Vervolging in ’n vreedsame land
MEER as 60 jaar lank was dit ’n vreedsame land waar ’n goedhartige koning oor ’n vriendelike volk geregeer het. Toe het die koning gesterf. Feitlik oornag het die vreedsame land verander in ’n toneel van lyding vir ’n minderheidsgroep wat oor die hele wêreld bekend is vir hulle naasteliefde en eerbied vir gesag. Waarom is hulle vervolg? As gevolg van hulle begeerte om volgens Bybelbeginsels te lewe. Waar het dit gebeur? In Swaziland.
Swaziland is ’n mooi landjie van sowat 17 300 vierkante kilometer tussen Suid-Afrika en Mosambiek. Dit is groen en bergagtig in die weste, met ’n droër laaglandstreek in die ooste, en het net meer as ’n halfmiljoen bewoners. Die Swazi-nasie het die gebied vroeg in die 18de eeu beset. In 1903 het dit onder Britse bewind gekom, maar in 1968 het dit ’n onafhanklike koninkryk geword met koning Sobhuza II aan die hoof.
Hierdie merkwaardige man het die onderskeiding gehad dat hy, op sy dag, die oudste monarg met die langste bewind op aarde was. Hy het van 1921 tot sy dood op 21 Augustus 1982 geregeer. Hy was bekend vir sy wysheid en onderskeidingsvermoë. Omdat sy land tussen Suid-Afrika en Mosambiek met hulle uiteenlopende beleide geleë is, het hy ’n neutrale weg ingeslaan. Swaziland het gevolglik ’n vreedsame land met toenemende voorspoed gebly.
Die godsdiensagtergrond
Soos die meeste volke van Afrika het die Swazi’s eeue lank vooroueraanbidding beoefen. Die afgelope tyd funksioneer baie sendings en kerke vryelik in Swaziland, maar tradisionele gebruike en ritusse speel nog ’n groot rol in die meeste mense se lewens. In die vroeë dertigerjare van hierdie eeu het Jehovah se Getuies sendelinge soontoe gestuur om die goeie nuus van God se koninkryk te verkondig. Hierdie sendelinge het koning Sobhuza dikwels besoek, en hy het hulle sonder uitsondering op koninklike wyse verwelkom.
Mettertyd het ’n aantal Swazi’s gunstig gereageer op die boodskap wat deur Jehovah se Getuies verkondig word. Omdat hulle nou God se wet in die Bybel gehoorsaam het, kon hulle nie langer sekere nie-Christelike godsdiensgebruike volg nie. Dit het teenstand van party hoofmanne uitgelok, maar die koning het nie toegelaat dat Jehovah se Getuies vervolg word nie. Daarom het die Getuies goeie rede om hom dankbaar te wees en is hulle opreg spyt oor sy afsterwe. Maar beteken dit dat hulle moet meedoen aan tradisionele godsdiensrougewoontes soos om hulle hare af te skeer?
Rouplegtighede
Sulke plegtighede is baie belangrik vir die beoefenaars. ’n Deskundige op die gebied van Afrikaangebruike, dr. I. Schapera, het geskryf: “Vooroueraanbidding is gebaseer op die opvatting dat ’n man na sy dood voortleef om die lewens van sy familielede wat op aarde oorgebly het, te beïnvloed.” Hy sê van hierdie oorledenes: “Indien hulle te na gekom word deur die skending van ’n gebruik, kan hulle ook verantwoordelik wees vir ’n droogte, veesiekte, ’n stam-of persoonlike ramp, siekte of die dood.” In die geval van ’n hoofman is dit “selfs nog meer van toepassing”. Dit sal dus vir aanhangers van hierdie tradisionele gebruike ondenkbaar wees om nie die rouritusse vir ’n koning na te kom nie.
Christene moet egter Jehovah God se beskouing van sulke gebruike in aanmerking neem. Duisende jare gelede het God vir sy uitverkore volk gesê: “Julle is die Here julle God se kinders en daarom mag julle nie ter wille van iemand wat dood is tatoeëermerke aan julle liggaam maak of deel van julle hare afskeer nie. Julle is ’n volk wat opsygesit is om aan die Here julle God te behoort.”—Deuteronomium 14:1, 2, Die Lewende Bybel.
Dit is logies, want niks wat ons doen, kan ’n oorledene behaag of mishaag nie. “Die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Selfs ’n vors se “gees gaan uit” wanneer hy sterf; “op daardie dag is dit met sy planne gedaan” (Psalm 146:3, 4). Dan slaap hy onbewus. Sy enigste hoop is ’n toekomstige opstanding deur God. Hy kan nie sy voormalige onderdane help of benadeel nie.
As ’n mens jou hare ter wille van ’n afgestorwene sou afskeer, sou dit die indruk skep dat jy glo dat sy siel nog voortlewe. Indien een van Jehovah se Getuies dit sou doen, sou hy skynheilig wees (Esegiel 18:4). Hy sal “leuens . . . doen” en God mishaag (Openbaring 22:15). Ware Christene word daarbenewens streng gewaarsku om nie nie-Christelike gebruike met hulle aanbidding te vermeng nie (2 Korinthiërs 6:14). Hulle kan nie gewetensgetrou rouritusse wat strydig met die Bybel is, nakom nie, ongeag hoe hartseer hulle voel wanneer ’n vriend sterf.
Amptenare reageer
Op 13 September 1982 het The Times van Swaziland hierdie berig bevat: “Die goewerneur van die paleis in Lobamba het voorskrifte aangekondig wat uitgevoer moet word deur die Swazi-volk gedurende die routydperk vir wyle koning Sobhuza II. Raadslid Vusumuzi Bhembe het tydens ’n landswye radio-uitsending aangekondig dat alle manlike Swazi’s hulle hare moet afskeer as ’n teken van rou. . . . Getroude vroue se hare moet rondom die hoof tot bo die ore afgeskeer word.” Dit was nie lank voordat druk uitgeoefen is op diegene wie se gewetens hulle nie toegelaat het om hierdie bevel te gehoorsaam nie.
Op Donderdag, 23 September 1982, is Andreas Xaba, ’n veeartsenybeampte wat vir die regering van Swaziland werk, deur sy hoof, mnr. Mavimbela, gevra waarom hy nie sy hare afgeskeer het nie. Toe Andreas probeer verduidelik het, het mnr. Mavimbela geweier om te luister en drie soldate van ’n militêre kamp daarnaby ontbied. Die soldate het egter besluit dat die polisie die saak moes hanteer.
Terwyl hulle op die polisie gewag het, het mnr. Mavimbela een van die soldate gevra om Andreas se vrou by die huis te gaan haal omdat sy ook nie haar hare laat skeer het nie. Die polisie het gekom, maar die senior offisier het gesê dat hulle mnr. en mev. Xaba met rus moes laat omdat hulle geen opdrag van die regering ontvang het om diegene in hegtenis te neem wat nie hulle hare afgeskeer het nie.
Daardie aand het mnr. Mavimbela en sewe soldate nietemin by die Xabagesin se huis opgedaag en hulle na die militêre kamp geneem. Daar het al die soldate byeengekom en nadat hulle hulle ondervra het, het hulle Andreas en sy vrou herhaaldelik geslaan. Toe is hulle opgesluit on gedwing om op hulle rug te lê terwyl soldate hulle op hulle voete geslaan het. Eindelik is hulle hare teen hulle sin afgeskeer en is hulle vrygelaat.
Op 11 Oktober 1982 is vier van Jehovah se Getuies in die volkshof in Manzini verhoor. Voordat die hof se voorsitter, Mabhula Shongwe, die vonnis gevel het, het hy die polisie beveel om hulle hare af te skeer. Dit is op ’n wrede wyse gedoen. Ooggetuies berig dat die bloed uit die wonde aan hulle koppe gevloei het. Toe is hulle gevonnis: een jaar tronkstraf of ’n boete van R100.
Twee dae later is 11 Getuies, 10 manne en ’n vrou, by hulle werk, die Mhlume-maatskappy, in hegtenis geneem. Die volgende dag het veiligheidswagte van hierdie maatskappy na die huise van hierdie manne gegaan, hulle vroue en kinders aangekeer en hulle ook opgesluit. Op 20 Oktober is almal die geleentheid gebied om in die hof te verduidelik waarom hulle nie hulle hare afgeskeer het nie. Hulle het dit op eerbiedige wyse gedoen deur Bybelpassasies soos Deuteronomium 14:1 en Mattheüs 6:17, 18 te gebruik. Hulle is nietemin gevonnis tot een jaar tronkstraf of ’n boete van R100. Daarbenewens is hulle hoofde sowel as hulle vrouens en kinders se hoofde almal teen hulle sin geskeer. Later is hulle deur die Mhlume-maatskappy ontslaan.
Op 28 September 1982 is 13 Getuies wat by die Usuthu-pulpmaatskappy gewerk het, deur prins Logiyela Dlamini in die Volkshof te Bhunya gevonnis en ’n boete van R60 opgelê. Later is hulle verhinder om na hulle werkplek terug te keer. Hulle het versoek om die bestuur te spreek. Hierdie versoek is nie toegestaan nie. In plaas daarvan is hulle gedwing om op 7 Oktober in Lobamba voor die Geheime Opperraad te verskyn.
Die voorsitter van hierdie raad, mnr. Lusendvo Fakudze, het die Getuies toegelaat om hulle standpunt te verduidelik. Tydens die bespreking het een van die hoofmanne gedreig: “In 1975 wou ons van julle ontslae raak, maar die afgestorwe koning het julle beskerm. Wie gaan julle nou beskerm?” Die Getuies is eindelik meegedeel dat die saak na die liggaam van prinse en dan na die koningin-moeder in Lobamba verwys sou word. Hulle werkgewers is intussen beveel om hulle nie terug te neem nie tensy hulle hulle hare afskeer.
Die volgende week is hierdie Getuies weer in hegtenis geneem. Ses van hulle moes op 19 Oktober voor dieselfde Volkshof in Bunya verskyn. Op die betrokke dag het die voorsitter van die hof nie opgedaag nie. Dit was nodig om die saak tot die volgende dag uit te stel en ’n nuwe voorsitter, mnr. Magomba Dlamini, aan te stel. Hy het beveel dat die Getuies se hare met geweld afgeskeer word en hulle tot drie maande tronkstraf of R30 gevonnis.
Aaron Phakathi, Leonard Mabuza, Bartholomew Mbuli, Stephen Mngomezulu, John Shabangu en Lina Mbuli was onder die veroordeeldes. Hulle is nou ’n tweede keer vir dieselfde oortreding gevonnis. Hulle is almal deur die Usuthu-pulpmaatskappy afgedank.
Volgens verslae is ten minste 90 Getuies al in hegtenis geneem en gevonnis. Party is al meer as een keer in hegtenis geneem.
Goeie resultate
Ondanks die ontberinge het hierdie onverwagte vervolging tot enkele bemoedigende ondervindinge aanleiding gegee. Kyk na die volgende verslag deur die Getuies in die gevangenis in Manzini:
“Toe ons hier aangekom het, was die tronkbewaarder baie gekant teen ons omdat ons, aldus hom, teen die regering veg. Hy het ons broers verhinder om ons te sien en hulle teruggestuur met al die kos wat hulle vir ons gebring het. Maar ons het aangehou om diepe eerbied vir hom te betoon en hoflik op sy vrae geantwoord. Toe hy dit sien, het sy gesindheid verander. Hy het vir ons sy Bybel gegee en ons gevra om vir al die gevangenes te preek. Almal daar het eindelik geweet dat ons ter wille van geregtigheid in die tronk was en die gevangenes sowel as die polisiemanne het ons aangespoor om vas te staan.”
God of die keiser?
Jehovah se Getuies is gedagtig aan die apostel Paulus se woorde: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is” (Romeine 13:1). Hulle onthou ook dat Jesus geleer het: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom.” Jesus het egter bygevoeg: “En aan God wat God toekom” (Mattheüs 22:19). Toe Jesus se apostels beveel is om op te hou met iets wat God hulle beveel het om te doen, het hulle geantwoord: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 5:29). Hulle wou nie hulle menseheersers ongehoorsaam wees nie. Maar toe daardie heersers hulle gedwing het om te kies tussen gehoorsaamheid aan God en gehoorsaamheid aan mense, moes hulle God eers gehoorsaam.
Jehovah se Getuies volg hierdie Christelike voorbeeld. Hulle bid terselfdertyd dat die owerheid hulle standpunt sal verstaan. Die apostel Paulus het geskryf: “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir . . . konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei.”—1 Timotheüs 2:1, 2.
Die Swazi-owerheid is ongetwyfeld bewus van die feit dat Jehovah se Getuies probeer om “’n rustige en stil lewe” te lei. As ’n groep betaal hulle hulle belastings en lei hulle rein, eerlike lewens. Maar sedert koning Sobhuza se oorlyde is ’n gevaarlike presedent van godsdiensvervolging geskep. En talle Getuie-manne en -vroue het nou geen manier om ’n bestaan te maak nie daar hulle by hulle werk afgedank is.
Wat dink jy?
Verbaas dit jou dat ’n hele nasie in ons dag gedwing word om mee te doen aan ritusse om die dode te paai? Glo jy dat mense God volgens die voorskrifte van hulle gewete moet kan aanbid? Het jy medelye met diegene wat ly omdat hulle hierdie reg ontsê is? Dan sal jy moontlik ’n telegram of ’n brief—in ’n gees van eerbied en vriendelikheid—aan een of meer van die amptenare van die Swazi-regering wil stuur. Die name van party hoogwaardigheidsbekleërs aan wie jy dalk wil skryf, verskyn in die bygaande venstertjie.
[Venster op bladsy 30]
Her Majesty the Queen Regent
Ndlovukazi Dzellwe
Lobamba Royal Residence
P. O. Box 1
LOBAMBA
Swaziland
Chairman of the Supreme Council
Prince Sozisa
Lobamba Royal Residence
P. O. Box 1
LOBAMBA
Swaziland
Minister of Home Affairs
Prince Gabheni
P. O. Box 432
MBABANE
Swaziland
The Prime Minister
Prince Mabandla
P. O. Box 395
MBABANE
Swaziland
Minister of Justice
Mr. Polycarp KaLazarus Dlamini
P. O. Box 924
MBABANE
Swaziland
Commissioner of Police
Mr. Titus Msibi
P. O. Box 49
MBABANE
Swaziland
Federation of Swaziland Employers
P. O. Box 386
MBABANE
Swaziland
Councillor Vusumuzi Bhembe
Lobamba Royal Residence
P. O. Box 1
LOBAMBA
Swaziland
Councillor Lusendvo Fakudze
Lobamba Royal Residence
P. O. Box 1
LOBAMBA
Swaziland
Chief Justice
Mr. C. J. Nathan
P. O. Box 924
MBABANE
Swaziland
King’s Liaison Officer for Religion
Mr. A. K. Hlophe
P. O. Box 162
MBABANE
Swaziland