Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 11/15 bl. 8-11
  • Sagmoedigheid het krag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sagmoedigheid het krag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Voorbeeld uit die geskiedenis
  • Is sagmoedigheid ’n teken van swakheid?
  • Hoe om sagmoedigheid te verkry
  • Ander het geslaag
  • Waar lê die krag?
  • In die gesinskring
  • In die gemeente
  • In omgang met ons bure
  • Waarom moet ons ons met sagmoedigheid beklee?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Lê “alle sagmoedigheid teenoor alle mense” aan die dag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Sagmoedigheid – Hoe help dit ons?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Sagmoedigheid—’n noodsaaklike Christelike eienskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 11/15 bl. 8-11

Sagmoedigheid het krag

’N VRAGMOTORBESTUURDER het ’n motor voorgekeer wat van voor af gekom het. Die bestuurder het hom verblind omdat hy nie die ligte van sy motor gedemp het nie. Die vragmotorbestuurder het ’n ysterstaaf gevat en albei kopligte van die stomme motorbestuurder se motor stukkend geslaan. Toe is hy vort en het hy die arme motorbestuurder agtergelaat met ’n motor wat hy nie langer kon bestuur nie. Klink so ’n voorval vir jou bekend?

Miljoene mense beantwoord enigiets waarmee hulle nie gediend is nie met geweld. Hulle sê die ander persoon sleg of gebruik geweld, ’n Gebrek aan sagmoedigheid is besig om soos ’n aansteeklike siekte te versprei. Al hoe meer mense kom tot die gevolgtrekking dat dit nutteloos is om sagmoedig te wees, aangesien ’n mens skynbaar baie meer uitrig as jy jouself laat geld. Maar is dit so?

’n Voorbeeld uit die geskiedenis

Groot druk is op die man uitgeoefen, ’n Groot menigte met swaarde en stokke het gekom om hom in hegtenis te neem. Toe het ’n goeie vriend ’n swaard uitgetrek en die oor van ’n persoon in die onvriendelike menigte afgekap. Die atmosfeer was gespanne. Wat sou die gearresteerde man op hierdie kritieke tyd doen?

Die man was Jesus Christus. Let op sy reaksie. Jesus het vir die man wat hom probeer red het, gesê: “Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan. Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie?” (Mattheüs 26:47-53). In plaas daarvan om ’n gebrek aan sagmoedigheid aan die dag te lê, het Jesus die gewonde man se “oor aangeraak en hom gesond gemaak”.—Lukas 22:51.

Is sagmoedigheid ’n teken van swakheid?

Die sagmoedigheid wat Jesus geopenbaar het, kan beslis nie toegeskryf word aan ’n swak persoonlikheid nie. Jesus was manlik en sterk, is deur die krag van sy hemelse Vader onderskraag en het sy standpunt ingeneem vir wat reg is. Onthou jy wat hy aan die begin van sy bediening gedoen het? Hy het na die tempel in Jerusalem gegaan, en toe hy die persone sien “wat beeste en skape en duiwe verkoop, en die geldwisselaars wat daar sit” het hy ’n sweep van toutjies gemaak en “almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste”. (Johannes 2:14, 15; kyk ook Mattheüs 23:13-36.) Geen teken van swakheid hier nie!

Deur sy voorbeeld het Jesus getoon dat sagmoedigheid nie net ’n uiterlike vertoon van kalmte is nie, maar ’n weerspieëling van God se sterk dog sagte persoonlikheid. Jehovah is sterk, want hy duld nie sonde nie. Hy haat dit met sy hele wese en is baie uitgesproke daaromtrent (Spreuke 6:16-19). Maar danksy sy sagmoedigheid het God ’n weg voorsien waarvolgens die gevalle mens met hom versoen kan raak deur die losprysoffer en priesterlike dienste van Jesus Christus (Romeine 5:10; 1 Timotheüs 2:5, 6; Hebreërs 4:14-16). Jehovah se sagmoedigheid lei gevolglik tot ’n volkome reiniging van sonde (1 Johannes 1:9). Sagmoedigheid het dus krag, selfs krag om te red.

Hoe om sagmoedigheid te verkry

Onvolmaakte Christene weet dat sagmoedigheid nie ’n sterk krag in hulself is nie. Omdat ons as deel van Adam se nageslag in sonde gebore is, het ons almal gevalle vleeslike neigings en was ons vervreemd van die lewe van God (Efesiërs 2:3; 4:17, 18). Ons het nie geloof en hoop gehad nie, en het waarskynlik ook gefrustreerd en onveilig gevoel. Dit is maklik om te sien hoe hierdie gemoedstoestand ’n teelaarde vir ’n gebrek aan sagmoedigheid kan wees. (Vergelyk Spreuke 25:28.) Maar wat het gebeur nadat ons God se weë leer ken en sy vergifnis vir sondes ontvang het? Ons geloof het toegeneem en ons het al hoe meer die vrug van God se gees, wat sagmoedigheid insluit, aangekweek.—Galasiërs 5:22.

Dit is dus nie aan ons eie wilskrag te danke dat enigeen van ons hierdie goeie karaktertrek kon verkry nie. Sagmoedigheid spruit eerder voort uit toenadering tot God as ons bron van krag. Ons opregte begeerte om Jesus se voorbeeld na te volg, help ons verder om met sagmoedigheid op te tree.

Soos 1 Petrus 3:3, 4 toon, word sagmoedigheid geassosieer met die “verborge mens van die hart” aangesien dit ’n innerlike karaktertrek is. Dit is nie een wat natuurlik oorgeërf word nie, maar word verkry as ’n vrug van God se gees en deur juiste kennis en die toepassing van sy Woord. Sagmoedigheid is deel van die “nuwe persoonlikheid” wat gevorm word na Jehovah God (Kolossense 3:10, NW). Maar is dit maklik om goddelike sagmoedigheid te verkry?

Ander het geslaag

“Nee, dit is nie maklik nie” is die antwoord van een lang, fris man. “Ek was ’n bokser. Maar buitekant die kryt, in my eie dorp, is ek ‘die skrik van die buurt’ genoem. My fisiese krag het my belangrik laat voel, en ek het straatgevegte geniet. Ek het tuis ook ‘n groot gebrek aan selfbeheersing gehad. Ek onthou dat ek eenkeer die kelderdeur en die yskas met twee skoppe stukkend geskop het. Soms het ek my geskaam, veral wanneer ek te midde van my eie braaksel dronk in die voortuin gelê het. Op sulke tye het ek tot God gebid om hulp. Toe het ek meer kontak met Jehovah se Getuies gehad. Agt jaar gelede het ek my laaste glas bier gedrink.

“Ek het gesukkel om my humeur te beteuel. Maar wanneer ek nou van huis tot huis preek, kan ek met mense redeneer sonder om my vir hulle te vererg. Die liefde onder my geestelike broers het my gehelp om ’n sagmoedige gees te ontwikkel, hoewel ek voortdurend teen ou neigings moet stry. As ‘n Christen-ouere man het ek simpatie met ander wat dieselfde stryd voer, maar ek weet dat dit moontlik is om te slaag.”

Of beskou die geval van ’n sekere Ambonese vrou. Sy was baie opvlieënd en het ’n mes onder haar bloes gedra. In haar woedebuie het sy verskeie persone beseer. Toe het sy Bybel waarheid leer ken. En wat sê sy nou, nadat sy twintig jaar lank ’n Christengetuie van Jehovah is? “Ek het besef dat ek Jehovah nie met so ’n slegte humeur kon aanbid nie. Met sy hulp het ek dus verander, alhoewel ek steeds met myself moet baklei om kalm te bly.”

Hierdie voorbeelde toon dat ’n persoon wat sagmoedigheid wil verkry, die verkeerde denke en dade moet vermy wat so algemeen in die wêreld om ons voorkom. Dit is soos die apostel Paulus gesê het toe hy aan die Romeinse Christene geskryf het: “Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ’n mens behoort te dink nie” (Romeine 12:2, 3). Wanneer ons nie meer van onsself dink as wat ons behoort te dink nie en ander hoër as onsself ag, help dit ons om hulle met sagmoedigheid te behandel.—Filippense 2:3.

Waar lê die krag?

In menseverhoudinge is sagmoedigheid baie sterker as hardvogtigheid. Wanneer iemand hom in ’n moeilike situasie bevind of met ’n kwaai, ontsielde of gekrenkte persoon te doen het, sal sagmoedigheid goeie resultate behaal, want dit het ’n beter kans om ’n reaksie uit te lok wat die weg sal open om die probleem op te los. Die Bybel sê: “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af.” Ja, “’n sagte tong verbreek die gebeente”.—Spreuke 15:1; 25:15.

Watter krag het sagmoedigheid tog! Dit is die faktor wat sal bepaal of die vrede herstel sal word en of daar griewe en tweedrag sal wees en onherstelbare skade aangerig sal word. Kom ons kyk nou hoe dit vir verskeie gebiede van menseverhoudinge geld, en hoe lonend dit is.

In die gesinskring

Dit is God se voorneme dat die gesinskring ’n hartlike, liefdevolle reëling moet wees waarin daar wedersydse begrip bestaan. Maar, helaas, ons sien nou dat spanning en ’n gebrek aan selfbeheersing talle gesinne ongelukkig maak! Dit is ongetwyfeld gedeeltelik die geval omdat gesinslede mekaar so goed ken en elke lid van die gesin weens menslike onvolmaaktheid foute sal begaan. ’n Mens kan ’n bohaai daaroor maak of dit met liefde bedek.

Stel jou voor dat hardwerkende Jan tuiskom na ’n senutergende dag by die werk. Hy sien uit na ’n vrolike verwelkoming deur sy vrou. Sy sê egter: “Ek het jou spesiaal gebel om jou te vra om die kruideniersware op pad huis toe te koop. Hoekom het jy dit nie gedoen nie?”

Hoe sal Jan reageer? Hy weet God wil hê dat hy sagmoedig moet reageer, maar op so ’n oomblik kan dit baie moeilik wees om ’n sagte antwoord te gee. Gelukkig sit hy in hierdie geval sy arm om sy vrou se skouer en sê hy: “Ek het vergeet, skattebol. Ek is baie jammer. Ek sal sommer nou winkel toe gaan en dan is ek oor ’n paar minute terug.” Hy word met ’n aangename aand beloon.

Dieselfde geld vir ouers se verhoudinge met hulle kinders. Sagmoedigheid sal ouers genaakbaar maak. Onthou Jesus. Kinders het graag na hom toe gekom (Mattheüs 19:14, 15). Waarom? Omdat hy, soos hy self gesê het, “sagmoedig en nederig van hart” was (Mattheüs 11:29). Is jy as ’n ouer sagmoedig net soos Jesus was?

Wat van die gesinsverhouding wanneer die man nie ’n Christen is nie en sy vrou ’n dissipelin van Jesus Christus is? Dit is goed vir die gelowige vrou om ’n positiewe gesindheid te behou, want sy kan haar man mettertyd oorhaal om die waarheid aan te neem. Let egter op die belangrikheid van sagmoedigheid aan die kant van die vrou in sulke gevalle. Die apostel Petrus het geskryf: “Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word . . . Julle versiering moet . . . wees . . . die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.”—1 Petrus 3:1-4.

In die gemeente

Die Christengemeente is soos ’n groot gesin. (Vergelyk 1 Timotheüs 3:15). As daar ’n ware gesinsgees heers, ’n gees van sagmoedigheid waarin daar nie ’n bohaai oor foute gemaak word nie, maar hulle in liefde bedek word, sal almal in die gemeente hul bes doen om mekaar vriendelik te behandel. Dit sal vrede en eenheid in die hand werk. Veral diegene wat geestelik toesig hou, moet ’n sagte, liefdevolle gesinsgees openbaar in hulle handelinge met ander lede van die gemeente, want die apostel Paulus het geskryf: “’n Bejaarde man moet jy nie hard bestraf nie, maar vermaan hom soos ’n vader, jongeres soos broers, bejaarde vroue soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid.”—1 Timotheüs 5:1, 2.

Hierdie uitstekende raad beklemtoon hoe nodig dit is dat opsieners Christelike sagmoedigheid aan die dag moet lê. Indien ’n lid van die gemeente ’n fout begaan voordat hy daarvan bewus is, sal dit nie gepas wees om die oortreder streng te berispe nie. Waarom nie? Omdat strengheid waarskynlik gevoelens sal kwets en moontlik toorn sal laat opvlam. Daarbenewens stoot dit ander af. Opsieners moet gevolglik ag slaan op die geïnspireerde raad: “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.”—Galasiërs 6:1.

Wanneer ons sagmoedig optree, volg ons God se handelwyse met ons na. Paulus het die Christenopsiener Titus vermaan om “aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys”. Waarom? “Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ’n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.” Maar Jehovah het ons te hulp gesnel en ons gered “na sy barmhartigheid”.—Titus 3:2-7.

Jesus het sy volgelinge beveel om ‘hulle lig voor mense te laat skyn’ (Mattheüs 5:16). Waardeur word die mense oor die algemeen die meeste aangetrek? Deur strengheid, of deur vriendelikheid en sagmoedigheid? Wat is jou ondervinding? Ons sal waarskynlik almal met Jesus se woorde saamstem: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen” (Mattheüs 7:12). Verg dit nie sagmoedigheid van ons nie?

In omgang met ons bure

Ons ondervind dalk teenstand van ons bure, moontlik wanneer ons hulle besoek om die goeie nuus met hulle te deel. Onder sulke omstandighede is dit noodsaaklik dat ons sagmoedigheid openbaar, net soos Christenopsieners in die gemeente moet doen. (Vergelyk 2 Timotheüs 2:23-26.) Weens ons sagmoedigheid kan voormalige teenstanders mettertyd gunstig op die Koninkryksboodskap reageer.

Honderdduisende mense dwarsoor die aarde het die goeie nuus aangeneem. Saam met gesalfde Christene is hulle nou deel van ’n liefdevolle, wêreldwye broederskap. “’n Groot menigte . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale” skryf gevolglik vandag redding toe aan Jehovah God en aan die Lam, Jesus Christus (Openbaring 7:9; 14:1). Hierdie toegewyde Christene is lewende bewys dat Jehovah se sagmoedigheid krag het om te red. Uit waardering probeer hulle op hulle beurt om goddelike sagmoedigheid te openbaar, en hulle vind dat dit baie lonend is. Mag jy ook onder die sagmoediges wees wat goddelike seëninge geniet.—Vergelyk Mattheüs 5:5.

[Prent op bladsy 10]

Ek het vergeet, skattebol. Ek is baie jammer”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel