Vrae van lesers
♦ Geboorte is ’n natuurlike proses; sal dit, dus vir ’n Christen verkeerd wees om as vroedvrou te werk al voldoen sy nie aan die vereistes om ’n lisensie of sertifikaat te kry nie?
Geboorte is weliswaar ’n natuurlike proses, ’n wonder waarvoor ons Lewegewer, Jehovah, die eer moet kry (Genesis 1:27, 28; 49:25). En van die vroegste tye af het ervare vroedvroue vroue tydens talle bevallings bygestaan (Exodus 1:15-20). Die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) berig dat tradisionele vroedvroue met 60 tot 80 persent van die geboortes in lande van die Derde Wêreld help (“Medical Tribune”, 26 Januarie 1983). Selfs in sommige gevorderde lande word roetine-verlossings by geboorteklinieke of tuis, waar opgeleide verpleegster-vroedvroue die aanvanklike versorging behartig, al hoe meer aanvaar.
Bybelgeskiedenis toon egter dat daar tydens geboorte komplikasies kan wees wat selfs die moeder, die kind of albei se lewe kan eis (Genesis 3:16; 35:16-19). Die WGO berig dat “om en by 500 000 vroue jaarliks as gevolg van komplikasies tydens bevallings sterf”. Baie gesondheidsdeskundiges staan dus verlossings in hospitale of op plekke waar ’n dokter aanwesig is voor. Hulle bied ook kursusse aan om vroedvroue op te lei en sertifiseer of lisensieer dan diegene wat aan die vereistes voldoen.
Daar is natuurlik uiteenlopende voorkeure, aansprake en metodes: Is tuisgeboorte verkieslik wanneer daar geen komplikasies voorsien word nie? Watter verlossingsposisie is vir die moeder die maklikste? Sal ’n baba beter vaar as dit in ’n rustige atmosfeer, selfs onder water, gebore word? Moet narkose in die reël toegedien word? Wanneer moet die nawelstring afgesny word?
Die Christengemeente neem geen amptelike posisie oor sulke sake in nie, want dit is persoonlike sake. Dit spoor vroue ook nie aan om van die dienste van ’n verloskundige in plaas van ’n verpleegster-vroedvrou, of andersom, gebruik te maak nie. Dit is ook ’n persoonlike besluit. Maar die man en vrou moet belangstel in die welsyn van die moeder en die kind, en dit moet hulle begeerte wees om toe te sien dat albei lewe om Jehovah in gesondheid te dien.
Die WGO-verslag het gesê dat die “opleiding [van vroedvroue] veilige verlosmetodes en reinheid beklemtoon”. Die doel van programme vir die registrasie, sertifisering of lisensiëring van persone om met bevallings te help is klaarblyklik om te sorg dat die moeder en die kind bekwame hulp tot hulle beskikking het, in plaas daarvan om op ongekwalifiseerde praktisyns staat te maak. Die landswet kan selfs bepaal dat slegs gelisensieerde of gesertifiseerde persone vroue tydens bevallings mag bystaan. ’n Persoon wat bekende wette op hierdie gebied veronagsaam, kan die gevaar loop om as ’n wetsoortreder vervolg te word en kan haar bloedskuld op die hals haal indien iemand weens agtelosigheid of onbevoegdheid sterf.—Romeine 13:1-4.
Wanneer Christene gesondheidsorg wil hê of verleen, hetsy in verband met bevallings of ander vorme van behandeling, moet hulle Jesus se woorde in gedagte hou: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.”—Mattheüs 22:21.
♦ Moet ’n mens van “hoofstukke” praat wanneer jy na dele van die Bybelboek Psalms verwys?
Die Bybel word oor die algemeen in 66 boeke verdeel, en Psalms is een van hulle. ’n Hoofstuk is ’n hoofafdeling van enige boek, hetsy ’n geskiedenisboek, ’n roman of selfs ’n Bybelboek. Ons praat dus gewoonlik van Genesis hoofstuk 1, hoofstuk 2, ensovoorts. Uit hierdie standpunt kan die normale 150 hoofafdelings van die boek Psalms ook hoofstukke genoem word.
Die Afrikaanse titel “Psalms” kom egter van die Septuaginta, wat die boek Psalmoi noem. Daardie Griekse titel verwys na liedere wat met musiekbegeleiding gesing word. Die poëtiese geskrifte wat ons boek Psalms uitmaak, is klaarblyklik oorspronklik gesing, moontlik met harpbegeleiding. Trouens, die “Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal” definieer “psalm” as ’n “godsdienstige lied—veral een van die 150 liedere van die Israeliete uit die Bybelboek Boek van die Psalms”.
Hoewel dit nie verkeerd of onvanpas sal wees om byvoorbeeld van “Psalm hoofstuk 100” te praat nie, sal dit gevolglik akkurater en beskrywender wees om te praat van “Psalm 100” of “die 100ste psalm”. Trouens, dit is die vorm wat die dissipel Lukas gebruik het toe hy Handelinge geskryf het, want hy sê dat een verklaring “in die tweede psalm geskrywe is”.—Handelinge 13:33.