Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 5/15 bl. 5-8
  • Kan ’n mens van ongelukkigheid ontslae raak?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan ’n mens van ongelukkigheid ontslae raak?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons moet onsself ondersoek
  • Ons moet ons gedagtes beheers
  • Geniet wat God ons gee
  • Ons is nie alleen nie
  • “Deurgrond my, o God”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Jehovah, ons ‘vesting in tye van benoudheid’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Dien Jehovah met ’n vrolike hart
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Aanvaar jy Jehovah se hulp?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 5/15 bl. 5-8

Kan ’n mens van ongelukkigheid ontslae raak?

HOE maklik raak mense tog omgekrap! Dit kan skielik gebeur, net as gevolg van wat iemand gesê of gedoen het of weens ’n onaangename ondervinding. Op sulke tye vind ons dit moeilik om aan enigiets anders te dink. En omdat ons geen oplossing vir ons probleem sien nie, vind ons dat ons verhouding met God daaronder kan ly. Ons oorweeg dit dalk selfs om die stryd om die geloof gewonne te gee (Judas 3). Ons vreugde neem af en ons word deur neerslagtigheid oorweldig (Spreuke 18:14). Ons opregte begeerte is om op “die pad van die lewe” te bly, maar dit lyk of die weg vir ons te moeilik word.—Psalm 16:11.

Wat kan ons doen wanneer ons omstandighede so benard is? Moet ons maar ongelukkig voortbeur? Of kan ’n mens van ongelukkigheid ontslae raak?

Ons moet onsself ondersoek

Mense reageer op uiteenlopende maniere op probleme. Wanneer ons met probleme te kampe het, is dit dus goed om onsself eerlik in oënskou te neem. Miskien is daar iets in ons wat reggestel moet word.—Psalm 139:23, 24.

Sekere mense kan baie in stilte verduur, en party kom skynbaar hulle moeilikhede baie gouer te bowe as ander. Dit kan die gevolg wees van hulle opvoeding, persoonlikheid of gesondheidstoestand. As ’n individu byvoorbeeld met ’n gebrek aan liefde en goeie opleiding grootgeword het, sal hy in sy latere lewe swaarder kry.

Diegene wat as kinders van liefde verstoke was, dink gans te gou dat mense hulle sleg behandel omdat hulle nie van hulle hou nie. Diegene wat met te veel aandag bederf is, verwag dikwels weer dat alles in die lewe om hulle moet draai, en daarom duur hulle vriendskappe nie lank nie. Vir diegene met gesondheidsprobleme kan enige onreg en vernedering ’n groot beproewing wees. Hulle kry dikwels die gevoel dat hulle beker nou vol is. As ons geneig is om fyngevoelig te wees, is dit goed om aan hierdie faktore te dink, veral as dit vir ons voel of ons in ’n stroom onoorkoomlike moeilikhede beland het.

Is ons geneig om teruggetrokke te wees wanneer ons ons oor iets bekommer? Dit is ’n natuurlike reaksie, maar ons moet nie toelaat dat dit te lank duur nie. Anders bestaan die gevaar dat ons, terwyl ons gedagtes deur ons probleme in beslag geneem word, deur almal om ons geïrriteer word. Ons kan onverstandig optree en onsself afsonder, en ons huis kan as ’t ware vol spieëls word waarin ons voortdurend kyk om te sien watter moeilike tyd ons beleef.—Spreuke 18:1.

Hoe neerslagtiger ons word, des te waarskynliker is dit dat ons die skuld op diegene om ons sal plaas. As ons ook die fout begaan om slegte beweegredes aan hulle toe te skryf, kan dit tot groot spanning aanleiding gee. Hoeveel beter is dit tog om nie uitermate agterdogtig te wees nie!—Vergelyk 1 Timotheüs 6:4.

Is ons moontlik oorbewus van die foute van ons metgeselle? Die lewe sal baie aangenamer wees as ons geduld en begrip aan die dag lê. Onthou dat Jesus Christus gesê het: “As julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.” In plaas daarvan om te tob oor die wyse waarop mense ons behandel het, moet ons tot Jehovah bid en hom vra om diegene te help wat ons afgejak het. Hulle benadeel hulself immers meer as wat hulle ons benadeel, “want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai”.—Mattheüs 6:14; Galasiërs 6:7.

Wanneer ons in die knyp sit, bid ons miskien op ’n ietwat kinderlike wyse tot Jehovah en vra ons hom om ons weer gelukkig te maak. Dit is natuurlik nie verkeerd nie. Maar kan ons verwag dat hy dadelik elke onaangename gedagte en angswekkende herinnering sal verwyder? Sekere dinge het gebeur, maar waarin lê die grootste potensiaal vir ongelukkigheid? Is dit in die herinneringe aan wat gebeur het of in ons verkeerde reaksie daarop? Is dit nie die feit dat ons aanstoot neem, ons woede en ons selfbejammering wat ons in die meeste gevalle van ons vreugde beroof en ons geestelike ewewig versteur nie?

Ons sal dus verstandig wees as ons sulke uitputtende gevoelens onderdruk sodra hulle in ons opwel. Anders kan ons ons emosies so opsweep dat ons in ’n feitlik hopelose toestand beland. As ons dan tot Jehovah roep, sal hy ons help. Maar ons kan nie wonderwerke verwag nie, want ons moet teruggaan op ’n verkeerde pad wat ons ingeslaan het. Stel sake dus dadelik reg, indien nodig. ’n Kwellende gewete en ’n ongelukkige gees is baie angswekkender as om foute te erken. Laat ons opreg ‘ons weë deursoek’ en ons met hernieude energie voorneem om in God se krag te verbeter. —Klaagliedere 3:40-42.

Ons moet ons gedagtes beheers

Dit hang in werklikheid in ’n groot mate van onsself af of ons waarlik gelukkig is of nie. Dit is waarom ons ons gedagtes moet beheers. So nie sal onaangename herinneringe, verspotte grille of selfs bose ingewings gou die oorhand kry. Wanneer ons ons in ’n ongelukkige gemoedstemming bevind, kan ons gerus vra: Waaraan het ek gedink net voordat ek skielik so neerslagtig geraak het? Ons kan natuurlik ’n slegte televisieprogram afskakel, maar dit is nie so maklik om verkeerde gedagtes uit jou gemoed te ban nie. Maar watter seën is dit tog dat ons om God se hulp kan bid! Met behulp van sy heilige gees of werkende krag sal Jehovah ons met graagte help om ons gedagtes te beheers. Die psalmis Dawid het eenkeer gesê: “As my gedagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u [Jehovah se] vertroostinge my siel.”—Psalm 94:19.

As ons Jehovah om hulp smeek, ongeag die rede, moet ons na hom luister wanneer hy tot ons spreek. Die Skrif getuig van sy oneindige wysheid en liefde, en raad oor elke situasie waarin ons moontlik kan kom, word duidelik in die Bybel uiteengesit. Ons geluk kan gevolglik herstel of versterk word as ons Jehovah se raad in die lewe toepas. Jesus het gesê: “Salig [of gelukkig] is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar.”—Lukas 11:28.

Ons kan ons gedagtes in ’n nuttige rigting stuur deur ’n bepaalde Bybelteks ’n paar uur of selfs ’n hele dag lank in gedagte te hou. Wanneer ons besonder vertroostende of versterkende woorde in ons studie van die Bybel teëkom, kan ons dit by ons verstand inskerp. Keer op keer kan ons dan hierdie gedeeltes van Jehovah se Woord herhaal wanneer ons dit nodig het. Sodoende sal “die God van alle vertroosting” ons help, en sal “die vrede van God” ‘ons harte en sinne bewaar’. Ondanks ons probleme sal ons dan met vreugde in sy diens kan volhard. Ja, ons moenie alleen uitvind wat God van sake dink nie, maar ons moet ook doen wat hy ons aansê om te doen.—2 Korinthiërs 1:3,  4; Filippense 4:6, 7.

Geniet wat God ons gee

Ons moet beslis na God luister, want hy bewys liefde aan ons en gee vir ons “elke goeie gif” (Jakobus 1:17). Ten tye van spanning en moedeloosheid vergeet ons soms dat daar nog baie aangename dinge is. Daarbenewens wil ons hemelse Vader hê dat ons vryelik gebruik moet maak van al die goeie dinge wat hy voorsien. En hy wil hê dat ons gelukkig moet wees, soos die prediker te kenne gegee het toe hy gesê het: “Wat ek as ’n goeie ding gesien het, wat voortreflik is, is dat iemand eet en drink en die goeie geniet vir al sy arbeid . . . Want hy dink nie baie aan sy lewensdae nie, omdat God hom laat besig wees met die vreugde van sy hart” (Prediker 5:17-19; 9:7-10). Ons ervaar almal verdriet, maar as ons ons oë oophou, sal ons die “sonskyn” sien, selfs al is daar “wolke”.

Ons Christenvriende tel onder die beste gawes van God. Hoe hunker ons tog na hulle wanneer ons ’n moeilike tyd beleef! Dit is dan dat ons iemand nodig het wat bereid is om met begrip na ons te luister. Ons weet dikwels wat ons behoort te doen, maar ons kan dit eenvoudig nie uit ons verwonde hart optrek nie. Waarom moet ons dan skaam wees om ’n dierbare metgesel in die Christengemeente om ’n bietjie liefdevolle aandag te nader? Ervare ouere manne in gemeentes van Jehovah se Getuies sal ons met graagte op praktiese maniere help, veral deur hulp te verleen wat op God se Woord gebaseer is.—Jakobus 5:13-16.

Ongeag waar op aarde ons woon, het ons baie ‘vriendjies’ om ons. Ons moet net hulle vertroue wen, en ’n verskeidenheid diere en voëls sal na ons kom as ons vir hulle ’n bietjie kos gee. Hoe aangenaam is dit tog wanneer hulle mak genoeg word om uit ons hand te eet!

Wat van kinders in die buurt? Hulle sal ons met graagte besoek as ons vriendelik of vrygewig is of hulle met die een of ander takie laat help. Nee, ons hoef nie eensaam of ongelukkig te wees as ons nadink oor ons seëninge en alles geniet wat Jehovah ons gee nie.

Dit is rustig en help ons om ons verstande met opbouende gedagtes te vul as ons ’n bietjie buitelug geniet. Dit is onwaarskynlik dat ’n brein wat te min suurstof kry ’n ontspanne gees in die hand sal werk. Menige man het al sy geestelike ewewig na ’n lang wandeling herwin. En wanneer ons by tuine verbyloop, of in woude stap, moet ons probeer inneem wat ons sien. Wanneer ons gaan wandel of in die buitelug sit, staar ons alte dikwels voor ons en kom allerhande somber gedagtes by ons op. Maar elke boom, elke plant, elke dier en selfs die lug kan ons iets van die Skepper vertel, as ons maar net toelaat dat die mooiheid van die ontwerp, die prag van die kleure en alles wat ons ontdek ’n uitwerking op ons het. Wanneer ons op wolklose aande na die sterrehemel kyk, kan woorde soos dié van die psalmis in ons opwel: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande” (Psalm 19:2). Op sulke tye vervaag alle menslike sorge en neem ons ’n bietjie van God se grootsheid waar. Dan sal ons dit nie moeilik vind om ons eie sorge op die agtergrond te skuif en woorde van dank en lof tot ons grootse Skepper te spreek nie.

Slaap is nog een van God se gawes. Aan die einde van ’n besige dag klim ons in die bed met volle vertroue op God se beskerming. Dit help ons om die volgende dag met hernieude energie te begin. Maar wat kan ons doen as ons sleg slaap? Ons kan tot ons hemelse Vader bid en ons medegelowiges in sulke versoeke onthou. Ons kan aan sy Woord en wonderlike beloftes dink (Psalm 77:7; Efesiërs 6:17-20). Hoeveel beter is dit tog as om net aan al ons probleme te dink! Ons moet ons gedagtes vul met goeie dinge van ’n geestelike aard. Dan sal ons miskien vir onsself kan sê: ‘Wel, goeienag.’

Ons is nie alleen nie

Ons is natuurlik nie die enigste mense met probleme nie. As ons ander na hulle moeilikhede sou uitvra, sou ons waarskynlik dink: Wel, dit is beter om te swyg. Trouens, ons sal dalk ons eie probleme verkies bo dié waarmee ander geteister word.

As toegewyde Christene kan ons nie nou heeltemal sorgloos wees nie, want Jesus het gesê dat sy volgelinge vervolg sou word (Johannes 15:20). Ons is nie die enigstes wat die dinge verduur waarmee ons aartsvyand, Satan die Duiwel, ons teister nie, omdat “dieselfde lyding opgelê word aan [ons] broederskap wat in die wêreld is”. Maar die allerbelangrikste is dat ons en ons mede-Christen-lyers goddelike hulp het. Laat ons dus vertrou op “die God van alle genade” wat met ons is. En laat ons met vertroue uitsien na die dag wat nou so naby is wanneer ons verdrukkinge nie langer sal bestaan nie.—1 Petrus 5:6-11; 2 Thessalonicense 1:6-10.

Die moeilike tyd wat alle getroue Christene nou beleef, gaan binnekort eindig, want ons nader ’n nuwe, gelukkige tydvak vinnig. Ons staan op die drempel van “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde” (Openbaring 21:1-4). Watter rede tot geluk!

Jesus Christus het sy volgelinge geleer om God in gebed te vra: “Laat u koninkryk kom” (Mattheüs 6:10). Laat ons dus werklik op daardie Koninkryk hoop en die toekoms met vreugde tegemoetgaan. Jesus kon die groot skande en pyn van die folterpaal verduur omdat hy tydens al sy lyding “die vreugde wat Hom voorgehou is” in gedagte gehou het (Hebreërs 12:1-3). Hy sou binnekort weer sy hemelse Vader van aangesig tot aangesig sien en omring wees van al sy gelukkige, hemelse metgeselle.

Deur die eeue heen het Christus se volgelinge baie beproewinge verduur, onder meer selfs wilde diere in die Romeinse arena en die afgryse van konsentrasiekampe. Hulle het al hierdie dinge verduur omdat hulle daarna gestreef het om Jehovah te behaag en hulle oë op die prys, die ewige lewe, gehou het. Jehovah God sal hulle nie vergeet nie. Hy sal ons ook nie vergeet as ons getrou is as sy aanbidders en op “die pad van die lewe” bly nie. Met ons wonderlike hoop voor oë kan ons dus vreugdevol uitroep: “U [onse God, Jehovah] maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.”—Psalm 145:16.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel