Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 10/1 bl. 16-21
  • Hoe rig jy jou lewe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe rig jy jou lewe?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jou gewete—Wat is dit?
  • Uiterste beskouings
  • God se gebalanseerde, nuttige leiding
  • Christene is nie wetteloos nie
  • Hoe kan jy ’n goeie gewete behou?
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • ’n Goeie gewete voor God
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Hoe om baat te vind by jou Godgegewe gewete
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Is jou gewete goed opgelei?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 10/1 bl. 16-21

Hoe rig jy jou lewe?

“Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die HERE wandel.”—Psalm 119:1.

1. Wat toon die geskiedenis is belangrik vir geluk?

‘WAT is nodig vir gelukkige lewe?’ Baie persone sal antwoord deur materiële dinge soos kos, klere en huisvesting, of vorme van vermaak en genot te meld. Maar die geskiedenis bewys dat jou lewensbeskouing en jou lewenswyse belangriker vir jou geluk is. Sal jy, in jou handelinge met jou werkgewer, metgeselle en gesin, die waarheid praat? Vat wat nie joune is nie? Verdagte werk doen of twyfelagtige vermaak geniet?

2. Hoe rig party persone hulle lewens, en tot watter vrae gee dit aanleiding?

2 Wanneer hulle oor sulke kwessies besluite moet neem, verkies party bepaalde reëls wat hulle òf ken òf soek wanneer dit nodig is. Ander laat hulle deur hulle gewete lei en doen wat vir hulle reg “voel”. Maar jy vra dalk: Wat is die “gewete” daar die Bybel soveel daaroor te sê het? Hoe werk dit? Speel dit ’n belangrike rol wanneer ons besluite neem en in ons soeke na geluk? En wat moet ons doen om soos die apostel Paulus te kan sê: “Ek het met ’n volkome goeie gewete voor God gewandel tot op hierdie dag”?—Handelinge 23:1.

Jou gewete—Wat is dit?

3, 4. Wat is die “gewete”, en wie het een?

3 Die meeste mense dink aan die gewete as ’n algemene sin van reg en verkeerd. Ons het egter ’n bron van juister informasie daaromtrent—God se Woord. Die Bybel help ons om te besef dat die gewete ’n innerlike getuie is. Paulus het gevolglik gesê: “My gewete getuig saam met my in die Heilige Gees” (Romeine 9:1). Hy het die Griekse woord synei’desis gebruik, wat letterlik medekennis met jouself beteken. Die gewete is dus ’n vermoë om na ’n mensself te kyk en ’n mensself te beoordeel, vir ’n mensself te getuig.

4 Die gewete is nie bloot ’n maatskaplike ontwikkeling nie, want die Bybel toon dat God die eerste mensepaar daarmee begaaf het (Genesis 3:7, 8). Waar Paulus die aanspreeklikheid van Jode en nie-Jode bespreek het, het hy geskryf: “Wanneer die heidene [nie-Jode], wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ’n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werke van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig” (Romeine 2:14, 15). Ja, selfs volke sonder ’n skriftelike wet van God het dinge soos moord, diefstal en bloedskande as verkeerd beskou. Ons kan ook uit hierdie verse sien dat die gewete ’n wisselwerking is tussen die hart en die verstand (“gedagtes”).

5. Noem een funksie van jou gewete.

5 Die funksie van die gewete wat ons waarskynlik die beste ken, is sy beoordeling van ons gedrag ‘na die daad’, na die oortreding. Wanneer ons die gevolgtrekking maak dat ons verkeerd gedoen of ons eerloos gedra het, beskuldig of veroordeel ons gewete ons. (Vergelyk 2 Samuel 24:10; 1 Johannes 3:20.) As ons daarop reageer, kan hierdie rol van die gewete ons help deur ons te beweeg om nie ’n oortreding te herhaal nie. En dit kan ons berouvol maak, om verskoning laat vra en ons selfs die skade ongedaan laat maak, indien ons kan.—Psalm 32:3, 5; Mattheüs 5:23, 24; Lukas 19:1-8.

6. Wat anders kan jou gewete doen?

6 Ons gewete kan ook ’n ander diens lewer. Hoewel party sê dat ’n goeie gewete ’n stil gewete is, moet ons gewete van hom laat hoor en ons aanspoor om te doen wat reg is wanneer ons voor ’n besluit of probleem te staan kom. Josef, wat Potifar se vrou se toenadering verwerp het, is ’n goeie voorbeeld. Hoewel God nog nie ’n skriftelike wet teen owerspel gegee het nie, het Josef se gewete hom beweeg om onsedelikheid te verwerp (Genesis 39:1-9). As ons na ons gewete luister voordat ons optree, kan ons die angs van ’n kwellende gewete vermy.

7. Wat wil ons graag deur middel van hierdie studie bepaal?

7 Die vraag bly staan: Hoeveel invloed moet die gewete hê? Glo jy dat besluite oor die meeste morele en persoonlike kwessies volgens die insprake van die gewete geneem moet word? Of is reëls verkieslik? Ons moet weet. En bestaan daar gevare waarvan ons bewus moet wees? Wat toon God se Woord, wat sê dat dit “nuttig [is] tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid”?—2 Timotheüs 3:16.

Uiterste beskouings

8. Watter twee uiterste beskouings bestaan daar van moraliteit?

8 Die konflik tussen reëls en die gewete is eeue-oud. In die artikel “Kasuïstiek” verduidelik die Encyclopaœdia Britannica (11de uitgawe) dat moraliteit “soms beskou is as ’n uitwendige wet, soms as ’n innerlike aanleg. . . . Voorstanders van die wet het hulle vertroue in gesag of logika gestel; terwyl voorstanders van aanleg hoofsaaklik staatmaak op ons instinktiewe vermoëns—die gewete, gesonde verstand of sentiment.” Toe Jesus en die apostels op die aarde was, is albei standpunte op die spits gedrywe. Ons kan die Bybel se behulpsame ewewig en godvrugtige wysheid beter waardeer as ons kyk na die situasie wat destyds bestaan het.

9, 10. (a) Hoe het die Fariseërs tot een uiterste gegaan? (b) Watter houding was daarenteen algemeen onder die Grieke en Romeine?

9 Die Joodse Fariseërs was ywerige voorstanders van reëls. Omdat die Mosaïese wet nie vir hulle genoeg was nie, het hulle talryke reëls of “gebooie van mense” opgestel wat God se gebooie kragteloos gemaak het. Hulle het nie alleen hierdie reëls opgestel wat meer was as wat God gevra het nie, maar hulle wettiese beskouing het die siening in die hand gewerk dat geregtigheid uit kennis en die onderhouding van hierdie menslike regulasies kon voortspruit.—Mattheüs 15:1-20; 23:1-5; Lukas 18:9-12.

10 “Op die oorkantste punt van die spektrum vind ons antieke Griekeland” sê klassisis Samuel H. Butcher. “Onder die Grieke . . . is geen stelsel van leerstellings en voorskrifte, geen handboeke met gesaghebbende reëls oor moraliteit, ooit in dokumentêre vorm oorgelewer nie. . . . Onbuigsame reëls het mense gekortwiek.” Wat die Romeine betref, sê die Encyclopœdia Britannica: “Cicero en Seneca het hulle deur gesonde verstand laat lei. Hulle het elke probleem na sy intrinsieke waarde beoordeel en hulle meer deur die gees as die letter laat lei.” Hierdie Grieks-Romeinse filosofie was gewild in die eerste eeu. Sou dit by Christene byval vind? Paulus het geskryf: “Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, . . . volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.”—Kolossense 2:8; Handelinge 17:18-21.

11. Hoe was die twee uiterstes later in die geskiedenis duidelik?

11 In latere eeue het albei uiterstes hul voorstanders gehad, selfs onder persone wat Christene genoem is. Die Jesuïete was daarvoor bekend dat hulle ’n moraliteit beklemtoon het wat op tallose Kerkwette gebaseer is. Na die Hervorming het die Protestantisme individualisme en die gewete beklemtoon, iets wat aanleiding gegee het tot die huidige beskouing bekend as “situasie-etiek” wat gewild gemaak is deur Episkopaalse dr. Joseph Fletcher. The National Observer berig: “Dr. Fletcher het ’n omstrede manifes van individuele vryheid en verantwoordelikheid uiteengesit, gebaseer op ’n etiek van broederliefde, wat volgens hom die hedendaagse mens behoort te bevry van onbuigsame, verouderde reëls en wette soos die ‘Tien Gebooie’. . . . Met liefde as die enigste riglyn is aborsie, voorhuwelikse omgang, egskeiding, . . . en ander konvensionele sondes in sekere situasies vir dr. Fletcher moreel aanneemlik.”

12. Watter gevaar moet ons vermy?

12 Dit is duidelik dat mense tot uiterstes oorhel—hulle word òf deur reëls òf deur die gewete gelei. Party wat die gebreke van die een uiterste sien, reageer deur na die ander uiterste oor te hel, net soos ’n slinger van heel regs na heel links swaai. Gedurende die Middeleeue het die slinger byvoorbeeld van die wettiese gesindheid van die Jesuïete na die Hervormers se klem op vryheid en die gewete geswaai. Jy weet ook dalk van ouers wat hulle kinders buitengewoon streng grootgemaak het. Maar toe hierdie kinders grootgeword het, het hulle gereageer deur na die teenoorgestelde uiterste oor te hel en het hulle hulle kinders toegelaat om hulle enige en alle vryhede te veroorloof, met rampspoedige gevolge. Ons kan die waarheid van die Bybelkommentaar insien: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.

God se gebalanseerde, nuttige leiding

13. Watter hulp verleen die Bybel vir ons op die gebied van moraliteit en die gewete?

13 Jehovah het gebalanseerde hulp vir Christene in die Skrif voorsien sodat ons die volgende kan vermy: (1) die wettiese oorbeklemtoning van reëls, wat kan lei tot ’n eng, onbuigsame beskouing van die lewe en aanbidding, of (2) die oorbeklemtoning van vryheid van gewete, wat meegebring het dat party persone menslike redenasies aanvaar wat selfs sonde verskoon. Om die balans van God se Woord ons eie te maak en by die leiding daarvan baat te vind, het ons Dawid se gesindheid nodig: “HERE, maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil.”—Psalm 25:4, 5.

14, 15. Wat kan ons uit die Christelike Griekse Skrifte leer aangaande die Jode se beskouing van die Wet en God se beskouing daarvan?

14 Die Bybel toon dat Jesus die Skrifgeleerdes en Fariseërs se wettiese denkwyse afgekeur het. ’n Paar Jode wat nie hulle Godgegewe denkvermoë wou gebruik nie, het moontlik gehou van reëls oor tot hoe ver ’n mens jou arm moet was, wat “werk” op die Sabbat was,a van watter gewasse tiendes gegee moes word, ensovoorts. Daardie benadering het gelei tot lastige reëls, het eindelose vertolkings geverg en het die aandag afgetrek van die gees en belangriker aspekte van die Skrif. Jesus het vir die godsdiensleiers gesê: “Julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou.”—Mattheüs 23:23; Markus 7:3, 4.

15 Die Mosaïese wet het die geestelikheid, sedelikheid en gesondheid van die Jode bevorder, en het ook vir hulle getoon dat hulle as sondaars die Messias nodig gehad het (Galasiërs 3:19, 23-25; Romeine 7:7-14). Omdat dit ’n volmaakte standaard was, kon geen Israeliet dit foutloos hou en sodoende ’n volkome gewete kry nie (Hebreërs 9:9, 10). Hoewel hierdie regskode ’n goddelike oorsprong gehad het, het God dit weggeneem nadat dit aan sy doel beantwoord het. In plaas daarvan om met sy Naamvolk te handel op grond van ’n omvattende, geskrewe kode, sou God toe ‘sy wet in hulle verstande en in hulle harte gee’.—Jeremia 31:33; Hebreërs 10:16; 2 Korinthiërs 3:5-11.

16. Watter les bevat dit vir (a) persone wat baie streng op hulself is, en (b) vir ons en ons beskouing van reëls?

16 Met hierdie dinge in gedagte, moet persone wat vandag oor ander se bedrywighede toesig hou of dit koördineer, sorg dat hulle hulle nie met onnodige menslike reëls belas nie. Die neiging om dit te doen, kan sterk wees in diegene wat baie streng op hulself is of hoë eise aan hulleself stel en wat gevolglik meen dat ander sake op dieselfde wyse moet beskou. Maar Paulus het aan Christene geskryf: “Nie dat ons heers oor julle geloof nie, maar ons is medewerkers aan julle blydskap; want in die geloof staan julle vas” (2 Korinthiërs 1:24). Christene oor die algemeen moet ook waak teen die neiging om te wil hê dat iemand met gesag reëls oor elke saak moet maak. Ons moet liewer ons kennis van God se Woord verbreed ten einde ons gewetens en geestesvermoëns te oefen.—Hebreërs 5:14.

17. Teen watter ander verkeerde beskouing moet ons op ons hoede wees?

17 ’n Ander gevaar is egter om na die ander uiterste oor te hel en te dink dat dit elke Christen vrystaan om feitlik enigiets te doen wat sy gewete toelaat. Enkele persone het onlangs ’n geskil hiervan gemaak deur te sê “Die Christelike godsdiens is nie ’n godsdiens wat uit reëls bestaan nie” en deur na passasies soos die volgende te verwys: “Julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ’n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde. Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Galasiërs 5:13, 14). Dit is waar dat Christene nie onder die Mosaïese wet of enige ander omvattende kode goddelike wette is nie. Maar ons moet oppas dat ‘niemand ons met drogredes (“valse redenasies” NTP) verlei nie’, want ’n eerlike ondersoek van die Bybel toon dat dit wel wette of reëls vir ons bevat.—Kolossense 2:4.

Christene is nie wetteloos nie

18, 19. Waar staan Christene ten opsigte van Bybelwette en -reëls?

18 Paulus het aan die Korinthiërs geskryf dat ’n man wat skuldig was aan hoerery uitgesit moes word. Hy het bygevoeg dat afgodedienaar, egbrekers, homoseksuele, diewe, gierigaards, dronkaards, kwaadsprekers en rowers nie “die koninkryk van God sal beërwe nie” (1 Korinthiërs 5:1, 6, 7, 11-13; 6:9-11). Ons lees ook dat Christene hulle ‘moet onthou van afgodsoffers, van bloed, van wat verwurg is en van hoerery’ en dat gewaande broers wat valse leerstellings verkondig, verwerp moet word (Handelinge 15:28, 29; Titus 3:10; 2 Johannes 9-11). Dit is duidelik dat ons hier met wette te doen het. Iemand wat sulke sondes bedrywe, kan nie ’n ware Christen word nie. En as ’n kneg van God hierdie sondes onberouvol beoefen, moet hy uitgesit word.

19 Ons vind ook Bybelreëls oor sake wat nie uitsettingsoortredings is nie. Paulus het byvoorbeeld geskryf dat ongetroude Christene, “net in die Here” moet trou, en hy het beveel: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” (1 Korinthiërs 7:39; 2 Thessalonicense 3:10). Iemand redeneer moontlik: ‘Aangesien ek nie uitgesit sal word as ek daardie raad in die wind slaan nie, kan dit nie ernstige reëls wees nie.’ Hoe onverstandig tog! God beskou hierdie reëls as ernstig. Paulus het immers vir die Thessalonicense gesê om luiaards wat moedswillig ongehoorsaam is aan die reël om te werk te “teken” en “geen gemeenskap met hom” te hou nie.—2 Thessalonicense 3:14, 15.b

20, 21. Wat kan ons omtrent gemeentelike riglyne leer, en hoe behoort ons dit te beskou?

20 Party reëls is spesifiek vir die gemeentes se beswil gegee. In die verlede kon party Christene byvoorbeeld in tale spreek. Paulus het beveel dat slegs twee of drie op ’n slag spreek, dat hulle beurte moet maak en dat daar ’n uitlêer teenwoordig moet wees—reëls wat vrede en orde in die hand gewerk het (1 Korinthiërs 14:26-33). Die ouere manne van die gemeente kan vandag eweneens gelas dat die Koninkryksaal-uitgange nie versper moet word nie, dat broers nie onnodig sitplekke moet hou nie en hulle motors so moet parkeer dat dit nie vir die bure ongerief veroorsaak of ander se veiligheid in gevaar stel nie. Sulke gemeentelike reëls is nie onskriftuurlik nie, want dit het dieselfde doel (vrede en orde) as Paulus se raad oor talespraak. Die volgende Bybelse raad hou hiermee verband: “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers” (Hebreërs 13:17). Wanneer ons leuens of diefstal vermy, doen ons dit uit gehoorsaamheid aan God. Daarom moet hierdie teks sien op ons gehoorsaamheid aan die ouere manne se leiding in gemeentelike aangeleenthede. En dit is ook nie moeilik om gehoorsaam te wees as hulle nie deur ’n klomp wette en reëls probeer ‘baasspeel oor dié wat God aan hulle sorg toevertrou het nie’.—1 Petrus 5:3, NTP.

21 Ander “reëls” of metodes strek die wêreldwye kudde tot voordeel. Jehovah se Getuies word byvoorbeeld versoek om rapporte van hulle getuieniswerk in te gee. (Vergelyk Handelinge 2:41, 42; 8:14.) ’n Persoon wat individuele vryheid op die spits dryf, sal miskien nie met hierdie prosedure saamstem nie. Maar dink aan die nut wat gestig word omdat die rapporte vir die opsieners van die kudde getoon het tot watter mate die Koninkryksgetuienis gegee word, waar hulp nodig is en wanneer nuwe dissipels tot ’n gemeente saamgevoeg kan word. En geniet ons dit nie om die wêreldrapporte te lees nie? (Esegiel 9:11; Markus 6:30; Handelinge 14:21-23; 15:3; 19:1-6). Omdat ons vertrou dat God sy volk rig, kan ons ons steun en samewerking daaraan gee.

22. Waarom moet ons die gewete verder bestudeer?

22 Benewens spesifieke wette of reëls bevat die Skrif nuttige beginsels wat verstandige Christene kan toepas om “opregtes van weg” te wees (Psalm 119:1). Beginsels is veral nuttig om ons gewete in ooreenstemming met God se denke te bring. Maar wat dan van ‘gewetensake’? Party meen: ‘As iets van my gewete afhang, is dit heeltemal ’n persoonlike saak wat ek doen.’ Kom ons ondersoek die saak in die volgende artikel en kyk verder hoe ons ons gewete kan oplei om die meeste baat daarby te vind.

[Voetnote]

a Kyk “Vrae van lesers” op bladsy 30.

b Kyk Die Wagtoring van 15 November 1981, bladsye 21, 22; 1 Junie 1982, bladsy 30.

Onthou jy?

◻ Wat is jou gewete, en hoe kan dit jou help?

◻ Watter twee uiterstes bestaan daar op die gebied van moraliteit?

◻ Hoe help die Bybel ons om die regte beskouing van morele leiding te hê?

◻ Watter Skriftuurlike beskouing moet ons van wette of reëls hê?

[Prent op bladsy 18]

In morele aangeleenthede het mense dikwels van een uiterste na die ander uiterste gegaan.

Plig Wette

Sentiment Reëls

Gewete Gesag

[Lokteks op bladsy 20]

Persone wat baie hoë eise aan hulself stel, moet waak teen die neiging om baie reëls vir ander te maak en dit af te dwing

[Lokteks op bladsy 21]

Party meen verkeerdelik dat dit ’n Christen vrystaan om enigiets te doen wat sy gewete toelaat

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel