Was jy daar?
NABY die plek waar die berugte massaselfmoord in Jonestown, Guyana, plaasgevind het, is ’n plek met die naam Matthew’s Ridge. Verlede jaar het ’n groep van sewe Christene aldaar beplan om die “Koninkrykswaarheid”-Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in die nasie se hoofstad, Georgetown, by te woon. Per vliegtuig is Matthew’s Ridge net 45 minute van Georgetown af. Maar die groep kon nie die vliegtuigkaartjies bekostig nie. Hulle het dus per boot gereis. Die reis het sewe dae geduur.
Het jy een van die honderde “Koninkrykswaarheid”-Streekbyeenkomste bygewoon wat verlede jaar rondom die wêreld gehou is? Dan was jy een van meer as viermiljoen persone waarvan talle baie moeite gedoen het om daar te wees.
Dit het vasberadenheid geverg
Dit het vasberadenheid van party geverg om daar te wees. Dit is wat Al, van Maceió in Brasilië, het. Al is verlam, en hy kon nie sy rolstoel op die bus na die byeenkoms saambring nie. Hy moes homself dus op die grond voortsleep, en by die byeenkoms moes hy homself oor die planksitplekke na sy sitplek optrek. Maar hy was vasbeslote om daar te wees.
Vir party het dit spanwerk beteken. ’n Japannese Getuie het beplan om die byeenkoms by te woon, maar toe waai ’n tifoon al die pere van die bome in die gesin se vrugteboord af. Getuies van die plaaslike gemeente en hulle kinders het gehelp om die pere op te tel en te verkoop. Alles is betyds afgehandel, sodat haar ongelowige man haar toegelaat het om die byeenkoms by te woon.
En van party het dit innige waardering geverg. ’n Christen in Brasilië se vrou is net vyf dae voor die byeenkoms oorlede. Ondanks die verskriklike verlies het hy dit saam met sy drie jong kinders bygewoon. Die omgang wat hulle daar geniet het en die raad wat hulle ontvang het, het hom en sy gesin gehelp om die groot emosionele skok te bowe te kom.
Waarom het hierdie persone, en miljoene ander, hulle verlede jaar deur niks laat keer om die “Koninkrykswaarheid”-Streekbyeenkoms by te woon nie? As jy al ooit een van Jehovah se Getuies se byeenkomste bygewoon het, sal jy reeds weet. Hulle bied byvoorbeeld ’n unieke geleentheid vir grootskaalse Christelike omgang (Psalm 133:1). ’n Byeenkomsganger in Nieu-Caledonië in die Stille Suidsee het gesê: “Die eenheid van God se volk is in die Bybel voorspel, en jy kan dit veral by byeenkomste sien.” Daarbenewens is die program altyd propvol dinge wat waarlik die moeite werd is om te hoor.
‘Dit het die hart bereik’
Van die verwelkoming op die eerste dag tot die voorsitter se slottoespraak op Sondag was die program vol verblydende, ondervindinge, geloofversterkende besprekings en praktiese raad.
Op Vrydagoggend het die byeenkomsgangers dit geniet om van enkele veteraanpredikers te hoor. Byeenkomsgangers in Sydney, Australië, het die betuigings gehoor van vyf-en-tagtigjarige Geordie Gibb, wat in 1927 gedoop is en sedert 1929 lid van die Australiese hoofkwartierpersoneel is. En daar is mense soos Geordie dwarsoor die wêreld, mense met ’n hele lewe van getroue diens agter hulle. Die streekbyeenkomste van 1982 het ons ’n goeie geleentheid gebied om sommige van hulle beter te leer ken.
Die toesprake is hoog op prys gestel, veral die wat verborge strikke blootgelê het. Nadat Ana, van Brasilië, geluister het na die bespreking “Pas op vir musiek wat verderf”, het sy gesê: “Ek het verskeie plate gehad met woorde wat glad nie opbouend was nie. Maar ons het hulle gehou omdat ons van die musiek gehou het. Nadat ons na daardie toespraak geluister het, het ons besluit om van almal ontslae te raak.”
Barbara, ’n byeenkomsganger in Hawaii, het ten volle saamgestem met die waarskuwings wat sy gehoor het in die toespraak “Satan se listige planne blootgelê”. Die toespraak het onder meer waarskuwings gerig teen sekere soorte televisieprogramme. Barbara was verslaaf aan televisievervolgverhale en het gevind dat hierdie programme haar begrip van reg en verkeerd afstomp. “Selfs die ‘goeie ouens’ het gelieg en onsedelik gelewe”, het sy gesê, “en ek het begin om hulle lewensbeskouing aan te neem” (1 Korinthiërs 15:33). ’n Gesin in Korea het geld gespaar om ’n kleurtelevisiestel te koop. Maar nadat hulle hierdie en ander toesprake by die byeenkoms gehoor het, het hulle van plan verander. Hulle wou nie hulle geld bestee aan iets wat sataniese invloede in hulle huis kon inbring nie.
Glanspunte van alle streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies is die roerende dramatiese opvoerings, waar eertydse of hedendaagse situasies met groot betekenis vir hedendaagse Christene uitgebeeld word. Die byeenkomsgangers het meegeleef met Jeremia die drama “Onverskrokke verkondiger van ’n ongewilde boodskap”. En baie harte is geroer deur die aanbieding “Hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?” Dit was die verhaal, gebaseer op verskeie werklike ondervindinge, van Hermanus Buitendach. In die drama, was Hermanus gekant teen die feit dat sy seun die goeie nuus verkondig en het hy hom die huis belet. Maar jare later is hy gehelp om tot ander insigte te kom toe sy jong kleinkinders sy aandag gevestig het op God se naam, Jehovah, in Psalm 83:18 in sy Authorized Version.
“Daar is ’n Hermanus Buitendach in ons gesin”, het Lois van die Bahama-eilande gesê toe sy met blydskap die veranderinge in haar man se gesindheid beskryf het. Die drama was veral bemoedigend in Korea, waar verskeie Christinne mans het wat hulle teenstaan.
Nog ’n glanspunt van al die byeenkomste van Jehovah se Getuies is die doopplegtigheid. By die “Koninkrykswaarheid”-byeenkomste het tienduisende persone hulle toewyding aan Jehovah God deur onderdompeling in water gesimboliseer. Baie moes hard werk om hulle vir hierdie stap voor te berei. ’n Drie-en-twintigjarige vrou wat in Japan gedoop is, was byvoorbeeld op een stadium ’n ongehude moeder wat 40 tot 50 sigarette per dag gerook het. Sy moes baie veranderinge aanbring voordat sy gedoop is, maar sy het hulle met Jehovah se hulp aangebring en lei nou ’n rein, heilsame getroude lewe saam met die vader van haar kind.
Daar was ook ander glanspunte. Onthou jy die opwindende vrystelling van die pragtige nuwe boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! of die treffende traktaat Nader ons Armageddon?
Jy was moontlik een van die menigte byeenkomsgangers wat Vrydagaand uitgegaan het om die traktaat na die huisbewoners in die byeenkomsstad te bring. Baie huisbewoners het gereageer soos die jong man in Kalgoorlie, Wes-Australië, wat so ingenome was met die gesprek wat hy met twee byeenkomsgangers gevoer het dat hy besluit het om self die byeenkoms by te woon.
In party lande het byeenkomsgangers bykomende seëninge ontvang toe publikasies wat in hulle spesiale behoeftes voorsien, vrygestel is. Japannese byeenkomsgangers was verheug om die volledige New World Translation of the Holy Scriptures in hulle taal te kry. “Ek kon die hele nag nie slaap nie”, het een ingenome byeenkomsganger wat ’n eksemplaar gekry het, gesê.
“Die toesprake by hierdie byeenkoms het waarlik die hart bereik”, het ’n byeenkomsganger in Hawaii gesê. Selfs nie-Getuies het saamgestem. “Dit was die eerste keer in my lewe dat ek toesprake gehoor het wat werklik iets sê”, het ’n lid van ’n politieke groep gesê nadat hy ’n byeenkoms in Brasilië bygewoon het.
En nou . . . “Koninkrykseenheid”!
Ja, die “Koninkrykswaarheid”-byeenkomste was ’n reusesukses. Miljoene lewens is daardeur verbeter. As jy daar was, het jy ongetwyfeld baie baat daarby gevind. Maar gestel jy het dit nie bygewoon nie. Wel, dit is nog nie te laat nie. Vanjaar hou Jehovah se Getuies nog ’n wêreldwye reeks byeenkomste, die keer met die tema “Koninkrykseenheid”.
Daar sal vanjaar ook dramatiese aanbiedings, geloofversterkende toesprake en demonstrasies, tydige raad en, ongetwyfeld, ook ’n paar verrassings wees! Dit sal ’n unieke kenmerk insluit wat vanjaar se streekbyeenkomste iets besonders gaan maak. Indien jy die byeenkoms in 1982 bygewoon het, is ons seker dat jy weer al vier dae daar sal wil wees. As jy nie daar was nie, moet jy jou vas voorneem om vanjaar die byeenkoms by te woon. Dit sal die glanspunt van jou jaar wees.
[Prent op bladsy 24]
By die byeenkoms in São Paulo, Brasilië, is 626 nuwe Getuies gedoop
[Prent op bladsy 25]
’n Jong byeenkomsganger by die “Koninkrykswaarheid”-Streekbyeenkoms wat van 23-26 September 1982 in Kalgoorlie, Wes-Australië, gehou is