Voel jy geneentheid vir Jehovah?
DIE liefde het baie fasette. ’n Vurige jong man is dalk verlief op ’n pragtige meisie. Daar is die liefde van ’n moeder vir haar kind. En daar is die liefde wat Christene saamsnoer in ’n aardomvattende broederskap.
Al hierdie dinge is “liefde”, maar die Grieke het verskillende woorde vir die verskillende soorte liefde. Éros is die liefde wat geassosieer word met geslagsaantrekking. Storgé dui liefde aan wat op verwantskap berus. En agápe—onselfsugtige liefde wat op beginsel gebaseer is—is die liefde wat ware Christene oor die hele aarde onder mekaar het.—Johannes 13:34, 35.
Tere geneentheid
Maar wanneer skrywers van die Christelike Griekse Skrifte liefde wil beklemtoon wat besonder innig en teer is, gebruik hulle die woord philía. Dit sien op ’n hegte, innige, persoonlike band, soos die wat tussen ware vriende bestaan. Jehovah het so ’n besondere geneentheid vir sy eniggebore Seun. Jesus het gevolglik van homself gesê: “Die Seun kan nie ’n enkele ding uit homself doen nie, maar slegs wat hy die Vader sien doen. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so. Want die Vader voel geneentheid vir die Seun en toon hom alles wat hy self doen.” En van sy ware volgelinge het Jesus eweneens gesê: “Die Vader self voel geneentheid vir julle, omdat julle geneentheid vir my gevoel het en geglo het dat ek as die verteenwoordiger van die Vader uitgegaan het.”—Johannes 5:19, 20, NW; 16-27, NW.
In die Christelike Griekse Skrifte sien “geneentheid” op ’n innige, persoonlike soort liefde. Dit blyk uit die feit dat wanneer dit vertaal word, dit dikwels gepaard gaan met die woord “tere”. Die apostel Paulus vermaan Christene byvoorbeeld: “Voel in broederlike liefde tere geneentheid vir mekaar” (Romeine 12:10, NW). Die dissipel Jakobus haal daarbenewens die volharding van Job en die wyse waarop Jehovah sake laat verloop het aan as bewys “dat Jehovah baie teer in geneentheid en barmhartig is”—Jakobus 5:11. NW.
Is geneentheid vir Jehovah moontlik?
Jehovah kan dus tere geneentheid voel vir mense wat hulle onkreukbaarheid handhaaf, al is hulle onvolmaak. Maar is dit, in die lig van die feit dat geneentheid ’n hegte, innige liefde vir iemand beteken, moontlik vir onvolmaakte mense om geneentheid vir die Universele Soewerein, Jehovah, te voel?
Ja, dit is moontlik. ’n Besondere voorbeeld van ’n persoon wat innige geneentheid vir Jehovah gehad het, was Dawid. Dit blyk uit sy talle psalms. Hy het Jehovah se liefdevolle sorg as ’n Herder baie waardeer.—Psalm 18:1, NW; 23:1-6.
Jehovah kan so na aan en so wesenlik vir ons wees dat ons ’n persoonlike geneentheid of liefde vir hom kan voel. Trouens, dit is duidelik uit die eerste en grootste gebod dat ons hierdie hegte, innige geneentheid vir ons Maker moet voel. Volgens daardie gebod moet ons ‘Jehovah uit ons hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en ons hele krag liefhê’.—Markus 12:29, 30.
Hoe om innige geneentheid vir Jehovah aan te kweek
Hoe kan ons dan hierdie innige geneentheid vir Jehovah aankweek? Deur immer toenemende waardering te verkry vir hom as liefdevolle hemelse Vader. Ons kan dit doen deur tyd af te staan om sy Woord, die Bybel, gereeld te lees. Ons sal dit veral nuttig vind om gedeeltes soos die Psalms, die Evangelies en die briewe van die apostels te lees.
Nog ’n groot hulp om innige geneentheid vir Jehovah aan te kweek, is die verkryging van die gees van waardering en dankbaarheid vir sy talle seëninge. Beskou alle goeie dinge as dinge wat van hom afkom, want “elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal [inderdaad] . . . van die Vader van die ligte” af neer. Daar is voorwaar talle Skriftuurlike vermanings om God te dank, veral in die boek Psalms en in die briewe van Paulus. Die volgende woorde van die apostel is tipies: “Terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van ons Here Jesus Christus.”—Jakobus 1:17; Efesiërs 5:20.
Gebed—hartgrondige, opregte en nederige versoeke en smeekbedes tot ons liefdevolle hemelse Vader—is nog ’n hulp om groter geneentheid vir Jehovah God te verkry. In gebed wy ons uit oor Jehovah se goeie eienskappe, sy goedheid teenoor ons en ons afhanklikheid van hom. En in gebed smeek ons hom ook om vergifnis van ons sondes, soos Dawid in Psalm 51 gedoen het. Dit is te begrype dat hierdie dinge ons nader aan Jehovah sal bring en ons geneentheid vir hom sal versterk.
Hoe geneentheid vir Jehovah ons help
Wat is die gevolg as ons hierdie innige, persoonlike geneentheid vir Jehovah God aankweek en hom waarlik uit ons hele hart, siel, verstand en krag liefhet? Dit sal ons help om die weg te bewandel wat vir God welgevallig is en sal ons baie pyn en hartseer bespaar. Christene wat in die moeilikheid beland weens ernstige oortredings van God se regverdige wette het heel waarskynlik versuim om hierdie intieme verhouding met die hemelse Vader aan te kweek.
Daar was byvoorbeeld ’n jong Christen, skaars twintig jaar oud, wat die voorreg van voltydse diens gehad het. Maar hy het onverskillig geraak wat die “werke van die vlees” betref en moes getugtig word (Galasiërs 5:19-21). Toe die erns van sy oortreding by hom tuisgebring is, was hy opreg berouvol. Hy het egter die ding wat voor in sy gedagte moes gewees het, naamlik die smaad wat sy eiesinnige weg Jehovah se naam aangedoen het, uit die oog verloor. As hierdie jong man ’n intieme, persoonlike verhouding met sy hemelse Vader gehad het, sou dit hom waarskynlik van sy verkeerde daad weerhou het.
Jesus het vir Petrus gevra of hy nie net liefde nie, maar ook geneentheid vir sy Heer gehad het. Toe Petrus bevestigend geantwoord het, het Jesus gesê: “Laat my skape wei” (Johannes 21:15-17, vgl. NW). Dit geld ook as ons geneentheid vir Jehovah voel. Sulke geneentheid sal dit vir ons ’n saak van erns maak om God te behaag deur sy gebooie te hou. Dit sal dit vir ons ’n saak van erns maak om hom nie te mishaag nie, sodat ons nie sy gevoelens seermaak nie. Soos die apostel Paulus ons herinner, sal Jehovah geen welbehae in ons hê as ons versuim om sy wil te doen nie. Ons wil beslis nie hê dat dit met ons moet gebeur nie, of hoe? (Hebreërs 10:38, 39). Hoeveel beter is dit tog geloof in en ware, innige geneentheid ons liefdevolle God te hê!
Laat ons dus ’n innige geneentheid vir Jehovah God aankweek. Ons kan dit doen deur sy Woord te lees, deur in die gees van danksegging oor sy goedheid na te dink, deur in die gebed te volhard en deur hom te probeer behaag met ons gedrag en ons ywerige verkondiging van sy naam en koninkryk.