“Voor konings”
“Ook wil ek voor konings van u getuienisse spreek”, het die geïnspireerde psalmis gesing (Psalm 119:46). Aangesien die “evangelie van die Koninkryk” in verband staan met ’n hemelse regering, moet “konings” of heersers vandag ook God se getuienisse hoor (Mattheüs 24:14). Hoor hulle dit? Ja. Die volgende verslag van ’n Engelse oud-sendeling toon hoe een staatsman van wêreldnaam gehoor het:
“Eendag in die laat veertigerjare het ek in Kent van huis tot huis gepreek. Ek was besig om met ’n man in ’n plaashuis te gesels toe ’n besoeker opgedaag het. Dit was sir Winston Churchill. My gesprek is beëindig, maar sir Winston het ‘Die Wagtoring’ gesien en my geprys oor my werk.
“’n Paar dae later was ek weer besig om te preek toe ek die klokkie van ’n groot huis gelui het. ’n Huiskneg het die deur oopgemaak en toe ek gevra het om met die huisbewoner te praat, het hy my gevra of ek geweet het wie dit was. Ek het geen benul gehad nie. ‘Dit is Chartwell hierdie, het hy gesê ‘die huis van sir Winston Churchill.’ Op daardie oomblik het sir Winston sy verskyning gemaak. Hy het ons vorige ontmoeting onthou en my ingenooi. Ons het ’n bietjie gesels, hy het drie boeke geneem en my genooi om terug te keer.
“Twee weke later, op ’n warm agtermiddag het ek teruggekeer en is ek weer ingenooi. Sir Winston het my limonade aangebied, en kort daarna gesê: ‘Ek sal jou ’n halfuur gee om vir my te sê wat jy dink God se koninkryk is, maar dan moet jy my toelaat om vir jou te vertel wat ek dink dit is.’ Dit is wat ons toe gedoen het. Hy het geglo dat God se koninkryk opgerig sou word deur Godvresende staatsmanne, en dat dit nie sou kom voordat mense geleer het om in vrede te lewe nie. Ek kon vir hom die Bybel se beskouing van God se koninkryk en die seëninge wat dit sou bring, verduidelik. Sir Winston was baie hartlik en het gesê dat hy ons werk respekteer.
“Ek kon ongelukkig nooit weer met hom in aanraking kom nie. Maar dit was ’n voorreg vir ’n jong man van 17 om al net daardie een keer vir hom te getuig.”