Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 8/1 bl. 10-11
  • Lojale jong martelare vir God se Koninkryk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lojale jong martelare vir God se Koninkryk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die genesende uitwerking van God se beloftes
  • My geluk in die diens van die God wat onthou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Jehovah luister na die hulpgeroep van die geringe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Die krag om enige beproewing die hoof te bied
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Waaraan meet jy sukses?
    Ontwaak!—2014
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 8/1 bl. 10-11

Lojale jong martelare vir God se Koninkryk

DIT was ongeveer 8:30 op ’n Oktoberoggend. Jong Elmer en Alex, onderskeidelik 16 en 14 jaar, het in die voortuin van hulle huis in San Salvador, die hoofstad van onrusgeteisterde El Salvador, gespeel. Skielik het ’n wit bakkie met vyf gewapende mans op die toneel verskyn. Twee mans het afgeklim en die seuns beveel om op die bakkie te klim. Hulle is sonder die medewete van hulle gesin weggevoer.

Toe hulle ouers besef het wat gebeur het, het hulle die ouere manne van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies daarvan verwittig en het ’n wanhopige soektog begin. Polities gemotiveerde geweld is al lank ’n daaglikse verskynsel in El Salvador. Die ouers, Napoleón en Orbe, het die ergste gevrees. Die owerheid is verwittig en het aan die soektog begin deelneem.

Die volgende dag het ’n paar mans, wat ’n lykwa vir ’n plaaslike ondernemer bestuur, vir een van die ouere manne gesê dat hulle die lyke van twee seuns saam met ander lyke gesien het op ’n plek waar slagoffers van geweld dikwels gegooi word. Ja, hulle het Elmer en Alex gekry, en hulle liggame was vol koeëls. Daar was tekens dat hulle gemartel is voordat hulle eindelik om die lewe gebring is. Daar word gemeen dat een van die ondermynende groepe probeer het om hulle te oortuig om by daardie groep aan te sluit in hulle stryd teen die bewindhebbende regering. Maar omdat die seuns Jehovah se Getuies was, wou hulle nie hulle Christelike neutraliteit prysgee deur by so ’n groep aan te sluit nie. Dit is klaarblyklik die rede waarom hulle tereggestel is. Hulle is nog twee martelare in ’n lang reeks getroue Christene wat gesterf het omdat hulle geweier het om by wêreldlike politiek betrokke te raak. Hulle was meer gehoorsaam aan God as aan die mense.—Johannes 17:16; 18:36; Handelinge 5:29.

In net een dag is die López-gesin dus van vyf lede tot drie verminder. Dit was ’n verskriklike slag vir die ouers. In hulle tyd van groot nood het hulle troos en hulp ontvang van hulle Christenbroers by die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in El Salvador en van die gemeente. Hulle het onlangs ’n brief van waardering geskryf wat ons met ons lesers wil deel.

Die genesende uitwerking van God se beloftes

“My vrou, Orbe, my dogter, Reyna Noemí, en ek wil ons dankbaarheid en waardering uitspreek vir die bemoediging en troos wat ons ontvang het op ’n tyd toe ons dit baie nodig gehad het. Ons is ons Vader, Jehovah God, baie dankbaar omdat hy die krag wat ons nodig gehad het deur die Skrif voorsien het—ja, weens die tragedie wat ons op 27 Oktober verlede jaar getref het. Net soos ons nie ons dierbare seuns Elmer en Alex kan vergeet nie, kan ons nie die liefde wat julle destyds betoon het, vergeet nie.

“Ons is nog steeds diep bedroef oor die verlies van ons seuns. Maar nou is ons baie meer bewus van ons behoefte aan die Nuwe Orde, en wanneer ons sien wat hierdie goddelose stelsel doen, laat dit ons net beter besef hoe nodig ons God se Koninkryk het.

“Broers, ons waardeer hierdie dinge nou selfs meer, en ons dank Jehovah dat ons ’n gewisse hoop het—nie lugkastele nie, maar ’n werklike, tasbare regering.

“’n Broer het liefdevol vir my gesê: ‘Julle kan Elmer en Alex nie vergeet nie, en daar is slegs een raat vir julle droefheid—praat met ander oor julle hoop. Ja, praat en praat oor die Koninkryk wanneer die geleentheid hom voordoen.’ Hoe waar is dit tog! Ons praat saans met ons bure, en dit vertroos ons. Orbe, my vrou, kon ’n getuienis lewer aan ‘belangrike’ persone wat oor ons geloof navraag gedoen het. Eendag het ’n dokter vir haar gesê: ‘Het jy geloof?’ ‘Ja’, het sy geantwoord. ‘Toon vir my wat dit is’, het hy geantwoord. Wel, hy het ’n uur lank geluister en baie belangstelling getoon al het daar pasiënte op hom gewag. Sy het hom die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe aangebied, en hy het dit geredelik geneem.

“Eendag het die algemene bestuurder van die fabriek waar ek werk my ontbied en gesê: ‘Napoleón, ek wil ’n vraag aan jou stel. Glo jy dat die wêreld binnekort gaan eindig?’ Hierdie man was ’n Katolieke priester, maar het uit die priesteramp getree. Toe ek verduidelik het dat die Bybel onomstootlike bewys lewer dat ons in die laaste dae van hierdie goddelose stelsel lewe, het hy gesê dat hy sy bedenkinge oor die Bybel het. Toe ek oor die organisasie van Jehovah se Getuies gepraat het, was hy verbaas toe ek verduidelik het dat ons nie tot die evangeliese groepe behoort nie. Toe het ek vir hom gesê dat ons nie aan dogmas glo nie. Hy het om ’n voorbeeld gevra. ‘Byvoorbeeld’, het ek gesê, ‘dat Maria die moeder van God is.’ ‘Glo jy werklik nie dat Jesus God is en dat Maria gevolglik die moeder van God is nie?’ ‘Nee’, het ek gesê “die Bybel steun nie so ’n dogma nie.’ Hy het baie verbaas opgestaan en gesê: ‘Waar hou julle julle vergaderinge? Gee vir my die adres, want ek wil dit bywoon.’ ‘Waarom?’ het ek gevra. Hy het geantwoord dat toe hy in die kweekskool was, hy nooit aan daardie leerstelling geglo het nie en die gevolgtrekking gemaak het dat alle gelowe daaraan glo. Watter verrassing tog! ’n Priester wat nie aan die Drie-eenheid glo nie!

“Broers, ons bid vandag harder as ooit tot Jehovah dat sy ‘Koninkryk moet kom’ en ’n einde aan alle goddeloosheid moet maak. Broers, ons het weliswaar nog nie ten volle herstel nie. Elke nuwe dag is die herinnering aan ons seuns daar, en dit voel soos ’n verskriklike nagmerrie. Maar hoe bly is ons tog dat Jehovah ons help! Ja, ons neem sy goedertierenheid in die gemeente waar. Hoe dankbaar is ons oor Jehovah se belofte dat diegene wat in die dood slaap deur Christus SAL LEWE! (Handelinge 24:15). En watter seën sal dit tog wees wanneer ons seuns terugkom om vir hulle te vertel hoe hulle dood ons die geleentheid gebied het om oor die Koninkryk te praat met mense wat ons andersins dalk nooit sou genader het nie!

“Hoewel die droefheid ons nog steeds soms oorweldig, en die afwesigheid van ons seuns ons hartseer maak, dank ons Jehovah nietemin elke dag dat ons die waarheid ken, vir sy vriendelike hand en vir die broers en vriende soos julle wat ons in hierdie oomblikke van angs bygestaan het.

“Baie dankie,

Napoleón en Orbelina López”

Alle jong Getuies—versterk julle soos Elmer en Alex gedoen het deur God se Woord te bestudeer, sodat julle “staande kan bly” ongeag voor watter beproewinge julle te staan kom.—Efesiërs 6:11; 1 Petrus 5:8-10

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel