Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 11/15 bl. 5-7
  • Hoe om die kettings te verbreek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om die kettings te verbreek
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrees vir die onbekende
  • Geloof in die toorkuns
  • Is bygelowigheid en Bybelleringe versoenbaar?
    Ontwaak!—2008
  • Ware godsdiens verdryf vrees—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Beheer bygelowe jou lewe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Bygelowe—Waarom bly dit voortbestaan?
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 11/15 bl. 5-7

Hoe om die kettings te verbreek

IN FEITLIK elke deel van die aarde beheer bygelowigheid die lewens van baie mense. Terwyl talle Westerlinge glo dat ’n hoefyster of ’n konynpoot hulle sal beskerm, dra baie Afrikane ’n amulet om hulle nek om hulle teen bose geeste te beskerm. Dit is om daardie rede dat hulle ’n toutjie om ’n pasgebore baba se pols bind. Party stamme glo dat as ’n mens ’n stukkie gorillabeen aan hierdie toutjie vasmaak, die baba eendag groot en sterk sal wees.

In die Sentraal-Afrikaanse Republiek glo die mense wat langs die rivier woon aan meerminne genaamd Mami Wata. Hulle het glo lang blonde hare en daar word gemeen dat hulle mense na die water toe lok sodat hulle hulle kan gryp en kan verdrink. Party benut hierdie bygeloof. Hulle gooi offerandes in die rivier om Mami Wata aan te spoor om hulle vyand te gryp wanneer hy die volgende keer na die oewer kom.

Die toordokter speel ’n belangrike rol in die bygelowe van Afrika. Die plaaslike toordokter gooi die nzeke (klein skulpies) om te sien wat die toekoms inhou. Hy gee ook ’n liefdesdrank om die sterwende liefde van ’n maat te laat opvlam. As die weerlig die grond naby jou tref, word daar gemeen dat iemand met wie jy stry gekry het waarskynlik ’n toordokter gehuur het om hom te help om wraak te neem. Party glo dat die toordokter manne in vroue, en vroue in manne, selfs mense in diere kan verander!

Die bygelowige heg ’n onheilspellende betekenis aan toevallige gebeure. As jy ’n slang of ’n verkleurmannetjie teëkom, moet jy gou huis toe gaan voordat iets slegs met jou gebeur. As ’n voël in jou huis invlieg, gaan iemand daar sterf. As honde snags ’n buitengewone lawaai opskop, gaan iemand binnekort sterf of het hy so pas gesterf.

Vir geleerde mense in Afrika en ander dele van die wêreld klink sulke bygelowe moontlik onredelik. Maar wat van geleerde mense wat sorg dat hulle nooit onder ’n leer deurloop nie, ’n onnodige rit op Vrydag die dertiende kanselleer, inderhaas nog ’n gas nooi sodat daar nie dertien vir aandete aansit nie of hulle horoskoop in die oggendkoerant raadpleeg? Is hulle nie ook deur bygelowigheid vasgeketting nie?

Maar wat is bygelowigheid? En wat stel dit in staat om mense te beheer?

Vrees vir die onbekende

Bygeloof word gedefinieer as “’n geloof of gebruik wat voortspruit uit onkunde, vrees vir die onbekende, vertroue op towery of die toeval”. Dit het ’n houvas op mense net so lank as wat hulle onkundig bly en dit glo. Wanneer ’n bygelowige persoon ware kennis verkry en sien hoe onredelik sy opvattings is, het die bygeloof geen mag oor hom meer nie. En die beste bron van kennis om bygelowigheid teë te werk, is die Bybel.

Dit is wat Wawa gevind het. Toe sy geleer het wat die toestand van die dode werklik is, het sy haar vrees verloor. Sy het opgehou om die dinge te doen wat bygelowigheid van haar vereis het, en sy het niks oorgekom nie. Nou weet sy dat haar bygelowige vrese ongegrond was.

Talle Afrikane het dieselfde ondervinding gehad. Wanneer hulle in die Bybel lees dat God al die diere “volgens hulle soorte” gemaak het, besef hulle dat Mami Wata—half vis, half mens—nie kan bestaan nie (Genesis 1:20-27). Daarbenewens het geen visser nog ooit so ’n wese in sy net gevang en vertoon nie. Hulle besef ook dat ’n toordokter nie ’n mens in ’n luiperd of ’n krokodil kan verander nie, want dit is heeltemal ander “soorte”.

Die Bybel sê ook dat diere ‘redeloos’ is (2 Petrus 2:12). Hoe kan ’n voël of ’n hond dan weet dat iemand gaan sterf? Of hoe kan ’n slang of ’n verkleurmannetjie (of ’n swart kat, in Europa) teëspoed bring vir iemand wat dit teëkom? Trouens, hoe kan ’n toordokter die toekoms voorspel wanneer die Bybel sê dat slegs God waarlik die toekoms ken (Jesaja 44:6-8). Rede sê vir ons dat hulle dit nie kan doen nie, net so min as wat die sterre en planete, miljarde kilometers hiervandaan, enige invloed kan hê op die lewens van persone wat hier op die planeet Aarde aan horoskope glo.

Party sal egter sê: ‘Maar ek het ’n slang teëgekom en twee dae later het my oudste seun siek geword!’ Dit kan natuurlik gebeur. Maar wat van al die mense wie se kinders siek word en wat geen slange of verkleurmannetjies gesien het nie? Of wat van diegene wat sulke skepsele sien maar wat nie kort daarna probleme het nie? Waar die Bybel die ondervindinge van mense beskryf, sê dit: “Tyd en lotgeval tref hulle almal” (Prediker 9:11). Ja, dinge kan heel per toeval gebeur. Omdat ’n persoon op die verkeerde tyd op ’n sekere plek is, kan hy tydens ’n storm beseer word. Siekte en ongelukke hoef nie deur ’n vyand se bose planne veroorsaak te word nie. Baie vind dit uit, en nou word hulle lewens nie langer deur bygelowige vrese beheer nie.

Geloof in die toorkuns

Daar is egter ’n aspek van bygelowigheid wat nie geïgnoreer kan word nie. Dit lyk soms of ’n geheimsinnige mag—party noem dit towery—by die saak betrokke is, ’n mag wat nie deur toeval en blote ongelukke verklaar kan word nie. In die Weste weet mense dat eienaardige dinge tydens ’n spiritistiese séance kan gebeur. Een jongman het ’n ondervinding met ’n Ouija-bord beskryf. Hy het gesê dat hy en sy vriende om ’n bord gesit het om te sien wat sou gebeur, toe hy skielik van sy stoel af gestamp en teen die oorkantste muur van die vertrek gegooi is.

Uit Afrika kom daar ook verslae van geheimsinnige gebeure. Persone hou vol dat hulle ’n blonde visvrou gesien het wat vir hulle gewink het om in die rivier in te kom. Daar was ook verslae van diere wat gepraat het en gesê het dat hulle eens mense was. Of kwale is skynbaar die gevolg van ’n toordokter se towerspreuk. Hoe kan ons dit verklaar?

Party geheimsinnige dinge gebeur wel, en die Bybel sê vir ons waarom. Hier is dit weer eens kennis wat die kettings van bygelowigheid verbreek. Volgens die Bybel is daar bose geeste wat ons graag wil bedrieg. Hulle is egter nie die geeste van afgestorwenes nie. En ’n persoon kan hom teen hulle verset.

Eerstens, wie of wat is hierdie geesmagte? Die Bybel noem hulle duiwels of demone, en Satan is hulle owerste. Ons moet nie spot met die gedagte dat hulle bestaan nie. Jesus self het van hulle geweet. Waar kom hulle vandaan? Die Bybel toon dat hulle engeledienaars van God was wat in opstand gekom en teenstanders geword het.—Mattheüs 12:26-28; 2 Petrus 2:4.

Die Bybel sê ook dat Satan “die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9). Dit verbaas ons dus nie dat hy mense deur bygelowigheid vasgeketting wil hou nie. Kan hy geheimsinnige werke doen om hulle te mislei? Ja. Die Bybel sê byvoorbeeld ’n sekere ongeregtige “se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan”.—2 Thessalonicense 2:9, 10.

As daar dus geheimsinnige dinge plaasvind, moet dit aan die invloed van Satan en sy demone toegeskryf word. Satan is natuurlik sterker as enige mens. Maar ons is nie hulpeloos nie, want God is selfs sterker as Satan en Hy het aangebied om ons te help as ons dit verlang.

Die Bybelskrywer Jakobus het gesê: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jakobus 4:7). Wawa en talle ander Afrikane het hierdie uitnodiging aangeneem. Nadat hulle die waarheid in God se Woord, die Bybel, aangeneem het en God se gebooie oor hoe hulle hulle moet gedra, begin gehoorsaam het, vind hulle dat Sataniese bygelowigheid geen krag in hulle lewens het nie. Hulle is bevry van hulle vorige vrese.

Daarom het hulle die amulette van hulle nekke en die beskermende toutjies van hulle kinders afgehaal en dit verbrand. Hulle neem nie deel aan bygelowige ritusse om die geeste van die afgestorwenes te paai nie; hulle vrees ook nie die towerspreuke van toordokters nie. En hulle maak hulle nie skuldig aan goddelose dinge soos onsedelikheid en geweld nie.

Het hierdie individue gely as gevolg van hierdie moedige optrede? Inteendeel! Jesus het vir sy dissipels belowe: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31, 32). Sonde heers nie langer oor hierdie persone nie. Hulle word deur God beskerm teen die moontlike bedrywigheid van die demone, en hulle nuwe kennis het die nutteloosheid van hulle voormalige bygelowe blootgelê. Die waarheid het hulle boeie verbreek!

Sulke vryheid is beskikbaar vir almal wat dit begeer. As jy die vryheid van vrees begeer wat Wawa nou geniet, sal Jehovah se Getuies jou met graagte help soos hulle haar gehelp het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel