Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 11/1 bl. 4-5
  • Hoeveel vertroue kan jy hê?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoeveel vertroue kan jy hê?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Soortgelyke materiaal
  • Die soeke na ’n veilige lewe
    Ontwaak!—1998
  • Watter verligting is nou moontlik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Kan die mens blywende vrede en veiligheid bring?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Die werkloosheidsplaag
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 11/1 bl. 4-5

Voel jy veilig?

Hoeveel vertroue kan jy hê?

HET jy die vrae op bladsy 3 beantwoord? Hoeveel keer het jy “Ja” gesê? As jy op een of meer van daardie vrae “Ja” geantwoord het, is jy nie die enigste persoon wat onveilig voel nie. Die oorgrote meerderheid van die aarde se bevolking het ’n haglike hede en ’n baie onseker toekoms.

Die volgende kort opsomming sal jou help om die wêreldwye impak van hierdie probleme te begryp.

WERKLOOSHEID: Die meeste dele van Europa word geteister deur grootskaalse werkloosheid, wat miljoene gesinne hulle geborgenheid ontneem. Die situasie in die Verenigde State is nie veel beter nie, want daar is meer as negemiljoen mense werkloos. In verband met die voortdurende toename in werkloosheid het Ivor Richard, ’n Europese kommissaris van maatskaplike aangeleenthede, gewaarsku: “Dit sal ongetwyfeld groot druk uitoefen op die maatskaplike struktuur van ons gemeenskappe. . . . Dit kan selfs die wortels van ons demokratiese en vrye gemeenskappe bedreig.” Kan jy veilig voel as jy werkloos is?

INFLASIE: Koop jou geld baie minder as tien jaar gelede? Die oliekrisis van die afgelope dekade het gewaarborg dat feitlik elke land probleme met inflasie het. In Groot-Brittanje kos ware wat in 1961 met £1 gekoop kon word, byvoorbeeld nou amper £6. Baie lande se inflasiekoers is selfs veel hoër. Jy woon dalk in een van daardie lande. Kan jy die toekoms met vertroue tegemoetgaan as die koopkrag van jou geld afneem?

MISDADIGHEID: Wie lewe nie in vrees dat hy die slagoffer van ’n misdadiger sal word nie? Dit is ’n internasionale plaag. Onlangse koerantopskrifte in Japan beklemtoon daardie land se probleem: “Regering bekommerd oor toename in jeugmisdadigheid”, “Minderjariges se betrokkenheid by misdaad stel rekord op”. Toegeeflike regters en draaideur-geregtigheid plaas misdadigers gou weer op die strate van baie lande. ’n Hoofartikel in een Spaanse koerant het die benoude vraag gestel: “Is daar nie meer ’n strafwetboek nie?”

MINDERWAARDIGE WONINGS: Miljoene gesinne dwarsoor die wêreld woon steeds in wonings wat vervuil is van rotte, wat krioel van kakkerlakke en wat geen lopende water het nie. Ons roep nie net die gewone beeld van straatplakkers in Bombaai, Indië, of die begraafplaasbewoners van Kaïro, Egipte, op nie. Wat van die krotbuurte en blikkiesdorpe in talle groot stede van die “ontwikkelde” Westerse nasies? Een verslag van die Cabrini-Green-behuisingsprojek in Chicago, V.S.A., sê: “Nadat hulle in die woonstel ingetrek het, het die bewoners te kampe met die groot knaagdier- en kakkerlakbevolkings waarmee die meeste Cabrini-Green-geboue vervuil is.” Die meeste armes het geen alternatief nie. Die toekoms is droewig.

HONGER: ’n Nuusbron sê dat twee derdes van die wêreld se honger mense in nege lande woon wat 27 persent van die wêreldbevolking verteenwoordig. Onder die opskrif “Die armstes word armer” het Londen se Financial Times gesê: “Die allerkritiekste probleem is waarskynlik die feit dat Afrika se vermoë om sy ontploffende bevolking te voed al lank nie in die aanvraag voorsien nie, en die gaping word voortdurend groter.” Selfs in ontwikkelde nasies veroorsaak groot verskille in inkomste en armoede dat mense honger ly wanneer daar oënskynlik genoeg kos is. Is jou daaglikse brood ook jou daaglikse bekommernis?

TWEEDRAG IN DIE GESIN: Volgens berig verbrokkel meer as 40 persent van die huwelike in die V.S.A. In dieselfde land het nagenoeg twaalfmiljoen kinders onder die ouderdom van agttien ouers wat geskei is. In baie dele van die wêreld het miljoene volwassenes wat saam lewe nog nooit getrou nie. Daar is die aantal verlate vroue van gemeenregtelike huwelike en buite-egtelike kinders ’n blyk van die gesinsverbrokkeling. Kan volwassenes en kinders veilig voel as die gesin verskeur word?

BESORGDHEID OOR KINDERS: Geweld by die skole is ’n toenemende probleem. In 1981 het die stad New York vir die eerste keer 420 skoolwagte by sy laerskole ontplooi ten einde die aantal aanrandings van onderwysers en skoliere te beperk. Skole in Brittanje en Japan ondervind ook ’n plaag geweld. Kan jy, in die lig van so ’n ineenstorting van dissipline, veilig voel oor jou kind se opleiding?

NEERSLAGTIGHEID: Die Star van Toronto, Kanada, het gesê: “Miljoene Noord-Amerikaners verduur stilswyend ’n pyn wat huwelike, betrekkings—en lewens—kos. . . . Neerslagtigheid is ’n epidemie met ’n geweldige maatskaplike koste.” Dieselfde koerant het psigiater Emmanuel Persad soos volg aangehaal: “Talle navorsers meen dat neerslagtigheid in die laaste jare toegeneem het weens die ekonomiese depressie, gesinsverbrokkeling en maatskaplike afsondering.” Getuig algemene neerslagtigheid nie van ’n vertrouenskrisis nie?

DWELMS: Dwelmverslawing is vir miljoene ’n kruk. Reusebedrae word elke dag op tabak en die misbruik van alkohol en dwelms verkwis. Dui dit op ’n gevoel van veiligheid?

NOG ’N GROOT OORLOG—MOONTLIK, WAARSKYNLIK OF ONVERMYDELIK? Party wêreldleiers begin nou dink dat ’n kernoorlog gevoer en gewen kan word, in plaas van die vorige skaakmat wat gebaseer was op die teorie van wedersydse uitwissing. Is jy seker dat daar nie nog ’n groot oorlog sal wees nie?

Wat toon hierdie negatiewe panorama? Kan jy werklik seker wees oor jou toekoms en dié van jou gesin? Het ons enige alternatief vir vertroue op politieke en militêre leiers en vertroostende geestelikes? Is daar ’n gewisse pad na veiligheid? Die volgende artikels sal die Bybel se antwoord verstrek.

[Prent op bladsy 5]

Is jy seker van jou kinders se toekoms? Hulle daaglikse brood? Hulle opleiding? Hulle voortbestaan?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel