Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 3/1 bl. 4-7
  • Die Bybel—Kom dit werklik van God af?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bybel—Kom dit werklik van God af?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Interne harmonie
  • Wetenskaplike akkuraatheid
  • Openhartigheid
  • Voortbestaan
  • Profesie
  • ’n Unieke bron van hoër wysheid
    Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?
  • Die Bybel—’n Boek wat van God kom
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Die Bybel – ’n Boek wat van God af kom
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Kan jy die Bybel vertrou?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 3/1 bl. 4-7

Die Bybel—Kom dit werklik van God af?

EEN ding is seker. Alles wat ’n boek sê, moet waar en akkuraat wees voordat jy dit kan aanvaar as ’n boek wat van God afkom. Die mense en plekke wat daarin gemeld word, moes werklik bestaan het. Stem jy nie saam nie? Hoe vaar die Bybel in hierdie opsig?

Beskou net een voorbeeld. Die Bybel identifiseer Pontius Pilatus as die goewerneur van Judea gedurende die aardse bediening van Jesus Christus (Lukas 3:1, 2). Maar het Pilatus werklik gelewe? En indien wel, was hy waarlik die heerser van Judea?

Daar was lank geen bevestiging hiervoor nie. Maar in 1961 is ’n merkwaardige ontdekking by Cesarea gedoen. ’n Klip met ’n inskripsie daarop wat oorspronklik deel was van ’n tempel ter ere van keiser Tiberius is gevind. Die Latynse inskripsie lui: “Pontius Pilatus, die Prefek van Judea, het ’n tempel ter ere van Tiberius aan die mense van Cesarea toegewy.” Die Bybel se geskiedkundige akkuraatheid is bevestig! En daar is ’n mag der menigte ander voorbeelde wat toon dat die Bybel geskiedkundig en geografies akkuraat en betroubaar is.

‘Wag ’n bietjie’, sê jy dalk. ‘Die feit dat ’n boek akkuraat is, bewys nie dat dit van God afkom nie!’ Dit is waar. Die Bybel se akkuraatheid is nie op sigself bewys van goddelike inspirasie nie. Die Bybel bevat egter getuienis wat bewys dat dit veel meer as ’n akkurate geskiedenisboek is. Talle opregte Bybelstudente is dus daarvan oortuig dat die Bybel werklik van God af kom. Jy is daarop geregtig om te weet wat hulle oortuig het. Kom ons ondersoek nou vyf bewyse.

Interne harmonie

Gestel dat veertig mense gevra is om dele van ’n boek te skryf. Hulle agtergronde het verskil. Party was geleerd, ander was nederige boere of herders. Boonop het nie almal van hulle mekaar geken nie. Trouens, die meeste van hulle het op verskillende tye en plekke gelewe. Wat dink jy sou die kanse wees dat hulle geskrifte almal tot in die fynste besonderhede ooreen sou stem? ‘Onmoontlik!’ sê jy? Wel, dit is presies die omstandighede waaronder die Bybel geskryf is.

As net een voorbeeld van die harmonie van die skrywers kan ons nou kyk na hulle konsekwente uitbeelding van Jehovah God. Soos jy in die Bybel kan sien, bevat die verskillende dele ’n harmoniese beskrywing van die persoon sowel as die persoonlikheid van Jehovah God. Hy is tydeloos, oneindig (Psalm 90:2; Habakkuk 1:12. NW; Openbaring 10:6; 15:3, NW). Hy is onsigbaar vir mense-oë (Exodus 33:20; Johannes 1:18; 1 Timotheüs 1:17). Wanneer die Bybelskrywers gesigte van sy teenwoordigheid gehad het, het hulle groot waardigheid en majesteit, asook kalmte, orde en skoonheid beskryf (Exodus 24:9-11; Esegiel 1:26-28; Openbaring 4:1-3). Deur die hele Bybel heen word daar herhaaldelik getoon dat liefde, wysheid, geregtigheid en mag God se oorheersende eienskappe is.

Die Bybel se interne harmonie—ondanks sy vele skrywers—is tog seker ’n aanduiding dat dit ’n bomenslike bron het.

Wetenskaplike akkuraatheid

Kom ons beskou nou een of twee van die Bybel se kommentare oor wetenskaplike aangeleenthede. Waarom is dit betekenisvol? Om verskeie redes: (1) Dit strook met wetenskaplike feite; (2) dit weerspieël kennis wat menslik onbekombaar was toe dit geskryf is; en (3) dit verskil hemelsbreed van die verkeerde beskouings wat destyds gehuldig is.

Jy het moontlik gehoor dat die Bybel sê dat ons aarde aan niks hang nie en rond is (Job 26:7; Jesaja 40:22). ‘Waarom is dit so merkwaardig?’ vra jy moontlik. Hou in gedagte dat hierdie Bybelse kommentare strook met bewese wetenskaplike feite en ’n teenstelling vorm met antieke mites oor die vorm van die aarde en hoe dit in posisie gehou word. Tot ’n paar honderd jare gelede het die meeste mense, selfs wetenskaplikes, immers geglo dat die aarde plat is! Dit is dus buitengewoon dat die Bybelskrywers duisende jare gelede oor hierdie feite omtrent die aarde beskik het, en dit sonder hedendaagse wetenskaplike instrumente!

Hier is nog ’n voorbeeld. In die dae van Moses was dit die gebruik in Egipte om mensedrek of dieremis in die behandeling van sekere kwale aan te wend. Moses is bowendien in Egipte grootgemaak en “is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars” (Handelinge 7:22). Maar die dinge wat hy in Deuteronomium 23:12, 13 neergeskryf het, is heeltemal vry van die verkeerde—trouens, skadelike—mediese gebruike van Egipte. Volgens hierdie woorde moes mensedrek in eertydse Israel as onrein beskou word, as iets wat ver weg van digbevolkte gebiede en watervoorrade begrawe moes word. Soos jy weet, stem die hedendaagse mediese wetenskap daarmee saam.

Is hierdie voorbeelde nie ’n verdere blyk dat die informasie wat deur die Bybelskrywers opgeteken is ’n bomenslike bron gehad het nie?

Openhartigheid

Nog iets wat die Bybel identifiseer as ’n boek wat van God afkom, is die openhartigheid van die skrywers daarvan. Waarom? Dit druis onder meer teen die sondige menslike natuur in om jou foute te erken, veral nie skriftelik nie. In hierdie opsig verskil die Bybel van ander antieke boeke. Maar dit is nie al nie. Die openhartigheid van die skrywers verseker ons van hulle algemene eerlikheid. Hulle sou tog immers nie hulle swakhede openbaar en dan valse bewerings oor ander dinge maak nie, of hoe? Indien hulle enigiets wou verdraai, sou dit tog die ongunstige informasie oor hulleself wees, nie waar nie? Die openhartigheid van die Bybelskrywers staaf gevolglik hulle verklaring dat God hulle gelei het wanneer hulle dinge neergeskryf het.—2 Timotheüs 3:16.

Moses is ’n voorbeeld van so ’n openhartige skrywer. Hoewel hy die leier van die nasie Israel, die middelaar van die Wetsverbond, profeet en regter was, het hy Israel nie in die Beloofde Land ingelei nie. Waarom nie? Volgens Numeri 20:1-13 het Moses ’n ernstige fout begaan. Lees self hoe hy ‘ontrou gehandel’ het en “onverskillig gepraat het met sy lippe” deur nie God se naam te verheerlik nie. Wie het die verhaal in die Bybelboek Numeri opgeteken? Moses, wat openhartig ’n permanente verslag van sy eie tekortkominge op skrif gestel het!—Deuteronomium 32:50-52; Psalm 106:32, 33.

Beskou vervolgens die tekortkominge van die apostels van Jesus Christus. Soms was hulle stadig van begrip (Mattheüs 16:5-12), kleingelowig (Mattheüs 17:18-20) en eersugtig (Mattheüs 18:1-6; 20:20-28). Hulle het Jesus dan selfs verlaat op die nag dat hy in hegtenis geneem is! (Mattheüs 26:56). Het jy opgemerk dat al hierdie tekortkominge opgeteken is deur Mattheüs, een van die 12 apostels?

Stem jy nie saam dat die openhartigheid van die Bybelskrywers verdere bewys is dat die Bybel meer as ’n blote menslike boek is en klaarblyklik ‘nie die woord van mense nie, maar die woord van God’ bevat nie?—1 Thessalonicense 2:13.

Voortbestaan

Die feit dat die Skrif behoue gebly het, dui ook daarop dat die Bybel werklik van God af kom. Beskou hierdie twee redes:

(1) Aangesien die Bybelskrywers oorspronklik op verganklike materiaal geskryf het, moes die Skrifte talle kere deur die eeue heen met die hand oorgeskryf word om hulle vir toekomstige geslagte te bewaar. Waarom is dit so merkwaardig? Nie net omdat menslike foute kon insluip nie, maar ook omdat daar doelbewus probeer is om met die teks te peuter. Nogtans het die Bybel verbasend akkuraat by ons uitgekom, soos die ontdekking van antieke Bybel-manuskripte bevestig.a

(2) Die Bybel se voortbestaan is des te verbasender as jy in ag neem dat dit hewige teenstand verduur het. Daar was tye toe pouse en konsilies mense op straf van ekskommunikasie verbied het om die Bybel te lees. Talle Bybelliefhebbers het op die brandstapel gesterf. Maar die Bybel het al hierdie teenstand oorleef en die wêreld se grootste suksesboek geword.

Geen ander boek in die mensegeskiedenis het akkuraat behoue gebly ondanks herhaalde afskrywery deur onvolmaakte mense en eeue van bittere aanvalle deur vyande nie. Is dit nie afdoende bewys dat die Bybel “die woord van die Here” bevat wat “tot in ewigheid” bly nie?—1 Petrus 1:24, 25.

Profesie

Die sterkste bewys dat die Bybel van God af kom, is moontlik die vervulling van die talle profesieë daarin. Watter man kan die toekoms honderde, selfs duisende jare voor die tyd met onfeilbare akkuraatheid haarfyn voorspel? Mense vind dit moeilik om die weer net ’n paar uur voor die tyd te voorspel!

‘Maar hoe weet ons dat Bybelprofesie werklik voor die tyd geskryf is?’ vra jy miskien. Om die antwoord daarop te kry, kan jy na Jesaja 13:19, 20 blaai en Jesaja se profesie aangaande die vernietiging van antieke Babilon lees. Let op dat Jesaja nie net die vernietiging van Babilon voorspel het nie. Hy het ook gesê: “Mense sal daar [in Babilon] in ewigheid nie woon nie.” Babilon is tot vandag toe verlate. Hoe kon Jesaja ooit hierdie profesie na die vervulling geskryf het?

Hoewel Babilon in 539 v.G.J. deur die Meders en die Perse verower is, is Jesaja se profesie destyds nie volledig vervul nie. Trouens, daar het nog tot in die eerste eeu G.J. mense in Babilon gewoon (1 Petrus 5:13). Babilon was klaarblyklik eers in die vierde eeu G.J. verlate, sodat Jesaja se woorde heeltemal vervul is. Daar bestaan geen twyfel dat Jesaja sy boek voor daardie tyd geskrywe het nie, want selfs die Dooie See-rolle (Bybelmanuskripte wat eers in 1947 ontdek is) bevat ’n afskrif van Jesaja wat uit die eerste of tweede eeu v.G.J. dateer.

Die Bybel bevat talle ander profesieë wat eers eeue later vervul is. ’n Studie van die Bybel toon daarbenewens dat dit profesieë bevat waarvan jy vandag die vervulling sien. (Kyk die bygaande venstertjie.) Kan daar enige twyfel bestaan dat die Bybelskrywers woorde wat van God kom, gespreek het?

Watter gevolgtrekking het jy gemaak nadat jy die getuienis oorweeg het? Verdien die Bybel nie minstens ’n ondersoek nie? Daar bestaan gebiedende rede vir jou om dit te ondersoek. Soos ons in die vorige artikel gemeld het, het daar nog nooit in die geskiedenis ’n groter behoefte aan betroubare leiding in menslike aangeleenthede bestaan nie. Die Bybel bevat beginsels wat jou kan help om ekonomiese ontberinge te verduur, in vrede met jou medemens te lewe en ’n gelukkige gesinslewe te bou indien jy hulle toepas. Wat van die aardomvattende probleme wat buite die mens se beheer is? Die Bybel leer dat God se koninkryk in die hande van Christus dit in die nabye toekoms permanent gaan oplos.

Wil jy graag meer omtrent hierdie dinge weet? Tree gerus plaaslik met Jehovah se Getuies in verbinding of skryf aan die uitgewers van hierdie tydskrif. Jy kan slegs baat daarby vind.

[Voetnoot]

a Kyk die boek Aid to Bible Understanding, bladsye 1106-1110, uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.

[Venster op bladsy 7]

Bybelprofesieë waarvan ons die vervulling gesien het

1. Wêreldoorloë (Openbaring 6:3, 4)

2. Geweldige voedseltekorte, met stygende voedselpryse (Openbaring 6:5, 6; Mattheüs 24:7)

3. ’n Vermeerdering in misdadigheid (Mattheüs 24:12; 2 Timotheüs 3:1-5)

4. ’n Vermeerdering in aardbewings (Lukas 21:11)

5. Die verderwing van die aarde, soos met dodelike besoedeling (Openbaring 11:18)

6. Die wêreldwye verkondiging van die evangelie van God se koninkryk deur Jehovah se Getuies (Mattheüs 24:14)

[Prent op bladsy 5]

Manne wat op die maan geloop of om die aarde gewentel het, kan van die Bybel se wetenskaplike akkuraatheid getuig

[Prent op bladsy 6]

Waarom is dit betekenisvol dat Moses sy ernstige fout opgeteken het?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel