God se Wood is lewend
Jesus Christus—Hulpelose baba of heersende Koning?
GEDURENDE die Kerstyd dink baie mense aan Jesus bloot as ’n hulpelose babatjie in ’n krip. ’n Mens sien tonele van “wyse manne” wat vir die pasgebore baba geskenke bring. Mense sê dat Jesus hierdie tyd van die jaar gebore is. Is dit wat die Bybel sê?
Slaan gerus jou Bybel oop en kyk wat dit sê. Lees Lukas 2:1-20 en Mattheüs 2:1-16 aandagtig. Ons sien dat die Bybel sê dat herders in die oop veld oor hulle skape wag gehou het toe Jesus gebore is. Aangesien Desember in Palestina die koue reënseisoen is, is dit onwaarskynlik dat herders daardie tyd van die jaar met hulle kuddes buitekant sou wees.
Let ook daarop dat dit die tyd was toe daar van mense vereis is om na hulle eie stad te reis om hulle te laat registreer. Dit is beslis onwaarskynlik dat die Romeinse heersers sou vereis dat ’n volk wat reeds opstandig was daardie reis om hulle te laat registreer in die hartjie van die winter moes onderneem. Daar is ook ander getuienis wat bewys dat Jesus nie gedurende Kerstyd gebore is nie. (Kyk bladsy 24.)
Het jy ook opgelet dat toe die sogenaamde wyse manne vir Jesus geskenke gebring het, hy nie meer ’n babatjie in ’n krip was nie? Die Bybel sê: “Hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind” (Mattheüs 2:11). Wie was in werklikheid hierdie “wyse manne” wat nie deur die instruksies van ’n engel gelei is nie, maar deur ’n ster? Hulle was sterrewiggelaars. En hoewel sterrewiggelary onder baie mense gewild is, veroordeel God dit—Jesaja 47:12-15.
Soos die Bybelverhaal toon, is daardie sterrewiggelaars nie deur die ster na Jesus in Bethlehem gelei nie, maar eers na moorddadige koning Herodes in Jerusalem. Gestel dit was God wat die ster gebruik het om die sterrewiggelaars te lei. Sou hy hulle eers na Jerusalem gelei het sodat hulle met daardie gevaarlike koning in aanraking kon kom? Beslis nie!
Toe die, ster die sterrewiggelaars eindelik na Jesus gelei het, het God ingegryp en daardie manne in ’n droom gewaarsku om nie na Herodes terug te gaan nie. So het God Jesus se lewe gered. Hoe weet ons dit? Omdat Herodes, toe hy verneem het dat die sterrewiggelaars gevlug het sonder om aan hom verslag te kom doen, probeer het om Jesus dood te maak. Maar teen daardie tyd net God gesorg dat Jesus weggeneem is. Daardie ster was in werklikheid ’n plan van Satan die Duiwel om Jesus om die lewe te laat bring!
Dit is vandag ook ’n plan van die Duiwel om mense slegs aan Jesus as ’n hulpelose babatjie te laat dink. Maar hy is nie meer ’n babatjie nie! Voordat Jesus gebore is, het die engel Gabriël vir sy moeder gesê: “Hy sal koning wees . . . en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Lukas 1:33). Jesus Christus heers nou as ’n magtige koning in die hemel, en as ons die lewe onder sy Koninkryksheerskappy wil ontvang, is dit noodsaaklik dat ons hierdie feit erken—Jesaja 9:5, 6.
[Prent op bladsy 22]
Wat omtrent hierdie toneel is nie juis nie?
[Prent op bladsy 23]
Die “wyse manne” het ’n ster gevolg—wie was verantwoordelik vir die ster?
Hoe beskou jy Jesus?