Wat is ons posisie ten opsigte van teëstanders van die waarheid?
“Uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.”—HANDELINGE 20:30
1, 2. (a) Van watter nut is gebeurtenisse in Bybelgeskiedenis vandag? (b) In watter bepaalde gebeurtenisse in die geskiedenis van Israel en die vroeë Christengemeente stel ons nou belang, en waarom?
TOE die apostel Paulus aan die gemeente in Korinthe geskryf het, het hy vir sy medegelowiges gesê dat die dinge wat vantevore geskryf is vir hulle ’n waarskuwende voorbeeld moes wees. Hierdie beginsel het verreikende gevolge, selfs tot in ons dag. Baie gebeurtenisse in Bybelgeskiedenis het hedendaagse parallelle wat vir ons nuttig is en vir ons die regte leiding in ons lewens gee.—1 Korinthiërs 10:11; Romeine 15:4.
2 Dit sal dus vir ons nuttig wees om ’n paar van hierdie gebeurtenisse in die geskiedenis van Israel en van die vroeë Christengemeente te bespreek. Ons stel veral belang in gebeurtenisse of voorvalle waarin teëstanders van die werk van God betrokke was en hoe sulke dinge Jehovah se knegte destyds geraak het. Hierdie gebeurtenisse maak ons, as Jehovah se volk, bewus van ooreenstemmende gebeure in ons dag en van ons verantwoordelikhede in hierdie opsig.—2 Timotheüs 3:16, 17.
3. Hoe is Jeremia gewaarsku sowel as vertroos?
3 Sowat 40 jaar voordat Jerusalem in 607 v.G.J. geval het, het Jehovah sy getroue kneg Jeremia aangestel om onreg in Juda in die openbaar te veroordeel. Hierdie onregverdige dade sou mettertyd God se misnoeë meebring en daartoe lei dat Juda se inwoners na Babilon weggevoer word. Jehovah het Jeremia gewaarsku dat party hom sou teëstaan. Hy het gesê: “En hulle [die teëstanders] sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie; want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou uit te red” (Jeremia 1:19). Watter groot troos was dit tog vir Jeremia, en dit het hom versterk om God se hele wil vir hom uit te voer!
4. (a) Watter soort teëstand moes Jeremia verduur? (b) Wat deel die verslag in Hebreërs 11:32-38 ons mee omtrent teëstanders van God se knegte?
4 Een van Jeremia se teëstanders was ’n man genaamd Pashur. Hy was die seun van ’n priester in Juda en was ’n hoofopsigter in die huis van Jehovah. Die Bybelverhaal in Jeremia hoofstuk 20 toon dat Pashur Jeremia geslaan en hom in die blok laat sit het. Jehovah het Jeremia daaruit verlos, maar die teëstand het voortgeduur. Hananja, ’n profeet uit Gibeon, het teen Jeremia gespreek en hom as ’n valse doemprofeet bestempel. Trouens, Hananja het gesê dat die juk van Babilon verbreek sou word en dat Juda herstel sou word (Jeremia, hoofstuk 28). Selfs een van Juda se konings, Jojakim, het Jeremia se woorde teëgestaan en beveg en het selfs Jeremia se profetiese boekrolle in die vuur gegooi! (Jeremia, hoofstuk 36). Ander het daarop aangedring dat Jeremia om die lewe gebring moes word en was daarvoor verantwoordelik dat hy in ’n modderput gegooi is om te sterf (Jeremia, hoofstuk 38). Dit was die ondervinding van net een van die talle getroue Hebreeuse profete wat in Jehovah se naam gespreek het en wat deur teëstanders van God se oordeelsboodskappe belaster en aangeval is—Kyk Hebreërs 11:32-38.
“Laat hulle staan”
5. (a) In watter mate het Jesus teëstand ondervind? (b) Wat was van die onbenullige geskille wat deur Jesus se teëstanders geopper is?
5 In die eerste eeu toe ons Here Jesus Christus op die aarde was, was daar ook hewige teëstand teen die waarheid. Teëstanders onder sy volksgenote het probeer om die goeie dinge wat Jesus gedoen het, te dwarsboom. Maar net soos Jehovah met Jeremia was, was Hy ook met Jesus en het Hy hom van sy vyande verlos (Lukas 4:14-30; 11:53, 54; Johannes 7:1). Persone wat met Jesus gespot het, het dikwels groot geskille van onbenullige dingetjies gemaak. Hulle het die aantyging gemaak dat Jesus ’n vraat en ’n wynsuiper is wat met tollenaars en sondaars omgaan (Mattheüs 11:19). Hulle het sy dissipels Sabbatskenders genoem omdat hulle op die Sabbat are gepluk het om te eet (Markus 2:23-28). Hulle het met Jesus se dissipels gespot omdat hulle ‘nie hulle hande was as hulle brood eet nie’.—Mattheüs 15:1, 2.
6. Hoe ernstig het teëstand teen Jesus geword?
6 Maar sulke teëstanders het verder gegaan as onbenullighede en die krag van God se heilige gees wat in Jesus se wonderwerke geopenbaar is, geloën. Nadat Jesus ’n blinde en stom duiwelbesetene genees het, het sy teëstanders gesê: “Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie” (Mattheüs 12:22-28). Hulle het Jesus ook beskuldig van ondermynende bedrywighede teen die keiser (Lukas 23:1, 2). Eindelik het hulle aangedring op sy dood.—Lukas 23:13-25.
7. Hoe het Jesus teenoor teëstanders van die waarheid gereageer?
7 Hoe het Jesus gereageer op diegene wat hom teëgestaan het? Hy het vir sy apostels gesê: “Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ’n blinde ’n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val” (Mattheüs 15:14). Jesus se wyse raad was: “Laat hulle staan.” Mettertyd sou dit duidelik wees wat hulle is.
Teëstand van binne
8, 9. (a) Watter patroon van teëstand, soortgelyk aan dit wat Jeremia en Jesus ondervind het, is vir die Christengemeente voorspel? (b) Beskryf hoe dit waar was in die geval van die besnydeniskwessie.
8 Na Jesus se dood het sy getroue volgelinge eweneens veel teëstand ondervind. Maar let asseblief op: Net soos die teëstanders van Jeremia en Jesus uit die Joodse nasie gekom het, sou daar ook na die totstandkoming van die Christengemeente teëstand van binne wees (Handelinge 20:29, 30). Alhoewel dit voorspel is, sou dit nietemin ’n groot toets wees vir diegene wat in getrouheid wandel. Jehovah sou desnieteenstaande met sy volk wees om hulle uit te red, net soos hy met Jeremia en met Jesus was.—Kyk 1 Petrus 5:8-11.
9 Hierdie interne teëstand in die eerste eeu het ’n klein begin gehad. Aanvanklik het party teëstanders moontlik gedink dat hulle ’n redelike beweegrede het, maar hulle begeerte om die eerste plek te beklee, dat hulle siening aanvaar moet word, het hulle vegters teen die waarheid en die wat daaraan verbonde was, gemaak toe hulle beskouings nie as korrek aanvaar is nie (1 Timotheüs 1:19, 20). Dit is interessant dat toe die besnydenis ’n geskil geword en ’n spesiale raad in Jerusalem vergader het om die saak te bespreek, een van die gedagtes die boodskap aan die gemeentes die volgende was: Ons [het] gehoor . . . dat sommige wat van ons uitgegaan het, aan wie ons geen opdrag gegee het nie, julle met woorde ontstel en julle gemoedere verontrus” (Handelinge 15:24). Sulke persone in die Christengemeente was ’n bron van moeilikheid en het die leerstellings van die liggaam ouderlinge wat belas was met die swaar verantwoordelikheid om die lig van die waarheid wyd en syd uit te dra, teëgestaan.
10. (a) Wat was party van die ondermynende leerstellings wat teëstanders van die waarheid in die eerste eeu verkondig het? (b) Watter waarskuwing het Paulus tot Timotheüs gerig oor teëstanders van die waarheid?
10 Byvoorbeeld, party in die gemeente het klaarblyklik gesê dat Jehovah se dag reeds begin het (2 Thessalonicense 2:1, 2, NW). Ander het beweer dat daar geen opstanding is nie (1 Korinthiërs 15:12-14). En nog ander het gesê dat die opstanding reeds plaasgevind het (2 Timotheüs 2:16-18). Paulus het Timotheüs gewaarsku om op sy hoede te wees vir diegene onder daardie persone wat verdeeldheid verwek en afwyk van die versameling Christelike waarhede wat aan die gemeentes beskikbaar was. Let op die apostel se woorde: “Daar is sekere mense wat valse leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied. Hulle moet hulle nie met verdigsels en eindelose geslagsregisters besig hou nie. Sulke dinge gee eerder aanleiding tot twisgesprekke as dat dit die vorming bevorder wat God deur die geloof gee. Die doel van hierdie opdrag is om liefde te wek wat uit ’n rein hart, ’n goeie gewete en ’n opregte geloof kom. Daar is mense wat hiervan afgedwaal het en in ’n vrugtelose gepraat verval het. Hulle wil leermeesters in die wet wees, maar hulle verstaan nie hulle eie woorde of die dinge waaroor hulle so selfversekerd praat nie.”—1 Timotheüs 1:3-7. NTP.
11. Kan ons iets leer uit die verdelende denke wat in die eerste-eeuse gemeente bestaan het, en waarom is dit vandag so dringend?
11 Wat sê al hierdie dinge vir ons? Dit: dat daar probleme met verdelende denke in die eerste-eeuse Christengemeente bestaan het. Daar was teëstand van binne, van diegene wat beweer het dat hulle deel van die gemeente van God is. En wat was die oorsaak? Paulus het in Filippense 1:15 gesê: “Sommige preek Christus wel ook uit afguns en twis, maar ander ook uit welwillendheid.” Today’s English Version sê dat sulke persone ’n verkeerde beweegrede gehad het en “Jaloers en twissiek” was. Ja, die dinge wat vantevore geskryf is, dien voorwaar as ’n waarskuwende voorbeeld vir ons, en veral nou aangesien ons reg aan die einde van die goddelose stelsel onder aanvoering van die Duiwel lewe.—2 Timotheüs 3:1-7.
Die doel van teëstanders
12, 13. (a) Sien ons vandag enige parallel vir die teëstand teen die waarheid in die eerste eeu? (b) Wat is die onderliggende doel van hedendaagse teenstanders?
12 Sien ons, as ons na ons dag kyk, ’n parallel van die gebeure wat ons tot dusver bespreek het? Ja, daar is persone onder ons wat probeer om die goeie werk af te breek wat Jehovah se volk dwarsoor die wêreld doen. Party het jaloers en twissiek geword en is vervul met selfsugtige ambisie, dikwels met die begeerte om vir hulself naam te maak. Hulle word “murmureerders wat oor hul lot klae, en volgens hulle begeerlikhede wandel; . . . terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel” (Judas 16). Al hierdie dinge kan aanleiding gee tot twyfelgedagtes, tweedrag en verdeeldheid onder God se volk. In hulle vittery verloor sulke persone die Godgegewe en allerbelangrikste werk van Christene uit die oog, naamlik om “nie net hoorders” te wees nie, maar “daders van die woord” wat die dinge doen wat Jehovah beveel het gedoen moet word deur getroue volgelinge van sy Seun, Christus Jesus.—Jakobus 1:22-25; Mattheüs 28:18-20.
13 Wanneer sulke teëstanders die Christengemeente aanval, is dit hulle doel om die geloof van Jehovah se volk te ondermyn en om sommige as dissipels agter hulle aan weg te trek. Paulus het die ouere manne van Efese teen hierdie goddelose poging gewaarsku toe hy gesê het: “Uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:30). Judas het ’n soortgelyke waarskuwing gerig en gesê dat “sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus” (Judas 4, NTP). Soortgelyke situasies het in hierdie 20ste eeu in die gemeentes van Jehovah se volk ontstaan!
14, 15. (a) Wat is die listige benadering van party hedendaagse teëstanders? (b) Wat sien sulke teëstanders oor die hoof?
14 Sulke teëstanders put nie vreugde uit deelname aan die groot werk om dissipels te maak nie. Hulle nader eerder ander wat reeds Getuies is listig en sê dinge om hierdie getroues se voorneme om hulle toewyding aan Jehovah ten volle na te leef, te verswak. Die gedagte word oorgedra dat aangesien Jehovah so ’n liefdevolle God is, hy beslis nie sou vereis dat almal wat hom wil behaag so ’n moeilike werk moet doen soos om van huis tot huis te preek en vervolging deur teëstanders van die waarheid te verduur nie. Nee, redeneer hulle, al wat God van ons verwag, is om goeie persone te wees, fisies vir ander te sorg en ons naaste lief te hê.
15 Dit kan vir party moeilik wees om hierdie listige benadering te hanteer. Dit is waar dat Jehovah liefdevol is en dat hy wil hê dat ons goeie persone moet wees. Hy wil beslis hê dat Christene liefde aan hulle naaste moet bewys deur ander vriendelik te behandel en na hulle fisiese behoeftes om te sien wanneer dit nodig is (Lukas 6:35, 36). Maar dit is nie al nie! Daardie teëstanders vergeet dikwels dat ons Vader Jehovah ook—hoofsaaklik deur sy Seun, Jesus Christus—gesê het dat ons dissipels moet maak, mense moet leer en die “evangelie van die koninkryk” in die hele wêreld tot ’n getuienis moet verkondig.—Mattheüs 24:14; Johannes 15:17-27.
16. Deur middel van watter ander “verkeerde dinge” probeer teëstanders vandag om Jehovah se volk te mislei?
16 Beskou ’n paar van die ander “verkeerde dinge” wat gebruik word om God se volk vandag te mislei. Nou en dan sal teëstanders verskeie leerstellings waarin Jehovah se volk glo in twyfel trek. Dit word dikwels ’n twis oor woorde, soos dit in die eerste eeu die geval was (1 Timotheüs 6:3, 4). Hulle bevraagteken ook die nodigheid van ’n organisasie om die gedagtes van God se volk te rig. Hulle beskouing is dat God se gees individue kan rig sonder ’n sentrale, georganiseerde liggaam manne wat die leiding gee. Hulle sê dat ’n mens net die Bybel hoef te lees. Maar die valse Christendom lees die Bybel al eeue lank. En kyk na die onduidelike trompetgeskal wat vandag uit die valse Christendom kom! Kyk na die verwarring en wanbegrip oor die ware boodskap in God se Woord! Watter teenstelling vorm dit tog met die voorspelde vrede en eenheid onder ware Christene wat nie alleen die Bybel lees nie, maar die leerstellings daarvan navors en ywerig toepas!—Efesiërs 4:3-6.
Teëstanders kan nie slaag nie
17. Wat is ons posisie ten opsigte van teëstanders van die waarheid?
17 Wat is dan ons posisie ten opsigte van teëstanders en diegene wat probeer om die geloof te ondermyn wat ons ontvang het deur Jehovah se Getuies en die Christenorganisasie wat Jehovah gebruik? Jesus se raad in verband met teëstanders was: “Laat hulle staan; hulle is blinde leiers” (Mattheüs 15:14). Dit is nutteloos en werklik nie die Christelike weg om met sulke persone te stry, te debatteer en te argumenteer nie. Niemand word gedwing om een van Jehovah se Getuies te wees nie. Dit is ’n voorreg en verantwoordelikheid wat ons uit eie keuse aanvaar het (Psalm 110:3). As party nie deel wil wees van die reëling wat Jehovah goedkeur en seën nie, is dit ’n besluit wat hulle moet neem.
18. Hoe is Paulus se raad in Romeine 16:17, 18 vandag op ons van toepassing?
18 Ons doel moet wees om teëstanders van die waarheid Christelik te behandel. Daar is egter sekere dinge wat ons in gedagte moet hou. Paulus het aan die gemeente in Rome geskryf en hulle aangeraai: “Ek druk julle dit op die hart, broers: Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af. Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense” (Romeine 16:17, 18, NTP). Openbare debatte met diegene wat verdeeldheid probeer veroorsaak, sal van ’n gebrek aan goeie oordeel getuig. Moenie toelaat dat hierdie teëstanders jou ontstel nie. Hulle gedrag sal nie die waarheid skade berokken of Jehovah verhinder om te doen wat sy Woord sê hy gaan doen nie.
19. Hoe beskryf Paulus diegene wat van die waarheid afvallig word in Hebreërs 6:4-8?
19 Hoe vertroostend is die woorde van die profeet Jesaja dan tog: “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê”! (Jesaja 54:17). Die apostel Paulus het vir Timotheüs vertel van Jannes en Jambres wat Moses teëgestaan het, en hy het gesê dat hulle dwaasheid vir almal duidelik was (2 Timotheüs 3:8, 9). Diegene wat verdeeldheid veroorsaak en probeer om onrus onder God se volk te stook, verkeer dus in ’n baie gevaarlike posisie voor Jehovah. Nie een van hulle moet ooit Paulus se waarskuwing in Hebreërs 6:4-8 oor die hoof sien nie. Hy sê daar dat diegene wat opsetlik teen God se heilige gees sondig nooit ‘tot bekering vernuwe kan word nie’.
20. (a) Waarom hoef ons nooit ontsteld te wees oor wat teëstanders probeer doen nie? (b) Watter optrede sal verseker dat ons ‘nooit van God se liefde geskei sal word nie’?
20 Ons posisie ten opsigte van teëstanders word dus duidelik en ondubbelsinnig in God se Woord uiteengesit. Onthou altyd dat ons nie alleen is nie; ons geniet die steun van Jehovah, Christus Jesus en al die heilige engele (Mattheüs 13:41, 42). Ons het ook Jesus se versekering dat hy “al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” met sy volgelinge sal wees (Mattheüs 28:20). Ons hoef dus nie uitermate ontsteld te raak wanneer teëstanders opstaan en teen die waarheid veg nie. Dit is deel van Satan se poging om die verkondiging van die Koninkryksevangelie te stuit. Maar as ons lojaal bly en deur ons gedrag en woorde ’n goeie voorbeeld van godvrugtige toewyding stel, kan ons daarvan seker wees dat ons ‘in al hierdie dinge meer as oorwinnaars sal wees deur Hom wat ons liefgehad het’. Mag ons dus standvastig bly, oortuig “dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie”.—Romeine 8:37-39.
Wat deel die volgende tekste ons mee omtrent teenstanders van die waarheid?
□ Mattheus 15:14; Romeine 16:17, 18
[Prent op bladsy 23]
“Laat hulle staan; hulle is blinde leiers”
[Prent op bladsy 25]
Moet nooit verswak in jou voorneme om vir die waarheid te getuig nie