Toenemende wetteloosheid—’n Teken van die einde van die wêreld?
“WAT is die teken van u koms en “van die voleinding van die wêreld?”
In antwoord daarop het Jesus Christus vertel van ’n tydperk in die geskiedenis wat gekenmerk sou word deur internasionale oorlog, hongersnode en aardbewings, en toe bygevoeg: “Omdat die ongeregtigheid [wetteloosheid] vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”—Mattheüs 24:3, 7-13, vgl. NW.
’n Vermeerdering van wetteloosheid—’n waarlik onheilspellende verwikkeling aangesien die oorspronklike Griekse woord minagting vir bekende wette van God aandui. Die woord gee te kenne dat ’n mens jouself, en nie God nie, die middelpunt van jou lewe maak. Jesus het nie daar gesê dat wetteloosheid sou ‘begin’ nie, maar dat dit sou “vermeerder”, naamlik dat dit sou toeneem en versprei. Hierdie kenmerk sou so ’n treffende verwikkeling wees dat die meerderheid, “die meeste”, erkende Christene daardeur geraak sou word. Hulle liefde vir God, sy wette en hulle naaste sou verkoel, net soos ’n warm drank deur ’n yskoue wind verkoel word!
Daar is besliste getuienis dat ons 20ste eeu, veral met die Eerste Wêreldoorlog, ’n vermeerdering van wetteloosheid ingelui het op ’n skaal wat veel groter is as enige sedert Jesus daardie woorde geuiter het. Dan beteken dit dat ons in “die laaste dae”—in die laaste deel van “die voleinding van die wêreld”—lewe (2 Timotheüs 3:1; Mattheüs 24:3). Smag jy nie daarna om ’n einde aan hierdie wettelose stelsel te sien wat ons aarde met geweld, onsedelikheid en ongeregtigheid gevul het, en om te sien dat dit vervang word deur ’n liefdevolle gemeenskap mense, “’n nuwe aarde”, waarin geregtigheid sal woon nie?—2 Petrus 3:13.
‘Wag ’n bietjie’, sal sommige geskiedkundiges sê. ‘Is die 20ste eeu dan nie die mees beskaafde in die ganse geskiedenis nie? Was die felle geweld en onsedelikheid van vorige eeue nie baie erger nie?’
Die verlede—Hoe erg?
“Niemand kon gerus wees dat sy persoon of eiendom veilig is indien hy na donker op straat was nie, en geen man kon homself beloof dat hy in sy bed veilig sou wees nie”, het die solisiteur-generaal van Londen in 1785 die toestand betreur. Ander het destyds groot vrees vir misdadigheid uitgespreek.
Maar hoeveel misdadigheid het daar werklik in die verlede bestaan? Niemand kan met sekerheid sê nie, hoofsaaklik weens gebrekkige hofverslae. En weens ’n gebrek aan betroubare of spesifieke bevolkingsyfers in die verlede, bestaan daar geen betroubare manier om die misdaadsyfer met dié vir ons dag te vergelyk nie. Daar is aanduidings dat vroeëre eeue betreklik vreedsaam was. “Op geen tydstip in Massachusetts se geskiedenis was die lewe, vryheid en eiendom veiliger as op die oomblik nie”, het die staat se prokureur-generaal in 1859 gesê.
Maar gedurende die 150 jaar voor 1914 het ’n reeks verwikkelinge—uniek in die ganse geskiedenis—die weg gebaan vir ongekende wetteloosheid in die 20ste eeu.
Die Industriële Revolusie
“Die verreikendste revolusie in die ganse mensegeskiedenis.” Dit is hoe geskiedenisprofessore M. Klein en H. A. Kantor die gevolge van die Industriële Revolusie tussen 1850 en 1920 op die Verenigde State van Amerika in hulle boek Prisoners of Progress beskryf. Die omvattende industriële gebruik van masjiene wat pas tevore ontwikkel is, soos die stoomlokomotief, en massaproduksietegnieke het in Engeland begin. Dit het soos ’n getygolf deur Europa en die Verenigde State gerol en ’n vorige lewenswyse verpletter.
Met verwysing na die tydperk voor die Industriële Revolusie het Klein en Kantor voorts gesê: “Vergeleke met ons dag het die lewe ordeliker en bestendiger gelyk. Mense het steeds groot waarde aan godsdiens geheg en hulle waardes en lewenswyse om hulle geloofsbelydenis gebou.”
Die meeste mense was destyds selfgeëmplojeerd en was trots op hulle werk—die enigste doel van hulle onderneming was nie om geld te maak nie. Hoewel daar diewe en moordenaars was, en heersende godsdiensopvattings vermeng was met towery en bygelowe, het die deursnee-persoon in sogenaamde Christennasies gewoonlik God se wette gerespekteer.
Tussen 1880 en 1913 het die wêreld se produksievermoë drie keer vinniger toegeneem as die wêreldbevolking—’n tempo wat nooit tevore of sedertdien geëwenaar is nie. Die gevolg was dat meer werkers meer geld gehad het om hierdie pasvervaardigde ware mee te koop. Maar baie, wat betower is deur verhale oor mense wat van lompe tot luukse gegaan het, het sukses as ’n godin aanbid.
“Die wat ryk wil word”, waarsku die Bybel, “val in versoeking en strikke . . . en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof” (1 Timotheüs 6:9, 10). Dit het met ’n mag der menigte gebeur. Manne het in hulle werk opgegaan. Gesinslewe het daaronder gely aangesien dit gebou moes word om die werkrooster van feitlik 60 uur per week. Toe baie vroue by die arbeidsmag aangesluit het, was kinders dikwels sonder leiding en het hulle sleg uitgeval. Omdat mense hulle daaraan gewy het om ’n bestaan te maak, het baie van hulle godsdiens op die agtergrond geskuif.
Die invloedryke Duitse filosoof Nietzsche het mense aangespoor: “Word wie jy is!” Selfsug en hebsug het gelei tot gewelddadige arbeidsgeskille—in net die eerste ses maande van 1916 was daar 2 093 stakings en buitesluitings in die Verenigde State! Moordende sakegebruike was algemeen. Baie het die handelaar nagevolg wat in ’n roman van 1905 beskryf is: “Hy is die grootste hond, en in ons bedryf eet die een hond die ander.” Naasteliefde het inderdaad oral begin verkoel.
Snelgroeiende stede
Op soek na geleerdheid, roem, avontuur, vermaak, meer persoonlike vryheid—maar veral geld—het massas na die stede gestroom. In 1815 het minder as 2 persent van alle Europeërs in stede met ’n bevolking van meer as 100 000 gewoon; teen 1910 was die syfer 15 persent—meer as sewe keer soveel, terwyl die bevolking slegs verdubbel het. In die Verenigde State het die aantal mense wat in stede met 8000 inwoners gewoon het van 131 000 in 1790 tot meer as 18 miljoen in 1890 toegeneem—van 3 persent tot 29 persent van die bevolking!
Stede dwarsdeur die nywerheidswêreld het ongelooflik vinnig gegroei. “Trouens, verstedeliking het gedurende die afgelope anderhalf eeu vinniger plaasgevind en baie groter afmetings aangeneem as in enige ander tyd in die wêreldgeskiedenis”, het Kingsley Davis, ’n deskundige op die gebied van verstedeliking, geskryf.—Ons kursiveer.
Die meeste van diegene wat van die plase na die stad gekom het, was jonk en ongetroud. In die onbekendheid van die stad, waar daar ’n baie liberale gees was, is hulle nie meer deur die sosiale verhoudinge van die dorp bedwing nie. “Dit sal moeilik wees om ’n jong man of ’n jong vrou ouer as sewentien te vind wat nog kuis is”, het ’n insigryke waarnemer van die werkersklas in een stad geskryf. Hierdie man, wat aan die begin van die 20ste eeu gelewe het, het bygevoeg: “Geslagsomgang, grootliks die produk van hierdie danssale, het geweldige afmetings onder die jongmense van vandag aangeneem. Dit word eenvoudig as natuurlik en gebruiklik beskou.”
Ja, baie het minagting vir God se morele wette getoon. Die Bybel beveel: “Jul moet [jul] onthou van die hoerery; . . . hy wat dit verwerp, verwerp nie ’n mens nie, maar God” (1 Thessalonicense 4:3, 8). Maar om hulle manlikheid te bewys, het sommige jong manne in Europa gespog dat hulle saam met prostitute geslaap het—hulle was selfs trots daarop as hulle ’n geslagsiekte by die prostitute aangesteek het! Volgens ’n verslag oor een Europese land wat in 1914 gepubliseer is, het sowat een uit elke vyf mans aldaar sifilis gehad.
“Die stede moet broeineste van onsedelikheid wees”, het geskiedkundige Adna Weber in 1899 geskryf. Hy het getoon dat die aantal buite-egtelike kinders wat in die stede van die grootste deel van Europa gebore is, gemiddeld twee keer groter was as die syfer vir die platteland. Stede in Engeland het destyds twee of selfs vier keer meer misdadigheid gehad as die plattelandse gemeenskappe.
Maar dit was nie net die Industriële Revolusie en die groeiende stede wat die weg vir ons 20ste-eeuse vermeerdering van wetteloosheid gebaan het nie; nog ’n gebeurtenis—nog ’n unieke kenmerk van ons dag—sou ’n dramatiese uitwerking hê.
Die Groot Oorlog
Hierdie oorlog wat in 1914 uitgebreek het, is “die bloedigste en duurste botsing in die geskiedenis van die mensdom” tot op daardie tyd genoem. Die vernaamste deelnemers aan hierdie afgryslike daad van wetteloosheid was “Christennasies”! Met verwysing na die gruwele van die oorlog het ’n brief in ’n koerant in 1914 ironies geprotesteer: “Nasies moet soos Christene of, ten minste, soos ware here veg.”
Weens daardie oorlog is krag en geweld as aanneemlik beskou. “Wanneer die reëls van die beskaafde gemeenskap opgehef word, wanneer moord ’n bedryf word en ’n blyk van dapperheid en heldemoed is”, het geestelike Charles Parsons in 1917 geskryf, “dan lyk dit amper nutteloos om oor misdadigheid in die gewone sin te praat.” Geen wonder nie dat navorsers D. Archer en R. Gartner gevind het dat die meeste nasies wat hulle bestudeer het en wat by die Eerste Wêreldoorlog betrokke was, “groot naoorlogse vermeerderinge” in die moordsyfer gehad het—Italië het ’n vermeerdering van 52 persent gehad en Duitsland ’n vermeerdering van 98 persent vergeleke met die syfers voor die oorlog! Maar oorlog het ’n ander soort wetteloosheid tot gevolg gehad.
Jehovah God, wat ‘egskeiding haat’, beskou die onskriftuurlike verstoting van ’n huweliksmaat en ’n tweede huwelik as ’n ernstige sonde (Maleagi 2:16). Onmiddellik na die Eerste Wêreldoorlog was daar ’n ongeëwenaarde toename in egskeidings. In Engeland en Wallis was die getal egskeidings gedurende die 50 jaar voor 1911 byvoorbeeld gemiddeld 516 per jaar. In 1919, die eerste na-oorlogse jaar, was daar 5 184—meer as 10 keer die gemiddelde vir die voorafgaande tydperk van 50 jaar!
Gedurende die oorlog is 65 000 000 mans opgeroep sodat baie van hulle jare lank van hulle gesinne geskei is. “Die abnormale spanning en gedwonge skeiding van die oorlog van 1914-18” het volgens geskiedkundiges G. Rowntree en N. H. Carrier nie alleen die egskeidingsyfer laat toeneem nie, maar ook op verraderlike wyse “openbare afkeer versag. . . . Die liberaler gesindheid wat onmiddellik na die oorlog posgevat het, het blykbaar voortgeduur.” Hierdie vrysinnigheid het destyds begin en tot vandag toe voortgeduur!
Die vinnige verhuising na nywerheidstede in “Christennasies”, tesame met die gewelddadige lesse wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog geleer is, het die weg gebaan vir ’n vermeerdering van wetteloosheid op ’n ongekende skaal. Wat was die gevolge sedert 1914? Het die liefde van die meeste erkende Christene waarlik verkoel?
Die huidige opwelling van wetteloosheid
In 1945 was baie persone in die Verenigde State verbaas dat die getal misdade wat by die polisie aangemeld is tot 1 566 000 toegeneem het. Maar 35 jaar later was die syfer 13 295 000—en dit neem steeds toe! Dit is ’n vermeerdering van 750 persent, terwyl die bevolking met ongeveer 60 persent toegeneem het! Verkragting het met meer as 600 persent toegeneem! Gewelddadige misdade oor die algemeen met byna 900 persent! Stel jou voor, in 1981 was een uit elke drie gesinne die slagoffers van een of ander misdaad! En hierdie tendens is nie net tot die Verenigde State beperk nie. “Die een ding wat jou opval wanneer jy na misdadigheid op die wêreldskaal kyk”, het ’n vername kriminoloog, sir Leon Radzinowicz, in sy boek The Growth of Crime gesê, “is ’n deurdringende en volgehoue vermeerdering oral. Die enkele uitsonderinge hier en daar sal eerlank deur die toenemende vlaag verswelg word.”
Kan al hierdie vermeerder bloot toegeskryf word aan beter misdaadaanmelding by die polisie? Vir die antwoord hierop het ’n span met dr. Herbert Jacob van die Center for Urban Affairs Policy Research aan die Noordwestelike Universiteit aan die hoof die misdaadstatistiek, polisie-uitgawes en -metodes, arrestasiesyfers, en baie ander informasie van 396 stede in die Verenigde State vir die tydperk tussen 1948 en 1978 ontleed. In ’n onderhoud met ’n verteenwoordiger van hierdie tydskrif het dr. Jacob gesê: “Misdaadsyfer het oral in die V.S.A. toegeneem. Dit is ongetwyfeld deels as gevolg van beter aanmelding van misdade deur die polisie en burgers. Maar dit verklaar nie die hele vermeerdering nie.”
“Wat verbasend is”, het dr. Jacob voorts gesê, “is dat die misdadigheid teen ongeveer dieselfde tempo toegeneem het in elke soort stad—in die noorde of suide, met ’n negatiewe of positiewe groeikoers, met ’n groot minderheidsbevolking of ’n klein minderheidsbevolking. Dit was ’n landwye tendens.” Kan die polisie hierdie onheilspellende tendens stuit? “Die polisie rig oor die algemeen min uit weens verskeie maatskaplike kragte buite hulle beheer”, het dr. Jacob geantwoord.
Misdadigheid is natuurlik nie die enigste aanduiding van ’n vermeerdering van wetteloosheid nie. Kyk maar net na die algemene minagting vir God se wette. In die Verenigde State is die buiteegtelikegeboortesyfer van 7,1 vir elke 1 000 ongetroude vroue in 1940 nie te vergelyk met die syfer van 27,8 in 1979 nie. Die 83 000 egskeidings in 1910 het toegeneem tot 1 182 000 in 1980—’n vermeerdering van 1 300 persent! In plaas van een egskeiding vir elke 11 huwelike gedurende ’n jaar, soos in 1910, is daar nou een vir elke twee huwelike in die Verenigde State! Soortgelyke ten-dense word oor die hele aarde berig.
Dink ook aan die skokkende gruweldade wat in ons 20ste eeu gepleeg is. Wanneer in die ganse mensegeskiedenis was daar enigiets wat vergelyk het met die noukeurig beplande teregstelling van sesmiljoen Jode in Nazi-konsentrasiekampe gedurende die Tweede Wêreldoorlog? Of met die sterfte weens daardie oorlog—55 000 000? Dink ook aan die berigte in 1979 oor ’n moontlike slagting van meer as tweemiljoen Kambodjane? Watter ander geslag het ooit ’n wapen ontwikkel en gebruik wat met ’n enkele ontploffing mettertyd moontlik tot 140 000 persone gedood het, soos die atoombom wat op Hirosjima, Japan, gewerp is?
Ruimte laat ons nie toe om verdere besonderhede van minagting vir God se wette te verstrek nie, maar die feite wat reeds aangebied is, toon duidelik dat daar sedert 1914 ’n vermeerdering van wetteloosheid was op ’n skaal wat ongekend was in enige ander tydperk in die geskiedenis! Ja, die liefde vir God en naaste het onder die meeste erkende volgelinge van Jesus verkoel, net soos hy voorspel het.
Maar moenie toelaat dat sulke toenemende wetteloosheid jou beïnvloed nie. Gaan voort om God en sy wette vurig lief te hê, en jy sal dalk die vreugde smaak om verlos te word tot in die beloofde “nuwe aarde”, waar daar nooit weer ’n vlaag wetteloosheid sal wees nie.—2 Petrus 3:13; Mattheüs 24:12, 13.
[Grafiek op bladsy 6]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Van 1935 tot 1980 het die getal aangemelde, ernstige misdade in die Verenigde State met meer as 1 000 persent toegeneem, terwyl die bevolking in dieselfde tydperk met net ongeveer 78 persent toegeneem het!
1935 1 138 000
1950 2 220 000
1965 2 780 000
1980 13 295 000
[Foto-erkenning]
Bron: Die FBI se Eenvormige Misdaadverslae oor die aantal moorde, verkragtings, roofgevalle, swaar aanrandings, inbrake, gevalle van diefstal en motordiefstal wat by die polisie aangemeld is. Weens onvolledige verslae is die syfers vir 1935 en 1950 aangepas om die hele bevolking te verteenwoordig
[Prente op bladsy 5]
INDUSTRIËLE REVOLUSIE
EERSTE WÊRELDOORLOG
SNELGROEIENDE STEDE
Hierdie verwikkelinge, wat eie aan ons moderne eeu is, het bygedra tot die grootste vermeerdering van wetteloosheid in die ganse geskiedenis