Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 6/15 bl. 16-18
  • ’n Apostel neem standpunt in teen afvalligheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Apostel neem standpunt in teen afvalligheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Het Christus in die vlees gekom?
  • Is Jesus nie die Christus nie?
  • Is ons sondaars?
  • Wat sit agter afvalligheid?
  • Teenmiddels teen sonde en afvalligheid
  • Bybelboek nommer 62—1 Johannes
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Hou aan om in goddelike lig te wandel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Toon altyd liefde en geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Verwerp afvalligheid, hang die waarheid aan!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 6/15 bl. 16-18

’n Apostel neem standpunt in teen afvalligheid

Om die grootste voordeel uit hierdie artikel te kry, beveel ons aan dat jy die Bybelboek genaamd “Eerste Johannes” lees. Dit beslaan net ’n paar bladsye.

TEEN die einde van die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling het ’n ernstige en sluipende gevaar die vroeë Christengemeente bedreig. Was dit vervolging deur diegene buite die Christengemeenskap? Nee, die vernaamste gevaar het van binne gekom. Die verskuilde vyand was afvalligheid.

Teen die jaar 98 G.J. het een apostel oorgebly om as ’n laaste bolwerk te dien teen wat later ’n vloedgolf valse leerstellings en godsdienstige en politieke kompromisse sou wees. Hy was die bejaarde apostel Johannes, die seun van Sebedeüs en die broer van die apostel Jakobus, wat sowat 54 jaar tevore om die lewe gebring is. As ’n jong man het Johannes saam met Jesus gedien gedurende Sy kort aardse bediening. Dit was moontlik weens Johannes se dinamiese persoonlikheid dat Jesus hom ’n ‘seun van die donder’ genoem het. Nou ’n baie bejaarde man, het hy ’n kragtige brief vol waarskuwings en raad aan die Christengemeentes geskryf. Sy woorde is vandag nog vir ons lewensbelangrik.—Markus 3:17; Lukas 9:51-56.

Johannes was terdeë bewus van die feit dat afvalligheid sy kop onder sy medegelowiges uitgesteek het. Die apostel Paulus het tevore so ’n afval voorspel (Handelinge 20:29, 30). Johannes het die verleiers onomwonde ontmasker deur te sê: “Daar [bestaan] ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het.” Die feit dat Johannes van “antichriste” in die meervoud praat, toon dat die afval nie tot een persoon beperk was nie, maar dat baie die beskouing van Christus wat in die Skrif aangebied word, geloën het.—1 Johannes 2:18, 19.

Wie was daardie antichriste? En hoe het hulle probeer om hulle medegelowiges te verlei? Johannes draai geen doekies om wanneer hy die afvallige antichriste aan die kaak stel nie. Hy val hulle op drie punte aan: (1) hulle loën dat Christus in die vlees gekom het, (2) hulle loën dat Jesus die Christus en die Seun van God is en (3) hulle loën dat hulle self sondaars is.

Het Christus in die vlees gekom?

Maar jy vra dalk: ‘Hoe kon sommige gelowiges dan loën dat Jesus in die vlees gekom het?’ Party Christene is klaarblyklik teen die einde van die eerste eeu deur Griekse filosofie, onder meer vroeë Gnosticisme, beïnvloed. Hierdie afvalliges het die mening gehuldig dat alle materiële dinge, die vleeslike liggaam inkluis, boos is. Vir die afvallige antichriste het Jesus dus nie in die bose vlees gekom nie, maar eerder as ’n gees. Johannes toon duidelik dat hy glad nie sulke teologiese redenasies steun wat die doeltreffendheid van Christus se losprysoffer loën nie. Hy skryf dus van “Jesus Christus, die Regverdige” wat “’n versoening vir ons sondes [is], en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld”.—1 Johannes 2:1, 2.

Later helder Johannes die geskil selfs verder op met ’n eenvoudige en kategoriese definisie: “Elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie.”—1 Johannes 4:2, 3.

Is Jesus nie die Christus nie?

Dit wil voorkom of sommige ander erkende Christene van Joodse oorsprong begin ontken het dat Jesus die Christus en Seun van God is. Johannes keer sulke ongeloof af deur te sê: “Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die antichris wat die Vader en die Seun loën” (1 Johannes 2:22). Johannes se reguit verklarings laat geen plek vir twyfelaars nie.

Johannes stel later nog ’n vraag om sy redenasie te steun: “Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? . . . Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het.”—1 Johannes 5:5, 13.

Is ons sondaars?

Hoewel dit ongelooflik klink, het party van die antichriste gesê dat hulle sonder sonde is of moontlik (omdat hulle hulself as gered beskou het) gedink dat hulle nie kon sondig nie. Johannes takel dus hierdie dwaalbegrip dwarsdeur sy brief af. Hy sê byvoorbeeld: “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. . . . As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom [God] tot ’n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”—1 Johannes 1:8-10.

‘Maar wat is sonde?’ vra jy dalk. Die Griekse woord ha·mar·ti’a beteken letterlik “te kort skiet”. Maar onder inspirasie gee Johannes ’n breër definisie: “Elkeen wat sonde beoefen, beoefen ook wetteloosheid, en daarom is sonde wetteloosheid [Grieks, anomia, wat minagting vir en skending van die wet, ongeregtigheid, goddeloosheid aandui] . . . Elkeen wat sonde beoefen, spruit voort uit die Duiwel . . . Elkeen wat uit God gebore is, beoefen nie sonde nie.”—1 Johannes 3:4, 8, 9, NW.

Ons is wel almal sondaars. Maar Johannes wil die moedswillige sondaar of oortreder van die wet, die een “wat sonde beoefen” of bedryf, veroordeel. Later lê hy die erns van die situasie vir die persoon wat sonde beoefen bloot deur te sê: “Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie” (1 Johannes 3:10; 5:18). Laat ons dus die onchristelike beoefening van sonde vermy.

Wat sit agter afvalligheid?

Wat het moontlik agter hierdie verskillende afvallige leerstellings gesit? Een moontlikheid word gemeld deur William Barclay, ’n 20ste-eeuse Grieksgeleerde wat skryf dat die moeilikheid wat Johannes probeer beveg het, veroorsaak is deur manne “wat daarop uit was om die Christelike godsdiens intellektueel agtenswaardig te maak . . . , wat op hoogte was van die intellektuele tendense en strominge van daardie tyd, en wat die Christelike godsdiens wou uitdruk in terme van hierdie filosofiese opvattings van die dag. Dit is veroorsaak deur manne wat die mening toegedaan was dat die tyd aangebreek het dat die Christelike godsdiens ’n vergelyk tref met sekulêre filosofie en met kontemporêre denke.”

’n Soortgelyke beskouing, wat die fondament van die ware geloof aanval, word in ons dag deur party gehuldig. Hierdie twisters wil die Christelike leerstelling verwater en dit aanneemliker maak vir die gerespekteerde en intellektuele elemente van hierdie stelsel. Indien Jehovah se Getuies uitvoering gegee het aan die beskouings wat in die laaste jare deur party gehuldig is, sou hulle beslis hulle unieke “primitief-Christelike” eienskappe en lewenskrag verloor het.

Daarom is Johannes se raad selfs vandag so gepas: “Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.” Daardie gebooie sluit in die verkondiging van die goeie nuus van God se koninkryk, afgeskeidenheid van die wêreld en neutraliteit ten opsigte van sy botsings, terwyl ons ons bes doen om Jehovah se naam te heilig en ware liefde te bewys.—1 Johannes 5:3; Markus 13:10; Johannes 17:16; Mattheüs 6:9; 1 Johannes 3:23.

Teenmiddels teen sonde en afvalligheid

Is daar iets wat ’n mens daarvan kan weerhou om sonde te beoefen? Johannes se antwoord is: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, WANT GOD IS LIEFDE.” Johannes stel dus sy punt met treffende eenvoud. Liefde is die sleutel.

En God se liefde wat deur middel van sy Seun bewys is, is die teenmiddel teen die uitwerking van sonde. “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.” Hoe moet hierdie kennis ons beïnvloed? Johannes antwoord: “Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.”—1 Johannes 4:8-11.

As ons God en ons naaste waarlik liefhet, sal ons sonde en afvalligheid weerstaan. Die liefde skend nie moedswillig God se wette en beginsels nie. Johannes waarsku nietemin: “Daar is ’n sonde tot die dood.” Onberouvolle afvalliges val beslis in die klas van diegene wat vernietiging verdien.—1 Johannes 5:16, 17; Mattheüs 12:31; Lukas 12:10; Hebreërs 6:4-6; 10:23-27.

Indien sonde en afvalligheid die donker draad is wat deur Johannes se brief loop, is ware liefde ’n string pêrels wat dit bedek. Hoewel sy brief ’n sombere waarskuwing bevat, word dit nietemin duidelik verlig deur drie temas—liefde, lig en lewe. Johannes sê: ‘Vermy die leuenaars, die antichriste, die afvalliges. Verlaat die duisternis, wandel in die lig. Verwerp haat en beoefen liefde. Weerstaan sonde, met die wete dat indien jy wel ’n sonde doen, jy ’n helper of voorspraak by die Vader het, naamlik Jesus Christus.’ Ja, “dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun.”—1 Johannes 5:11; 2:1, 2.

In sy afskeidsraad waarsku Johannes: “My kinders, bewaar julleself van die afgode” (1 Johannes 5:21). In die wêreld van antieke Rome was sulke raad baie gepas. En vir diegene wat vandag die ware Christelike godsdiens wil beoefen en afvalligheid wil vermy, is dit steeds net so noodsaaklik. Laat ons gevolglik op Johannes se geïnspireerde raad ag slaan. Dit sal ons help om sonde te weerstaan, ware Christelike liefde te beoefen, op die weg van die waarheid te wandel en ’n onwrikbare standpunt teen afvalligheid te handhaaf.

[Prent op bladsy 17]

Griekse filosofie het tot afvalligheid gelei

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel