Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 10/1 bl. 22-27
  • Hoe om baat te vind by jou Godgegewe gewete

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om baat te vind by jou Godgegewe gewete
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat gee God se Woord te kenne?
  • Hoe sal ander geraak word?
  • Hoe sal onsself geraak word?
  • Gelei deur ’n goeie gewete
  • Hoe kan jy ’n goeie gewete behou?
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • ’n Goeie gewete voor God
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Is jou gewete goed opgelei?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Is jou gewete ’n betroubare gids?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 10/1 bl. 22-27

Hoe om baat te vind by jou Godgegewe gewete

“Die wet van sy God is in sy hart; sy gange sal nie wankel nie.”—Psalm 37:31.

1, 2. Waarom behoort ons besorg te wees oor die inspraak van ons gewete? (Spreuke 12:15; 14:12)

HOEWEL God nie ’n omvattende wetkode aan Christene gegee het nie, het hy vir ons ’n paar wette, of regstreekse reëls, en talle beginsels gegee wat ons in ooreenstemming met ons geloof en gewete moet toepas. Maar dit is een ding om ’n gewete te hê, en heeltemal iets anders om ten volle daarby baat te vind. Baie persone meen dat ‘indien iets my gewete nie pla nie, dit in orde is’. Is daardie denke korrek?

2 Die Bybel toon dat ons gewete ons weens ons sondige vlees kan mislei; dit kan swak, misleid of besoedeld wees. Ons kan die gevaar van die beskouing dat “jy jou deur jou gewete moet laat lei” beter begryp as ons kyk na die eerste-eeuse bewoners van Kreta, wat bekend was as “leuenaars, ongediertes, lui buike”.—Titus 1:10-12.

3. Watter uitwerking het die gewete op die Kretense gehad?

3 Net soos alle ander volke het die Kretense aangebore gewetens gehad. Maar hulle het nie daarby baat gevind nie. Toe die apostel Paulus aan Titus in Kreta geskryf het, het hy, gesê: “Alle dinge is rein vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel” (Titus 1:15; Romeine 2:14, 15). Die meeste Kretense het ongevoelige gewetens gehad wat hulle nie gehelp het om dinge te doen wat sedelik of rein is nie (1 Timotheüs 4:2). Vir baie Kretense was “niks rein nie”. Hoe so? Met besoedelde gewetens het hulle elke situasie beskou as ’n geleentheid om goddeloos te wees. Hulle het moontlik gesê: ‘Dit pla nie my gewete nie.’ Maar dit moes! Daar was egter Kretiese Jode of proseliete in Jerusalem vir die Pinkster van 33 G.J. Hulle geestelike kennis sou hulle gehelp het om nie leuenaars, skadelik of vraatsugtig te wees nie. En diegene wat Jesus aangeneem het, is verder deur sy leer gehelp om goeie, werkende gewetens te hê.—Handelinge 2:5, 11; Titus 1:5; 2:2-5; 3:3-7.

4, 5. Wat kan ons uit Paulus se geval omtrent die gewete leer?

4 Die gewete kan egter selfs ’n persoon mislei wat God se Woord lees en wil doen wat reg is. Saulus, oftewel Paulus, het die Skrifte geken en ywerig volgens die Wet aanbid. Hy het egter nie tred gehou met die progressiewe ontplooiing van God se wil nie. Nadat die Messias gekom, gepreek en ter vervulling van profesie gesterf het, het Paulus voortgegaan om Fariseïese Judaïsme te beoefen. Sy gewete het hom nie verhoed om “’n vervolger van die gemeente” te wees en ‘dreiging en moord teen die dissipels van die Here te blaas’ nie.—Filippense 3:4-6; Handelinge 9:1, 2.

5 Hierdie voorbeelde toon dat ons gewete ons kan mislei. Aangesien ons voor talle besluite te staan kom wat nie deur spesifieke Bybel wette gedek word nie, maar wat gewetensake is, moet ons weet hoe ons ons gewete kan oplei en die meeste baat daarby kan vind. Ons sal nou drie aspekte van die saak bespreek.

Wat gee God se Woord te kenne?

6, 7. Wat is een manier waarop God se Woord ons in gewetensake kan help?

6 Die volmaakte Woord van God bevat baie wat ons oor God se denke of beginsels kan inlig en ons gewetens kan oplei. Soos reeds gemeld is, het Josef geen skriftelike wet van God teen owerspel gehad nie. Maar Josef se gewete was reg opgelei. Hy het ongetwyfeld diep nagedink oor die feit dat God wou hê dat man en vrou (“hulle twee”) een vlees moes wees sonder die indringing van ’n owerspelige derde party. En Josef het sekerlik geweet van die ondervinding van God se vriend, Abraham, wat ’n aanduiding was van God se beskouing van owerspel.—Mattheüs 19:5; Genesis 2:24; 20:1-18.

7 Ons kan eweneens baat vind. Gestel ons moet byvoorbeeld besluit of ons ’n uitnodiging gaan aanvaar om ’n maaltyd te nuttig saam met iemand van ’n ander nasionaliteit, ras of agtergrond, of om sake met die persoon te doen. Dit is ’n persoonlike besluit. As ons egter God se onpartydigheid en billikheid uit die Bybel geabsorbeer het, sal ons opgeleide gewete enige vooroordeel waarmee ons moontlik grootgeword het, teëwerk. Ons sal dienooreenkomstig optree (Handelinge 10:34, 35; Jakobus 2:1-4). Bybelbeginsels kan ons gevolglik ook help.

8. Wat moet ons doen wanneer ons ’n besluit oor ’n gewetensaak moet neem?

8 Wanneer ons ’n besluit moet neem en ‘’n goeie gewete wil behou’, moet ons probeer uitvind wat Jehovah oor die saak sê, want dit kan en moet ons gewete en ons besluit beïnvloed (1 Petrus 3:16). Ons moet nie net na regstreekse wette soek nie, maar ons behoort ook daarin belang te stel om uit te vind of daar enige Bybelse beginsels is wat op die saak betrekking het. Het Jesus enigiets gedoen of gesê wat toon hoe hy oor die saak dink? Ons kan navorsing doen in Bybelstudiehulpe wat die saak bespreek. En ons kan mede-Christene raadpleeg wat ons kan help om toepaslike Bybelbeginsels te vind. Ons moet natuurlik nie hierdie stap doen met die gedagte dat hulle ons verantwoordelikheid moet dra nie, en ons moet ook nie vra nie: ‘Wat sou jy gedoen het as dit van jou afgehang het?’—Galasiërs 6:5.

9. Wat is ons doelwit wanneer ons besluite oor gewetensake neem?

9 In situasies waar ’n persoonlike besluit geneem moet word, moet opregte Christene ’n weg inslaan wat hulle met ’n rein en ongehinderde gewete voor God sal laat. Hulle moet die vermoë koester om te kan sê: “Die getuienis van ons gewete [is] dat ons in eenvoudigheid en reinheid van God . . . in die wêreld verkeer het, en veral by julle” (2 Korinthiërs 1:12). Die graad van ’n Christen se liefde vir Jehovah en sy beginsels kan getoon word deur die besluite wat hy in gewetensake neem.

Hoe sal ander geraak word?

10, 11. Watter tweede aspek van vrae oor gewetensake word toegelig deur ’n vraag in verband met voedsel in antieke Korinthe?

10 Aangesien Christene wil hê dat hulle gewetens hulle moet aanspoor om God na te volg, moet liefdevolle besorgdheid oor ander ’n groot invloed op gewetensbesluite hê. Hierdie aspek is by die saak betrek toe Paulus oor verskeie sake in verband met voedsel geskryf het.

11 In die gemeente in Korinthe het vleis wat aan afgode geoffer is, onsteltenis veroorsaak. ’n Christen sou homself aan afgodediens skuldig gemaak het indien hy offervleis tydens ’n plegtigheid ter ere van afgode geëet het. Maar Paulus het verduidelik dat dit nie ’n sonde was om oorskietvleis te eet wat deur ’n restaurantagtige onderneming wat aan ’n tempel verbonde was of deur openbare slaghuise verkoop is nie (1 Korinthiërs 8:10; 10:25; Handelinge 15:29). Maar party Christene wat vantevore afgode aanbid het, was sensitief (het swak gewetens gehad) en wou nie sulke vleis eet nie selfs wanneer dit in die openbaar verkoop is en niks met godsdiens te doen gehad het nie. Hoewel Paulus nie swak gewetens vergoelik het nie, het hy ander aangespoor om hierdie broers in ag te neem. Dit sou liefdeloos wees om iets te doen wat hulle kon laat struikel of hulle kon laat dink dat hulle gewete hulle toelaat om weer afgodediens te beoefen.

12, 13. Waarom moet ander se beskouings en gewetens in ag geneem word? Lig dit toe.

12 Paulus het die gesindheid geopenbaar wat ons almal moet hê: “As voedsel [of enigiets anders] my broeder laat struikel, sal ek in der ewigheid geen vleis eet nie.” Indien ons die gewetens van ander ignoreer in ’n gewetensaak waar ons gevolglik die vryheid het om op te tree, sodat ‘ons broers vir wie Christus gesterf het, verlore gaan’, kan ons ons goeie naam by God verloor. Paulus het gevra: “Waarom word my vryheid geoordeel deur ’n ander se gewete?” (1 Korinthiërs 8:3, 11-13; 10:29). Selfs al meen ’n individu dat dit ’n ‘persoonlike gewetensaak’ is, kan hy hom Jehovah se veroordeling op die hals haal as dit ander benadeel. Dit toon hoe bedrieglik dit kan wees om te dink: ‘As dit van my gewete afhang, is dit in orde.’

13 Beskou die ondervinding van ’n egpaar wat ’n Bybelstudie gehad het, vergaderinge bygewoon het en amper gereed was om gedoop te word. ’n Ouere man in die gemeente het vir die man vertel dat hy ’n sekere rolprent geniet het. Die man het geantwoord: ‘Wat! Jy gaan kyk tog nie na R-gekeurde rolprente nie?’a Die ouere man het probeer om sy optrede te verskoon deur te sê dat sekere van hierdie rolprente (wat selfs deur die wêreld as ongewens beskou word) waarde het as die ongewenste aspekte geïgnoreer word. Maar dit blyk dat die man benadeel was. Daarna het hy stadiger as sy vrou gevorder. As die ouere man nagedink het oor tekste soos Kolossense 3:2-8, Efesiërs 5:3-5 en Mattheüs 7:12, sou dit dalk sy gewete en sy gedrag beïnvloed het.—1 Korinthiërs 9:22, 25-27.

14, 15. Hoe kan die liggaam van ouere manne se gewete betrekking op sekere persoonlike aangeleenthede hê?

14 As ons ander in ag neem, beteken dit ook dat ons hulle nie sal versoek om iets te doen wat hulle gewete nie toelaat nie. Die gemeentelike ouere manne moet byvoorbeeld hul toestemming gee vir troues in die Koninkryksaal, vir die wyse waarop dit gehou word, vir die wyse waarop die saal versier word, ensovoorts.b Die ouere manne in een gemeente het geskryf: “Met een troue het al die strooimeisies met die gang af geloop terwyl hulle hulself met waaiers koel gewaai het. Die volgende troue moes die eerste oortref, daarom het die strooimeisies met die gang af geloop terwyl hulle sambrele in die rondte draai. Die volgende troue moes groter en beter wees; hulle wou twintig strooimeisies en twintig plekaanwyser hê. Die saal het ’n sirkustent geword.”

15 Was dit ‘’n gewetensaak’ waaroor ’n privaat besluit geneem moes word? Nee. Selfs al het die verloofde paartjie se gewetens iets oordadigs of buitensporigs toegelaat, kon die gesamentlike gewete van die ouere manne nie geïgnoreer word nie. Hoewel hulle nie hulle persoonlike smaak op ander wil afdwing nie, dra hulle die vrede, harmonie en geestelikheid van die hele gemeente op die hart. En hulle moet persone gewetensgetrou help om ‘te weet hoe hulle hulle moet gedra in die huis van God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid’.—1 Timotheüs 3:15; 1 Korinthiërs 10:31.

16. Wat moet jy in ag neem wanneer jy ’n besluit oor ’n gewetensaak moet neem?

16 Wanneer ons dus te staan kom voor ‘’n gewetensaak’, moet ons nadink oor (1) wat God se Woord daaroor sê, en (2) hoe ons besluit ander kan raak of by die saak kan betrek. Maar daar is ’n belangrike derde aspek.

Hoe sal onsself geraak word?

17. Hoe het die gewete van ’n broer in die stad New York hom beïnvloed?

17 Die tydskrif Natural History vir Augustus 1981 het ’n artikel bevat oor die stad New York se fietsboodskappers wat dringende pakkies en briewe by firmas dwarsoor die stad bestel. Dit het die volgende gesê oor een van die manne wat hierdie werk begin doen het: “Donald, ’n 41-jarige boodskapper, onderhou sy vrou en 15-jarige seun met sy inkomste. Donald was ’n filmverwerker, maar hy het sy beroep verlaat omdat hy, as een van Jehovah se Getuies, nie die rol wat hy by die vervaardiging van pornografiese materiaal gespeel het, kon vergoelik nie. As ’n boodskapper geniet hy nie alleen ’n skoon gewete nie, maar kan hy ook huis toe gaan wanneer hy wil om meer tyd aan proselietemakery te wy.”

18. (a) Wat het hierdie broer miskien gehelp om sy besluit te neem? (b) Watter les kan jy hieruit leer?

18 Verskeie faktore het betrekking op besluite in verband met werk (sien die venstertjie op bladsy 26). Net soos in Donald se geval werk ’n Christen miskien vir ’n firma wat films ontwikkel—foto’s, gesinsrolprente, reklamerolprente, kommersiële rolprente. Geleidelik aanvaar dit pornografiese materiaal. Op die een of ander stadium sal die Christen se gewete hom begin kwel. Hy sal dalk vind dat hy gedwing word om met pornografie of ander onwettige bedrywighede te doen te hê. Of dit nou is omdat hy geassosieer word met ’n firma wat met pornografiese materiaal werk of weens die aard van die werk wat hy versoek word om te doen, sal hy moontlik vind dat hy moet bedank om “onberispelik” te bly, iets wat van besondere belang is vir persone wat voorregte in die gemeente het of nastreef. Wanneer hy ander werk soek, kan hy met vertroue op Jehovah se seën staatmaak (1 Timotheüs 3:2, 8-10; Romeine 13:5). Daar is ongetwyfeld baie Christene wat uit sulke betrekkings bedank het eerder as om toe te laat dat onreinheid hulle benadeel. (Vergelyk Mattheüs 5:28.) Wanneer ons dus ’n besluit oor ’n gewetensaak moet neem, moet ons onsself afvra: ‘Hoe sal dit my raak as ek hierdie ding doen of weier om dit te doen?’ Ons moet beslis nie ons gewete ignoreer en toeskroei en dit gevolglik makliker maak om in die toekoms te doen wat verkeerd is nie.—1 Timotheüs 4:2; Judas 10; Efesiërs 4:18, 19.

19, 20. (a) Hoe kan die gewete sowel as geloof ’n invloed op ons bediening hê? (b) Wat moet ons begeerte wees, hetsy ons ryk is of nie?

19 Wanneer ons nadink oor die gewetensbesluit wat Donald geneem het, moet ons daarop let dat hy nie alleen ’n beter verhouding met Jehovah nagestreef het nie, maar ook sy geloof meer wou verkondig. Dit strook met Paulus se koppeling van die gewete met geloof: “Die doel van die gebod is liefde uit ’n rein hart en ’n goeie gewete en ’n ongeveinsde geloof.”—1 Timotheüs 1:5.

20 Dit is prysenswaardig wanneer ’n persoon se geloof en begeerte om ’n goeie gewete te hê hom beweeg om aanpassings aan te bring sodat ‘sy gange nie sal wankel nie’ en sodat hy meer tyd en aandag daaraan kan wy om “die hele raad van God te verkondig” (Handelinge 20:26, 27). Hoe moet ons ander egter beskou wie se omstandighede hulle skynbaar toelaat om meer te preek, maar wat dit nie doen nie? Hulle het moontlik ’n groot inkomste uit hulle betrekkings of ondernemings en het skynbaar reeds genoeg geld vir ’n gemaklike lewe in hierdie stelsel. Maar in plaas daarvan om hulle te verheug in die werk om as pioniers voltyds dissipels te maak, hou hulle aan om hulle ondernemings, huise en gerief te vergroot.c (Vergelyk Markus 10:17-22; Lukas 12:16-21.) Ons moet ander nie oordeel wat sulke dinge betref nie, want ‘elkeen van ons sal vir homself aan God rekenskap gee’. Laat ons geloof ons eerder ongeveinsd beweeg om God ten volle te dien sodat ons ’n skoon gewete kan geniet.—Romeine 14:1-4, 10-12.

Gelei deur ’n goeie gewete

21. Watter positiewe uitwerking kan ons gewete op ons hê?

21 ’n Behoorlik opgeleide en sensitiewe Christelike gewete sal ons lei om te doen wat goed is. Dit is wat in Paulus se geval gebeur het. Hy het soveel in ‘sy broers’, mede-Jode, belanggestel dat hy geskryf het: “My gewete getuig saam met my in die Heilige Gees—dat dit vir my ’n groot droefheid is en ’n onophoudelike smart vir my hart” (Romeine 9:1-3). Ja, hy het alles in sy vermoë gedoen om die goeie nuus van die Christelike godsdiens aan hulle te verkondig.

22. Waarom kan ons gewete ons aanspoor om selfs meer te doen as wat reëls ons aanspoor om te doen?

22 Dit behoort ook met ons die geval te wees. As ons die waarde van ons Godgegewe gewete besef, sal ons nie geneig wees om net in terme van reëls te dink nie. Reëls kan minimum-vereistes of doelwitte uiteensit. Maar ’n gewete wat deur liefde en geloof geprikkel word, sal waarskynlik selfs groter eise aan ons stel en ons beweeg om groter opofferings te maak en onselfsugtiger te wees. So sal ons beslis by ons gewete baat vind. Dit sal ons verhinder om dinge te doen wat God se afkeuring meebring en vir ons help om dinge te doen wat hy beslis goedkeur. Dit is veral die geval namate ons gewete ons lei om ’n groter aandeel in die verkondiging van die goeie nuus te hê. Watter groter voordeel kan daar wees as dit wat Paulus vir Timotheüs gemeld het? Hy het gesê: “Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.”—1 Timotheüs 4:16.

[Voetnote]

a In die Verenigde State word R-gekeurde rolprente ongeskik beskou vir persone jonger as 17 (tensy hulle deur ’n ouer of voog vergesel word) weens die tema of die hoeveelheid seks, gewelddadigheid of vloekery.

b Kyk Die Wagtoring van 1 Maart 1975, bladsye 117-120.

c Die plaaslike gemeente kan baat vind by meer pioniers. Maar talle belangstellendes met ’n geestelike honger woon in gebiede waarheen min kan verhuis omdat daar geen werksgeleenthede is nie. Watter seën is dit tog wanneer Christene wat finansiële sekuriteit geniet op hierdie oproepe om hulp reageer!—Handelinge 16:9, 10.

Onthou jy?

◻ Waarom is dit gevaarlik om te dink dat ‘iets in orde moet wees as dit my gewete nie pla nie’?

◻ Watter drie faktore moet jy ernstig in aanmerking neem wanneer jy ’n besluit oor ’n gewetensaak moet neem?

◻ Watter invloed moet die gewete op jou openbare verheerliking van God hê?

[Prent op bladsy 23]

’n Mede-Christen kan jou help om te vind wat God se Woord oor ’n gewetensaak sê

[Prent op bladsy 25]

Neem in ag hoe jou besluite of dade ander kan raak

[Venster op bladsy 26]

Sekulêre werk en die gewete

Wanneer ’n Christen oor ’n sekere soort werk besluit, moet hy eers aandag skenk aan wat hy inderdaad gaan doen. Hy kan hierdie twee punte in aanmerking neem:

Word die bepaalde werk in die Bybel veroordeel?

Die Bybel veroordeel dinge soos diefstal, afgodediens en die misbruik van bloed. ’n Christen kan dus nouliks ’n werk doen waar hy sulke dinge regstreeks bevorder.

Sal die werk ’n persoon so nou met ’n veroordeelde gebruik verbind dat hy ’n duidelike medepligtige sal wees?

Selfs ’n skoonmaker of ’n ontvangklerk by ’n bloedbank of ’n fabriek wat slegs oorlogswapens vervaardig, is regstreeks verbonde aan werk wat in stryd met God se Woord is.—Levitikus 17:13, 14; Jesaja 2:2-4.

Benewens die werk wat ’n persoon inderdaad gaan doen, het ’n paar bykomende faktore invloed op die geheelbeeld:

Is die werk ’n menslike diens wat nie Skriftuurlik verkeerd is nie?

’n Posbode bestel pos by huise en sakeondernemings. Sal ’n Christen veroordeel word indien hy onder meer pos bestel by ’n paar huise van diewe of ’n firma wat afgode verkoop?—Mattheüs 5:45.

Tot watter mate het ’n mens seggenskap oor wat gedoen word?

’n Christen wat ’n winkeleienaar is, sal nie afgode of bloedwors aanhou en verkoop nie. Hy is nie in dieselfde situasie as ’n werknemer by ’n selfdienwinkel wat sigarette of bloedwors saam met duisende ander items verkoop nie.

Tot watter mate is die persoon daarby betrokke?

’n Werknemer wat as ’n kassier werk en net nou en dan sigarette hanteer, kom miskien tot die gevolgtrekking dat sy situasie verskil van dié van ’n ander werknemer wat dit feitlik heeldag op die rakke pak.

Wie betaal hom of waar word die werk gedoen?

ln ’n land waar die regering die kerk oor alle sosiale programme aanstel, kry ’n man moontlik sy loonkoevert van ’n godsdienskorporasie. Maar sy werk om openbare parke in stand te hou, word in werklikheid nie op kerkeiendom gedoen nie. Dit is nie godsdienstig van aard nie en word nie as die bevordering van valse aanbidding beskou nie.

Wat is die totale uitwerking van sekere werk?

Sal dit baie laat struikel sodat hy nie meer “onberispelik” is nie? (1 Timotheüs 3:2, 10). Watter uitwerking sal dit op die werker se gewete hê?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel