Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 10/1 bl. 19-25
  • “Soek vrede en jaag dit na!”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Soek vrede en jaag dit na!”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bly na aan Jehovah se organisasie
  • Wat sal ons beskerm?
  • Die gebruik van wapens in burgerlike betrekkings
  • Laat ons almal vrede najaag
  • Moet ek selfverdediging leer?
    Ontwaak!—1995
  • “Vegkuns was my lewe”
    Die Bybel verander lewens
  • Ons swaar tye—Waarom so gewelddadig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • ’n Permanente einde aan geweld—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 10/1 bl. 19-25

“Soek vrede en jaag dit na!”

1. (a) Hoe kan ons in hierdie gewelddadige wêreld ‘vrede soek en dit najaag’? (b) Waarom moet ons Jehovah in beproewende situasies opreg om hulp smeek?

HOE kan ons die raad van die apostel Petrus, wat hierbo aangehaal word, toepas aangesien ons omring word deur ’n wêreld van geweld? Petrus antwoord deur vir ons te sê: “Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is.” Ons moet dus ons bes doen om met Jehovah God vrede te maak op grond van geloof in die offer van Jesus Christus. Daarna jaag ons vrede na deur die standaarde wat God in sy Woord uiteensit noukeurig na te leef. “Die Here waak oor die regverdiges en luister na hulle hulpgeroep, maar teen dié wat kwaad doen, tree Hy op” (1 Petrus 3:11, 12 NTP). Wanneer die goddelose probeer om ons kwaad aan te doen, kan ons Jehovah opreg om hulp smeek. Ons kan hom hardop, by die naam aanroep, soos wanneer ons deur ’n verkragter of ander kwaaddoener bedreig word.—Vergelyk Deuteronomium 22:25-27.

2. Watter vertroue wat deur Dawid uitgespreek is, kan ons behou wanneer ons deur geweld bedreig word?

2 In gewelddadige situasies was volkome vertroue op Jehovah al dikwels die sleutel tot behoud. Die getuie van Jehovah is keer op keer geseën omdat hy die vertroue het wat Dawid in gebed in Psalm 18:47, 49 uitgespreek het: “[Jehovah] leef! En geloofd sy my rots, en laat verhoog wees die God van my heil! . . . wat my red van my vyande; ja, U verhef my bo my teëstanders; U bevry my van die man van geweld.” Die miljoene Getuies van Jehovah wat vandag met sterk geloof uitsien na die vervulling van God se belofte dat ‘die regverdiges die aarde sal besit en vir ewig daarop sal woon’, word ook verseker: “Die hulp van die regverdiges is van die HERE, hulle toevlug in tyd van benoudheid.”—Psalm 37:29, 39.

3. (a) Wat toon Deuteronomium 32:10 en Daniel 3:19-27 vir ons? (b) Wat word aangedui deur die wyse waarop Ragab sowel as ’n hedendaagse pionier verlos is?

3 Jehovah kan ‘sy volk soos sy oogappel bewaak’ ongeag watter situasies in hierdie gewelddadige wêreld ontstaan (Deuteronomium 32:10; Daniël 3:19-27). As hy wil, kan hy diegene wat aan hom behoort selfs deur so ’n afgryslike ondervinding soos ’n kernramp beskerm. Dit is op 6 Augustus 1945 getoon deur die ondervinding van ’n getroue kneg van Jehovah wat vervolging in Japan se Hirosjima-gevangenis verduur het. Daardie oggend het ’n afwyking van sy gewone rooster hom in so ’n posisie geplaas dat hy niks oorgekom het as gevolg van die atoombomontploffing nie.a Die grootste deel van die gevangenis is vernietig, maar net soos Ragab die vurige vernietiging van Jerigo oorleef het, het Katsuo Miura die vernietiging van Hirosjima oorleef (Josua 6:23, 24). Hy was, soos hy dit gestel het, Jehovah dankbaar dat hy ‘deur ’n atoombom uit die tronk bevry is’ om die oorblywende jare van sy lewe in die pionierdiens deur te bring. (Vergelyk Psalm 116:15.) Niks is te wonderbaar vir ons Soewereine Heer, “die grote, die geweldige God, wie se Naam Jehovah van die leërskare is’ nie.—Jeremia 32:17-19, vgl. NW.

Bly na aan Jehovah se organisasie

4. Hoe beskryf Jesaja hoofstuk 60 die toestand van God se organisasie in ons dag?

4 Om hierdie gewelddadige dae die hoof te bied, het ons die tere leiding van Jehovah se moederlike organisasie nodig. Sedert 1938 is daar ’n verbeterde teokratiese toestand onder God se volk, soos Jehovah voorspel het: “Ek sal Vrede as jou owerheid aanstel en Geregtigheid as jou bestuurders. Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie—van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie; maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte Lof.” Die vrede en liefde vir geregtigheid wat Jehovah se organisasie nou dwarsoor die wêreld kenmerk, het baie daartoe bygedra dat die “geringste”, ’n paar duisend Koninkryksverkondigers 64 jaar gelede, “’n magtige nasie” 2 477 000 sterk word, ’n nasie wat in 205 lande van die aarde vooruit beweeg. Verslae vanuit die veld toon dat Jehovah “dit op die regte tyd gou laat kom” namate ons “die einde” nader.—Jesaja 60:17, 18, 22; Mattheüs 24:14.

5. Wat het Jehovah se volk volgens Psalms sterk gehou ondanks geweld?

5 Baie van hierdie uitbreiding het plaasgevind ondanks geweld, soos die geweld wat Jehovah se Getuies in Hitler se konsentrasiekampe ondervind het en toe hulle gedurende die oorlogsjare in die Verenigde State deur die gepeupel aangeval is. Geweld verhewig steeds in baie dele van die aarde. Min lande, indien enige, het die laaste jare meer geweld ondervind as Libanon. Ons broers aldaar is nietemin sterk. Wat het hulle sterk gehou? Volkome vertroue op Jehovah en vasbeslotenheid om by hulle vergaderinge en deur ander Christelike bedrywighede met mekaar om te gaan.—Psalm 73:28; 149:1.

6. Hoe moet ons gereelde vergaderingbywoning beskou, en waarom?

6 Dit behoort die gedagte by ons tuis te bring dat ons nooit ons onderlinge byeenkoms in gewelddadige tye moet versuim nie (Hebreërs 10:24, 25). Indien dit so belangrik is om ons vir die geweld van Satan se wêreld te staal, is dit ook nodig om krag te kry om die Duiwel se subtiele liste die hoof te bied. Ons lewens hang af van die gereelde bywoning van vergaderinge!

7. (a) Hoe probeer Satan om God se volk te ondermyn? (b) Op watter spesifieke maniere sweep Satan die gees van gewelddadigheid en onsedelikheid op? (c) Hoe kan ons vrede najaag, en met watter doelwit?

7 In hierdie verskriklike tye probeer Satan om God se volk te ondermyn deur hulle “liefhebbers van hulleself, . . . geldgierges [asook liefhebbers van die skitterende materiële dinge wat dit kan koop], . . . meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” te maak. Dit is die dinge wat ons van gereelde omgang met Gpd se volk kan weglok (2 Timotheüs 3:1, 2, 4). Hoe belangrik is dit tog dat ons, deur ons persoonlike studie, bepeinsing en ons vergaderinge, voortgaan om die juiste kennis wat ‘die ewige lewe beteken’, in te neem en toe te pas in plaas daarvan om Satan se gees van geweld en onsedelikheid in te drink, ’n gees wat deur sekere TV-programme, sommige video-speletjies en dies meer verheerlik word!—Johannes 17:3; Filippense 1:9-11; Kolossense 1:9-11.

Wat sal ons beskerm?

8. (a) Hoe reageer talle wêreldlike mense op hierdie gewelddadige tye? (b) Toon aan die hand van voorbeelde waarom hulle handelwyse onverstandig is.

8 Geweld wek vrees in die harte van mense in die groot stede van die aarde. Volgens ’n onlangse Gallup-meningspeiling is 45 persent van die Amerikaners bang om dit saans alleen verder as ’n kilometer van hulle huis af te waag. Baie dra vuurwapens. Maar is dit die weg wat Jehovah se Getuies moet inslaan—om hulle op moontlike geweld voor te berei deur hulle gereed te maak om gewelddadig te wees? Die talle ongelukke met “wapens vir selfverdediging”—waar jong kinders selfs ander jongmense doodmaak—behoort ons te laat stilstaan en die situasie te laat ondersoek. Dit is alom bekend dat ’n professionele skut sal skiet wanneer hy ’n ander vuurwapen sien—en hy sal probeer doodskiet. Watter kans het die gewapende amateur dan!

9. Waar en hoe sal die Christen beskerming vind?

9 Dit is nie die besit van vuurwapens wat die Christen sal beskerm nie, maar die ‘soeke na vrede en die najaging daarvan’ (1 Petrus 3:11). Vertrou op Jehovah. Sê vir ’n misdadiger wat jou konfronteer dat jy een van Jehovah se Getuies is. Moet jou nie verset teen iemand wat jou met geweld dreig nie—gee vir hom die materiële besittings wat hy wil hê. Jou lewe is kosbaarder as daardie dinge. Wanneer jy vasgekeer is en bedreig word, moet jy Jehovah om hulp aanroep. Onthou: “Die Naam van die HERE is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.”—Spreuke 18:10.

10. (a) Wat toon die verhale in Esra hoofstuk 8 en 2 Korinthiërs hoofstuk 11 vir ons in verband met selfverdediging? (b) Wat toon berigte uit Afrika en Ierland vir ons oor die dwaasheid daarvan om vuurwapens te dra?

10 Maar is daar nie tye, soos op ’n reis deur gevaarlike gebiede, wanneer dit vir Jehovah se Getuies beter sal wees om vuurwapens vir selfverdediging te dra nie? Die antwoord is beslis Nee. (Vergelyk Esra 8:21-23, 31; 2 Korinthiërs 11:23-27.) Beskou byvoorbeeld ons reisende opsieners in ’n sekere Afrikaland. In die laaste jare moes hierdie broers dikwels deur oorlogsgebiede gaan wanneer hulle die gemeentes bedien het. Soms is hulle deur guerrillas of deur veiligheidsmagte voorgekeer. Indien daar vuurwapens aan hulle gevind is, sou dit hulle lewe gekos het. Op ’n paar uitsonderinge na het hulle identiteit as Jehovah se Getuies, tesame met die afwesigheid van enige wapens van geweld, hulle in staat gestel om hulle bestemming te bereik. Dit is dieselfde in onrusgeteisterde Noord-Ierland, waar daar al gesê is dat “die dood deel van die landskap is”. Die neutraliteit van Jehovah se Getuies is alom bekend, en as vredeliewende persone geniet hulle beskerming in Katolieke sowel as Protestantse gebiede.

11. (a) Wat toon duidelik dat Christene hulle nie met dodelike wapens moet bewapen nie? (b) Op wie moet ons volgens die Skrif vertrou?

11 Die Skrif, gerugsteun deur die hedendaagse ondervinding van Jehovah se Getuies, toon duidelik dat dit nie vir individuele Christene raadsaam is om ’n vuurwapen of ander dodelike wapen vir gebruik teen menslike aanvallers of indringers te dra of in hulle huis of ander plekke aan te hou nie (Jesaja 2:4; 1 Petrus 3:11). Iemand wat hom op geweld voorberei, lok geweld uit. Die Christen moet allereers op Jehovah, sy God, vertrou.—Psalm 18:49; 140:2, 5; Spreuke 3:5-7.

12. (a) Waarom laat die Skrif Christene toe om om polisiebeskermig te vra? (b) Sal ’n Christen ooit vuurwapens in a noodgeval gebruik of die wet in eie hande neem?

12 In ooreenstemming met Romeine 13:1, 4, kan die wêreldlike “hoëre owerhede” sekere agentskappe in die lewe roep om die vrede te bewaar, soos die polisie, wat amptelik gewapen is, om burgers en eiendom te beskerm. Aangesien te instellings deur God toegelaat word en bestempel word as “’n dienaar God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf”, sal dit gepas wees die Christen om hom op so ’n agentskap te beroep vir beskerming en sulke beskerming te ontvang. Maar selfs al vind hy dit nodig om homself of sy dierbares te verdedig met wat ook al byderhand is, moet hy nie vuurwapens gebruik nie. Hy moet ook nie die wet in eie hande neem nie. In baie lande is dit onwettig om al net vuurwapens vir selfverdediging te besit.—Mattheüs 22:21; vergelyk Exodus 22:2.

13. Waarom sal ’n Christen nie die krygskunste vir selfverdediging gebruik nie?

13 Maar mag die Christen nie, vir private selfverdediging, opleiding in die krygskunste, soos die Chinese Kung fu, ontvang nie? Let daarop dat hierdie gevaarlikste van die Oosterse kunste meer as 1 400 jaar gelede ontwikkel is deur Zen-Boeddhistiese monnike van die Sjaolin-klooster aan die hange van Song-sjan, een van China se heilige berge. Hierdie godsdiensbron het ook Japan se krygskunste voortgebring—Boesjido, wat letterlik “Die weg van die kryger” beteken. Talle deskundiges op die gebied van judo, kendo en karate put steeds inspirasie uit godsdienstige bepeinsing. Die oogmerk met karate is om die slagoffer buite aksie te stel, en dit kan ernstige beserings of die dood tot gevolg hê. Diegene wat op Jehovah vertrou, sal hulle beslis nie tot die krygskunste wend vir verdediging nie!—Spreuke 3:31.

14, 15. (a) Waarom sal dit vir ’n Christen gepas wees om diere vir voedsel te jag of te slag? (b) Maar wat kan daartoe lei dat ’n Christen ongeskik is vir spesiale voorregte, en waarom?

14 Sal dit gepas wees vir die Christen om vuurwapens te besit om diere vir voedsel te jag? Sedert die Vloed laat God toe dat diere doodgemaak word vir voedsel, hoewel die bloed op die grond uitgegooi en nie geëet moet word nie (Genesis 9:3, 4; Deuteronomium 12:23-25). Wanneer die plaaslike wet dit toelaat, hou sommige Getuies gewere aan vir beskerming teen wilde diere of om wild te jag (Mattheüs 22:21). Dit is dalk vir hulle ’n belangrike of praktiese bron van voedsel. Maar niemand moet ooit dink dat Jehovah dit sal goedkeur dat dierelewe vir die sport, vir die sensasie, geneem word—soos dit die gewoonte van antieke en hedendaagse “Nimrods” is nie. Aangesien ‘die siel van die vlees in die bloed is’, is dit kosbaar in Jehovah se oë.b —Levitikus 17:11, 14.

15 Indien dit ’n aansienlike aantal Getuies in ’n gemeente hinder dat iemand diere bloot vir die sport jag en nie om voedsel te verkry nie, sal hy, weens sy slegte reputasie, nie in die posisie wees om spesiale diensvoorregte te ontvang nie.—1 Timotheüs 3:2.

16. Hoe kan die ouere manne help, maar wat kan die gevolg wees vir diegene wat versuim on die Skriftuurlike raad in paragrawe 9 tot 15 toe te pas?

16 Dieselfde geld as een van Jehovah se Getuies daarop aandring om vuurwapens vir beskerming teen mense te dra of te besit of om die krygskunste te leer. Die geestelike ouere manne moet dadelik stappe doen om hom raad te gee en hom te help om die situasie reg te stel (Miga 4:3). Enigiemand wat dan voortgaan om persoonlike wapens te dra of hom andersins toerus om ’n “vegter” te wees, sal nie meer aan die vereistes voldoen om spesiale voorregte in die gemeente te geniet nie.—1 Timotheüs 3:2, 3.

Die gebruik van wapens in burgerlike betrekkings

17. Waarom vermy die meeste Getuies werk waar hulle die krygskunste moet toepas of vuurwapens moel dra?

17 Wat moet iemand doen as hy ’n betrekking het wat vereis dat hy ’n wapen dra vir gebruik teen ander mense, of as daar van hom verwag word om opleiding in die krygskunste, soos judo en karate, te ontvang? Wanneer hy sy persoonlike besluit neem, moet hy in gedagte hou dat ’n volgeling van Jesus vrede moet najaag (Romeine 12:17, 18). Met die oog op die woorde in Jesaja 2:4 vermy die meeste van Jehovah se Getuies sulke werk. Al is die doel van die werk ook om die publiek (of eiendom) te beskerm in ooreenstemming met Romeine 13:4, het die ondervinding getoon dat daar altyd die gevaar bestaan om bloedskuldig te word deur lewe met die wapen te neem, met die gevolg dat die individu se gewete geskaad word, sowel as die gevaar dat ’n mens self beseer of gedood kan word wanneer jy met gelyke munt betaal word. (Psalm 51:16; vergelyk Numeri 35:11, 12, 22-25.) Dit is beslis die beste om sulke gevare te vermy deur werk te kies waarin dit nie sal ontstaan nie.

18. (a) Hoe sal die beskouing van ’n ryp Christen van die wêreld s’n verskil? (b) Watter aanpassing kan hy probeer maak om ’n skoon gewete te behou?

18 In hierdie “laaste dae” word daar van baie werknemers verwag om ’n vuurwapen te dra. Dit word dalk van bank- of veiligheidswagte, nagwagte en polisiemanne verwag indien hulle hulle werk wil behou. Maar wat van die Christen wat verplig is om ‘vir sy eie mense te sorg’? (1 Timotheüs 5:8). Sy Bybelse beskouing moet verskil van dié van wêreldlike persone wat meen dat dit hulle vrystaan om sulke wapens te dra en te gebruik soos hulle goeddink in enige gevaarlike situasie wat ontstaan (Efesiërs 5:15-17). Hy sal bloedskuld wil vermy, gedagtig aan Jehovah se beskouing van die heiligheid van bloed (Genesis 9:6; Psalm 55:24). ’n Ryp Christen moet probeer om werk te kry waar hy nie wapens hoef te dra nie.c Deur die saak met hulle werkgewer te bespreek, het sommige Getuies daarin geslaag om verplaas te word na ’n pos waar hulle nie wapens hoef te dra nie.

19. Vir watter voorregte kan ’n broer ongeskik wees totdat hy ’n verandering aangebring het? (2 Korinthiërs 13:11, NW)

19 Namate die wêreld al hoe gewelddadiger word, kan ons nie langer ’n broer wat aanbly in ’n betrekking waar hy ’n wapen moet dra as voorbeeldig beskou nie. Hy kan ses maande gegun word om ’n verandering aan te bring. Indien hy nie ’n verandering aanbring nie, sal hy nie in die posisie wees om spesiale diensvoorregte of verantwoordelikheid in die gemeente te geniet nie.—1 Timotheüs 3:2; Titus 1:5, 6.

Laat ons almal vrede najaag

20. (a) Waarom is die weg van vrede aanbevelenswaardig? (b) Wat sal die gevolg wees vir persone wat hulle onkreukbaarheid ondanks kwaai toetse, en selfs tot die dood toe, bewaak? (c) Op wie vertrou jy?

20 Terwyl hulle die weg van vrede bewandel, het Jehovah se Getuies al so baie keer beskerming—fisiese, morele en geestelike beskerming—geniet! Hierdie Skriftuurlike weg is duidelik die een wat ons moet bewandel. In die paar gevalle waar getroue Christene hulle lewens verloor het, het hulle onverskrokkenheid tot die dood toe hulle in aanmerking laat kom vir ’n vroeë opstanding (Hebreërs 11:36-40; Openbaring 2:10). Soms laat Jehovah toe dat Satan Sy volk kwaai beproef. Die geval van Job is ’n voorbeeld hiervan, hoewel die uitslag vir daardie handhawer van onkreukbaarheid salig was (Job 1:18, 19; 42:12-15). Maar wat ook al in hierdie gewelddadige tye gebeur, dit moet ons nooit ons onkreukbaarheid laat prysgee nie. Laat ons op God vertrou. “Die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is.”—2 Kronieke 16:9.

[Voetnote]

a Kyk die artikel “In die paddastoelwolk”, bladsye 17-19, Awake! van 8 September 1954, vir die volledige verhaal.

b Kyk Ontwaak!, 8 October 1976, bladsye 18-20.

c Kyk ook The Watchtower, 15 Februarie 1973, bladsye 127, 128.

Hoe sal jy die volgende vrae beantwoord?

◻ Op wie moet die Christen vertrou in alle situasies waar geweld dreig?

◻ Watter voordeel hou dit in as ’n mens na an Jehovah se organisasie bly en die raad daarvan toepas?

◻ Waarom is dit dwaas om vuurwapens te dra of die krygskunste vir selfverdediging te leer?

◻ Watter weg word Christene aangeraai om te bewandel ten opsigte van betrekkings waar ’n mens wapens moet dra, en waarom?

[Venster op bladsy 20]

Die verhewiging van geweld—Waar sal dit eindig?

“’n Volskaalse kernoorlog tussen die Verenigde State en die Sowjet-Unie kan uitloop op die dood van . . . ongeveer 80 persent van die wêreldbevolking.”—“The Express”, 29 Maart 1982, gebaseer op ’n onderhoud met ’n Kaliforniese senator.

“Die gevaar bestaan dat die politieke leiers, Russies sowel as Amerikaans, . . . oortuig sal word dat kernoorlog denkbaar is. Die feit is natuurlik dat enige kernoorlog waarin al die of ’n aansienlike deel van die Russiese en Amerikaanse kernarsenale gebruik word, die Noordelike halfrond geheel en al sal verwoes.”—Dr. Frank Barnaby, vredesnavorser, 26 Desember 1982.

“Indien oorlogsparaatheid ’n vereiste vir vrede is, dan was vrede nog nooit beter gewaarborg nie. ’n Miljoen Hirosjimas is op die aarde opgehoop, en dit verhoed nog steeds nie elk van sy 4 200 000 000 bewoners om jaarliks [R180] aan wapentuig te bestee nie.”—Andre Fontaine, “Le Monde”, wat op 9 Januarie 1983 weer in “The Guardian” gepubliseer is.

“VVO-hoof sê die bedreiging van kernoorlog neem toe—‘Die keuse is tussen nuwe generasies wapens en toekomstige generasies mense’, het hy gesê.”—“The New York Times”, 16 Februarie 1983, wat sekretaris-generaal Javier Pérez de Cuéllar aangehaal het.

“Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde by vir ewig staan.” “En nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie. Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”—Prediker 1:4; Psalm 37:10, 11.

[Venster op bladsy 21]

Jehovah se Getuies beleef gewelddadige tye in Tripoli, Libanon

“Hulle het werklik moeilike tye beleef, maar het nooit ’n vergadering versuim nie. Hulle het ons meegedeel dat terwyl hulle hulle streekbyeenkoms gehou het, een groep van 117 in ’n broer se huis vergader het en dat ’n vuurpyl reg buitekant die deur ontplof het nadat die laaste suster ingekom het. Dwarsdeur die vergadering het die vuurpyle en mortierbomme om hulle neergereën. Hulle het vir ons die beskadigde lamppale en omliggende geboue vol kartetsmerke gewys—maar niks het die woonstel getref waar hulle byeen was nie!

“Twee gesinne het eenkeer gewonder of hulle moet probeer om die vergadering by te woon ten spyte van die hewige bombardering. Hulle het besluit om nietemin te gaan en het sodoende hulle lewens gered, want terwyl hulle by die vergadering was, is die huis van een gesin deur ’n bom getref en heeltemal verwoes, en die ander huis was so met skroot besaai dat niemand dit sou kon oorleef het nie.

“Een Getuie-gesin wat in ’n gebied gewoon het wat deur regsgesindes binnegeval is, sou weggeneem en tereggestel word. Maar ’n familielid wat nie in die waarheid is nie en aan die party behoor, het daarvan te hore gekom en by hulle uitgekom voordat die teregstellingspan opgedaag het. Hy het hulle na die party se hoofkwartier geneem waar hulle die neutraliteit van die Getuies verduidelik het, ’n goeie getuienis gelewer het, en vrygelaat is. En dit is wat keer op keer gebeur.”—Soos deur ’n besoeker vertel.

[Prent op bladsy 23]

Moet ’n mens geweld met geweld beantwoord of op Jehovah vertrou?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel