Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 8/1 bl. 12-17
  • Die tog van die vier ruiters—’n Teken

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die tog van die vier ruiters—’n Teken
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die vier perde en hulle ruiters
  • DIE WIT PERD EN SY RUITER
  • Hoe hy sy oorwinning voltooi
  • Die geheim van die ruiters
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Die glorieryke werk wat volg op die tog van die ruiters
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Vier perderuiters aan die galop!
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Die vier perderuiters—Wie is hulle?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 8/1 bl. 12-17

Die tog van die vier ruiters—’n Teken

‘En ek het gesien, en kyk, ’n wit perd, ’n vuurrooi perd, ’n swart perd, ’n vaal perd; en hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg.’—OPENBARING 6:2-8

1. Wat het die president van die Wagtoring- Bybel-en Traktaatgenootskap by die Brooklynse hoofkwartier gedoen voordat hy op 2 Oktober 1914 sy sitplek aan die ontbyttafel ingeneem het?

DIT was Vrydag, 2 Oktober 1914. Die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap het by die hoofkwartierpersoneel se eetsaal te Columbia Heights 124, Brooklyn, New York, V.S.A., ingeloop. Dit was omtrent seweuur in die oggend. Voordat hy sy plek aan die hoof van die tafel ingeneem het, het hy stilgestaan. Toe het hy sy hande geklap om die lede van die Bethelgesin wat om die tafels gesit het se onverdeelde aandag te kry. Daarop het hy met ’n positiewe stem verwys na die eerste woorde van vers 3 van die lied “Our King Is Marching On!” op bladsye 162, 163 van die liedereboek Hymns of Millennial Dawn deur te sê: “Die Tye van die Nasies het geëindig, want hulle konings se dae is verby.” Eers toe het hy gaan sit om te presideer oor die daaglikse godsdiensprogram van die Bethelgesin se ontbyt.

2. Hoe lank tevore het die president al die aandag op daardie bepaalde jaar gevestig, en tot hoe diep in die wêreldbotsing het hy gelewe?

2 In ’n artikel wat hy voorgelê het vir publikasie in The Bible Examiner het die president reeds in 1876 die aandag gevestig op 1914 as die jaartal wanneer “die tye van die nasies” sou eindig, met ernstige gevolge vir die hele mensdom (Lukas 21:24). Verbasend genoeg was die eerste wêreldoorlog in die ganse mensegeskiedenis 66 dae aan die gang toe die president vir die Brooklynse Bethelgesin gesê het dat die Tye van die Nasies geëindig het. Teen daardie tyd het die deelnemers aan daardie verskriklike botsing reeds 14 oorlogsverklarings gedoen. Voor die einde van daardie wrede stryd om wêreldoorheersing en om die handelsmarkte van die wêreld, het 29 nasies en ryke by daardie ondenkbare botsing betrokke geraak. Die Genootskap se president, wat daardie gepaste woorde geuiter het, het gesterf voordat sy eie land, die Verenigde State van Noord-Amerika, op 6 April 1917 by die Eerste Wêreldoorlog betrokke geraak het as bondgenoot van die Britse Ryk teen die Sentrale Magte van Europa.

3. Hoe het die president die betekenis van 1914 herbeklemtoon, en hoe kon hy voel toe hy gesê het: “Die Tye van die Nasies het geëindig”?

3 Die Genootskap se president het vanaf 1879 die groot betekenis van 1914 in die kolomme van The Watch Tower herbeklemtoon, en veral in die boek The Time Is at Hand, wat in 1889 uitgegee is. Maar teen 2 Oktober 1914 het hy genoeg van die verloop van wêreldaangeleenthede in daardie onvergeetlike jaar waargeneem om seker te wees dat sy verklaarde posisie korrek was. As ’n ywerige en noukeurige student van die chronologie of tydrooster van die Bybel, wat God se tye en seisoene voorspel, kon hy ten minste in hierdie opsig geregverdig voel.

4. Die begin van wie se tog het die Genootskap se president voor sy dood gesien, en waarvan kan dit tereg ’n “teken” genoem word?

4 Voor sy onverwagte dood op ’n Dinsdagnag, 31 Oktober 1916, het die Genootskap se president dus gesien hoedat die tog van die vier ruiters van Openbaring begin het in die jaar waarin die Tye van die Nasies volgens Bybelchronologie moes eindig. Openbaring is die laaste boek van die Christelike Griekse Skrifte, wat gewoonlik die Nuwe Testament genoem word. Die tog van die vier ruiters is van wêreldwye belang, want dit is deel van ’n “teken” wat aandui waar die mensdom in die tydstroom is. Dit toon dat ons lewe in wat Jesus se dissipels “die voleinding van die wêreld” genoem het (Mattheüs 24:3). Dat dit ’n “teken” is, word vir ons gesê in die eerste vers van die Openbaring, waar ons lees: “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel [in tekens] aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het.”—Openbaring 1:1, vgl. NW.

5. Hoe verskil verskeie Bybelvertalings van mekaar oor hoe die simbole van die Openbaring aangebied is, en waarvan is die Openbaring vol, in ooreenstemming met sy inleiding?

5 Die tog van die vier ruiters word in Openbaring 6:1-8 beskryf. Dit is interessant dat waar die New World Translation die uitdrukking “in tekens . . . meegedeel” gebruik en dus met Rotherham se The Emphasised New Testament ooreenstem, die King James Version of Authorized Version van 1611, B. Wilson se The Emphatic Diaglott en Young se Literal Translation of the Holy Bible die uitdrukking “dit aangedui” gebruik. Ooreenkomstig daardie inleidende woorde is die laaste boek van die Bybel, die Openbaring, net vol tekens, sinnebeelde van dinge van veel groter belang in die mensegeskiedenis. Dit sou “gou” in die toekoms plaasvind.

Die vier perde en hulle ruiters

6. Wie is beskore om die geluk te smaak wat in Openbaring 1:3 voorspel is, en hoe so?

6 Daar is geen geskiedkundige verwikkelinge om te bewys dat daardie dinge gedurende die 18 eeue na die dood van die apostel Johannes omstreeks 98 G.J. verwesenlik is nie, en daarom vestig ons nou ons aandag op die 20ste eeu G.J. Wanneer ons dit doen, vind ons dat dit vir ons wat in hierdie opwindende eeu lewe, beskore is om die geluk te smaak waarvan die geïnspireerde apostel gepraat het toe hy geskryf het: “Salig [of, gelukkig] is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Openbaring 1:3). Ten einde geluk te smaak, gaan ons nou “die teken” van die vier perde en hulle ruiters ondersoek. Kom ons lees Openbaring 6:1-8:

7. Wat het verskyn toe die Lam van God die eerste seël van die boekrol in sy hand oopgemaak het?

7 “En ek het gesien toe die Lam [Jesus Christus] een van die seëls [van die boekrol wat in sy hand was] oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die geluid van ’n donderslag: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ’n wit perd. En hy wat daarop sit, het ’n boog; en aan hom is ’n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ’n oorwinnaar en om te oorwin.

8. Wat het die apostel Johannes gesien toe die tweede seël van die boekrol oopgemaak is?

8 “En toe Hy die tweede seël oopgemaak het, hoor ek die tweede lewende wese sê: Kom kyk! En ’n ander perd, ’n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ’n groot swaard is aan hom gegee.

9. Wat het Johannes gesien en gehoor toe die derde seël oopgemaak is?

9 “En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ’n swart perd; en hy wat daarop sit, het ’n skaal in sy hand. En ek het ’n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: ’n Rantsoen koring vir ’n penning en drie rantsoene gars vir ’n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie.

10. Wat het Johannes in die gesig waargeneem en gehoor toe die vierde seël oopgemaak is?

10 “En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk [Hades, NW] het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.”

DIE WIT PERD EN SY RUITER

11-13. (a) Wat beeld die wit perd af, en watter soort persoon word deur sy ruiter afgebeeld? (b) Met watter ruiter wat deur die psalmis aangespreek is, kom daardie ruiter ooreen, en op wie pas Paulus daardie profetiese woorde in Hebreërs 1:8, 9 toe?

11 Die wit perd dui ’n koninklike ros aan, die draer van ’n koninklike persoon, ’n regverdige en rein rydier, wat rats is soos ’n letterlike perd. Die ruiter van hierdie vinnige vervoermiddel het ’n pasgekroonde koning aangedui, want ’n koninklike kroon is aan hom gegee. Hy was ’n stryder-koning, want hy was gewapen met ’n boog. Daarbenewens het hy as oorwinnaar uitgegaan om iedere en elke teenstander van sy Koninkryk te oorwin. Dit sou ’n volkome oorwinning wees! Dienooreenkomstig is ’n lang swaard aan hom gegee, ’n koninklike wapen. Wie vervul dan hierdie rol in ons 20ste eeu? Klaarblyklik dieselfde een as die Koning wat Psalm 45 vervul waar ons lees:

12 “My hart word bewoë deur goeie woorde; ek dra my gedigte voor aangaande ’n Koning; . . . Gord u swaard aan die heup, o held, u majesteit en u heerlikheid; ja, u heerlikheid! Ry voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid; en laat u regterhand U vreeslike dinge leer! U pyle is skerp (volke val onder U!); hulle tref in die hart van die Koning se vyande. [God is] u troon . . . vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer. U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het . . . u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.”—Verse 2-8, vgl. NW.

13 In Hebreërs 1:8, 9 haal die apostel Paulus Psalm 45:7, 8 aan en pas hy die woorde toe op die Seun van God, Jesus Christus. Die ruiter van die wit perd wat seëvierend uitgaan, moet dus ongetwyfeld Jesus Christus tydens sy kroning in die hemel aan die einde van die Tye van die Nasies in 1914 wees.

14. (a) Wanneer en hoe het Jesus in Jerusalem ingery asof hy op pad was na sy kroning, en ter vervulling van watter profesie was dit? (b) Watter roemryke voorvader het Jesus nagevolg toe hy op daardie wyse by so ’n geleentheid gery het?

14 Ons onthou die keer toe Jesus Christus as die aangewese koning in Jerusalem ingery het asof hy op pad was na sy kroning by die tempel. Maar toe het hy nie op ’n lewendige wit perd gery nie. Hy het op ’n esel gery. Dit was ter vervulling van die profesie in Sagaria 9:9, wat lui: “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ’n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ’n esel—op ’n jong esel, die vul van ’n eselin.” In ooreenstemming met hierdie profesie het Jesus sy klimaktiese intog in Jerusalem op die 9de dag van die Joodse maand Nisan, 33 G.J. op ’n vredeliewende dier gedoen en aldus ooreengekom met die Pasgalam wat op 10 Nisan in Joodse huise ingeneem is, waar dit tot die Pasgaviering op 14 Nisan gehou is. Sodoende het Jesus sy roemryke voorvader. Salomo, die seun van Dawid, nagevolg. Toe Dawid na 40 jaar op die troon van die koninkryk van Israel van sy koningskap afstand gedoen het, het hy Salomo op ’n eselin na sy kroning laat ry. Nadat hoëpriester Sadok hom gesalf het om sy vader op te volg, het die skare Israeliete wat dit bygewoon het, uitgeroep: “Mag koning Salomo lewe!”—1 Konings 1:33-40.

15. (a) Wat was die volk se reaksie op Jesus se intog in Jerusalem op die esel? (b) Watter soort verwelkoming het hy van Jerusalem ontvang, en waarom?

15 Watter soort ontvangs het Jesus te beurt geval toe hy vier dae voor die Pasga op ’n esel van die Olyfberg af na die kroningstad gery het? As gevolg van die omstandighede het die gees van die geleentheid die skare wat hom begin vergesel het, aangesteek en het hulle gemeen dat hy die beloofde Messiaanse koning van Israel was. Hulle het palmtakke gewaai. Hulle het hulle boklere oopgegooi sodat hy daaroor kon ry. “En die skare wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!” (Mattheüs 21:1-9). Dit was die volk se reaksie. Maar Jerusalem self was onder die invloed van die Joodse godsdiensleiers wat nie deur die vervulling van profesie voor hulle oë gelei is nie. Jerusalem het hom dus nie ’n koninklike verwelkoming gegee nie.

16. Hoe het die tempelowerheid Jesus behandel in teenstelling met die wyse waarop hulle die handelaars behandel het?

16 Toe Jesus na die tempel gegaan het, het hoëpriester Kajafas hom nie gesalf om die Messiaanse koning te wees wat onafhanklik van die Romeinse Ryk was nie. Die priesters het toegelaat dat handelaars die tempelterrein gebruik om hulle winsgewende sake te doen, maar Jesus het die regte eienskappe van ’n hoëpriester aan die dag gelê deur hulle te verdryf, en hy het diegene wat beswaar aangeteken het, bestraf deur vir hulle te sê: “Daar is geskrywe: My huis moet ’n huis van gebed genoem word. Maar julle het dit ’n rowerspelonk gemaak.” Blinde en kreupel Jode het daar by die tempel na hom gekom, en hy het hulle gesond gemaak. Maar die owerpriesters en die skrifgeleerdes het daarmee foutgevind, en hulle het geweier om hom as die “Seun van Dawid” te aanvaar en hom as die regmatige heerser van die koninkryk van Israel in te huldig. Toe Jesus hulle by die tempel agtergelaat en na Betanië uitgegaan het, het hy dit nie as ’n pasgekroonde koning gedoen nie.—Mattheüs 21:10-17.

17. Hoe het Pontius Pilatus belangstelling getoon in Jesus se aanspraak op koningskap, en hoe het hy die owerpriesters se begeertes ten opsigte van Jesus se koningskap geïgnoreer?

17 Toe Jesus vier dae later voor die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus gestaan het, het hierdie nie-Jood vir hom gevra of hy ’n koning is. Jesus het geantwoord dat sy Koninkryk geen deel was van hierdie wêreld waaraan Pilatus behoort het nie. Op versoek van die owerpriesters wat gesê het: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie”, het Pilatus Jesus oorgelewer om te Kalvarie aan ’n paal genael te word. Tog het Pilatus voet by stuk gehou wat betref die teken wat hy bokant Jesus se kop op die paal laat aanbring het: “Jesus, die Nasarener, die Koning van die Jode.”—Johannes 19:15, 19-22.

18. Op watter betekenisvolle dag het Jehovah sy Seun opgewek, en wat was die verrese Jesus se afskeidswoorde aan sy dissipels voor sy hemelvaart?

18 Die almagtige God, Jehovah, moes toe sy geofferde Seun op 16 Nisan, presies dieselfde dag waarop die Jode die eerstelinge van die garsoes by die tempel aan Jehovah aangebied het, as “die eersgeborene uit die dode” opwek (Openbaring 1:5). Die toekomstige Koning kon homself dus op daardie selfde dag aan sy getroue dissipels openbaar. ’n Paar dae later, voordat hy na die hemel opgevaar het, het hy vir hulle gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.”—Mattheüs 28:18, 19; Levitikus 23:10-12; 1 Korinthiërs 15:20.

Hoe hy sy oorwinning voltooi

19. Watter profetiese beeld kon Jesus gevolglik mettertyd vervul, en watter soort koning is hy sedertdien?

19 So is Jesus Christus in staat gestel om die profetiese beeld van sy tog op die wit perd te vervul en as ’n gekroonde koning te ry om sy oorwinning oor al sy vyande in die hemel en op aarde te voltooi (Openbaring 6:1, 2). Sedert die einde van “die tye van die nasies” in die jaar 1914 G.J. is hy ’n Stryder-Koning, wat as ’t ware met ’n boog gewapen is om sy vyande van ver af te deurboor. Dit is in werklikheid tot hierdie Stryder-Koning dat die profetiese woorde van Psalm 45:4-9 gerig is:

20. Wat moet hy doen volgens die woorde wat die psalmis tot hom gerig het?

20 “Gord u swaard aan die heup, o held, u majesteit en u heerlikheid; ja, u heerlikheid! Ry voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid; en laat u regterhand U vreeslike dinge leer! U pyle is skerp (volke val onder U!); hulle tref in die hart van die Koning se vyande. [God is] u troon . . . vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer. U het geregtigheid lief en u haat goddeloosheid. Daarom het . . . u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle. Al u klere is mirre en alewee en kassie; uit ivoorpaleise maak snarespel U bly.”

21. (a) Hoe kan ons daarvan seker wees dat die psalmis se woorde op die verheerlikte Jesus Christus van toepassing is? (b) Hoe beklemtoon Psalm 45:6 sy vermoë om akkuraat op sy vyande te mik?

21 In Hebreërs 1:8, 9 haal die apostel Paulus uit die woorde van Psalm 45:4-9 aan en pas hy die aanhaling op Jesus Christus toe om die aandag op sy nou hoog verhewe posisie te vestig. Die “koning” wat “die kinders van Korag” geinspireer is om aan te spreek, is dus ongetwyfeld die behoorlik ingehuldigde Koning Jesus Christus. (Kyk Psalm 45:1.) Hy sal die pyle uit sy “boog” met groter akkuraatheid op die hart van die teenstanders van sy Koninkryk rig as die akkuraatheid van die antieke Parthers, wat uitstekende boogskutters was al was hulle berede.

22. (a) In watter ander deel van Openbaring word die ruiter op die wit perd uitgebeeld, en onder watter naam? (b) Hoe is ons oë geseënd om watter gesig te sien, en hoe reageer ons op hierdie gesig?

22 Die ruiter op die wit perd wat in Openbaring 6:2 bespreek word, is dieselfde as die ruiter op die wit perd wat in Openbaring 19:11-16 uitgebeeld word. In laasgenoemde passasie word sy naam aangegee as “Die Woord van God”, en is die titel “die Koning van die konings en die Here van die Here” op sy heup geskrywe. Hier word hy uitgebeeld in die grootse klimaks van sy stormloop teen sy teenstanders, wanneer hy die finale oorwinning by “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” op die slagveld te Armageddon, of die berg Megiddo, behaal (Openbaring 16:14-16; 19:17-21). Dan volg daar die binding van Satan die Duiwel en sy demone vir ’n duisend jaar van gevangenskap in ’n afgrond, iets wat vir mense-oë onsigbaar sal wees (Openbaring 20:1-3). Ons oë is geseënd om sedert die einde van die Tye van die Nasies in 1914 die tog van die gekroonde Koning op die “wit perd” deur geloof te aanskou. Omdat ons tot in ons diepste wese verheug is oor sy oorwinnings tot dusver, roep ons uit: ‘Gaan voort, koninklike ruiter op die wit perd, na jou ongeëwenaarde oorwinning te Armageddon, tot die regverdiging van die universele soewereiniteit van Jehovah God, die Gewer van hierdie profetiese “teken”.’

Hoe sou jy die volgende beantwoord:

◻ Wanneer het die ruiters met hul tog begin?

◻ Watter verwagting is toe vervul?

◻ Watter vorige tog het die eerste ruiter onderneem, en hoe is hy ontvang?

◻ Hoe toon Openbaring 6:1, 2; 19:11-16 en Psalm 45:4-9 die doel van hierdie ruiter se latere tog?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel