Die Duiwel se listige planne blootgelê
“Julle teëstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.”—1 PETRUS 5:8.
1, 2. (a) Wat kan ’n skrikwekkende situasie wees waarvoor Jesus self te staan gekom het? (b) Waarom het mense probeer om Jesus om die lewe te bring?
GESTEL jy het uitgevind dat iemand gehuur is om jou om die lewe te bring. En gestel jy het geweet dat hy op hierdie oomblik besig was om jou te bekruip en net wag vir die beste oomblik om aan te val. Dit sou skrikwekkend wees! Het jy geweet dat Jesus Christus voor ’n soortgelyke situasie te staan gekom het?
2 Die Bybel sê: “Daarna het Jesus in Galilea rondgegaan, want Hy wou nie in Judea rondgaan nie, omdat die Jode probeer het om Hom dood te maak.” Maar ondanks hierdie lewensgevaar het Jesus in 32 G.J. na Jerusalem gegaan vir die Huttefees. By daardie geleentheid het “sommige van die inwoners van Jerusalem [gesê]: Is dit nie Hy wat hulle soek om dood te maak nie?” (Johannes 7:1, 25). Waarom het mense probeer om Jesus om die lewe te bring? Omdat die Duiwel hulle opgesteek het om dit te doen! Volgens Johannes 8:44 het Jeans self gesê: “Die duiwel . . . was ’n mensemoordenaar van die begin af.”
3. Waarom is die apostel Petrus se waarskuwing oor die Duiwel veral vandag gepas?
3 Dit moet ons gevolglik nie verbaas dat godvresende persone vandag die Duiwel se skyf is nie, veral sedert hy uit die hemel gewerp is. Die Bybel verduidelik: “Weë die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:7-12). Dit beteken dat Satan en sy demone volskaalse oorlog teen ons voer! Die volgende waarskuwing is dus veral nou gepas: “Julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.” Dit sluit jou in, as jy een van Jehovah se Getuies is. Dit is waarom Petrus ook gesê het: “Wees nugter en waaksaam.”—1 Petrus 5:8.
4. (a) Wat is die Duiwel se doel wanneer hy ons listig nader? (b) Slegs hoe kan die Duiwel welslae behaal met sy benaderinge?
4 Maar wat is die doel van die Duiwel se listige benadering? Dit is nie om dadelik ons dood teweeg te bring nie. Toe hy Jesus slinks genader het, was dit Satan se doel om hom ’n kompromis te laat aangaan wat sy aanbidding van Jehovah betref (Mattheüs 4:3-10). Toe sy pogings om Jesus te versoek om aan God ongehoorsaam te wees misluk het, was dit Satan se doel om hom deur middel van dreigemente met die dood van sy onkreukbaarheid teenoor God te laat afsien. Die eintlike doel van Satan se benadering is vandag eweneens om ons goeie verhouding met God te vernietig. Sal hy daarin slaag? Daar is slegs een manier waarop hy welslae kan behaal. Die Bybel toon wat daardie manier is wanneer dit sê: “Die HERE is met julle as julle met Hom is, . . . maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.”—2 Kronieke 15:2.
5. (a) Is Satan se metodes suksesvol? (b) Waarvan moet ons voortdurend bewus wees as ons standvastig wil bly?
5 Ongelukkig is daar elke jaar sommige wat deur Satan se metodes oorweldig word. Hulle verlaat Jehovah. Trouens, baie van hulle moet uit die Christengemeente gesit word weens hulle goddelose gedrag (1 Korinthiërs 5:13). Ander word as ’t ware “krygsgevangenes” deur in die Duiwel se stelsel verstrik te raak. Sal jy standvastig bly ondanks al Satan se pogings om jou van Jehovah afvallig te maak? Indien jy dit wil doen, moet jy voortdurend bewus wees van die Duiwel se listige planne.
Satan se werkwyse
6. Waarom hoef ons nie in die duister te verkeer wat Satan se planne betref nie?
6 Ons word nie in die duister gelaat oor Satan se werkwyse nie. “Ons is met sy planne nie onbekend nie”, het die apostel Paulus verduidelik (2 Korinthiërs 2:11). Dit beteken dat Satan se aandag op ons toegespits is—hy dink aan ons en gebruik al sy skelm gedagtes om ’n einde aan ons diens aan God te maak. Dit is ’n gedagte wat ons tot ernstige nadenke stem, nie waar nie? Maar in die Bybel het ons ’n volledige beskrywing van Satan se planne, dit wil sê, sy sette, maneuvers en strategie, sodat niemand onkundig daaromtrent hoef te wees nie. ’n Goeie soldaat bestudeer groot veldslae van die verlede en pas met nut toe wat hy leer. As ‘goeie soldate van Christus Jesus’ kan ons eweneens Satan se taktiek bestudeer en sodoende voorkom dat ons deur een van sy metodes oorval word.—2 Timotheüs 2:3, NTP.
7. (a) Watter frontaanvalle rig Satan soms? (b) Watter ander metodes gebruik hy, en waarom?
7 Eindelik het Satan se agente Jesus wreed mishandel en om die lewe gebring (Johannes 19:1; Mattheüs 27:49, 50). En Jesus het aangaande sy volgelinge voorspel: “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak” (Mattheüs 24:9). Maar sulke frontaanvalle boemerang dikwels, met die gevolg dat God se vervolgde knegte selfs groter ywer vir sy diens het (Handelinge 5:41, 42). Satan gebruik gevolglik in die meeste gevalle ander metodes—listige planne—om die onkreukbaarheid van God se knegte te verbreek.
8. Hoe toon die Bybel dat Satan listige planne sou gebruik?
8 Die Bybel wys op sulke listige planne wanneer dit ons aanspoor om “staande [te] bly teen die liste van die duiwel” (Efesiërs 6:11). Die Griekse woord wat hier met “liste” vertaal word, beteken “geslepe dade” (Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures). Die Bybel toon ook dat Satan ’n aartsbedrieër is wat buitengewoon geslepe en slu is wanneer dit sê: “Die Satan self verander hom in ’n engel van die lig.”—2 Korinthiërs 11:14.
9, 10. (a) Wat kan ons leer deur Satan se eerste geslaagde, geslepe daad te ondersoek? (b) Wat toon dat hy voortgaan om dieselfde listigheid en geslepenheid te gebruik?
9 Kyk ’n bietjie na Satan se eerste geslaagde, geslepe daad. Toe hy Eva genader het, het hy nie probeer voorgee dat God dit sou goedkeur as sy die verbode vrug eet nie. Eva het van beter geweet. Satan het dus die vrug vir Eva uiters begeerlik laat lyk. Hy het vir haar gesê dat dit haar situasie werklik sou verbeter indien sy dit eet en vir haar ’n aantreklike vooruitsig gegee. ‘Julle sal soos God wees’, het hy gesê (Genesis 3:5). Eva het voor Satan se versoeking geswig. Sy het verkeerde begeertes gekoester, en dit het daartoe gelei dat sy sondig.—Jakobus 1:14, 15.
10 Satan maak nog steeds van listigheid en geslepenheid gebruik, soos die apostel Paulus toon: “Ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus” (2 Korinthiërs 11:3). As Satan se benadering nie so listig was nie, sou daar waarskynlik nie soveel persone in die slag gebly het nie. Hy bied voortdurend aanloklike afleidinge aan en probeer listig om ons belangstelling te wek in dinge wat eindelik ons geestelikheid sal onderdruk. Sy doelwit is om ons te verswak sodat ons Jehovah geleidelik sal verlaat of sodat ’n frontaanval daarin sal slaag om ons onkreukbaarheid teenoor God te verbreek.
11. (a) In watter sin kan Satan se metodes vergelyk word met dié van ’n visser? (b) Wat moet ons nooit vergeet nie?
11 Satan se metodes kan vergelyk word met dié van ’n visser wat lokaas gebruik om die vis te vang. Die visser eksperimenteer om uit te vind watter lokaas die visse sal lok. Wanneer die visse byt, besef hulle natuurlik nie dat daar ’n hoek agter die lokaas is nie. Wat van in ons? Is ons bewus van die lokaas wat Satan gebruik? Besef ons ten volle wat die gevolge sal wees as ons “gevang” word? Moet jou nie om die bos laat lei nie! Satan en sy demone is ware vyande wat ons hulle skyf gemaak het! Moet dus nooit vergeet dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê” nie. Hy het die meeste mense vir hierdie feit verblind. Moenie toelaat dat hy jou verblind nie.—1 Johannes 5:19; 2 Korinthiërs 4:4,
Subtiele vorme van materialisme
12. (a) Wat is ’n vername lokaas wat Satan gebruik? (b) Watter dinge kan die oog begeer?
12 ’n Vername lokaas wat Satan gebruik, is liefde vir materiële dinge en genietinge (1 Timotheüs 6:10). Die Bybel noem dit “die begeerlikheid van die oë” en waarsku dat so ’n begeerte ‘nie uit eie Vader is nie, maar uit die wêreld’ (1 Johannes 2:16). In ons moderne wêreld is daar meer dinge wat die oog kan begeer as ooit tevore. Daar is die nuutste soorte huise, motors, waens, bote, klere, beeldradio’s, hoëtroustelle, horlosies, redenaars, videospeletjies en allerhande ander elektroniese apparate. Daar is ook die talle genietinge wat gesmaak kan word in die vorm van musiek, danse, rolprente, die teater, die TV, ’n eindelose verskeidenheid sportsoorte, ensovoorts.
13. (a) Hoe kan Satan dinge wat nuttig kan wees, gebruik om Christene van God se diens af weg te lok? (b) Waarom moet ons Satan nie as ’n vyand onderskat nie?
13 Materiële dinge en genietinge is natuurlik op sigself nie verkeerd nie. Jehovah het ’n genotvolle materiële heelal, onder meer ons aarde met al sy prag, geskep om ons oë en ander sinne te behaag. Verskeie vorme van vermaak en ontspanning kan klaarblyklik nuttig wees indien hulle op hul plek gehou word (1 Timotheüs 4:8). Ons moet egter terselfdertyd daarvan bewus wees dat Satan dikwels hierdie einste dinge gebruik om Christene van God af weg te lok. Satan het ongetwyfeld self ’n groot aandeel gehad aan die ontwikkeling en gebruik van hierdie moderne materiële dinge en genietinge wat so baie mense se aandag van Jehovah God se diens afgelei het. Moenie ons vyand die Duiwel onderskat nie. Hy is ’n meester op die gebied van onverwagse aanvalle.
14. (a) Wat is aanduidings dat ’n persoon deur subtiele vorme van materialisme beinvloed word? (b) Waarom kan ’n persoon feitlik onwaarneembaar van God af wegdryf?
14 Hoe kan jy weet wanneer jy deur Satan se subtiele lokaas in die vorm van materialisme bedrieg word? Wanneer enige vorm van ontspanning of die najaging van materiële besittings begin het om inbreuk te maak op jou Bybelstudie, gereelde bywoning van Christelike vergaderinge of weeklikse veldbediening. Dit is inderdaad nodig om waaksaam te bly. ’n Materialistiese lokaas kan meebring dat jy wegdryf deur bloot al hoe meer van jou tyd, aandag en energie in beslag te neem (Hebreërs 2:1). Wanneer ’n bootjie dryf, kom jy dalk nie agter dat dit beweeg nie. Jy sê miskien dat dit glad nie beweeg nie. Maar die geleidelike verandering van posisie is bewys dat dit dryf. So ook in die geval van ’n persoon wat van God en Sy organisasie af wegdryf.
15, 16. (a) Watter selfondersoek kan ons wyslik doen? (b) Watter situasie toon dat sulke selfondersoek verstandig is?
15 Ons moet dus wyslik ons Christelike bedrywigheid dikwels ondersoek en vra: “Bestudeer ek die Bybel so gereeld soos tevore? Woon ek nog vergaderinge so gereeld by soos in die verlede? Wy ek nog soveel tyd aan die veldbediening soos tevore?” Jy sê miskien: “O, ek is nou baie besiger.” Maar besiger waarmee? Wy jy moontlik meer tyd aan die najaging van genietinge, miskien voor ’n beeldradioskerm? Is jou ophoping en instandhouding van materiële dinge ’n belemmering eerder as ’n hulp in jou diens aan God? Slaan jy werklik ag op Jesus se raad om jou nie oor materiële dinge te kwel nie, maar om eers God se koninkryk te soek?—Mattheüs 6:31-33.
16 Rondom die wêreld bly mense in die slag—Christene wat ten prooi geval het aan die Duiwel se subtiele vorme van materialisme en God se diens verlaat het. Jy kan moontlik aan persone in julle gemeente dink wat eens getroue medewerkers was, maar wat nie langer in God se diens bedrywig is nie omdat hulle gebyt het aan subtiele, materialistiese lokaas wat hulle geleidelik laat wegdryf het (Filippense 3:18). Wees dus “nugter en waaksaam”. Moenie toelaat dat die Duiwel jou verslind nie!—1 Petrus 5:8.
’n Subtiele vorm van spiritisme
17. (a) Waarom het engele hulle posisies in die hemel verlaat, en wat het met hulle gebeur toe die Vloedwater neergestort het? (b) Waarvoor is hierdie engele verantwoordelik?
17 Onthou jy toe ander engele by Satan aangesluit en teen Jehovah in opstand gekom het? Dit was kort voor die Sondvloed. Die Bybel openbaar dat die aantreklike dogters van die mense vir die engele ’n verlokking was. Party van hulle het hulle hemelse diensposisies verlaat om aarde toe te kom ten einde geslagsomgang met daardie mooi vroue te hê. Hulle optrede was net so verkeerd soos die homoseksuele dade waaraan die mense van Sodom en Gomorra hulle skuldig gemaak het (Genesis 6:1, 2; Judas 6, 7). Toe die Vloedwater neergestort het, het die engele hulle verstoflikte liggame afgewerp en teruggekeer hemel toe. Alhoewel hierdie engele die vermoë ontneem is om menslike liggame aan te neem om hulle onnatuurlike geslagsdrif te bevredig, is hulle druk besig om die mensdom sedelik te verderf. Die hedendaagse groot toename in allerhande soorte geslagsonsedelikheid is ’n regstreekse gevolg omdat hulle uit die hemel gewerp en tot die omgewing van die aarde beperk is.—1 Timotheüs 4:1; Openbaring 12:9, 12.
18. Watter getuienis van die verlede en die hede toon dat geslagsonsedelikheid een van die vernaamste maniere is wat Satan gebruik om Jehovah se knegte te verderf?
18 Die verlokking van geslagsonsedelikheid was nog altyd een van die Duiwel se vernaamste middele om Jehovah se knegte te verderf. Kort voordat God se volk Israel die Beloofde Land binnegegaan het, het Satan aantreklike Moabities vroue as lokaas gebruik om die Israeliete van Jehovah se diens af weg te lok. Duisende Israeliete is “gevang” en het hulle aan hoerery skuldig gemaak sodat hulle om die lewe gebring is weens hulle oortreding (Numeri 25:1-3). Met verwysing na daardie geleentheid word Christene gewaarsku: “Laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie-en-twintigduisend geval” (1 Korinthiërs 10:7, 8, 11). Hierdie listige plan van Satan was destyds geslaagd, en dit is vandag nog geslaagd. Meer mense word weens geslagsonsedelikheid uitgesit as weens alle ander redes tesame.
19. (a) Waarom maak so baie van Jehovah, se knegte hulle aan geslagsonsedelikheid skuldig wanneer hulle weet dat dit God mishaag? (b) Wat sal help om te voorkom dat jy jou aan geslagsonsedelikheid skuldig maak?
19 Maar waarom maak so baie van Jehovah se knegte hulle aan hoerery en owerspel skuldig as hulle weet dat dit ’n verbreking van God se wette is? Wel, waarom het Eva God se wet oortree? Omdat Satan dit so uiters aantreklik laat lyk het; dit was ’n geleentheid wat sy gemeen het sy nie deur haar vingers kon laat glip nie. Deur middel van sy propagandakanale—die televisie, rolprente, die pers, ensovoorts—laat hy hoerery en owerspel vandag eweneens nie alleen opwindend en genotvol lyk nie, maar ook aanneemlik. Wat sal gevolglik gebeur as jy byt aan die lokaas wat deur die Duiwel se propagandakanale aangebied word? Jy sal ook “gevang” word!
Vermy onafhanklike denke
20. (a) Wat is nog ’n listige plan van die Duiwel? (b) Hoe gebruik Satan hierdie plan nou al sowat 6 000 jaar lank?
20 Reg van die begin van sy opstand af het Satan God se werkwyse bevraagteken. Hy het onafhanklike denke voorgestaan. ‘Jy kan self besluit wat goed en kwaad is’, het Satan vir Eva gesê. ‘Jy hoef nie na God te luister nie. Hy vertel nie werklik vir jou die waarheid nie’ (Genesis 3:1-5). Dit is tot vandag toe nog Satan se listige plan om God se volk met hierdie soort denke te besmet.—2 Timotheüs 3:1, 13.
21. Wat is voorbeelde van onafhanklike denke in ons dag, en wat is die gevolge?
21 Hoe word sulke onafhanklike denke geopenbaar? ’n Algemene manier is deur die raad wat deur God se sigbare organisasie gegee word te bevraagteken. God se organisasie het ons byvoorbeeld van tyd tot tyd gewaarsku om nie na sekere soorte onsedelike en suggestiewe musiek te luister nie en om nie na diskoteke en ander soorte wêreldlike danssale te gaan waar sulke musiek gespeel word en waar dit bekend is dat mense onsedelik is nie (1 Korinthiërs 15:33). Maar sekere persone was beterweterig. Hulle het in opstand gekom teen sulke raad en gedoen wat reg is in hulle eie oë. Wat was die gevolg? In die meeste gevalle het hulle hulle aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak en ernstige geestelike skade gely. Maar al het dit ook nie met hulle gebeur nie, is hulle mos laakbaar as ander hulle voorbeeld volg en slegte vrugte pluk, nie waar nie?—Mattheüs 18:6.
22. (a) Waarvan moet ons voortdurend bewus wees? (b) Wat gaan gepas in ons volgende studie bespreek word?
22 Hierdie feit kan nie genoeg beklemtoon word nie: Ons is gewikkel in ’n oorlog teen bomenslike vyande, en ons moet voortdurend daarvan bewus wees. Satan en sy demone bestaan werklik; hulle is nie sommer net hersenskimme nie. Hulle is “die wêreldheersers van die duisternis”, en ons voer ’n geestelike stryd teen hulle (Efesiërs 6:12). Dit is absoluut noodsaaklik dat ons hulle listige planne herken en nie toelaat dat ons deur hulle uitoorlê word nie. Ons gaan dus vervolgens heel gepas bespreek hoe ons ons vir die stryd teen hierdie bose geeste kan bewapen.
Kan jy hierdie vrae beantwoord?
◻ Wat is die Duiwel se doel wanneer hy Jehovah se volk listig nader?
◻ Waarom gebruik die Duiwel listige planne?
◻ Wat is van die listige planne wat Satan gebruik?
◻ Wat sal ons help sodat ons nie deur hierdie listige planne verstrik word nie?
[Prent op bladsy 18]
Die beweging van ’n bootjie wat stadig dryf, is byna onwaarneembaar. Dit kan ook die geval wees met ’n Christen wat van God en Sy organisasie af wegdryf