“In slagorde aaneengesluit”
“Al hierdie krygsmanne het, in slagorde aaneengesluit, met ’n onverdeelde hart na Hebron gekom om Dawid koning te maak oor die hele Israel.”—1 KRONIEKE 12:38.
1. Watter dringende situasie verg vandag wakkerheid?
LAAT die wekroep luid weerklink! Laat elke onverskrokke getuie van Jehovah aantree! Die oorlog teen die vyand nader ’n kritieke stadium. Ons lewe in dringende tye. Ons kan dit nie bekostig om laks te word of te begin dink dat die stryd afgeneem het nie. Dit is wat die vyand ons graag wil laat dink, want hy weet dat sy tyd kort is. Ons kan gevolglik verwag dat die vyand skielik ’n aanval sal rig in die hoop dat hy diegene wat vir die waarheid stry onverhoeds sal vang.—1 Thessalonicense 5:1-6.
2. Waarom hoef Jehovah se Getuies nie hulle vyande te vrees nie? (Psalm 24:8)
2 Jehovah sien sy hedendaagse, getroue getuies as soldate in ’n geestelike oorlog wat vinnig ’n klimaks bereik. Wanneer nodig, word Jehovah “’n krygsman” wie se regterhand vyande kan verpletter en neerwerp (Exodus 15:3, 6, 7). Sy belofte aan eertydse Israel wat deur sy engel gelei sou word, is steeds van krag: “As jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees.”—Exodus 23:20-22.
3. (a) Beskryf Jesus se posisie sedert 1914 G.J. (b) In watter oorlogvoering is hy gewikkel? (c) Waarom word Jesus se gesalfde volgelinge vandag aangeval?
3 Profetiese waarheid toon vir ons oë van geloof dat die verheerlikte Christus Jesus sedert die noordelike herfs van die jaar 1914 G.J. deur Jehovah aangestel is as die Veldmaarskalk van die hemelse leërskare stryderengele (Psalm 110:1, 2; Mattheüs 25:31). Met hierdie magte het hy vinnig teen die Duiwel en sy engele opgeruk, die hemele verlos van hulle besoedelende teenwoordigheid en hulle in die omgewing van die planeet Aarde vasgekeer. Terwyl Christus Jesus nou op die finale teken van Jehovah wag om die vyand te vernietig, hou hy toesig oor ’n sigbare, aardwye bedrywigheid wat eweneens oorlogvoering behels (Openbaring 12:7-9). Omdat Satan en sy demonhordes besef dat hulle min tyd het, voer hulle toornig oorlog teen die oorblywende lede van die gesalfde volgelinge van Jesus. Waarom? Omdat hulle die koninkryk van hulle God en sy Christus gehoorsaam verkondig.—Openbaring 12:17.
‘Soldate van Christus Jesus’
4. Verduidelik wie “’n goeie soldaat van Christus Jesus” uitmaak.
4 Dit volg dat almal wat hulle aan die kant van die oorblyfsel van God se gesalfde volk skaar en hulle ondersteun, eweneens die teiken van hierdie bose oorlog sal word. Die apostel Paulus se aansporende vermaning geld dus vir elkeen wat vandag as een van Jehovah se Getuies dien: “Dra jou deel van die ontberinge soos ’n goeie soldaat van Christus Jesus. ’n Soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie” (2 Timotheüs 2:3, 4, NTP). Elke ander lewensbedrywigheid is ondergeskik aan ons diens aan Jehovah se groot Veldmaarskalk.
5. (a) Hoe beskryf Paulus die Christen se geestelike oorlogvoering? (b) Wat is die vaste voorneme van Christensoldate, en wat sal hulle in die stryd bemoedig?
5 Die wesenlikheid en die aard van hierdie geestelike oorlogvoering word by ons tuisgebring wanneer ons nadink oor hierdie aanmanings van die apostel Paulus: “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat omgewerp word teen die kennis van God, . . . en ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf wanneer julle gehoorsaamheid volkome is.” (2 Korinthiërs 10:3-6; kyk ook Efesiërs 6:12.) As soldate van Christus Jesus wil ons vir al wat leef, wys dat ons gehoorsaam is aan sy krygsbevele en immer gereed is om ’n aandeel te hê in die strategie wat hy kies en om dit uit te voer. Om ons op die gebied van geestelike stryd te bemoedig, kan ons in God se Woord terugblaai na ’n geskiedkundige gebeurtenis in eertydse Israel. Hier kan ons betekenisvolle, profetiese beelde vind van gebeure wat nou plaasvind.—Romeine 15:4; 1 Korinthiërs 10:11.
’n Keuse van koningskap—Toe en nou
6. Beskryf die gebeure wat daartoe gelei het dat mense Dawid as koning aanvaar het en hoe dit individue geraak het.
6 Beskou die situasie in die tyd van koning Dawid, God se keuse as koning vir die hele Israel. Na Saul se dood was die manne van Juda die eerstes wat Dawid as God se keuse as hulle koning erken het. Die res van die stamme het Saul se seun Isboset as koning verkies, en dit het tot voortdurende tweedrag aanleiding gegee (2 Samuel 2:1-11; 3:1). Met die sluipmoord op Isboset sowat twee jaar later is die weg vir die ander stamme gebaan om by Juda aan te sluit. Dawid is mettertyd behoorlik as koning oor die hele Israel gesalf (2 Samuel 4:5-12; 5:1-3). Maar intussen moes baie individue besluit wie hulle wou dien. Hulle moes hierdie jong man, Dawid, se getuigskrifte in ag neem. Was hy waarlik God se gesalfde? Sou hy Jehovah se seën geniet in teenstelling met God se afkeer van Saul? Sou Dawid die leërs van Israel met sukses kon aanvoer teen die omliggende vyande?
7. Wat het die aanvaarding van Dawid se koningskap behels?
7 Dit is duidelik dat party Israeliete die veroordeelde huis van Saul verkies het. Ander het besluit op grond van wat polities raadsaam was. Nog ander het besluiteloos gebly. Maar vroeër of later moes ’n besluit geneem word, en diegene wat besluit het om Dawid se koningskap van ganser harte te ondersteun, was waarlik gelukkig! Hulle was nie selfsugtig nie en het nie sommer die maklike uitweg gekies nie. Hulle was nie besluiteloos nie. Hulle steun aan Jehovah se koning het hulle eerder ’n aktiewe rol as Dawid se onderdane en soldate laat vervul. Eerste Kronieke 12:22 berig: “Dag vir dag het hulle na Dawid gekom om hom te help, totdat dit ’n groot leër was soos ’n leër van God.”
8. Hoe identifiseer 1 Kronieke 12:32, 38 diegene wat Dawid se koningskap aanvaar het?
8 Uit die besonderhede van die verslag sien ons dat hierdie menigtes persone ingesluit het “met kundige insig wat die tye betref, om te weet wat Israel moes doen” (1 Kronieke 12:32). Hulle trou aan die koning was nie halfhartig nie. Hulle was goed gewapen sodat hulle hulle kon aanbied as persone wat gereed is om Dawid se leiding in oorlogvoering te aanvaar. Hulle het nie ’n maklike lewe verwag nie. Hulle het die tye onderskei en geweet dat die koninkryk omring was deur vyande wat gereed was om Israel te verswelg en die aanbidding van Jehovah uit te wis. Diegene van die oostekant van die Jordaan af was “krygsmanne . . . in slagorde aaneengesluit” wat gereed was om met “’n onverdeelde hart” onder Dawid te dien.—1 Kronieke 12:38.
9. (a) Vind ons ’n hedendaagse parallel vir die situasie in Dawid se dag? (b) Voor watter geskil kom alle mense vandag te staan?
9 Hoe aangrypend is dit nou om te sien hoedat ’n hedendaagse teenbeeld van daardie situasie hom voor ons afspeel! Die Grotere Dawid, Christus Jesus, is deur Jehovah gekies en heers nou as hemelse Koning. Wêreldlike nasies is gekant teen sy koningskap. Hulle dreig om die Koning se onderdane op aarde uit te wis (Psalm 2:1-3). Oor die hele wêreld word daar gevolglik van individue verwag om hulle standpunt aan die een of ander kant van die geskil in te neem. Daardie geskil is: Is hulle vir of téén die koninkryk van Jehovah se Seun? Menigtes is besluiteloos. Ander besluit bloot op grond van wat vir hulle gerieflik is en neem selfsugtig slegs hulle eie veiligheid en voordeel in ag.—Sefanja 2:2, 3; Joel 3:14.
10. (a) Waarom kan baie nie besluit of hulle Christus se koningskap wil aanvaar of nie? (b) Watter verantwoordelikheid rus nou op Jehovah se Getuies?
10 Namate die roem van God se koninklike verteenwoordigers steeds al hoe verder verbrei, word al hoe meer persone in staat gestel om ’n intelligente keuse te doen (Miga 4:1-3; Sagaria 8:23). Baie is besluiteloos slegs omdat hulle nie die feite ken nie; hulle het nie insig in die betekenis van hierdie tye nie en besef nie hoe dringend dit vir hulle is om hulle standpunt onwrikbaar vir God se koninkryk in te neem nie. Menigtes is gevolglik nog steeds onder die invloed van sataniese propaganda en loop gevaar om saam met Satan en sy handlangers vernietig te word. Die dringende oproep is dus dat al Jehovah se Getuies hulle aan die kant van die Grotere Dawid, Christus Jesus, moet skaar, gewapen en toegerus vir die stryd teen die vyand.—Vergelyk Mattheüs 12:30.
Wie is bekwaam vir die stryd?
11. Verduidelik hoe Jesus getoon het dat ons gehoorsaamheid aan Christus “volkome” kan wees.
11 In hulle geestelike oorlogvoering moet alle soldate van Christus aan baie belangrike vereistes voldoen. Paulus het byvoorbeeld getoon dat hulle gehoorsaamheid aan die Christus “volkome” moet wees (2 Korinthiërs 10:5, 6). Hoe kan ons bepaal of dit nou deur ons handelwyse en gesindheid weerspieël word? Die volgende vrae sal ons help om vas te stel wat met ons die geval is:
Geniet ons diens aan God en Christus waarlik besliste voorkeur bo enige menslike verhouding? (Mattheüs 10:37)
Het ons ontslae geraak van enige begeerte om stoflik ryk te wees of die agting van wêreldlike kringe te hê? (Lukas 6:20-26)
Wil ons ons Leier en Bevelvoerder behaag, of is ons bekommerd oor die dinge wat Jehovah beloof het om te voorsien—kos, klere en huisvesting? (Mattheüs 6:25-32)
Het ons opgehou om ons medesoldate van Christus te oordeel en te kritiseer sodat ons nie tweedrag en onenigheid in die heilige geledere veroorsaak nie? (Lukas 6:37; Psalm 133:1-3)
Het ons ons broers waarlik lief en dra ons die welsyn van almal wat in hierdie geestelike stryd teen God se vyande gewikkel is op die hart? (Johannes 13:35; 1 Petrus 4:8)
Dit is indringende vrae wat al Christus se volgelinge persoonlik moet beantwoord.
12. Hoe kan vriende en vyande van God se koninkryk geïdentifiseer word? (Mattheüs 25:31-46)
12 Nog ’n belangrike saak wat aandag verdien in ons Christelike oorlogvoering, is ’n duidelike beeld van die kloof tussen God se rein organisasie en die permissiewe, onsedelike organisasies van hierdie wêreld (Genesis 3:15; Psalm 97:10). Tydens oorlog moet vyandelike leërs duidelik tussen vriend en vyand kan onderskei. Dit word moontlik gemaak deur hulle kenmerkende uniforms en wapenskilde. Ons is ingelig oor die vrugte van God se gees. Ons is bewus gemaak van die werke van die vlees, wat ook net soos vrugte geopenbaar word (Galasiërs 5:19-24). Daar is dus inderdaad geen grys gebied tussen God se organisasie en Satan se organisasie nie.
13. Van watter nut is gereelde vergaderinge in ons geestelike oorlogvoering?
13 Toon ons daarbenewens deur ons handelwyse dat ons voortdurend ‘bewus is van ons geestelike behoefte’? (Mattheüs 5:3, NW; Hebreërs 10:25). In vleeslike oorlogvoering is dit noodsaaklik dat offisiere en ander personeel instruksiesessies het waar hulle ingelig word oor die jongste verwikkelinge op die slagveld en die jongste strategie van die vyand. Ons vergaderinge by die Koninkryksaal of elders is eweneens lewensbelangrik sodat ons gereeld deur die Woord van God en sy heilige gees versterk kan word en bewus gehou kan word van die bewegings van die vyand.—1 Petrus 5:8.
14. Hoe kan die woorde van Sagaria in Lukas 1:74, 75 ons gevoelens goed uitdruk?
14 Hoe dankbaar behoort ons almal Jehovah en sy Seun tog te wees dat hulle ons so goed toegerus het vir geestelike oorlogvoering! Net soos Johannes eie Doper se vader, Sagaria, voel ons verplig om Jehovah te loof omdat hy ons, “nadat hy ons uit die hand van vyande verlos het, die voorreg verleen het om onbevrees heilige diens vir hom te verrig niet lojaliteit en regverdigheid voor sy aangesig al ons dae” (Lukas 1:74, 75, NW). Ons is uit Babilon die Grote verlos. Nadat ons nou aan die vereistes van ons Leier en Bevelvoerder voldoen het, is ons in die posisie om in slagorde aan te tree om met die vyande van God en Christus slaags te raak.
15, 16. (a) Watter “planne” en “vestings” het Satan in die verstande van mense geplant? (b) Slegs hoe kan hulle ‘neergewerp’ word, en tot watter mate vind dit plaas?
15 Al die krygstuig en gewapende magte van hierdie wêreld is bloot kinderspeelgoed vergeleke met die valse, filosofieë en tradisies van mense wat deur Satan en sy demonmagte geïnspireer is. In sy strewe om dieselfde majesteit en mag as God te hê, het Satan sy valse leerstellings wyd en syd gepropageer. Hy weerspreek die ware God en maak bedrieglik daarop aanspraak dat hy die fontein van kennis is. Hy leer dat die mens Jehovah nie nodig het nie en dat die mens op sy eie tot die punt kan vorder waar hy soos God sal wees. Die Duiwel loën God se regte as ’n Skepper, en smeer die idee op die mensdom af dat die mens ’n produk van evolusie is. Hy het daarin geslaag om menigtes te laat glo dat die mens nie werklik sterf nie; dat dit wat na die dood lyk in werklikheid ’n deur na ’n ander vorm van lewe is. Hy het verskeie vorme van menseregering voorgestaan wat almal in selfsug gewortel is en op selfsug berus. Hierdie en nog baie ander dinge is die ‘planne en skanse wat opgewerp is teen die kennis van God’.—2 Korinthiërs 10:5.
16 Hierdie “vestings” moet neergewerp, blootgelê, word sodat die slagoffers van bedrog verstandelik en geestelik bevry kan word (2 Korinthiërs 10:4). Ons het die nodige wapens en wapenrusting—geloof as ’n skild, waarheid as ’n versterkende gordel, geregtigheid as ’n beskerming vir die hart, die hoop op verlossing as ’n helm, die Woord van God as ’n swaard en die evangelie van vrede om diegene te help wat hulle wil onderwerp aan die Koning van Jehovah se keuse (Efesiërs 6:14-17). Met sulke geestelike wapens bevry die Christengetuies van Jehovah tallose gevangenes!
Oorwinning is verseker
17. Op watter uitslag dui Psalm 45:4, 5 wanneer Christus in die finale oorlog met die vyand slaags raak?
17 Die tyd kom al hoe nader wanneer Jehovah sy gekose Koning die teken sal gee om die vyand in ’n finale oorlog aan te val. In die woorde van Psalm 45:4, 5 sal Jehovah tot daardie Leier van hemelse leërs uitroep: “Gord u swaard aan die heup, o held, u majesteit en u heerlikheid; ja, u heerlikheid! Ry voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid; en laat u regterhand U vreeslike dinge leer!” Die uitslag van daardie optrede is gewis. Satan se hele organisasie, sigbaar en onsigbaar, sal weggedoen word sodat die aarde bevry sal wees van alle goddelose en verdrukkende heerskappy. Watter heuglike dag sal dit tog vir die oorlewendes wees wanneer alle verdrukkers, leuenaars, hoereerders en verderwers van die aarde vir ewig vernietig is!—Openbaring 11:16-18; 19:11-21.
18. Hoe het mense sedert 1914 G.J. “in slagorde aaneengesluit”?
18 Hoe wonderlik is dit tog om te sien hoedat dramatiese situasies wat in die Skrif opgeteken is, nou vervul word! In ons dag was die gesalfde, geestelike broers van Christus Jesus die eerstes wat hom as hulle Koning aanvaar het nadat hy in 1914 G.J. op die troon geplaas is. Hulle het almal “in slagorde aaneengesluit”. Veral sedert 1935, toe lig op Openbaring 7:9-17 gewerp is, het ’n “groot menigte” die ware bron van welslae en seën herken en “in slagorde aaneengesluit”. Hulle het by die hedendaagse geestelike Israeliete aangesluit. Hulle het almal in slagorde verskyn, gereed om te deel in die lyding en ontberinge van openlike geestelike oorlog teen Satan se hele organisasie—tot die eer en heerlikheid van Jehovah.—Sagaria 2:11.
19. Wat moet dan die vaste voorneme van elke onverskrokke getuie van Jehovah wees?
19 Dit is dus duidelik dat ons in dringende tye lewe. Dit is nie nou die tyd om te dink dat die geestelike stryd agter die rug is nie. Mag die vyand ons nooit onverhoeds vang in die naderende kritieke stadium van ons diens nie. Laat ons, hetsy ons tot die oorblyfsel geestelike Israeliete of tot die “groot menigte” van hulle metgeselle behoort, ‘in slagorde aaneensluit met ’n onverdeelde hart’. Laat ons aanhou om die oproep tot die stryd onverskrokke uit te basuin, want Jehovah verseker ons van die oorwinning!—2 Kronieke 20:15.
Ter opsomming:
◻ Waarom is dit nou dringend om ‘in slagorde aaneen te sluit’?
◻ In watter soort oorlogvoering is Jehovah se Getuies gewikkel?
◻ Voor watter lewensbelangrike geskil kom alle mense vandag te staan?
◻ Wie voldoen aan die vereistes om ’n “soldaat van Christus Jesus” te wees?
◻ Watter oorwinning is nou verseker?
[Prent op bladsy 19]
As ons gereeld by die Koninkryksaal vergader, (1) versterk dit ons vir geestelike oorlogvoering, (2) help dit ons om ‘insig te hê wat die tye betref’ en (3) leer ons hoe om met ’n “onverdeelde hart” te dien