Siekte—Sal daar ooit ’n einde kom?
AS JY sowat 10 jaar gelede beenkanker gekry het, sou jou vooruitsigte voorwaar droewig gewees het. Volgens die Nasionale Kankerinstituut het 80 persent van jong volwassenes met beenkanker 10 jaar gelede binne 3 jaar gesterf. Maar danksy die vooruitgang van die wetenskap word daar vandag beweer dat 90 persent van hierdie pasiënte drie jaar na diagnose vry van die siekte is.
Soortgelyke vordering word gemaak met die behandeling van ander kwale. In 1979 het ’n wêreldkommissie wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie aangestel is, byvoorbeeld gesê dat pokke dwarsoor die wêreld uitgeroei is. En hoewel sowat driemiljoen mense nog steeds jaarliks aan tering sterf, beweer die tydskrif World Health: “Ons besit reeds al die nodige wapens om tering uit te wis. Al wat ons nodig het om die siekte nou en vir ewig te oorwin, is die finansiële middele en die politieke wil.”
Die wetenskap het onteenseglik groot vooruitgang in die stryd teen siekte gemaak. Maar die feit bly staan: Die wetenskap het siekte en kwale nog lank nie verower nie. Hartkwaal bly byvoorbeeld die grootste oorsaak van ontydige dood in nywerheidslande. Kyk daarbenewens asseblief ook na die bygaande venster “Is die wetenskap besig om siekte uit te wis?” Dit meld ander kwale wat die mediese wetenskap steeds dronkslaan.
Dit is frustrerend dat die lys dodelike kwale oënskynlik langer word, daar oues voortbestaan en nuwes bygevoeg word. Dit is duidelik dat hoewel die wetenskap baie vordering gemaak het en ons veel gegee het om voor dankbaar te wees, dit hoegenaamd nie besig is om siektes en kwale uit te wis nie. Bestaan daar geen hoop vir die toekoms nie?
Grondslag vir hoop
Daar bestaan alle rede vir ware optimisme dat siektes en kwale gaan eindig. Maar nee, nie as gevolg van die toegewydheid van wetenskaplikes nie. ’n Veel hoër bron sal daarvoor verantwoordelik wees.
Om siekte permanent te oorwin is twee baie belangrike faktore nodig: (1) Die vermoë en (2) die wil. Die een sonder die ander is nie voldoende nie. Jy sal onthou dat die tydskrif World Health beweer het dat die mens in staat is om tering vir ewig uit te wis, maar dat “die finansiële middele en die politieke wil” ontbreek.
Daar is per slot van rekening slegs een persoon in die heelal wat die vermoë sowel as die wil het om alle kwale vir ewig uit te wis—God self! Trouens, toe Jesus Christus, wat sy Vader se eienskappe volmaak weerspieël het, op aarde was, het hy op wonderlike wyse toegelig hoe Godgegewe krag kwale en gebreke kan oorwin.—Johannes 14:9.
Dit ly geen twyfel dat Jesus Christus, deur die “krag van God”, in staat was om siekte te oorwin nie (Lukas 9:43, NW). Jesus het die gesondheid van talle siekes en kranklikes daadwerklik herstel—die kreupeles, die gebreklikes en die blindes (Mattheüs 15:30, 31). die epileptici, die verlamdes (Mattheüs 4:24, NW), die melaatses (Lukas 17:12-14), ’n vrou met bloedvloeiing (Markus 5:25-29), een met ’n verdorde hand (Markus 3:3-5), ’n man wat aan watersug gely het (Lukas 14:2-4) en mense wat aan “allerhande kwale” gely het (Lukas 4:40). Daar is dan glad selfs drie bevestigde gevalle waar Jesus die dode opgewek het! (Lukas 7:11-15; 8:49-56; Johannes 11:38-44). In die meeste gevalle is die persone oombliklik genees en was geen tydperk vir aansterking of herstel nodig nie.
Die feit dat Jesus Christus gewillig was om siekte te oorwin, blyk natuurlik duidelik uit die talle genesings wat hy verrig het. Die Bybel openbaar egter Jesus se hartgrondige begeerte om ander gesond te maak op ’n baie roerende manier.
