Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 6/1 bl. 30-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe om ’n uitgesette persoon te behandel
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Toon Christelike lojaliteit wanneer ’n familielid uitgesit is
    Ons Koninkryksbediening—2002
  • Waarom uitsetting ’n liefdevolle voorsiening is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 6/1 bl. 30-31

Vrae van lesers

♦ Hoe kan ons gemeentelede met uitgesette familielede help?

Dit is goed wanneer ouere manne en ander hartlike en liefdevolle bedagsaamheid betoon aan Christene wat in hierdie situasie verkeer, want deur vriendelikheid en begrip aan die dag te lê, kan hulle help om die emosionele en geestelike spanning wat deur die situasie geskep word, te verlig. Maar Christene met ’n uitgesette familielid, en diegene wat hulp wil verleen, moet ’n duidelike en regte beskouing van uitsetting hê.

God se Woord beveel die gemeente om diegene wat onberouvol sonde beoefen uit te sit (1 Korinthiërs 5:11-13). Dit beskerm die gemeente oor die algemeen teen besmetting en hou sy goeie naam hoog. Maar lojale Christene in die gesin, asook ander wat hulle wil help, het ook beskerming op ’n persoonlike grondslag nodig. Ons kan besef waarom dit die geval is as ons in ag neem wat die feit dat ’n persoon uitgesit is omtrent sy harttoestand openbaar. Let op die volgende twee situasies in verband met uitsetting:

Eerstens, wanneer ’n persoon ’n ernstige sonde begaan het waarvoor hy God se guns kan verloor en uitgesit kan word, vergader ’n komitee geestelike ouere manne met hom. Hy het dalk alreeds besef hoe verkeerd sy weg was, in sy hart berou gekry en begin om “werke te doen wat by die bekering pas” (Handelinge 26:20). ln daardie geval sal die ouere manne hom met God se Woord teregwys, Bybelse raad gee oor hoe hy ‘reguit paaie vir sy voete kan maak’ en saam met hom en vir hom bid. Aangesien hy berouvol is, hoef hy nie uitgesit te word of deur sy familie of ander as ’n uitgesette persoon beskou te word nie.—1 Timotheüs 5:20; Hebreërs 12:13; Jakobus 5:14-16.a

Tweedens, wanneer die komitee saam met die sondaar vergader, het hy dalk nog nie berou gekry nie. Gedurende die vergadering slaag die ouere manne dalk daarin om sy hart te bereik en hom te laat besef hoe ernstig sy sonde is. (Vergelyk 2 Samuel 12:1-13.) Aangesien hy tot op daardie stadium nog geen ‘vrugte gedra het wat by die bekering pas’ nie, moet die ouere manne natuurlik baie versigtig wees en seker maak dat hy nie net spyt of skaam is omdat sy sonde aan die lig gekom het nie (Lukas 3:8). Omdat hulle besorg is oor die gemeente, moet hulle absoluut daarvan oortuig wees dat hy nou waarlik berouvol is en gereed is om hom “tot God [te] bekeer deur werke te doen wat by die bekering pas” (Handelinge 26:20). As hulle oortuig is dat hy berouvol is, kan hy in die gemeente bly en deur die ouere manne, sy familielede en ander gehelp word.

Waarom meld ons hierdie twee aspekte? Om te toon dat indien iemand uitgesit word, hy op daardie stadium ’n waarlik slegte hart moes gehad het en/of vasbeslote moes gewees het om ’n Godonterende weg te bewandel. Petrus het gesê dat die toestand van so ’n persoon erger is as voordat hy ’n Christen geword het; hy is soos ‘’n gewaste sog wat omgedraai het om in die modder te rol’ (2 Petrus 2:20-22). Dit behoort Christenfamilielede en ander te help om God se beskouing van ’n uitgesette persoon te hê.

Maar menslike emosies en gehegtheid kan baie sterk wees en dit vir mense moeilik maak om ooreenkomstig die uitsettingsbevel op te tree indien ’n familielid daarby betrokke is. (Vergelyk Numeri 16:16-33.) ’n Getroue Christin besef byvoorbeeld dat die geestelike bande wat voorheen bestaan het, verbreek is toe haar man uitgesit is. Deur sy gedrag en die gevolge daarvan het hy ’n geestelike band tussen hom en ware Christene verbreek. Sy vrou sal voortgaan om hom as haar man en die gesinshoof lief te hê en te respekteer, net soos vrouens doen wie se mans nooit gelowiges was nie (1 Petrus 3:1, 2). Maar dit sal nie moontlik wees om geestelike omgang met hom te hê, Bybelgesprekke met hom te voer en saam met hom te bid soos tevore nie (Spreuke 28:9). Sy sal beslis van hierdie verlies bewus wees.

Lojale Christengrootouers wie se kinders uitgesit is, kan ’n ander soort verlies ondervind. Hulle was moontlik daaraan gewoond om gereeld by hulle kinders te gaan kuier, iets wat hulle die geleentheid gebied het om by hulle kleinkinders te wees. Nou is die ouers uitgesit omdat hulle Jehovah se standaarde en weë verwerp het. Die situasie in die familie is dus nie meer dieselfde nie. Die grootouers moet natuurlik bepaal of noodsaaklike gesinsaangeleenthede beperkte kontak met die uitgesette kinders vereis. En hulle kan soms reël dat die kleinkinders by hulle kuier. Hoe jammer tog dat die kinders, deur hulle onchristelike handelwyse, inbreuk maak op die normale vreugde wat sulke grootouers gesmaak het!

Hierdie voorbeelde toon waarom mede-Christene wakker moet wees vir die besondere behoefte wat kan bestaan wanneer iemand in die gemeente ’n naverwant het wat uitgesit is. Die apostel Paulus het Christene aangespoor Om ‘bemoedigend tot die terneergedrukte siele te spreek’, wat moontlik ’n goeie beskrywing van die lojale Christenfamilielid is (1 Thessalonicense 5:14, NW). Ons moet ook nie net een keer, nadat die uitsetting plaasgevind het, vertroostende, bemoedigende woorde spreek nie. Die behoefte aan versterking bestaan moontlik ’n lang tyd. ln ’n sekere sin kan dit groter word namate die getroue persoon geestelike omgang met die familielid oor ’n lang tydperk ontneem is. Dit is natuurlik nie vir ons nodig om voortdurend uitsetting in ons gesprekke te meld nie. Ons moet net moeite doen om hartlik te wees, opregte belangstelling te toon en, bowenal, oor geestelike dinge te gesels.—Spreuke 15:23; Prediker 12:10.

Veel nut kan ook gestig word deur Christelike omgang te voorsien. Soms voel ’n Christen met ’n uitgesette huweliksmaat afgesonderd. Soos reeds gemeld is, het die uitgesette huweliksmaat bewys dat hy nie die soort persoon is met wie ons wil assosieer nie. En ons moet versigtig wees dat ons nie in ’n gesprek met hom beland net omdat ons die Christeneggenote wil besoek of help nie. Ons kan dus ’n besoek aflê wanneer ons weet dat die uitgesette persoon nie tuis is nie.

Ons moet ons broers en susters met uitgesette familielede help om die waaragtigheid van die volgende geïnspireerde woorde te besef: “Daar is ’n vriend wat sterker aanhang as ’n [bloed]-broer”, of ander familielid (Spreuke 18:24). Ons sal nie al die hartseer ongedaan kan maak of kan vergoed vir die verlies wat die uitgesette persoon vir sy Christenfamilielede veroorsaak het nie. Maar as ons bewus is van die besondere behoeftes van sulke Christene, kan ‘ons die troos wat in allerhande verdrukking is’, hierdie een inkluis. En ons kan diegene met hierdie besondere behoefte liefdevol versterk.—2 Korinthiërs 1:3, 4; Hebreërs 12:12, 13.

[Voetnoot]

a Kyk Die Wagtoring van 15 November 1981, bladsye 25-27, vir ’n breedvoeriger bespreking van die verskillende faktore wat in aanmerking geneem moet word om ware berou te identifiseer, asook van wat ‘werke wat by berou pas’, behels.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel