond met Abraham.” Omdat die Jode trots was op die feit dat hulle Abraham se afstammelinge is, het hulle gemeen dat hulle die saad is waardeur alle ander nasies geseën sou word en dat hulle hulself voor God kon regverdig deur werke onder die Wetsverbond.—Johannes 8:33, 39; Romeine 9:31, 32; 10:3, 4; 11:7.
11, 12. (a) Wat was die situasie in die gemeente in Rome toe Paulus aan die Romeine geskryf het? (b) Waarom het Paulus aan Joodse en nie-Joodse Christene in Rome geskryf?
11 Dit was teen hierdie agtergrond dat die apostel Paulus aan die Christengemeente in Rome geskryf het. Sommige van die Jode in Rome het Christene geword, maar die oorgrote meerderheid het geweier om in Jesus as die Messias te glo. Daar was ook baie nie-Joodse Christene in die Christengemeente in Rome.
12 Jode sowel as nie-Jode het om verskillende redes meerderwaardig gevoel—die Jode omdat hulle van die oorspronklike geslag van Abraham is—die nie-Jode omdat hulle die spesiale voorregte van die Abrahamitiese verbond geniet weens die gebrek aan geloof van die ongelowige Jode. Paulus het probeer om Christene van Joodse en nie-Joodse herkoms daarvan te oortuig dat albei groepe hulle regverdige naam by God aan hulle geloof in Christus te danke het en nie aan werke nie (Romeine 3:21-27). Paulus wou met sy brief Christelike eenheid en produktiwiteit bevorder, tot die eer van Jehovah vir die wonderlike wyse waarop hy progressief die beloftes van die Abrahamitiese verbond vervul.
’n Simboliese olyfboom
13. Waarom het Paulus droefheid uitgespreek, en wat het hy deur middel van ’n mak olyfboom toegelig?
13 Die apostel Paulus spreek sy droefheid uit omdat “nie almal Israel [is] wat uit Israel is nie” en sê: “Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag [saad] is, is hulle almal kinders [deel van Abraham se geestelike saad] nie.” Dan lig hy toe hoe Jehovah ‘vir Abraham kinders opwek’ (Romeine 9:1, 2, 6, 7). Hy gebruik die gelykenis van ’n spesiaal gekweekte olyfboom om te beskryf hoe die Abrahamitiese verbond die volle getal lede van die geestelike saad van die belofte voort bring.—Lees asseblief Romeine 11:13-26.
14. Wie is die wortel van die simboliese olyfboom, en watter tekste toon dit?
14 Paulus meld die wortel voordat hy van die boom self praat, en hy sê dat “die wortel heilig is” (Romeine 11:16). Jehovah God is die “Allerheiligste” (Hosea 12:1). Hy word dikwels, veral in die boek Jesaja, “die Heilige van Israel” genoem (Jesaja 10:20; 29:19; 60:9). Die apostel Petrus het gesalfde Christene soos volg vermaan: “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word” (1 Petrus 1:15, 16). Jehovah God, die Grotere Abraham, is die wortel van die simboliese olyfboom.
15. (a) In watter opsigte is Jehovah die wortel van geestelike Israel? (b) Wie is die stam van die simboliese olyfboom? Waarom?
15 Net soos die aartsvader Abraham die wortel van die nasie Israel was, gee Jehovah lewe aan geestelike Israel. Net soos die twaalf stamme van Israel uit Abraham voortgespruit het deur sy seun Isak, deur Jakob en die twaalf aartsvaders, spruit die twaalf simboliese stamme van geestelike Israel voort uit Jehovah deur die Grotere Isak, Christus Jesus. As die primêre Saad van Abraham word hy deur die stam van die olyfboom gesimboliseer (Galasiërs 3:16). Jehovah, die wortel, bring die volle getal lede van die sekondêre saad deur sy Seun, Christus Jesus, voort (Galasiërs 3:29). Maar hoe bring Jehovah die vereiste getal simboliese takke voort?
Sommige takke afgekap, ander ingeënt
16. Wat is die “verborgenheid” wat Paulus in Romeine 11:25 en Efesiërs 3:3-6 gemeld het?
16 Paulus gaan voort om hierdie wonderlike reëling te verduidelik. Hy skryf: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene [die volle getal uit die heidennasies, NTP] ingegaan het; en so [Grieks, kai hou’tosa] sal die hele Israel gered word.” (Romeine 11:25, 26; vergelyk Efesiërs 3:3-6.) Jehovah sou ‘vir Abraham kinders opwek’ deur die vereiste getal, of “die volle getal uit die heidennasies” tot die sekondêre saad van Abraham toe te laat. Deur “die geloof van Abraham” te sou hierdie beperkte getal nie-Jode bewys dat hulle geestelike Jode is, deel van geestelike Israel, “die Israel van God”.—Romeine 4:16; 2:28, 29; Galasiërs 6:15, 16.
17. (a) Watter buitengewone prosedure het Paulus beskryf? (b) Wie is deur die afgekapte takke en deur die ingeënte lote van ’n wilde olyfboom voorgestel? (c) Hoe het hierdie gelykenis die trotse en hoogmoedige Jode blootgelê?
17 Paulus het die volbrenging van hierdie “verborgenheid” toegelig met ’n buitengewone tuinboukundige prosedure. Die gewone prosedure was om lote van ’n mak boom op ’n wilde onderstam in te ent om dit vrugbaar te maak, ’n prosedure waarvan Paulus terdeë bewus was. Hy het vir die nie-Joodse Christene gesê dat hulle “teen die natuur op die mak olyfboom ingeënt” is (Romeine 11:24). Hy het dus die nie-Jode wat tot die Abrahamitiese verbond toegelaat sou word, vergelyk met spruite of lote van ’n wilde olyfboom wat op die stam van ’n “mak olyfboom” ingeënt sou word. Hulle sou die natuurlike takke vervang wat afgekap is, takke wat die vleeslike Jode afbeeld wat weens hulle ongeloof verwerp is (Romeine 11:17, 19, 20, 24). Hierdie buitengewone gelykenis was ’n kragtige blootlegging van die trotse en hoogmoedige, ongelowige Jode, in wie se oë die nie-Jode so dood soos klippe was of net so min goeie vrugte kon dra as wilde olyf takke. Dit het bevestig dat Jehovah die “mag het om . . . kinders vir Abraham te verwek”, net soos Johannes die Doper gewaarsku het.—Lukas 3:8.
18. (a) Wat het in 36 G.J. gebeur, maar is enige afgekapte takke weer op die Abrahamitieseverbondsboom ingeënt? (b) Hoe het Paulus eenheid in die Christengemeente bevorder?
18 Nie-Joodse Christene wat “teen die natuur” op die Abrahamitieseverbondsboom ingeënt is as deel van die geestelike saad het desondanks geen rede gehad om meerderwaardig teenoor die Jode te voel nie. Paulus het verduidelik: “Ook hulle [Jode] sal, as hulle nie in die ongeloof bly nie, ingeënt word; want God is magtig om hulle weer in te ent” (Romeine 11:23). ’n Klein oorblyfsel natuurlike Jode het die primêre Saad aangeneem en permanente takke in die simboliese boom geword (Romeine 9:27; 11:5). Maar die meeste Jode is in 36 G.J., aan die einde van die 70ste week van jare wat deur Daniël voorspel is, van die Abrahamitieseverbondsboom afgebreek (Daniël 9:27).b Maar sommige Jode is daarna weer “op hul eie olyfboom ingeënt” deur in die Messias, Jesus, die primêre Saad van Abraham, te glo (Romeine 11:24; Handelinge 13:5, 42, 43; 14:1). Deur die aandag op hierdie dinge te vestig, het Paulus eenheid onder die gesalfde Christene bevorder, want almal het deur ‘God se goedertierenheid’ deel gekry aan “die vettigheid van die olyfboom”.—Romeine 11:17, 22.
’n Olyfboom wat in sy geheel vrugbaar is
19. Hoe het die Abrahamitiese verbond geleidelik die geestelike saad voortgebring sodat “die hele Israel” gered is?
19 Deur die eeue heen, en veral in die gunstige deel van hierdie tyd van die einde, is ander Jode en nie-Jode op die simboliese olyfboom ingeënt. So bring die Abrahamitiese verbond die “volle getal” Jode en nie-Jode voort om die geestelike saad voltallig te maak. “So sal die hele Israel gered word”, nie vleeslike Israel nie, maar diegene wat “werklik Israel” is, die 144 000 lede van geestelike Israel.—Romeine 11:12, 25, 26, NTP; 9:6-8, NTP; Openbaring 7:4.
20, 21. (a) Watter reaksie moet die vervulling van hierdie allerbelangrikste deel van die Abrahamitiese verbond by ons uitlok? (b) Wat gaan ons in die volgende artikel ondersoek?
20 Die wonderlike wyse waarop Jehovah hierdie allerbelangrikste deel van die Abrahamitiese verbond vervul het deur die stam en die volle getal takke van hierdie simboliese boom voort te bring, behoort ons met verwondering te vervul. Net soos Paulus roep ons uit: “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”—Romeine 11:33-36.
21 Maar watter praktiese lesse bevat die gelykenis van die ingeënte olyfboom vir die simboliese takke (gesalfde Christene) sowel as ander wat hulself nou kan seën deur middel van die saad wat deur die Abrahamitieseverbondsboom voortgebring is? Hierdie aspekte sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
a “καὶ οὕτως = en so; nie bloot temporeel nie” (The Expositor’s Greek Testament). Vergelyk Die Lewende Bybel (“en op dié manier”), Today’s English Version (“en dit is hoe”), die 1979-vertaling van Die Nuwe Testament en die Psalms, Authorized Versions, Revised Standard Version en New International Version (“en so”). Diegene wat glo aan die eindelike bekering en redding van die hele Joodse nasie laat kai hou’tos “en dan” beteken—ten opsigte van tyd. (kyk Romeine 11:26, The Jerusalem Bible.) Baie van die Christendom se Bybelkommentare bied hierdie vertolking, al druis dit in teen Paulus se hele argument en teen die feite van eertydse en eietydse geskiedenis.—Vergelyk Romeine 2:28, 29; 9:1-6, 27; 10:1, 21; 11:5, 7-10, 14; Handelinge 13:45, 46.
b Kyk hoofstuk sewe van die boek “Let Your Kingdom Come”, wat uitgegee word deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.
Het jy hierdie sleutelgedagtes gesnap?
◻ Watter beloftes word in die Abrahamitiese verbond vervat?
◻ Wie is die primêre en sekondêre sade?
◻ Identifiseer die volgende dele van die simboliese olyfboom:
—die wortel
—die stam
—die afgekapte, natuurlike takke
—die natuurlike takke wat aan die boom gelaat of weer ingeënt is
—die ingeënte wilde-olyftakke
◻ Wat is die “verborgenheid” wat Paulus in Romeine 11:25 gemeld het?
◻ Waarom is die simboliese olyfboom in sy geheel vrugbaar?
[Prent op bladsy 15]
DIE SIMBOLIESE OLYFBOOM—Beeld en teenbeeld
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
TAKKE:
12 stamme van Israel
144 000 geestelike Israeliete (sekondêre saad)
STAM:
Isak, Jakob en 12 aartsvaders
Messias Jesus (primêre Saad)
WORTEL:
Abraham
Jehovah