Siekte—’n Teken van die laaste dae?
WETENSKAPLIKES is vinnig besig om menslike gene te “ontrafel”. Party meen dat hulle op die punt staan om die verband tussen jou vatbaarheid vir kwale en jou genetiese samestelling te ontraaisel. Daar word beweer dat dit in die nabye toekoms moontlik sal wees om sekere kwale te genees deur jou gene te wysig.
“Wanneer jy eers die vermoë besit om gene in te span om kwale te genees, bestaan die moontlikheid ook om gene in te span om mense se voorkoms te verbeter”, beweer dr. W. French Anderson van die Nasionale Gesondheidsinstitute. Hy voeg by: “Dit sal moontlik wees om speletjies met ons menslikheid te begin speel.” ’n Stoutmoedige bewering, om die minste te sê. Wil dit te kenne gee dat die wetenskap die stryd teen siekte wen?
Dit is interessant dat Jesus Christus meer as 1 900 jaar gelede aangedui het dat siektes en kwale deel sou uitmaak van ’n “teken” wat “die laaste dae” kenmerk, ’n tydperk wat hy “die voleinding van die wêreld” genoem het. Jesus het gesê dat daar “pessiektes . . . op verskillende plekke” sou wees. Volgens Bybelgeleerde Albert Barnes is dit “snel verlopende, epidemiese siektes”.—Mattheüs 24:3-7; 2 Timotheüs 3:1; Lukas 21:10, 11.
‘Maar daar was nog altyd pessiektes’, sê jy miskien. Dit is waar. Daar is egter twee opmerklike dinge omtrent Jesus se voorspelling.
Eerstens, Jesus het nie gesê dat siekte op sigself die “teken” sou wees nie. Hy het eerder ’n samegestelde teken gegee en baie dinge opgenoem. Lees self sy gedetailleerde profesie in Mattheüs 24 en 25, Markus 13 en Lukas 21. Die “teken” kan dus met ’n legkaart vergelyk word. Een stukkie maak nie die hele prent uit nie. Een gebeurtenis maak eweneens nie die “teken” uit nie. Die “teken” sou eerder slegs gesien word wanneer al die dinge wat Jesus voorspel het een geslag raak.—Mattheüs 24:32-34.
Tweedens, dit lyk baie inkonsekwent vir Jesus se woorde oor pessiekte om vandag bewaarheid te word. Waarom? Omdat wetenskaplike vooruitgang nog nooit groter was nie. Mediese fasiliteite was nog nooit beter nie. Mediese kennis was nog nooit so algemeen nie.
Wat toon die feite dus? Word Jesus se woorde werklik bewaarheid? Dit is belangrik dat ons weet, want die vervulling van Jesus se profesie sou daarop dui dat ons in die mees kritieke tydperk in mensegeskiedenis lewe.