Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 10/1 bl. 10-13
  • Hulle vind ware veiligheid in Noord-lerland

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulle vind ware veiligheid in Noord-lerland
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • ’n Erfenis uit die verlede
  • Vroeë voorstanders van ware veiligheid
  • Hedendaagse ondervindinge
  • Neutraliteit bied beskerming
  • Koninkryksale
  • Ware veiligheid nie net ’n droom nie
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 10/1 bl. 10-13

Hulle vind ware veiligheid in Noord-lerland

DIE uitsig deur die vensters van die hospitaal, wat hoog bokant die stad Londonderry in die noordwestelike hoek van Noord-Ierland geleë is, is pragtig. Maar die jong verpleër het nie tyd gehad om oor die wondere van die skepping na te dink nie. Sy gedagtes is in beslag geneem deur ander, verskrikliker, dinge. Hy was ’n ooggetuie van die gevolge van die bitterheid en barbaarsheid wat die godsdiens-politieke geskille van daardie provinsie kenmerk.

“Dit was verskriklik”, het hy gesê, “om jong manne te sien wat uitmekaar geruk is. As ’n mediese span kon ons dit nie bekostig om aan hulle te dink as Protestante of Katolieke nie, maar slegs as lewens wat gered moes word. Dit het my voortdurend laat dink: ‘Watter sin het dit? Waarom laat God dit toe?”

’n Erfenis uit die verlede

Net soos die jong verpleër weet die meeste mense in Noord-Ierland as gevolg van hulle geskiedenislesse op skool dat dit nie ’n nuwe probleem is nie. Sederd die 12de eeu woed daar al godsdienstige en politieke gevegte tussen die Engelse en die Iere.

Mettertyd was daar ’n sametrekking van Protestante in die noordelike deel van die land. Die land is eindelik vroeg in hierdie eeu verdeel. Dit het gelei tot die oorwegend Rooms-Katolieke Republiek van Ierland na die suide en weste, en die oorwegend Protestantse provinsie Noord-Ierland. Hier wil die meerderheid hulle noue bande met die res van die Britse Eilande behou.

Vroeë voorstanders van ware veiligheid

Charles Taze Russell, die eerste president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, het Noord-Ierland vier keer besoek—in 1891, 1903, 1908 en 1911. Met sy laaste besoek aan die stad Belfast het ’n “klas” of groep van ongeveer 40 Bybelstudente saam met hom vergader. Hulle bedrywigheid het mettertyd vrugte afgewerp, aanvanklik meestal in Protestantse gebiede. Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945 was daar 120 getuies van Jehovah in Noord-Ierland.

Een van die vroeë voltydse werkers was ’n tingerige, brose vroutjie. In die vroeë dae het sommige van diegene vir wie sy getuig het haar met geweld gedreig. Een vrou het haar byvoorbeeld met ’n gaffel gejaag en ’n man het haar aan die keel probeer gryp nadat hy haar ’n Delila genoem het.

“Oor die algemeen was dit nie swaar nie”, het sy onlangs verduidelik voordat sy haar aardse loopbaan voltooi het. “Ons het daaraan gewoond geraak dat hulle op ons skreeu. As jy die Here om beskerming bid, gee hy dit vir jou.” Hierdie getroue Getuie het ’n bekende gesig geword terwyl sy Noord-Ierland op haar fiets deurkruis het.

’n Ander bejaarde werker vertel van die keer toe hy en sy metgesel vir Protestante aangesien is terwyl hulle in ’n Katolieke gebied gepreek het. Hulle is met klippe en allerhande ander goed bestook. Hulle het in hulle motor geklim, gou omgedraai en met die doodloopstraat langs teruggery terwyl hulle probeer het om ’n pad deur die groeiende gepeupel te vind. Toe die motor by hulle verbygaan, het die gepeupel die voorruit stukkend geslaan en die motor met ysterstawe bygedam. Maar benewens skok het hulle geen ernstige beserings opgedoen nie.

As gevolg van sulke pragtige vroeë voorbeelde van vasberadenheid, is daar nou 778 persone wat ander help om die Bybel se oplossing te sien vir die onveiligheid wat soveel hartseer in Noord-Ierland veroorsaak. Wat gebeur hier in die 30 gemeentes en kleiner groepe van Jehovah se Getuies?

Hedendaagse ondervindinge

In 1979 het ’n jong geskiedenisonderwyser, terdeë bewus van die tragedies van die verlede, afgekom op ’n eksemplaar van Die Wagtoring in die huis van ’n vriend. Omdat die dinge wat hy gelees het hom nuuskierig gemaak het, het hy meer lektuur bekom. “Omdat ek ’n boekwurm is, het ek dit verslind”, het hy verduidelik, “terwyl ek aldeur meer beïndruk is deur die wyse waarop alles inmekaar pas en, bowenal, sin het.”

Maar die man se Protestantse familie het nie die dinge wat hy geleer het, waardeer nie en hom toegegooi met lektuur téén die Getuies. “Ek was taamlik verbaas oor die teenkanting wat ek ondervind het”, het hy gesê, “totdat ek Mattheüs 10:36 gelees het, wat sê dat ‘’n man se huisgenote sy vyande sal wees’. Die lektuur, vol verdraaide, bitter kommentare, het toe net mooi die teenoorgestelde uitwerking gehad. Dit het my slegs daarvan oortuig dat Jehovah se Getuies wel die waarheid het.”

Intussen is die man getroud en was dit sy begeerte dat sy vrou die dinge wat hy geleer het, moes aanvaar. Hy het verduidelik: “Een Sondag, nadat ek ’n besonder, opbouende vergadering bygewoon het, het ek met my hele hart tot Jehovah gebid. Toe ek by die huis kom, was ek verbaas om my vrou aan te tref waar sy besig was om haar Koning Jakobus-Bybel te lees. Ek het met haar begin praat oor wat ek by die Koninkryksaal geleer het, en tot my verbasing het sy aandagtig geluister. Toe het sy my selfs nog meer verbaas deur te sê dat sy graag die vergaderinge saam met my wou bywoon. Sy het vir my vertel dat terwyl sy vroeër daardie dag vir die eerste keer sedert ons huwelik deur haar Bybel geblaai het, Psalm 83:18 skielik haar aandag getrek het: ‘Sodat mense kan weet dat U, wie se naam alleen JEHOVAH is, die allerhoogste is oor die hele aarde.’ Dit het haar belangstelling gaande gemaak;”

Hierdie jong egpaar is nou toegewyde en gedoopte knegte van Jehovah met, soos hulle dit beskryf, “’n vaste voorneme dat niemand ons gaan beroof van die prys—ware geluk nou en die ewige lewe in die gereinigde aarde—nie”.

Terwyl dit in die verlede meestal Protestante was wat op Bybel waarhede gereageer het, is dit nie meer die geval nie. Sedert die begin van die huidige probleme is dit baie makliker om in Rooms-Katolieke gebiede te getuig. Sommige van diegene wat gehoor gegee het, was aktief betrokke by die stryd hier.

Geweld was byvoorbeeld niks nuuts vir twee vleeslike susters in hulle vroeë twintigerjare nie. As kinders het hulle gesien hoedat ’n seun deur die leër doodgeskiet word. ’n Bende militante jong Protestante het hulle gesin gedwing om hulle huis te verlaat. By ’n ander geleentheid is ’n spykerbom op die vensterbank van hulle huis gesit. As tienderjariges het hulle probeer om wat hulle gemeen het politieke en maatskaplike onregte is reg te stel.

Een van die meisies het by ’n terroriste-organisasie aangesluit. Op die ouderdom van 16 is sy drie weke lank tronk toe gestuur omdat sy onwettig ’n pistool besit het. Albei meisies het deelgeneem aan betogings ter ondersteuning van terroriste-organisasies. Met komberse om het hulle na kroeë gegaan om geld te kollekteer vir Republikeinse gevangenes wat op politieke status aangedring het.

Maar omdat die meisies die haat in die harte van party van hulle metgeselle waargeneem het, is hulle mettertyd ontnugter. In 1979 het ’n persoon na hulle huis gekom om Bybelkennis met hulle te deel. Terwyl hulle aandagtig geluister het, was hulle baie skepties. Dit het vergesog geklink dat ’n goeie regering ware veiligheid sou verskaf. Maar geleidelik het hulle besef dat sulke ware veiligheid ’n werklikheid sou word deur middel van God se Koninkryksregering.—Mattheüs 6:9, 10; Jesaja 9:5, 6; Daniël 2:44.

Die meisies kon nie glo dat enigiemand in ’n stad soos Belfast polities neutraal kon wees nie. Maar namate hulle met Jehovah se Getuies geassosieer het, het hulle die ware eenheid en opregte vertroue in God se Koninkryk wat onder ware Christene bestaan, waargeneem. “Daar word nie by die Koninkryksaal oor politiek gepraat nie”, het hulle gesê. Die meisies het vinnig gevorder en ’n ferme standpunt vir God se Koninkryk ingeneem ondanks hewige teenstand.

Neutraliteit bied beskerming

’n Jong voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies het belangstellendes besoek in die dorpie Newry naby die suidelike grens tussen die Republiek van Ierland en Noord-Ierland. In daardie omgewing het terroristegroepe groot steun geniet.

Skielik het ’n motor langs hom stilgehou. Een van die insittendes het hom met ’n vuurwapen in die hand beveel om voor in te klim. “Ek het eers gedink hulle gaan my skiet omdat hulle my vir ’n soldaat in burgerdrag aangesien het”, het die jong Getuie gesê. “Hulle het my egter na ’n huis geneem en in ’n kole-hokkie in die agterplaas toegesluit. Na wat vir my soos ’n ewigheid gevoel het, is ek geblinddoek na die huis gelei.

“Daar het ek gehoor hoedat persone my boeketas deursoek en kommentaar lewer oor die aantekeninge wat ek gemaak het oor die persone wat ek besoek het. Hulle het vir my gevra wie ek is en wat ek in die omgewing doen. Ek het herhaaldelik gesê dat ek, as een van Jehovah se Getuies mense help om die Bybel te verstaan en dat die persone wat ek besoek het daarvan hou om ons tydskrifte te lees.

“Een van die persone het die vertrek verlaat en gesê: ‘Hou hom onder skoot en skiet sy kop af as hy roer!’ Dit is onnodig om te sê dat ek doodstil gesit en aaneen tot Jehovah gebid het. Na ’n ruk het die eerste man teruggekeer en vir die ander gesê dat ek vrygelaat kon word. Hy moes iemand gevind het wat my bewerings kon bevestig. Steeds onder bedreiging met ’n vuurwapen is ek na die motor teruggelei en naby die middel van die dorp vrygelaat.”

Daar was ’n aantal soortgelyke voorvalle waar die neutraliteit van Jehovah se Getuies ’n groot beskerming was. Hierdie neutraliteit ten opsigte van politieke aangeleenthede het dit vir hulle moontlik gemaak om hulle Bybelonderrigtingswerk in enige gebied dwarsoor die provinsie te doen.

Koninkryksale

Die gemeentes hier is gewoonlik betreklik klein en daar is min wat uit meer as 60 of 70 persone bestaan. Die Koninkryksverkondigers is egter heelhartig en energiek in hulle bedrywigheid. Een duidelike bewys hiervan is die feit dat talle nuwe Koninkryksale gebou is. In Belfast en die gebied binne 32 kilometer van die stad af is daar byvoorbeeld nege gemeentes wat hulle eie Koninkryksale gebou het.

Sulke bouwerk het egter nie sonder teenstand en probleme geskied nie. ’n Bejaarde lid van die Londonderry-gemeente het gesê: “Ek onthou dat sommige in die gemeente gesê het: ‘Ons sal nooit ons eie plekkie hê nie.’ As hulle maar net vandag gelewe het, sou hulle sien dat Jehovah se gees met ons is in ons nuwe Koninkryksaal.”

Selfs sommige klein groepies kry hulle eie vergaderplekke, soos die gemeente in Enniskillen, wat slegs 14 Koninkryksverkondigers gehad het. Hulle het jare lank ’n vergaderplek gehuur, maar toe het hulle besef dat hulle hulle eie saal nodig het. Hoewel hulle nie baie geld gehad het nie, het hulle voortgegaan met volle vertroue in Jehovah se vermoë om te voorsien.

Die gemeente het ’n opslaangebou gekoop, ’n goeie perseel daarvoor gekry en gevind dat die een probleem na die ander verdwyn. Toe ander gemeentes van hulle behoefte hoor, het die bydraes ingestroom. ’n Bejaarde lid van die gemeente het gesê: “Hierdie hulp van ander het ons hier in Enniskillen werklik deel van ons internasionale broederskap laat voel.”

Ware veiligheid nie net ’n droom nie

Ondanks die voortdurende probleme en die immer teenwoordige bitterheid en verdeeldheid in die land, vind al hoe meer mense ware veiligheid wanneer hulle leer van Jehovah se voorsienings om sake reg te stel. Jy het miskien gewonder wat geword het van die jong verpleër wat sulke verskriklike dinge aanskou het.

Toe twee van Jehovah se Getuies van Engelse afkoms hom besoek het, was sy houding aanvanklik: “Geen buitelanders moet vir ons hier in Ierland godsdiens kom leer nie.” Maar sy gesindheid het verander toe hy gesien het dat alles wat hulle sê deeglik op die Bybel gebaseer is. Die man dien nou as ’n bedieningskneg in die gemeente. Hy, en baie ander soos hy, is nou vas daarvan oortuig dat ons in die tyd lewe wanneer Jehovah sy wonderlike beloftes gaan vervul deur ’n einde aan al die toestande te maak wat hartseer en verdriet veroorsaak en toe te sien dat paradystoestande mettertyd oral op die aarde geskep word.—Psalm 37:9-11, 29.

[Kaart/Prent op bladsy 11]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

NOORD-IERLAND

Londonderry

Belfast

Enniskillen

Newry

[Kaart]

lerland

Groot-Brittanje

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel