God se naam in die “Nuwe Testament”
DIE meeste vertalings van die “Nuwe Testament” gebruik geen onderskeidende naam vir die almagtige God nie. Waarom nie? Is dit omdat hulle die Griekse teks nougeset volg? In die meeste gevalle is dit klaarblyklik nie hulle vernaamste oorweging nie, want hulle gebruik ook nie die naam Jehovah in die “Ou Testament” nie. Benewens die woorde vir Here en God kom die eienaam van God bykans 7 000 keer in die oorspronklike Hebreeus voor.
Party vertalers het egter besef dat die goddelike naam in die “Nuwe Testament” hoort, al is dit nou om geen ander rede nie as dat dit regstreekse aanhalings uit die Hebreeuse Skrifte bevat waar die naam gebruik word. Dit is dus interessant dat daar ten minste vyf vertalings van die “Nuwe Testament” in Duits is wat die goddelike naam bevat.
Publikasies van die Wagtoringgenootskap het al in die verlede na een van hulle verwys, naamlik die vertaling deur Dominikus von Brentano in 1796, wat die goddelike naam twee keer in sy hoofteks gebruik. Nog twee vertalings gebruik daardie naam in Markus 12:29—een, ’n vertaling deur Stolz, wat in 1781 in Zurich, Switserland, gepubliseer is, en die ander, ’n vertaling deur professor dr. Johann Babor, wat in 1805 in Wenen, Oostenryk, gepubliseer is. Daar is ook die sogenaamde Bonner-Bybel wat deur professor D. P. Dausch vertaal is en in 1932 in Bonn, Duitsland, gepubliseer is, wat “Jahve” in Lukas 20:37 gebruik.
’n Ander Duitse vertaling gebruik die naam, Jehovah, tien keer in die “Nuwe Testament”. Dit is die vertaling van die New Testament of the Holy Scriptures wat uit twee bundels bestaan en in 1789 en 1790 in München, Duitsland, verskyn het. Alhoewel die naam van die vertaler nie verstrek word nie, sê die boek Die Bibel in Deutschland op bladsy 281: “Die vertaling is deur [Sebastian] Mutschelle. Hy is op 18 Januarie 1749 in Allershausen bei Freising gebore en het op ’n jeugdige leeftyd by die Jesuïete-orde aangesluit.”
Die goddelike naam kom nie alleen in Duitse vertalings van die “Nuwe Testament” voor nie, maar in sowat 50 ander tale, Hebreeus inkluis.
[Lokteks op bladsy 6]
Waarom dit jou aangaan
‘Maar watter verskil maak dit of ons God se naam gebruik of nie?’ kan iemand vra. Dit maak ’n groot verskil! Dink ’n bietjie: Dit sê in die “Nuwe Testament” dat God “uitgesien het om ’n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem” (Handelinge 15:14). Kan jy werklik gereken word as ’n lid van die volk wat God as sy eie uitverkies het as jy nie daardie naam ken en dit nie gebruik nie? Ons moet nie alleen God se naam ken nie, maar dit voor ander loof, soos Jesus Christus gedoen het toe hy op aarde was.—Mattheüs 6:9; Johannes 17:6, 26.