Moenie ‘terugkeer tot die swakke en armoedige beginsels’ nie
“Nou dat julle God ken, . . . hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels?”—GALASIËRS 4:9.
1, 2. (a) Watter uitwerking het ’n weerligstraal op ’n blinde man gehad? (b) Watter betekenisvoller verandering het in jou lewe plaasgevind? (Handelinge 26:18)
IN JUNIE 1980 het koerante vertel van ’n verbasende gebeurtenis in die lewe van Edwin Robinson, 62, wat nege jaar tevore in ’n motorongeluk verblind is. Die koerante het verduidelik dat hy tydens ’n storm onder ’n boom skuiling gesoek het. Weerlig het die boom getref en hom bewusteloos geslaan. Toe hy bykom, kon hy sien. Stel jou voor hoe hy na soveel jare van blindheid gevoel het! Hy wou beslis nie na die duisternis terugkeer nie.
2 As jy ’n ware getuie van Jehovah is, het ’n wonderlike verandering in jou lewe plaasgevind. Die apostel Petrus het geskryf dat “uitverkore” Christene ‘uit die duisternis tot sy wonderbare lig geroep is’ (1 Petrus 1:1; 2:9). Om ’n getuie van Jehovah te word, het jy moontlik onrein en afgekeurde gebruike wat met die duisternis verband hou, gestaak (Romeine 13:12, 13; Job 24:14-16). Waarom? Omdat jy in die lig van die waarheid wil lewe en God se goedkeuring wil wegdra.
3. Hoe het die feit dat jy ’n getuie van Jehovah geword het jou doel in die lewe verander? (Efesiërs 2:12)
3 Het jy, voordat jy ’n ware Christen geword het, enige sinvolle doel in die lewe gehad? (1 Petrus 4:15, 16). Gestel iemand het vir jou gevra wat jou doelwitte in die lewe is. Sou jy gesê het dat dit is om ’n bestaan te maak, ’n gesin te hê, sekere vermaak te geniet of om vir jou oudag voorsorg te tref? Daardie dinge is beslis nie verkeerd nie. Maar hoe verskil so ’n lewe van dié van ’n eekhorinkie, ’n mossie of ’n ander dier wat gebore word, groot word, eet, slaap, paar en eindelik doodgaan? (Prediker 3:18-20; Jakobus 4:14; Judas 10). Nadat jy ’n ware Christen geword het, het jou lewe egter sin; jou doelwitte draai om diens aan die Skepper.—Prediker 12:13.
4. Watter uitwerking het Bybelkennis op jou gehad? (Psalm 36:10; Spreuke 6:23)
4 Die kontras tussen jou posisie in die lig en jou vorige posisie in die duisternis blyk veral uit jou kennis en begrip. Vantevore het jy nie geweet waarom goddeloosheid bestaan, waarom dinge rondom ons vererger, wat die toestand van die dode is of wat die onmiddellike toekoms inhou nie. Nou het jy ’n Bybelse begrip van hierdie dinge. Hoe waar is die apostel Paulus se woorde tog: “[Jehovah] het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig’ met die kennis van die heerlikheid van God”!—2 Korinthiërs 4:6, NTP.
Nie almal bly in die lig nie
5. Watter getuienis is daar dat nie almal in die lig bly nie?
5 Nie almal wat ware aanbidders van Jehovah was, het ware aanbidders gebly nie. ’n Magtige geesskepsel het God verlaat en Satan geword. Adam en Eva het die lig verlaat. Met die oog op sulke dade deur volmaakte skepsele is dit nie verbasend dat sommige onvolmaakte mense soos ons ook teruggekeer het nie. Die Israeliete het uit slawerny in Egipte gekom. Maar voordat hulle die Beloofde Land bereik het, het hulle begin om met verlange te murmureer: ‘Hoe goed onthou ons tog die visse wat ons in Egipte geëet het, die komkommers, waterlemoene, prei, uie en knoffel!’ (Numeri 11:5). Hoewel hulle lig en vryheid geniet het, het hulle na die Egiptiese duisternis en knoffel terugverlang.
6. Waarom moet ons besorg wees oor persone wat die lig verlaat?
6 Christene loop ook die gevaar om van die lig af weg te draai. Paulus het gewaarsku dat manne in die gemeente sou opstaan en dissipels sou wegtrek (Handelinge 20:29, 30). Dit het gebeur selfs terwyl hy nog op aarde was (Filippense 3:18; 2 Timotheüs 2:16-18). Meer ter sake: Weet jy van sommige in ons dag wat op die een of ander wyse weggedraai het? Kan dit met ons gebeur?
7. Watter raad het Paulus in hierdie verband aan die Galasiërs gegee?
7 Min Christene sal vandag duisternis bo lig verkies. Watter soort dinge kan dus ’n broer of ’n suster (enigeen van ons) beweeg om weg te draai? Paulus se woorde in Galasiërs 4:9 bied insig: “Nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien?”
8. Waarom was daardie raad nodig, en hoe was dit van toepassing op die Wet?
8 Sommige Joodse Christene het hulle klaarblyklik aangespoor om weer tot die Mosaïese Wet, of ten minste dele daarvan, terug te keer. Paulus het egter geskryf dat ware aanbidders van die Wet bevry is (Galasiërs 5:1-6). Aangesien die Wet nie geregtigheid kon voortbring nie, was dit in ’n sekere sin swak en moes dit deur ’n “beter hoop” of reëling vervang word (Hebreërs 7:18, 19). Daar kon gevolglik gesê word dat diegene wat weer begin het om die Wet te onderhou ‘teruggekeer het tot ’n swak’ beginsel en dit ‘weer van voor af aan dien’.
9, 10. Hoe kon die waarskuwing oor “armoedige eerste beginsels” van toepassing wees op (a) Griekse leerstellings? (b) die Mosaïese Wet?
9 Dit was ook gepas om mense te waarsku om nie terug te keer tot “armoedige eerste beginsels” nie. Die betrokke Griekse uitdrukking bevat die gedagte van alfabetiese letters in ’n ry en impliseer dus die ABC van ’n saak. Die heidense leerstellings wat destyds gewild was, was beslis “armoedige eerste beginsels”. Hoewel die Grieke op hulle filosofieë geroem het, was dit gebaseer op menslike begrippe, wanbegrippe en mites. Maar selfs al het hulle teruggekeer tot die Mosaïese Wet, sou hulle ‘terugkeer tot die armoedige eerste beginsels’. Hoe so?
10 Hoewel die Wet ’n goddelike oorsprong gehad het, het ’n groot deel daarvan gehandel oor dinge in die menslike sfeer, soos die tabernakel en verwante “vleeslike verordeninge”. Maar Christelike aanbidding het gedraai om die geestelike dinge wat deur daardie fisiese “afbeeldinge” voorgestel is (Hebreërs 9:6-10, 23). Waarom moes Christene dan terugkeer tot daardie elementêre, eerste dinge? Sou jy, as jy wiskunde dermate bestudeer het dat jy ’n deskundige op die gebied van algebra of die rekenmetode was, weer begin om op jou vingers en tone te tel?—Vergelyk 2 Petrus 2:20-22.
Hedendaagse swak en armoedige dinge
11. Op watter hedendaagse gevaar kan Galasiërs 4:9 toegepas word?
11 Daar is waarskynlik min van ons wat gevaar loop om terug te keer tot die “swakke en armoedige eerste beginsels” van Griekse filosofie of van die Wet. Daardie raad is egter ook tot ons voordeel in die Bybel opgeteken. Daar is byvoorbeeld die moontlikheid om terug te keer tot wat 1 Johannes 2:16 “die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe” noem.
12. Lig toe hoe sommige Christene kan swig voor n gevaar wat in 1 Johannes 2:16 gemeld word.
12 Party dink dat “die grootsheid van die lewe” beteken dat ’n mens pronk met klere van beroemde modehuise of te veel juwele, soos om vier of vyf ringe tegelyk te dra (Jakobus 2:2, 3). En dit kan die geval wees, want die Bybel vermaan ons om nie te veel klem op versiersels soos “goud” te lê nie (1 Petrus 3:3). Maar “die grootsheid van die lewe” kan ook op ander maniere geopenbaar word. ’n Christen kan afgunstig raak op mense sonder hoop wat net vir materiële dinge lewe. In party lande probeer mense om dinge wat plaaslik as luukse beskou word, soos ’n kleurtelevisie of ’n motortjie, te bekom en daarmee te spog. Elders is mense trots op of probeer hulle ander beïndruk met ’n nuwe videobandopnemer of luuksemotor. Sal ’n Christen ‘wat alles verlaat het en Christus volg’, daarin belangstel om met sulke dinge te spog? Ons kan onsself afvra: Neem materiële besittings nou meer van my tyd en gedagtes in beslag as toe ek ‘die woord gehoor, dit met blydskap aangeneem’ en in my lewe begin toepas het?—Mattheüs 19:16-27; 13:20-22.
13. (a) Hoe kan Paulus se raad selfs van toepassing wees op behuising? (b) Waarvoor moet ’n Christen oppas as hy dit oorweeg om na ’n groter huis te trek? (Lees Lukas 12:16-21.)
13 Of ’n Christen kan terugkeer tot die armoedige eerste beginsels wat behuising betref. In party gebiede is woonhuise baie duur. Baie wêreldlike mense sal gevolglik ’n huis koop weens die status wat dit hulle gee, selfs al plaas dit ’n geweldige finansiële las op hulle. Of materialistiese mense wat nie ’n groeiende gesin het wat hulle moet huisves nie, sal van ’n gemiddelde huis na ’n groter huis trek, en later na een wat nog groter en spoggeriger is. (Kyk Lukas 17:28.) Wanneer ’n Christen daaraan dink om ’n huis te koop of na ’n groter een te trek, moet hy gevolglik sy beweegredes ondersoek en die moontlike uitwerking daarvan op sy geestelikheid in aanmerking neem sodat hy nie, as gevolg van ’n verkeerde beweegrede, ‘terugkeer tot die eerste beginsels’ nie. Ons moet beslis enige versoeking weerstaan om weelde te begeer wat ander met ‘die grootsheid van ons lewe’ sal beïndruk (1 Johannes 2:16). Laat ons, sonder om ander in sulke sake te oordeel, individueel voortgaan om God se diens eerste in ons lewe te stel. Hoe bly kan ons tog wees wanneer ons sien dat talle ryp Christene, wie se situasie dit enigsins toelaat, hulle werkure verminder om plek te maak vir voltydse pionierdiens, beslis nie ’n swak en armoedige saak nie!—Mattheüs 6:31-34; 7:1-3; 9:36-38.
14. Hoe kan iemand ‘terugkeer’ ten opsigte van prominensie?
14 Prominensie in hierdie stelsel is nog iets waartoe ’n Christen kan ‘terugkeer’. Dit is weliswaar gepas om te wil hê dat ander ’n goeie dunk van ons moet hê; Christen- ouere manne moet ’n “goeie getuienis hê van die buitestaanders” (1 Timotheüs 3:7). Maar God se Woord raai ons aan om ‘nie meer van onsself te dink as wat ’n mens behoort te dink nie’ (Romeine 12:3). Die wêreldlike strewe om iemand te wees, kan dit vir sommige moeilik maak om aan te hou om Christelike beskeidenheid en ’n goeie naam by God na te jaag.
15. Wanneer kan dit ’n probleem vir jongmense of ouers wees?
15 Jongmense het dikwels hiermee te kampe, want onderwysers en skoliere spoor hulle aan om prominent te wees in sport, leerlingrade of skoolverenigings. Daar word dalk ook druk op hulle uitgeoefen om universiteit toe te gaan ten einde ’n glansbetrekking te kry. Party ouers dra by tot hierdie druk weens hulle eie begeerte om aansien te verkry as gevolg van ’n kind se prestasies. Jy het miskien al gehoor dat ouers dinge sê soos: ‘Ek wil nie hê my seun moet sy hele lewe lank ’n gewone arbeider wees nie.’—Vergelyk Markus 6:3.
16. Waarom kan prominensie vir Christenmans ’n gevaar wees? Lig dit toe.
16 Baie mans het in die versoeking gekom om prominensie by die werk na te streef. Wanneer hy sy beweegredes ondersoek, sal ’n man dalk sien dat hy graag ’n voorman wil wees hoofsaaklik as gevolg van die aansien wat dit sal meebring. Is dit moontlik dat sommige Christene, wat die finansiële sekuriteit het en hulle werkure kan verminder (of kan aftree) en pionierdiens kan doen, geswig het voor die versoeking om in hulle betrekkings aan te bly omdat hulle prominensie of invloed in ’n maatskappy het? Watter goeie voorbeeld het Paulus tog nie gestel nie! Hy het posisie sowel as invloed in die Joodse stelsel gehad, asook finansiële sekuriteit. Maar hy het al daardie dinge prysgegee “om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word”. Omdat Paulus besef het dat dit die manier is om blywende goedkeuring te verkry, het hy nooit teruggekeer tot die swakke, elementêre dinge nie.—Filippense 3:4-11.
17. Hoe kan vermaak veroorsaak dat ’n persoon ‘terugkeer’?
17 Min persone sal ontken dat ’n groot deel van vandag se vermaak ‘swak en armoedig’ is. Dit is noodsaaklik om selektief te wees. Maar selfs in die geval van vermaak wat nie duidelik ’n skending van godvrugtige beginsels is nie, moet versigtigheid aan die dag gelê word as gevolg van die tyd en middele wat dit in beslag neem. Baie speletjies, elektronies en andersins, kan verstommende hoeveelhede tyd en geld verkwis. Gaan sit gerus individueel of as ’n gesin en bereken realisties hoeveel tyd en geld jy in ’n gemiddelde week of maand aan vermaak bestee. Sluit televisietyd daarby in. Dit is ’n toenemende probleem daar programopstellers meer vervolgverhale en -programme aanbied—selfs in die vorm van dokumentêre programme, geskiedkundige aanbiedings en sportwedstryde—sodat die kyker herhaaldelik teruggelok word. Dit is duidelik dat Christene hulle daarop moet toelê om beheer uit te oefen oor die gebruik van hulle beperkte tyd en middele sodat hulle nie teruggelok word tot swakke en armoedige dinge nie.—Efesiërs 2:2, 3.
18. Watter bewonderenswaardige weg het die meeste Christene bewandel?
18 Dit wil nie sê dat die meeste van God se volk tot sulke dinge terugkeer nie. Daar is duisende, honderdduisende, ja, miljoene toegewyde getuies van Jehovah wat getrou by ware aanbidding bly, en die meeste doen dit al jare lank. Jy ken waarskynlik baie van hulle—Christene wat beskryf kan word met woorde soos die van Paulus: “Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede . . . julle het navolgers . . . van die Here [geword] deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees, sodat julle voorbeelde geword het vir al die gelowiges” (1 Thessalonicense 1:2, 6, 7). Elkeen van ons moet soos daardie persone wees en ons voorneem om nie ‘terug te keer tot die swakke en armoedige eerste beginsels’ nie. Daar bestaan ook geen rede waarom ons moet terugkeer nie.
Jaag geestelike rykdom na
19, 20. Watter kragtige en ryk dinge het die ware Christelike godsdiens aan jou gegee?
19 Die ware Christelike godsdiens bied vir ons talle kragtige en ryk dinge. As ons baie seëninge wil ontvang, is kennis van die Skrif onontbeerlik. Selfs wêreldlike geleerdes getuig dat die Bybel uit literatuur van die hoogste graad bestaan. Ons weet egter dat die Bybel veel meer is; dit is ‘die Woord van God wat ook in gelowiges werk’ (1 Thessalonicense 2:13). Ja, ons weet dat dit die krag het om lewens te verander, om ’n gegronde hoop te gee en om vir ons te toon wat die toekoms inhou. Deur dit te lees, ontvang ons boodskappe wat van die Skepper afkomstig is en leer ons wat sy Seun presies gesê en gedoen het.—Johannes 21:24, 25.
20 Met die hulp van God se volk het jy aangaande Jehovah uit die Bybel geleer en kan jy saamstem: “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!” (Romeine 11:33). Benewens kennis het jy die “voorbeeld van gesonde woorde” (2 Timotheüs 1:13). Baie mense lees die Bybel aljare lank, maar verstaan dit nog steeds nie. Maar jy verstaan basies wat dit beteken. Jy kan met begrip en ’n sekerheid spreek wat selfs teoloë ontwyk.—Handelinge 4:13.
21, 22. Watter ander ryk dinge het jy ontvang omdat jy ’n getuie van Jehovah is?
21 Jy het ook die allerbeste omgang. O, jou broers en susters is onvolmaak en irriteer jou nou en dan. In die geheel is dit egter ’n groot seën om onder mense te wees wat God liefhet, wat hulle daarop toelê om Bybelbeginsels toe te pas en wat probeer om ‘aan almal goed te doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof, wat jou insluit (Galasiërs 6:10). Onlangs het ’n kinderarts aan Mt. Sinai-Hospitaal in die stad New York kommentaar gelewer oor sy persoonlike ondervinding. Hy het vir ’n besoekende bedienaar van Jehovah se Getuies gesê: ‘Wat jy ook al doen, hou aan daarmee. Julle bring wonderlike mense voort. Almal van ons wat met hulle in aanraking kom, merk op hoe anders hulle is—so kalm en aangenaam. Gaan dus asseblief voort om te doen wat julle doen.’ Dis die soort omgang wat jy het.
22 Nog iets ryks en kragtigs waaroor jy jou kan verheug, is jou Bybelse hoop, hetsy dit onsterflikheid in die hemele of die ewige lewe op ’n paradysaarde is. Watter persoon wat by sy volle verstand is, sal dit versaak? Laastelik, moenie die werktoewysing wat jy nou van Jehovah ontvang het en waarvoor hy jou kragtig toegerus het, oor die hoof sien nie 2 Korinthiërs 10:4; Filippense 4:13. NW). Dit verg inspanning om dissipels te maak, ja, maar dit verskaf ook innige voldoening en vreugde, want dit help ander om die weg tot die lewe te vind. Hierdie bedrywigheid kan jou verstand en hart vul.
23. Wat moet jy jou voorneem om te doen met die oog op Galasiërs 4:9?
23 Dit is dus heeltemal duidelik dat die ware Christelike godsdiens vir ons talle kragtige en ryk dinge bied. Laat ons peins oor die dinge wat ons het en dit waardeer en vasbeslote wees om nooit ‘terug te keer tot die swakke en armoedige eerste beginsels oor die algemeen of om hulle weer van voor af aan te dien nie’.
Onthou jy?
◻ Hoe het die Galasiërs gevaar geloop om ‘terug te keer tot swakke en armoedige eerste beginsels’?
◻ Hoe kan ons ‘terugkeer’ waar dit kom by
Materiale besittings?
’n Huis?
Prominensie?
Vermaak?
◻ Hoe het die Christelike godsdiens vir jou kragtige en ryk dinge gebied?
[Prent op bladsy 18]
Deur te waak teen ’n vertoning van ‘die grootsheid van die lewe’, kon baie egpare hulle Christelike bedrywighede vermeerder
[Prent op bladsy 20]
Hoeveel tyd en geld bestee jy persoonlik aan vermaak?