Nadat Jesus van Johannes die Doper se dood gehoor het, het hy per boot na ’n eensame plek gegaan om alleen te wees. Maar ’n groot skare mense het klaarblyklik die boot sien vertrek en geraai wat die bestemming daarvan was. Hulle het Jesus ingewag. Hoe het Jesus gereageer? Was hy gegrief? Ergerlik? Hy was immers geregtig op ’n bietjie rus en vrede, nie waar nie? Hy het hulle egter glad nie as ’n oorlas beskou nie. Die verhaal verduidelik:
“Toe Jesus uitgaan, het Hy ’n groot skare gesien en innig jammer vir hulle gevoel, en Hy het hulle siekes gesond gemaak” (Mattheüs 14:13, 14). Een Bybelgeleerde sê die volgende van die Griekse woord wat hier met ‘innig jammer voel’ vertaal is: “[Dit is] die sterkste woord vir medelydende jammerte in Grieks. Dit kom van die woord splagchna, wat die ingewande beteken, en dit beskryf die jammerte en die medelye wat ’n man tot in sy diepste wese roer.” Ja, Jesus kon dit nie verduur om ander te sien ly sonder om die pyn te verlig nie.—Lukas 5:12-14.
Dit ly geen twyfel nie. Deur krag van God af was Jesus Christus in staat sowel as gewillig om siekte te oorwin. En hy is nog steeds! (Hebreërs 13:8). Die genesings wat hy op aarde verrig het, het die genesende seëninge afgeskadu wat aardwyd op die mensdom uitgestort sal word onder die heerskappy van God se Koninkryk. ‘Maar wanneer sal dit kom?’ vra jy.
Die einde van siekte is ophande!
Soos Die Wagtoring al telke male getoon het, is die samegestelde “teken”, waarvan ‘pessiekte’ ’n deel is, sedert 1914 onmiskenbaar. Wanneer jy die getuienis ondersoek, ly dit geen twyfel dat Jesus se woorde bewaarheid is nie. Baie van die siektes en kwale wat ons vandag sien, is dus in werklikheid die vervulling van Jesus se profesie in Mattheüs 24:3-7 en Lukas 21:10, 11. Dit beteken dat ons aan “die voleinding van die wêreld” lewe!
God se Koninkryk gaan binnekort die teenswoordige, goddelose stelsel verwyder en dit deur ’n regverdige Nuwe Orde vervang (2 Petrus 3:13). Onder Koninkryksheerskappy sal pessiektes, of kwale, ons nie langer van gesondheid en die lewe beroof nie. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat ons liefdevolle, hemelse Vader die vermoë sowel as die wil het om siekte volkome en vir ewig uit te wis!—Openbaring 21:3, 4.
Sou jy graag meer wou weet omtrent hierdie beloofde seëninge van God en wat jy moet doen om daarby baat te vind? Jehovah se Getuies sal jou met graagte help. Tree gerus plaaslik met hulle in verbinding of skryf aan die uitgewers van hierdie tydskrif.
[Venster op bladsy 7]
Is die wetenskap besig om siekte uit te wis?
Kanker: Daar word geraam dat daar net vanjaar sowat 835 000 nuwe gevalle van kanker in die Verenigde State sal wees. Nagenoeg 430 000 persone sal in dieselfde tydperk daaraan sterf. En die Wêreldgesondheidsorganisasie beweer dat meer as die helfte van die geraamde 37 miljoen gevalle van kanker dwarsoor die wêreld in die ontwikkelende lande voorkom.
Chaga-siekte: Dit is ’n parasitiese infeksie waaraan sowat 10 miljoen mense in Suid- en Sentraal-Amerika ly. In die vroeë stadiums dring die parasiete die liggaamsweefsels, veral die hart, binne. Die siekte is chronies en kan noodlottig wees, daar die dood dikwels as gevolg van kardiale ontoereikendheid intree. Daar is geen bekende raat vir Chaga-siekte nie.
Griep: Die Spaanse griep was ongetwyfeld die ergste griepepidemie in die geskiedenis en het in 1918 en 1919 na raming 20 miljoen lewens geëis. Ondanks die beskikbaarheid van entstowwe het gevaarlike, nuwe soorte griepvirusse sedertdien hul verskyning gemaak. Die griepvirus het die eienaardige vermoë om telkens sy molekulêre struktuur te verander en nuwe epidemies te veroorsaak. Die Oosterse griep het gevolglik in 1957 bykans 57 000 lewens dwarsoor die wêreld geëis. In 1968 en 1969 het die Hongkong-griep 33 000 gedood. In die afgelope 20 jaar is nagenoeg 500 000 Amerikaners dood aan die griep.
Rivierblindheid: Rivierblindheid, ofte wel onchocerciase, is ’n chroniese kwaal wat deur die byt van swartvlieë versprei word. Wanneer die infeksie die menseliggaam binnedring, ly dit tot die vorming van litteken-weefsel in die vel en oë. Hoewel dit blindheid kan veroorsaak, is dit gewoonlik nie noodlottig nie. Altesaam sowat 40 miljoen mense in Afrika, Mexiko, Guatemala, Venezuela, Colombia en Brasilië ly aan onchocerciase. Navorsers soek nog na veiliger vorme van behandeling vir rivierblindheid.
Veltering: Veltering of lupus is ’n kwaal van die immuniteitstelsel waaraan 500 000 tot ’n miljoen Amerikaners ly, en dit kan noodlottig wees. In veltering word die liggaam se bindweefsel, wat selle bymekaar hou en ondersteun, deur die liggaam se immuniteitstelsel aangeval. Die meeste pasiënte se vooruitsigte het in onlangse jare verbeter, daar 80 tot 95 persent van die pasiënte te minste 10 jaar na diagnose nog lewe. Daar is egter op die oomblik nog geen bekende raat vir veltering nie.
Bilharzia: Bilharzia (schistosomiase) is ’n kwaal waaraan daar na raming 200 miljoen mense in 71 lande ly, en dit versprei vinnig. Mense word besmet deur in water te was of te swem waarin daar slakke met die schistosomiase-parasiet is. Wanneer die parasiet se eiers eers in ’n menslike gasheer is, kan dit ernstige skade aan die blaas en lewer aanrig en is dit dikwels noodlottig. Dit is moeilik om bilharzia te beheer (veral in armer lande), want dit hang grootliks van die behoorlike wegdoen van uitwerpsels af.
Malaria: Malaria, wat deur die byt van die Anopheles-muskietwyfie veroorsaak word, is ’n ou kwaal. Nadat dit in lande soos Indië en Sri Lanka uitgewis is, het malaria in die laaste jare teruggekom en groot verwoesting aangerig! In Afrika eis dit elke jaar die lewens van ’n miljoen kinders onder die ouderdom van vyf. Daarbenewens ondervind meer as 150 miljoen mense rondom die wêreld nou die koue rillings, koors en ander simptome van malaria. Navorsers soek steeds na ’n entstof daarteen.
Veneriese siektes: Die beskikbaarheid van penisillien het ’n permissiewe gemeenskap valse hoop gegee. Nou versprei daar ’n vorm van gonorree wat teen penisillien bestand is.
’n Nuweling is genitale herpes, ’n siekte waaraan nagenoeg 20 miljoen mense in die Verenigde State alleen ly. Dit word veroorsaak deur ’n virus en word gewoonlik deur geslagskontak oorgedra. Die nuwe siekte VIGS verspeel eweneens vinnig onder homoseksuele en ander. Deskundiges beskou dit as een van die dodelikste epidemies. Daar is geen bekende rate vir genitale herpes en VIGS nie.
Verspreide sklerose: Sowat 500 000 mense ln die Verenigde State alleen ly aan verspreide sklerose, ’n kwaal van die sentrale senustelsel—die brein en die rugmurg. Dit tref gewoonlik sy slagoffers gedurende hulle twintiger- en dertigerjare. Die lang lys simptome sluit gevoelloosheid, verlies aan koördinasie, swak gesig, onduidelike spraak en ’n verlies aan blaas- of ingewandsbeheer. Hoewel baie navorsing gedoen word, is geen raat nog gevind nie.
[Prent op bladsy 6]
Jesus was in staat sowel as gewillig om siekte te oorwin