God se Woord is lewend
Wat gaan God se Koninkryk doen?
IN SY beroemde Bergpredikasie het Jesus Christus sy volgelinge die gebed geleer wat algemeen die Onse Vader genoem word. Jy het dit moontlik al baie keer opgesê. Miljoene mense het. Hulle het tot God gebid: “Laat u koninkryk kom” (Mattheüs 6:10). Weet jy waarvoor jy vra wanneer jy daardie versoek rig?
Soos die meeste mense het jy moontlik hierdie woorde herhaal sonder om veel oor die betekenis daarvan na te dink. Maar wat gaan met die huidige regerings van die wêreld gebeur wanneer God se Koninkryk kom, aangesien dit ’n werklike regering is? Het jy al daaraan gedink?
Die Bybel laat by ons geen twyfel oor die antwoord nie. In ’n profesie wat op ons dag betrekking het, sê die Bybel: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk [dit is God se Koninkryk, waarvoor Christene bid] verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, . . . dit sal al daardie koninkryke [huidige regerings van die wêreld] verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.
Dink net daaraan! God se Koninkryk gaan alle huidige regerings van die wêreld vernietig. En wanneer jy bid: “Laat u koninkryk kom”, bid jy dat dit moet gebeur. Maar so ’n verandering is beslis nodig. Nog nooit in die geskiedenis was ’n menseregering ten volle bevredigend nie. Wat kan dus beter wees as dat ’n volmaakte regering van God alle menseregerings vervang!
Omdat Jehovah God almagtig is, sal sy Koninkryk die begeertes van alle regskape persone bevredig. “U koninkryk is ’n koninkryk van alle eeue”, verduidelik die Bybel. “U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae” (Psalm 145:13, 16). Watter begeertes wil jy graag vervul sien?
Die einde van oorlog, honger, ongeregtigheid, swak behuising, misdadigheid, siekte en selfs die dood? God se Koninkryk sal van al hierdie probleme en ander ontslae raak. Die Bybel belowe “vrede, totdat die maan nie meer is nie”. Dit sê “die goddelose sal uit die land uitgeroei” word. Ja, mense sal dan “huise bou en bewoon”. “God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie.”—Psalm 72:7, 8; Spreuke 2:22; Jesaja 65:21-23; Openbaring 21:3, 4.
Watter seëninge tog vir die mensdom! Sou jy graag ’n onderdaan van God se Koninkryk wou wees? Leer dan hoe om een te wees. Bestudeer God se Woord en pas toe wat jy leer.—Johannes 17:3.
[Prent op bladsye 8, 9]
hierdie stelsel verwyder . . .
. . . ’n nuwe stelsel inbring