Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 10/1 bl. 14-19
  • Wandel met God in ’n gewelddadige wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wandel met God in ’n gewelddadige wêreld
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe God geweld beskou
  • Geweld verhewig
  • Die Christelike beskouing van geweld
  • Ons sal in die naam van Jehovah ons God wandel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Dit is dringender as ooit tevore dat ons waaksaam bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • ’n Permanente einde aan geweld—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Hoe beskou God geweld?
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 10/1 bl. 14-19

Wandel met God in ’n gewelddadige wêreld

“Dit moet jy nie vergeet nie: in die laaste dae sal daar verskriklike tye wees.”—2 TIMOTHEÜS 3:1, Die Katolieke “New American Bible”.

1. Wat toon dat ons nou inderdaad in “die laaste dae” lewe?

STEM jy nie saam dat ons in verskriklike tye lewe nie? Die woord “verskriklik” in die Bybelteks wat hierbo aangehaal is, kom van die Griekse woord khalepos. Dit word ook vertaal met “moeilik om deur te kom”, “gevaarvol”, “gevaarlik”, “smartlik”, “swaar” en “baie moeilik”.a In Mattheüs 8:28 word dieselfde woord gebruik om twee duiwelbesetenes te beskryf as buitengewoon “woes” of “gevaarlik”b Hoe waar is dit tog dat ons nou in verskriklike en gewelddadige tye lewe! Dit is ’n vervulling van die bogemelde profesie van die apostel Paulus en toon dat dit nou ongetwyfeld “die laaste dae” is!

2. (a) Hoe het goddelose mense hierdie verskriklike tyd veroorsaak? (b) Watter tekste identifiseer die hoofbron van vandag se weë, en hoe omvattend is dit?

2 Wat het aanleiding gegee tot hierdie verskriklike tye, “die laaste dae”? Is dit nie die toestand wat Paulus voorspel het toe hy gesê het nie: ‘Die mense sal liefhebbers van hulleself wees, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand’? En sulke goddelose mense word aangehits deur die een wat die Bybel beskryf as “die god van hierdie wêreld”, die “duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei”. Die gevolg is die skokkende toedrag van sake wat ons vandag om ons waarneem—in staatsbestuur, in die sakewêreld, in godsdiens, in die samelewing oor die algemeen.—2 Timotheüs 3:2-5, 13; 2 Korinthiërs 4:4; Openbaring 12:9, 12.

3. Waarom kan daar gesê het dat geweld epidemiese afmetings aangeneem het?

3 Namate ons dieper in die tagtigerjare inbeweeg, ondervind die wêreld ’n epidemie van geweld. In 1980 alleen was daar 1,3 miljoen gewelddadige misdade in die Verenigde State, ’n vermeerdering van 13 persent vergeleke met die vorige jaar, met die gevolg dat manslag die grootste doodsoorsaak onder mans tussen die ouderdomme van 25 en 44 is. In die dekade wat daardie selfde jaar geëindig het, het Brittanje berig dat moorde met 50 persent toegeneem het, gevalle van wurgroof met 300 persent en vandalisme met 200 persent. In Frankryk het die totale getal misdade sedert 1963 met meer as 260 persent toegeneem. Soortgelyke berigte word van oor die hele wêreld ontvang.

4. Hoe het die menslike toneel sedert 1914 verander, en tot watter vra gee dit aanleiding?

4 Geskiedskrywer Walter, Laqueur het berig: “Die tydperk voor die Eerste Wêreldoorlog was oor die algemeen mensliker. Dit spyt my om te moet sê dat menselewe in ons tyd goedkoper geword het—deels as gevolg van die grootskaalse slagting tydens die Eerste en die Tweede Wêreldoorlog. Daarbenewens het ons nou ook hierdie filosowe van geweld wat nie in die negentiende eeu bestaan het nie—mense wat redeneer dat geweld wonderlik is, dat dit ’n sielkundige belewenis is, dat ons werklik geweld nodig het.” Sedert wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het, het geweld oor die hele wêreld algemeen geword. Hoe beskou God hierdie geweld? Hoe moet Christene dit beskou?

Hoe God geweld beskou

5. (a) Hoe het geweld ’n vroeë begin gehad? (b) Hoe het Jesus die aanstigter van geweld beskryf?

5 Die Bybel beskryf ’n vroeër tydperk in die geskiedenis toe ‘die aarde vol geweld was’. Dit was meer as 4 300 jaar gelede, nadat die wêreld van daardie tyd ’n slegte begin gehad het met die ongehoorsaamheid van Adam en Eva, waarna hulle uit die Paradys van Eden verdryf is. Hulle eerste seun, Kain, het later sy broer Abel vermoor. Die goddelike verslag deel ons mee dat “Kain . . . uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het . . . En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig” (Genesis 6:11; 1 Johannes 3:12). Jesus het daardie “Bose” as die Duiwel geïdentifiseer toe hy gesê het: “Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af (Johannes 8:44). Reg van Eden af het Satan beslis ’n indrukwekkende reputasie opgebou as een wat die mensdom tot geweld aanhits.

6. (a) Watter skokkende dinge het in Henog se dag plaasgevind, en watter optrede het dit van Jehovah geverg? (b) Waarom het God Henog “weggeneem”? (Genesis 5:24)

6 Nadat Kain Abel vermoor het, het daardie oorspronklike wêreld bly versleg. Kain se afstammeling Lameg word ook ’n moordenaar genoem (Genesis 4:23, 24). Omstreeks daardie tyd het “Henog [van die geslag van Set], die sewende van Adam af, . . . ook teen [die goddelose] geprofeteer en gesê: Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het” (Judas 14, 15). God het Henog uit daardie wêreld weggeneem sodat dit nie langer vir hom nodig was om die geweld en mishandeling van daardie goddelose mense te verduur nie. Hoe lonend sal sy opstanding in die vreedsame “nuwe aarde” wat Jehovah gaan skep tog vir hom wees!—2 Petrus 3:13; Hebreërs 11:5.

7. Hoe het dit gekom dat die antieke wêreld met geweld vervul is?

7 In die dae van Henog se agterkleinseun Noag het engeleversterkings by die onsigbare Bose, Satan, aangesluit. Dit was geesseuns van God wat ongehoorsaam aan hom was deur na die aarde te kom om met die dogters van die mense te trou en ’n bastergeslag—die Nefilim het. Hierdie naam beteken “Kappers”, en getrou aan daardie benaming het hulle hulle moorddadige weë onder die mensdom voortgesit. “Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam. . . . En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.”—Genesis 6:1-13.

8. (a) Hoe vergelyk die wêreldsituasie nou met dié van Noag se dag? (b) Watter voorbeeld het Noag vir ons gestel, en hoe kan ons daarby baat vind as ons sy voorbeeld navolg?

8 Die apostel Petrus deel ons mee dat “die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord [van God] as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.” Die vervulling van Bybelprofesie toon dat die teenswoordige wêreld nou baie na aan daardie oordeelsdag is. Wat moet ons doen om behoue te bly? Wel, wat het Noag en sy gesin gedoen? Die Bybel deel ons mee: “Noag het met God gewandel. . . . En Noag het gedoen net soos die HERE hom beveel het” (2 Petrus 3:6, 7; Genesis 6:9, 22; 7:5). Dit het sy werk as ’n “prediker van geregtigheid” ingesluit. Deur sy geloof het “hy die wêreld veroordeel” (2 Petrus 2:5; Hebreërs 11:7). Behoort ons nie Noag en sy huisgesin, se pragtige voorbeeld noukeurig na te volg in ons strewe om uit die teenswoordige wêreld wat waarlik “in die mag van die Bose lê”, verlos te word nie?—1 Johannes 5:19.

Geweld verhewig

9. (a) Wat was die gevolg van die verhewiging van geweld in Noag se dag? (b) Watter soortgelyke verwikkeling was daar ná die Vloed, en tot watter klimaks het dit gelei?

9 Voor die Groot Sondvloed het geweld in die wêreld verhewig—totdat God self die oordeel voltrek het deur die verderwers van die aarde te verderf (Genesis 6:13, 17). Sedert die dae van Noag se agterkleinseun Nimrod, die “magtige jagter téén Jehovah”, het geweld deur die eeue heen verhewig. Dit het aanvanklik geleidelik geskied, maar dit het algaande momentum gekry (Genesis 10:1, 6, 8, 9, NW). Met verloop van tyd was daar die swaard, die pyl en boog, die spies; en meer onlangs die geweer, die kanon en ander vuurwapens. Maar die Eerste Wêreldoorlog, wat in 1914 uitgebreek het, het aanleiding gegee tot verbasende nuwe wapens van geweld—die vliegtuig, die tenk en ook gifgas. In daardie oorlog het die gebruik van die duikboot baie vrees veroorsaak en het masjiengewere letterlik miljoene lewens geëis.

10. (a) Hoe is Jesus se profesie oor gebeure “op die dag van die Here” vervul? (b) Waarom kan ons verwag dat Jehovah binnekort die oordeel gaan voltrek?

10 Die Here Jesus Christus het voorspel dat daar so ’n verwikkeling sou wees “op die dag van die Here”, waarin ons sedert 1914 lewe (Openbaring 1:10). Hy het beskryf hoedat hy op ’n wit perd as die pas gekroonde Koning sou uittrek, gevolg deur ’n ruiter op ’n vuurrooi perd. Aan laasgenoemde ruiter “is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ’n groot swaard is aan hom gegee”—die swaard van Totale Oorlogvoering. Daardie simboliese swaard sluit nou die afgryslikste en gewelddadigste instrumente in wat ooit deur die mens uitgedink en vermenigvuldig is, onder meer kernmissiele wat met hulle gesamentlike krag in staat is om die ganse mensdom talle kere van ons aardbol af in die lug in te blaas! As die teenwoordigheid van die reusagtige Nefilim, tesame met die oorvloedige boosheid van die mens in die dae van Noag, rede vir Jehovah was om ‘die mensdom te verdelg omdat hulle die aarde met geweld vervul het’, hoeveel te meer rede het dieselfde Soewereine Heer van die heelal dan nie vandag om “die verderwers van die aarde te verderf nie! (Genesis 6:4, 7, 13; Openbaring 6:1-4; 11:18). Waar die Here Jesus van goddelose mense van ons dag gepraat het, het hy self gesê: “Net soos die dae van Noag was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees. . . . Hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggevoer het nie.”—Mattheüs 24:37, 39, NW.

Die Christelike beskouing van geweld

11. (a) Waarom het God antieke Israel se oorloë goedgekeur? (b) Hoe moet God en Christus hedendaagse oorlogvoering beskou? (Vergelyk 2 Korinthiërs 10:3, 4.)

11 Dit is waar dat God se knegte van vervloë tye oorlog gevoer het. Maar ons moet onthou dat dit teokratiese oorloë was wat deur God gelas is. Israel het geveg om God se “land” te bevry van verdorwe nasies wat demone aanbid het (Levitikus 18:24-27; Deuteronomium 7:1-6). Dra die oorloë van die nasies, en veral oorloë wat sedert 1914 om wêreldoorheersing gevoer is, God se goedkeuring weg? Tree die mense op in harmonie met die God wat “uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak” het wanneer Katolieke Katolieke afmaai, Protestante Protestante afmaai, Boeddhiste Boeddhiste afmaai of Moslems Moslems afmaai? Hoe moet Christus, die Vredevors, die bloedvergieting beskou wat in die valse Christendom uitgebars het toe die Eerste Wêreldoorlog, en later die Tweede Wêreldoorlog, uitgebreek het? (Handelinge 17:24-26; Jesaja 9:5). Kom ons kyk na die nuwe en hoër standaard wat die Vredevors vir Christene gestel het net voordat hy op gewelddadige wyse om die lewe gebring is.

12, 13. (a) Waarom het Jesus gesorg dat sy dissipels met swaarde gewapen was? (b) Wat het Jesus toe duidelik omtrent teokratiese oorlogvoering getoon?

12 Gedagtig aan sy rol ter vervulling van profesie het Jesus op die vooraand van sy inhegtenisname vir sy dissipels gesê: “Wie nie ’n swaard het nie, moet van sy klere verkoop en een aanskaf. Ek sê vir julle: Die skrifwoord wat sê: ‘En Hy is saam met misdadigers gereken,’ moet aan My bewaarheid word.” Toe hulle geantwoord het: “Here, kyk hier is twee swaarde”, het hy vir hulle gesê: “Dit is genoeg” (Lukas 22:36-38, NTP; AB). Genoeg waarvoor? Eerstens, om Jesaja 53:12 te vervul. Tweedens, om ’n belangrike les by Christene tuis te bring.

13 Daar kon tog seker geen beter rede wees om ’n swaard te gebruik as om die Seun van God te beskerm nie! Dit was egter nie God se wil dat Jesus op daardie tydstip gered moes word nie. Toe die apostel Petrus sy swaard teen die dienskneg van die hoëpriester gebruik het, het Jesus dus vir hom gesê: “Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan” (Mattheüs 26:52, 53; Johannes 18:10, 11). Jesus het aldus duidelik getoon dat teokratiese oorlogvoering voortaan nie meer die gebruik van vleeslike wapens moes insluit nie.

14. Wat behels dit volgens Jesus om ”nie van die wêreld” te wees nie?

14 Dit het duidelik ooreengekom met wat Jesus vroeër daardie aand vir sy dissipels gesê het, naamlik dat hulle vervolg sou word omdat hulle “nie van die wêreld is nie”. Dit het gestrook met Jesus se gebed tot sy Vader wat hy daardie selfde aand gedoen het en waarin hy beklemtoon het dat sy dissipels, net soos hy, “nie van die wêreld is nie”. Dit het ooreengekom met wat Jesus vir Pilatus gesê het: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”—Johannes 15:19, 20; 17:14-16; 18:36.

15. (a) Tot watter eenheid het afgeskeidenheid van die wêreld aanleiding gegee? (b) Watter aspekte van hierdie eenheid word in Jesaja 2:2-4 beskryf?

15 Is jy nou afgeskeie van hierdie wêreld en sy gewelddadige weë, net soos Jesus en sy dissipels in die eerste eeu was? Dan is jy ’n wonderlike, wêreldwye eenheid, wat slegs deur Jehovah se Getuies geniet word, deelagtig. Dit is ’n eenheid wat voortspruit uit gehoorsaamheid aan God se wette en sy wil vir vandag. Want ’n “groot menigte” vredeliewende Christene “uit alle nasies en stamme en volke en tale” stroom nou na Jehovah se groot geestelike tempel vir aanbidding (Openbaring 7:9, 10, 15). Hulle word in Jesaja 2:2-4 beskryf: “En aan die einde van die dae sal die berg, van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”

16. (a) Watter teenstelling vorm Jehovah se Getuies met die wêreld? (b) Wat voorspel Miga 4:1-5 oor die voorspoed van God se volk, die rede daarvoor en die finale uitslag? (c) Met die oog waarop ontstaan daar ’n verdere vraag?

16 Hulle is nie ’n klomp vlagswaaiende ultranasionaliste nie, maar ’n vreedsame, verenigde volk uit alle nasies. Hulle is waarlik neutraal in ’n strydende wêreld. Nadat Miga 4:1-5 vertel het hoedat hulle ‘van hulle swaarde pikke smee’, beskryf dit hulle geestelike voorspoed en hulle vooruitsig om vir ewig op die aarde te lewe. Die profesie kontrasteer hulle met die volke van hierdie wêreld wanneer dit sê: “Want al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar ons sal wandel in die Naam van [Jehovah] onse God vir ewig en altoos.” Maar terwyl ons voortgaan om in God se naam te wandel, oefen ’n gewelddadige wêreld baie druk op ons uit. Hoe moet ons situasies wat kan ontstaan die hoof bied? Die volgende artikel verstrek die Bybel se antwoord op hierdie vraag.

[Voetnote]

a New World Translation, King James, Version, Douay Version, English Revised Version, Moffatt, The Living Bible.

b Die Katolieke Nuwe Testament (1983), Die Lewende Bybel.

Hoe sal jy die volgende beantwoord:

◻ Hoe toon die wêreldsituasie dat ons tyd die laaste dae is?

◻ Hoe beskou God geweld volgens die verslag in Genesis?

◻ Watter ooreenkomste is daar tussen Noag se dag en ons dag?

◻ Waarvan moet Christene afgeskei bly in ooreenstemming met Jesus se voorbeeld en woorde?

◻ Wat se Jesaja 2:2-4 en Miga 4:1-5 vir ons oor hoe ons met God kan wandel, en wat die gevolg daarvan sal wees?

[Prent op bladsy 15]

Hierdie “laaste dae” is voorwaar “verskriklike tye”

[Prent op bladsy 17]

Jesus het gesê: “Almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel