Jesus se lewe en bediening
Jesus en die sterrewiggelaars
’N AANTAL manne kom van die Ooste af. Hulle is sterrewiggelaars—mense wat beweer dat hulle die stand van sterre kan uitlê. Terwyl hulle in die Ooste was, het hulle ’n nuwe ster gesien en dit honderde kilometers na Jerusalem gevolg.
Toe die sterrewiggelaars in Jerusalem aankom, vra hulle: ‘Waar is die kindjie wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster gesien en het gekom om voor hom neer te buig.’
Toe koning Herodes in Jerusalem hiervan hoor, is hy baie ontsteld. Hy laat die owerpriesters roep en vra: ‘Waar sou die Christus gebore word?’ Op grond van die Skrif antwoord hulle: ‘In Betlehem.’ Herodes ontbied toe die sterrewiggelaars en sê vir hulle: ‘Gaan soek die kindjie, en wanneer julle hom vind, moet julle terugkom en vir my sê sodat ek ook voor hom kan gaan neerbuig.’ Maar Herodes wil in werklikheid die kindjie vind om hom dood te maak!
Na hulle vertrek gebeur iets verbasends. Die ster wat hulle gesien het toe hulle in die Ooste was, trek voor hulle uit. Dit is duidelik geen gewone ster nie, maar is spesiaal voorsien om hulle te lei. Die sterrewiggelaars volg dit tot dit gaan staan bo die huis waar Josef en Maria woon.
Toe die sterrewiggelaars in die huis ingaan, vind hulle Maria met haar kindjie, Jesus. Hulle kniel almal voor hom. En hulle haal uit hulle sakke geskenke: goud, wierook en mirre. Toe hulle later wil terugkeer om vir Herodes te vertel waar die kind is, waarsku God hulle in ’n droom om dit nie te doen nie. Hulle gaan dus met ’n ander pad terug na hulle eie land.
Wie dink jy het die ster voorsien wat die sterrewiggelaars gelei het? Onthou, die ster het hulle nie reguit na Jesus in Betlehem gelei nie. Dit het hulle eerder na Jerusalem gelei waar hulle in aanraking gekom het met koning Herodes wat Jesus wou doodmaak. En hy sou dit gedoen het as God nie ingegryp en die sterrewiggelaars gewaarsku het om nie vir Herodes te vertel nie. Dit was God se vyand, Satan die Duiwel, wat wou gehad het dat Jesus doodgemaak moes word, en hy het daardie ster gebruik om sy doel te probeer bereik. Mattheüs 2:1-12; Miga 5:1.
♦ Wat toon dat die ster wat die sterrewiggelaars gesien het nie ’n gewone ster was nie?
♦ Waar was Jesus toe die sterrewiggelaars hom gevind het?
♦ Hoe weet ons dat Satan die ster voorsien het om die sterrewiggelaars te lei?