Die kettings van bygelowigheid
IS JY bygelowig? Dan is jy nie alleen nie. Een navorser het meer as vierhonderdduisend bygelowe in alle dele van die wêreld gevind. Die feit dat talle hotelle nie ’n dertiende verdieping het nie, of dat mense nie onder lere wil deurloop of wil hê dat swart katte voor hulle verby moet loop nie, getuig van die bygelowigheid in die Westerse wêreld.Dieselfde ongesonde invloed van bygelowigheid is te sien in Afrika, soos die volgende ondervinding toon.
Omtrent twintig jaar gelede het Wawa se man na ’n lang siekbed gesterf. Drie dae lank na sy dood het Wawa langs sy sterfbed op die grond gelê en ween en kerm terwyl dosyne wenende, kermende, dansende en drinkende mense om haar ’n lykwaak gehou het. Baie van die rouklaers het hulle so daarin verdiep dat hulle nie eens gaan slaap of werk toe gegaan het nie. Waarom nie? Hulle wou vir die oorledene se gees en vir sy familie toon dat hulle sy vriende was.
Vrees vir die dode
Op die derde dag is die lyk na die begraafplaas gedra, en almal het saamgegaan. Die doodkis is neergelaat en klippies en kluite is daarop gegooi. Waarom? “Om vir my man se gees totsiens te sê” sê Wawa. Voordat die graf met grond gevul is, het Wawa voor almal gesweer dat sy altyd aan haar man getrou was. “Indien nie” het sy gesê, “laat sy gees my dan doodmaak.” Van toe af was Wawa se lewe oorheers deur haar vrees vir die gees van haar oorlede man.
Haar man se familie het voortdurend vir haar gesê: “As jy enigiets kirikiri [“onredelik” in Sango] doen, sal sy gees terugkom en jou doodmaak.” Om te toon dat sy haar man werklik liefgehad het, het sy drie maande lank nie behoorlik gebad nie, ’n eenvoudige kleed om haar liggaam gedra en op ’n strooimatjie op die grond geslaap. Wawa het geglo dat haar man elke beweging van haar dopgehou het. Die man wat sy liefgehad het, het oënskynlik nou haar grootste vyand geword.
Party stamme vereis dat die bedroefde weduwee ’n mes moet dra om aanvalle deur haar oorlede man se gees af te weer. Sy moet nie reg in die vlamme kyk wanneer sy ’n vuur aansteek nie uit vrees dat sy hom sal sien. Sy word elke oggend drie- of vieruur wakker en huil en kerm om te toon dat sy hom nog steeds liefhet. En sy bied die eerste porsie van elke maaltyd aan hom deur dit op die grond te gooi.
Aan die einde van drie maande is Wawa deur haar man se familie na die oewer van die naaste rivier geneem en in die water gegooi. Dit was ’n teken dat sy rein van enige bose geeste was daar sy behoorlik rou bedryf het. Party sê dat dit ook toon dat sy nie aandadig aan haar man se dood was nie.
Maar waarom het hy gesterf?
In die gedagtes van baie mense in hierdie deel van die wêreld gaan niemand sommer net dood nie. ’n Oorledene se dood word aan menslike of bonatuurlike boosaardigheid toegeskryf. Wawa se skoonfamilie het haar dus nie tydens haar beproewing bygestaan nie. Kort na haar man se afsterwe het sy jonger broer vir haar geskreeu: “Jy het vir hom moeti gegee sodat hy jou moes liefhê, maar jy het dit te sterk aangemaak en dit het hom doodgemaak!” Ander het haar soos volg beskuldig: “Jy het hom laat toor sodat hy gesterf het.”
Na die “reinigingseremonie” aan die einde van die derde maand het hulle haar al hoe meer geteister. Sy is voortdurend gedwing om vir hulle geld, kos of sterk drank te gee. Arme Wawa het vir haarself gesê: “Ek is die behoeftige. Waarom moet ek voortdurend hierdie dinge aan my man se familie gee?”
Maar sy durf nie weier nie, uit vrees vir haar man se gees.
Na twee vreesgevulde jare het Wawa se routyd eindelik verstryk. Sy is die geleentheid gebied om met haar man se oudste broer te trou, en dan met sy jonger broers. Toe sy alle aanbiedinge van die hand gewys het, kon sy na haar eie familie terugkeer. Maar selfs toe nog het Wawa geglo dat haar oorlede man na geleenthede gesoek het om haar leed aan te doen.
Die tragedie is dat al Wawa se vrese ongegrond was. Daar is geen “geeste van afgestorwenes” wat kan terugkom om hulle dierbares leed aan te doen nie. Die Bybel sê vir ons dat die dode “na die stilte neerdaal”. Trouens, die dode “weet glad niks nie . . . hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn”.—Psalm 115:17; Prediker 9:5, 6.
Gelukkig het Wawa dit sedertdien uitgevind. Sy weet nou dat haar verskriklike vrees onredelik, bygelowig en ongegrond was. Maar miljoene mense koester steeds sulke vrese. Waarom? Wat is dit wat mense aan bygelowe vasketting? Kan daardie kettings verbreek word?
[Lokteks op bladsy 4]
Nadat Wawa se man gesterf het, het sy jonger broer vir haar geskreeu: “Jy het vir hom moeti gegee sodat hy jou moes liefhê, maar jy het dit te sterk aangemaak en dit het hom doodgemaak!”