Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 10/15 bl. 16-20
  • Werk—God se gawe aan sy knegte

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Werk—God se gawe aan sy knegte
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die mens se behoefte aan sinvolle werk
  • Die werker moet die vrug van sy arbeid geniet
  • Jesus en sy volgelinge—werkers
  • Die verfrissende werk wat voorlê
  • Geniet jou werk
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Hoe om harde werk te geniet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Sien die goeie vir jou harde werk
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • ’n Gebalanseerde beskouing van werk—Hoe om dit te verkry
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 10/15 bl. 16-20

Werk—God se gawe aan sy knegte

“Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.”—Johannes 17:4.

1. Wat het Jesus gedoen omtrent die werk waarvoor hy na die aarde gestuur is?

JESUS CHRISTUS, God se eniggebore Seun, is die Skepper van hemel en aarde se vernaamste kneg. Toe Jehovah hom na die aarde gestuur het om Sy universele soewereiniteit te regverdig en die wêreld van die mensdom vry te koop, het Jesus baie verstom, veral die mensdom. Dit is wat in Jesaja 52:13, 14 voorspel is: “Kyk, my Kneg sal voorspoedig wees, Hy sal hoog en verhewe, ja, baie hoog word. Soos baie hulle oor U verstom het—so misvormd was sy voorkoms, geen mens meer nie, en sy gestalte was nie soos dié van ’n mensekind nie.” Hierdie seldsame werk het hy getrou volbring, net soos hy in sy gebed tot Jehovah God erken het: “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring” (Johannes 17:4). Hy is ’n voorbeeld vir al God se ander knegte.

2. In watter sin is ons na die beeld van God?

2 Manne en vroue het ’n behoefte aan werk. Dit is as gevolg van die wyse waarop hulle gemaak is. “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis” het Jehovah God gesê toe hy die mens as sy kneg op aarde geskape het (Genesis 1:26). Hierdie gelykenis sien nie op enige fisiese ooreenkoms met God nie, want hy is gees en onsigbaar vir mense-oë. Dit beteken eerder dat sekere van God se eienskappe aan die volmaakte man gegee is, eienskappe soos geregtigheid, wysheid, liefde en ander wat die mens van die laer diere onderskei. Dat dit die regte beskouing is, word gestaaf deur Kolossense 3:9, 10, waar toegewyde medeknegte van Jesus Christus aangesê word om hulle persoonlikheid te verander: “Omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper.”

3, 4. (a) Wat toon die eerste woorde van die Bybel omtrent God? (b) In watter sin was hy verkwik na voltooiing van die skeppingswerk?

3 Een aspek van God se “beeld” is dat hy ’n werker is. Jehovah het volkome vryheid om te doen wat hom behaag. En dit behaag hom om te werk. Die eerste woorde van die Bybel stel hom aan ons voor as ’n onvermoeide werker: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Genesis 1:1). Hierdie werk het hom nie uitgeput nie: “’n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie.”—Jesaja 40:28.

4 Dit was gevolglik nie omdat hy moes herstel dat hy hom aan die einde van die sesde skeppingsdag verkwik het nie: “In ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik” (Exodus 31:17). God het nie van alle werk gerus nie, maar net van hierdie bepaalde skeppingswerk. Nadat hy dit voltooi het, het hy dit beskou en gesien dat dit baie goed was, dat dit aan sy standaard van volmaaktheid voldoen het, en is hy verkwik en bevredig deur die volbrenging van hierdie werk van die hoogste gehalte. Dit het Jehovah, die Skepper van alle dinge, verbly, bevredig en verkwik om hierdie goeie werk voltooid te sien (Genesis 1:31; Johannes 5:17). Al hierdie dinge toon vir ons dat mense, wat na God se gelykenis gemaak is, ’n ingeskape behoefte het om nie alleen werkers te wees nie, maar ook om verkwik te word deur die gevoel dat hulle iets bereik het met werk wat wel gedaan is.

Die mens se behoefte aan sinvolle werk

5. (a) Wat is God nog, en wat volg hieruit? (b) Wat is ’n gedeeltelike verklaring van die verwerping van die werketiek?

5 Daarbenewens is Jehovah ’n doelbewuste God en is sy werke doelgerig. “Alles het die HERE gemaak vir sy doel” die mensdom inkluis (Spreuke 16:4). Dit volg dus dat die mens se werke ook doelgerig moet wees. “Die strewe om sin in ’n mens se lewe te vind” skryf psigiater Viktor Frankl, “is die vernaamste dryfkrag in die mens. . . . Ek verstout my om te sê dat daar niks in die wêreld is wat ’n mens so effektief sal help om selfs die allerergste toestande te oorleef nie as die kennis dat ’n mens se lewe sin het.” Maar baie vind dit vervelig om herhaaldelik een taak op ’n monteerbaan uit te voer op ’n produk waarin hulle nie belangstel nie en waarop hulle nie trots is nie. Dit is gedeeltelik die rede vir die verwerping van die werketiek—baie van vandag se werk voorsien nie in mense se sielkundige behoefte aan sin en ’n gevoel dat hulle iets bereik het nie.

6. Watter doelgerigte werk is aan die eerste mens opgedra?

6 Aangesien alles wat God gemaak het ’n doel het, is die mens ook met ’n doel gemaak. Hy is gemaak en op die aarde gesit om te werk. God het hom sinvolle werk gegee waarvoor hy sy verstand sowel as sy hande produktief moes gebruik. “Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.” Die volmaakte mens moes “heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip” en “die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees.”—Genesis 2:15; 1:26; 2:19.

7, 8. (a) Waarom kan werk in God se diens tereg ’n gawe van hom genoem word? (b) Waarom is stokperdjies nie ’n volwaardige plaasvervanger vir werk nie?

7 Dit was om aan die mens plesier en genot en bevrediging te verskaf dat Jehovah vir hom geskikte werk gegee het. Die werk sou sy lewe vul, enige moontlikheid van verveling of eentonigheid uitskakel, en hom die bevredigende gevoel gee dat hy nuttig is. Dit sou doelgerigte werk wees omdat die Skepper van die aarde en die heelal, die almagtige, doelbewuste God, dit aan hom opgedra het. In plaas daarvan dat die goddelike eienskappe onderdruk of gestrem is of weens onbruik gestagneer het, soos so dikwels in sekulêre werk die geval is, het die werktoewysing wat die eerste man en vrou. Adam en Eva, van Jehovah ontvang het hulle die geleentheid gebied om vryelik uitdrukking aan hulle eienskappe te gee. En selfs nadat die mens uit die tuin van Eden gewerp is en nadat hy meegedeel is dat werk “in die sweet van jou aangesig” gedoen sou word, was dit steeds vir sy beswil.—Genesis 3:19.

8 Onlangse wetenskaplike studies bevestig die Skriftuurlike waarheid dat die mens gemaak is om te werk. Dit het getoon dat die meeste bejaardes wat goeie gesondheid geniet nie wil aftree nie, en dat aftrede eerder tot verveling as tot geluk lei. Navorsers meen dat aftrede meebring dat verveelde en ledige persone die wil om te lewe verloor en dat dit in werklikheid hulle lewe verkort. Stokperdjies is nie ’n bevredigende plaasvervanger vir werk in die lewens van afgetrede persone nie. Stokperdjies kan ’n paar uur per week genot verskaf as ’n verandering van ’n mens se gereelde werk en as ontspanning, maar wanneer dit voltyds gedoen word, word dit vervelend. Dit gee ons nie die gevoel dat ons lewens nut stig nie. Wyse koning Salomo het geskryf: “My hart was verheug weens al my harde werk, en dit was my deel van al my harde werk. In die geval van ’n mens is daar niks beters nie as dat hy eet en inderdaad drink en sy siel die goeie sien weens sy harde werk. Ook dit het ek gesien, ja ek, dat dit uit die hand van die ware God is.” Werk in die diens van God is dus ’n gawe van God.—Prediker 2:10, 24, NW.

Die werker moet die vrug van sy arbeid geniet

9, 10. (a) Watter illustrasies toon dat die mens die vrug van sy arbeid moet geniet? (b) Wie se geroep hoor Jehovah?

9 Jehovah wil nie hê dat die mens die vrug van sy arbeid ontneem moet word nie. “Die landbouer wat swaar werk” het die apostel Paulus geskryf, “behoort eerste van die vrugte te geniet.” Hy het elders verder oor hierdie goddelike beginsel uitgewei toe hy gesê het: “Wie plant ’n wingerd en eet nie van sy vrug nie? Of wie pas ’n kudde op en geniet nie van die melk van die kudde nie? Sê ek dit miskien menslikerwys, of sê die wet dit nie ook nie? Want in die wet van Moses is geskrywe: ’n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer? Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word.”—2 Timotheüs 2:6; 1 Korinthiërs 9:7-10.

10 Selfs die werkende diere moes van die vrug van hulle arbeid geniet. As Jehovah die belange van die werkende dier beskerm, hoeveel te meer sal hy tog nie die saak van mensewerkers verdedig nie! Trouens, hy toon duidelik sy voorneme om dit te doen: “Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit; en die geroep van die maaiers het gekom tot in die ore van die Here van die leërskare.”—Jakobus 5:4.

Jesus en sy volgelinge—werkers

11. Wat was Jesus se gesindheid teenoor werk, en waarom moet ons sy beskouing daarvan ter harte neem?

11 Net soos sy hemelse Vader Jehovah is Jesus ’n werker. “My Vader werk tot nou toe” het hy gesê, “en Ek werk ook” (Johannes 5:17). Hy doen die werk wat Jehovah aan hom opgedra het. Hy doen hierdie werk gewillig en vrywillig en skep behae daarin om dit te doen. Hy vind dit net so voedsaam, so bevredigend en so verkwikkend soos voedsel. Net nog meer, want by een geleentheid toe sy dissipels by hom aangedring het om te eet, het hy inderdaad geantwoord: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34). Die vreugde dat hy iets bereik het, sou hom aan die einde van die werk verkwik, enige moegheid verdryf en hom tevrede en verfris laat. Diegene wat bely dat hulle Christene is, moet hierdie weg en gesindheid van Christus Jesus ter harte neem. Waarom? Omdat die Bybel toon dat Christus “julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg”.—1 Petrus 2:21.

12, 13. (a) Watter gelykenis toon dat dit gepas is om goeie werkers te prys, en watter beloning het hulle ontvang? (b) Wat het met die onproduktiewe dienskneg gebeur? (c) Watter doel dien vakansies?

12 Deur ’n gelykenis het Jesus getoon dat werk sy eie beloning in die vorm van vreugde gee. ’n Man het op reis gegaan. Hy het sy diensknegte geroep en sy besittings onder hulle verdeel na gelang van hulle onderskeie vermoëns. Hy het nie meer van hulle verwag as waartoe hulle in staat was nie, maar hy het verwag dat hulle volgens hulle vermoëns sou voortbring. Na ’n lang afwesigheid het hy teruggekeer om met hulle af te reken. Die een vir wie daar vyf talente gegee was, het dit verdubbel, die een vir wie daar twee gegee is, het dit verdubbel, maar die een vir wie daar een talent gegee is, het niks daarmee gedoen nie. Hoe is die twee vlytige werkers beloon? Met ’n vakansie? Nee, maar, reken net, met meer werk! Die heer het albei geprys en gesê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg.” Toe het hy bygevoeg: “Oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.” Die heer se vreugde is in hierdie werk, en deur meer daarvan te kry, het die vlytige diensknegte tot ’n groter mate in sy vreugde ingegaan. Maar wat van die lui dienskneg? Die besluit was: “Neem dan die talent van hom weg en gee dit aan die een wat die tien talente het.”—Mattheüs 25:14-30.

13 Nou kon die lui dienskneg leeglê. Maar was hy gelukkig? Nee, hy het op die ou end ‘geween en die tande gekners’! Om gelukkig te wees, moet ons nuttige werk hê. Maar ons moet ook tyd hê om te rus. Ons is nie soos Jehovah wat nie moeg word nie. Maar nadat ’n vakansie ons fisiese en senukrag herstel en ons met nuwe moed besiel het, is ons gereed vir meer werk—trouens, gretig om weer te werk. Dit is die geval tensy die werk vervelig en herhalend is en geen doel en sin vir die werker het nie, soos dit vandag met baie sekulêre werk die geval is.

14. Van watter blywende nut is ’n materialistiese lewenswyse?

14 Maar benewens die feit dat oninteressante werk tot die verwerping van die werketiek lei, word baie vandag deur materialisme verstrik. Maar van watter blywende nut is dit om materiële besittings op te gaar as jy reeds die lewensbenodigdhede het? Soos die moderniste sê: “Jy kan dit nie saamneem nie.” Salomo het dit sterker gestel: “Soos hy uit die skoot van sy moeder uitgegaan het, gaan hy naak weer heen soos hy gekom het; en hy sal vir sy moeitevolle arbeid niks wegdra wat hy met hom kan saamneem nie. So is dit dan ook ’n smartlike onheil: net soos hy gekom het, so sal hy heengaan; watter voordeel het hy dan dat hy hom vermoei het vir wind?”—Prediker 5:14, 15.

15. Deur watter ander nuttelose strewes word party verstrik?

15 Party gaan op in ’n ander nuttelose strewe: hulle werk om “nie by die bure agter te bly nie” soos die spreekwoord sê. Of, in die meeste gevalle, om die bure verby te steek. Salomo het gesê: “Verder het ek gesien dat al die moeitevolle arbeid en al die bekwaamheid by die werk naywer is van die een teenoor die ander.” Of: “Omdat hulle afgunstig is op hulle bure” (Prediker 4:4, AB; Today’s English Version). Die lewens en werke van die goddelose is inderdaad tevergeefs en nutteloos: “Julle sal wees soos ’n terpentynboom waarvan die blare verdor, en soos ’n tuin wat geen water het nie. En die sterke word tot vlas en sy werk tot ’n vonk, en hulle sal altwee tesame brand sonder dat iemand uitblus.”—Jesaja 1:30, 31.

Die verfrissende werk wat voorlê

16. Watter bevredigende werk wag op die gehoorsame mensdom?

16 Die werk vir mense op die aarde sal nie altyd ’n gejaag na wind wees nie. Dit sal net so doelgerig en sinvol wees soos die werk wat oorspronklik aan die eerste mensepaar in Eden opgedra is. Jehovah se voorneme dat die aarde ’n globale paradys moet wees wat deur regverdige mense versorg word, sal volbring word (Jesaja 55:11). Dit is oor so ’n aarde vol volmaakte mense dat God se koninkryk in die hande van Christus sal heers. Die lewe in daardie nuwe stelsel sal nooit eentonig of vervelig wees nie, want daar sal oorgenoeg werk wees—nie die nuttelose en tevergeefse werk van hierdie ou wêreld wat die werkweek ’n las maak en meebring dat mense na die eerste dag daarvan as Blou Maandag verwys nie. Nee, dit sal die interessante en fassinerende werk wees om die aarde te verfraai, liefdevolle heerskappy oor die diere uit te oefen, kinders groot te maak en verresenes te onderrig totdat die aarde gevul is met ’n regverdige ras en talle ander ongekende vreugdes. Dan sal besige mense ‘die werk van hulle hande lank geniet en dit ten volle benut’.—Jesaja 65:22, vgl. NW.

17. Wat toon dat die lewe nooit saai sal word omdat ons alles geleer het en alles gedoen het nie?

17 Benewens handearbeid sal daar probleme wees wat volmaakte verstande moet oplos en waarvoor mense al hulle denkvermoë sal moet inspan. Die mensdom sal nooit alles weet nie, want ‘die mens sal die werk wat God doen, van begin tot end, nooit kan uitvind nie’. “O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!” (Prediker 3:11; Romeine 11:33). Daar sal altyd nuwe uitdagings en raaisels wees wat ondersoek en uitgevors moet word. Alhoewel knegte van Jehovah vir ewig sal lewe, sal die ewigheid self nie lank genoeg vir hulle wees om alles te leer wat daar te leer is oor die aarde en die heelal wat Jehovah geskape het nie.

18. Wat moet ons eers doen voordat ons God se gawe van werk in ’n paradysaarde kan ontvang?

18 Maar voordat ons daardie verfrissende werk kan doen, is daar ’n werk wat ons nou moet doen om te verseker dat ons daar sal wees om ’n deel van daardie paradysaarde te word. Dit is nou ’n saak van lewe of dood dat ons uitvind wat daardie lewensbelangrike werk is.

◻ Waarom het mense ’n behoefte aan werk?

◻ ln watter sin het Jehovah gerus nadat hy die hemele en die aarde gemaak het?

◻ Watter doelgerigte werk het God oorspronklik aan die mens gegee?

◻ Waarom kan daar gesê word dat werk selfs vir die mens in sy onvolmaakte toestand goed is?

◻ Wat toon dat mense bedoel is om die vrug van hulle arbeid te geniet?

◻ Hoe het Jesus sy gesindheid teenoor werk getoon?

◻ Watter aangename werk wag op God se knegte?

[Prent op bladsy 17]

God het vir die mens sinvolle werk gegee

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel