Ek lewe in die skadu van ’n rolstoel
“DIT spyt my om dit te moet sê, maar jy sal eenvoudig moet aanvaar dat party mense in ’n rolstoel beland voordat hulle 30 jaar oud is.”
Ek kon my ore nie glo nie. “Kyk hier! Ek is 19, nie 90 nie!” het ek gestamel.
“Daar is niks wat ons kan doen nie”, het die kalm antwoord gekom.” Jy moet dit aanvaar. Daar is mense in hierdie wêreld wat nie kan loop wanneer hulle 30 is nie, en jy gaan een van hulle wees.”
Daardie angswekkende woorde van ’n ortopedis was die eerste aanduiding dat ’n aangebore ruggraatgebrek my uiteindelik in ’n rolstoel sou vaskluister. In volslae ongeloof het ek op my fiets gespring en vinnig weggery.
Ek benut my tyd ten beste
Ek was toe reeds twee jaar lank ’n voltydse pionierprediker hier in Engeland, en watter gelukkige jare was dit tog! My hart was daarop gerig om aan te hou, maar die ortopedis se woorde het gedurig by my opgekom. Sou dit ooit bewaarheid word? “Wel, waar of vals”, het ek vir myself gesê, “dit het geen sin om tou op te gooi voordat dit gebeur nie, of hoe?” Ek sou aanhou in die pionierdiens.
Gedurende die volgende tien jaar het die agteruitgang van my ruggraat al hoe duideliker geword. Dit was grootliks te danke aan die bemoediging en fisiese hulp van Elsa, my pioniermaat, dat ek in staat was om in die voltydse predikingswerk te bly. Ons het honderde kilometers per fiets afgelê, in kusdorpe getuig, deur die pragtige platteland gereis, in voorstedelike gebiede gearbei en ons eindelik op die middestad van Londen toegespits. Watter innige gevoel van vryheid en tevredenheid het ons tog ervaar omdat ons al ons tyd kon wy aan die werk om God se Woord oor sy wonderlike belofte van ’n komende aardse paradys te verkondig!
Hoewel ek van tyd tot tyd in die hospitaal was en ’n stuk of 12 operasies gehad het, het ek in die pionierdiens aangebly. Ek het begin om beenstutte te gebruik, en moes eindelik elmboogkrukke gebruik. Dit is hoe ek gedurende die laaste twee jaar van my pionierdiens oor die weg gekom het. Mense was baie gaaf. Een taxibestuurder was altyd op die uitkyk vir my en het my gratis van een plek na die ander vervoer. Baie ander mense het my ingenooi om ’n bietjie te rus wanneer hulle my gesien het.
Toe is die ortopedis se woorde pynlik bewaarheid. My ruggraat het skielik meegegee. Na ’n lang tyd in die hospitaal en nog etlike maande in gips, het ek in ’n rolstoel beland. “Ek sal eendag wakker word en vind dat dit nie waar is nie”, het ek voortdurend vir myself gesê. Ek moes maar net wag totdat daardie dag aanbreek, altans so het ek gedink.
Ek aanvaar my gebrek
Aan die begin was ek gebelg. Ek het ander se bedagsaamheid en hulp broodnodig gehad, maar ek het verleë, selfs ontmoedig, gevoel omdat ek dit moes aanvaar. Maar ek was net so gekrenk as geen hulp aangebied is nie. Dit is waarskynlik slegs diegene wat ’n soortgelyke ondervinding gehad het wat ten volle kan begryp hoe dit is om skielik so afhanklik te word. My glimlag voor ander was ’n dekmantel vir my gevoelens van matelose verdriet en nutteloosheid.
Mettertyd het ek van die meeste van hierdie negatiewe emosies ontslae geraak. Wanneer ek nou terugkyk, was die keerpunt toe ’n mede-getuie 2 Korinthiërs 12:8-10 saam met my uit The Living Bible gelees het. Dit lui ten dele: “Ek is bly om ’n lewende bewys van Christus se krag te wees in plaas daarvan om ’n vertoon van my eie krag en vermoëns te maak.” Die Getuie wat hierdie woorde van die apostel Paulus vir my gelees het, is self ernstig beseer in ’n ongeluk, en ek kon sien dat hy dit in sy geval waar bewys het.
Ek het Jehovah God gesmeek om vir my iets konstruktiefs te toon wat ek kon doen sodat ek altyd vir hom en ander nuttig kon wees in plaas daarvan om egosentries te word. My hele lewe het verander.
Die vreugde om ander te help
Toe ek om my rondkyk, het ek begin sien dat baie mense beperkings het en nie kan doen wat hulle wil nie. Daar is byvoorbeeld vroue met groot gesinne om te versorg, mans wat heeldag vervelige werk moet doen, en bejaardes wat nie meer die energie het om veel te doen nie. Ek het aan hulle begin dink en gekyk hoe hulle die probleem te bowe kom.
Na ’n ruk het iemand vir my gevra: “Sal jy graag ’n Bybelstudie wil hou met ’n dame wat na jou huis kan kom?” Hoe bemoedigend! Sy was die eerste van verskeie persone saam met wie ek op hierdie wyse gestudeer het. Dit was verblydend om te besef dat my fisiese toestand nie afbreuk gedoen het aan my vermoë om my jarelange ondervinding in die dissipelmaakwerk te gebruik nie.
Ek het voortdurend na nuwe maniere gesoek om dissipels te maak. Aanvanklik het ek dit hoofsaaklik gedoen deur briewe te skryf. My toewysing is ’n woonstelgebou waar ’n mens nie maklik kan inkom om van deur tot deur te getuig nie. Wanneer ek aan hulle skryf, probeer ek om ’n ander huisgesin in elke woonstel voor te stel en gebruik ek ’n verskillende Skriftuurlike aanbieding vir elkeen. Sodoende hou ek my verstand aktief en werp ek myself in die openbare bediening van die Woord van God.
Ek het uiteindelik besluit om die laaste struikelblok te oorkom en weer evangelisasiewerk van huis tot huis te doen. Ek is so bly dat ek dit gedoen het. Daar is niks so geloofversterkend as die mondelinge verkondiging van ’n mens se geloof nie. Vriende in die gemeente laai my nou gereeld met rolstoel en al op, sodat ek selfs van tyd tot tyd hulppionierdiens kan doen.
Ek het ses jaar gelede laas fiets gery. Party dae hunker ek na die vryheid van beweging wat ek destyds gehad het, na die vars lug en die besige lewe wat ek so geniet het. Aan die ander kant het die bedrywige lewe wat ek in die pionierdiens gelei het my jare van beweeglikheid van die voorspelde 10 jaar tot meer as 15 verleng.
Ek woon die afgelope paar jaar alleen. Maar Elsa en haar man behandel my soos ’n lid van die gesin. Hulle kinders is vir my so dierbaar soos wat my eie vir my sou wees.
Ek herinner my ook daaraan dat ek bates bygekry het wat ek nie voorheen besit het nie. Een van die grootste daarvan is tyd. Ek is altyd beskikbaar om te luister na diegene wat ’n horende oor nodig het. Ek voel groter medelye vir diegene met probleme. Bowenal is daar die toenemende gehegtheid aan Jehovah God, wat my so liefdevol geleer het om die lewe te geniet soos dit is en wat my die krag en lewensdoel gegee het om hom aan te hou dien.