Die Bybel—Het ons dit nodig?
“DIT is onmoontlik om die wêreld regverdig te regeer sonder God en die Bybel.” Dit was die woorde van George Washington, die eerste president van die Verenigde State. Stem jy saam? Kyk ’n bietjie wat om jou gebeur.
Inflasie: Sedert die begin van die Tweede Wêreldoorlog het die koopkrag van baie lande se geld afgeneem, iets waarvan jy moontlik pynlik bewus is. Volgens U.S. News & World Report het, “inflasie se uitwerking op die dollar pryse sedert 1939 met sowat 579% laat styg”.
Oorlog: Die twee wêreldoorloë van hierdie eeu het tienmiljoene lewens geëis—onder soldate sowel as burgerlikes. Van 1945 tot 1978 het vyf-en-twintig-miljoen soldate in nagenoeg honderd-en-vyftig oorloë gesneuwel. Die nasies se krygsbesteding beloop op die oomblik meer as R570-miljard per jaar. Dit is meer as ’n miljoen, rand per minuut!
Egskeiding: In Japan is daar elke vier minute ’n egskeiding. In die Verenigde State loop een uit elke twee huwelike op ’n egskeiding uit. In die Sowjet-Unie is dit 30 uit elke 100. Dit is maar net ’n aanduiding van ’n wêreldwye tendens.
Misdadigheid: Gewelddadige misdade neem in land na land met rasse skrede toe. In die Verenigde State word daar byvoorbeeld elke 24 sekondes ’n gewelddadige misdaad gepleeg. Daar is elke 23 minute ’n moord, elke 9 minute ’n verkragting, elke 58 sekondes ’n roof. En dit lyk of misdadigheid betaal, want in slegs 19 persent van die gevalle word die misdade opgelos en die misdadigers in hegtenis geneem.
Voedselskaarste: Hoewel die wêreld se voedselproduksie die afgelope 30 jaar bestendig toegeneem het, ly meer mense vandag honger as ooit tevore. Nagenoeg vyfhonderdmiljoen mense—of een uit elke nege—ly aan ernstige ondervoeding; die probleem bestaan selfs in “gevorderde” nasies.
Al hierdie probleme bestaan en vererger ondanks die pogings van ekonome, politici, huweliksraadgewers, psigiaters en talle ander deskundiges. Is dit nie duidelik dat ons persoonlik, en die wêreld oor die algemeen, leiding uit ’n bomenslike bron nodig het nie?
Die Bybel maak daarop aanspraak dat dit sulke leiding bied. “Die gees van die HERE spreek in my”, het die Bybelskrywer Dawid gesê (2 Samuel 23:2). Die apostel Petrus het bygevoeg dat Bybelse profete “deur die Heilige Gees gedrywe . . . van God gespreek” het.—2 Petrus 1:20, 21.
Jy besef natuurlik dat die feit dat ’n boek daarop aanspraak maak dat dit van God af kom, nie bewys dat dit wel die geval is nie. Jy moet dus vasstel: Is daar bewys, afdoende bewys, dat die Bybel werklik van God af kom?