Geleerdheid—Wat dit kos, wat dit bied
BEGEER jy ’n goeie geleerdheid vir jou kinders? ‘Natuurlik’, sê jy. ‘’n Goeie geleerdheid rus ’n persoon toe vir ’n beter lewe. ’n Geleerde persoon het baie voordele bo iemand met min geleerdheid.’ Dit is waar. Net soos ander wil Christenouers hê dat hulle kinders die allerbeste geleerdheid moet kry.
Maar wat sluit die “allerbeste geleerdheid” in? ’n Christen weet dat dit sekulêre sowel as geestelike opleiding insluit. Geestelike opleiding duur ons hele lewe lank. Maar hoe ver moet formele sekulêre geleerdheid gevoer word? Moet ’n jong Christen tevrede wees met ’n basiese sekulêre geleerdheid? Of moet hy kollege of universiteit toe gaan? Dit is nie ’n maklike vraag om te beantwoord nie, want hoewel alle geleerdheid voordele inhou, kos dit ook iets. In watter opsig?
’n Basiese opleiding
Opleiding begin voordat ’n kind skool toe gaan. ’n Verstandige Christenouer lei ’n kind van kleins af op. Waarin moet hy opgevoed word? Die apostel Paulus het Timotheüs daaraan herinner dat hy “van kleins af opgevoed is om die “heilige Skrifte” die deel van die Bybel wat destyds bestaan het, te ken (2 Timotheüs 3:15). Ouers kan hulle kinders dus van Jehovah God, Jesus Christus, die belangrikheid van God se koninkryk en ander Skriftuurlike waarhede leer terwyl die kinders nog jonk is.
As ’n jong kind hierdie dinge kan leer, is dit duidelik dat hy ook kan begin leer om te lees en te skryf, en verstandige ouers sit tyd opsy om ook hierdie dinge aan hulle kinders te leer. ’n Kind se opleiding moet dus vroeg begin.
Kos dit iets? Dit kos baie min geld, maar dit verg baie tyd en energie. Dit is egter dubbel en dwars die moeite werd. Met so ’n vroeë opleiding kan ’n kind ’n hartgrondige liefde vir Jehovah verkry en gou basiese leervermoëns verkry.
In die meeste lande voorsien die staat basiese sekulêre onderwys vir kinders wanneer hulle omtrent ses jaar oud word. Hoewel die koste vir hierdie onderrig hoofsaaklik met belastinggeld gedek word, kan dit ook iets anders kos. Invloede wat ouers nie kan beheer nie, begin om die kind se denke te vorm. Vir die eerste keer in sy lewe word die kind etlike ure per dag van sy ouers geskei. Hy meng nou met kinders wat nie egte Christelike weë geleer is nie, en gevolglik moet sy ouers sorg dat hy nie sy vroeë opleiding vergeet nie.
Is dit die koste werd? Die meeste ouers dink so. Op skool kry kinders ’n breë opleiding wat baie terreine dek. Hulle begin ook om vaardighede te verkry wat dwarsdeur hulle lewe waardevol sal wees. En al woon hulle by hulle ouers, het hulle die geleentheid om hulle liefde vir Jehovah te toon wanneer hulle nie onder die wakende oog van hulle ouers is nie.
Daar is egter ’n prys wat verstandige Christenouers nie bereid is om te betaal nie. Hulle oefen nie druk op hulle kinders uit om so hard te leer dat hulle min of geen krag of tyd oor het vir ’n studie van die “heilige Skrifte” of om God te dien nie. Waarom nie? Want hoewel sekulêre onderwys waardevol is, kan slegs onderrig wat gebaseer is op die “heilige Skrifte” ’n persoon ‘wys maak tot saligheid’ (2 Timotheüs 3:15). Wat is belangriker: Sekulêre onderwys wat ’n mens vir ’n paar jaar toerus of onderrig wat ’n mens vir die ewige lewe voorberei?
Kolleges en universiteite
In party lande gaan jongmense voort met sekondêre onderwys na hulle hulle primêre onderwys ontvang het. Gedagtig aan die feit dat Jesus geleer is om ’n timmerman te word, spoor baie Christenouers hulle kinders op hierdie stadium aan om vakopleiding te ontvang (Markus 6:3). Hulle weet dat die jongmense verantwoordelikhede sal hê wanneer hulle ouer word en dat dit nou ’n goeie tyd is om hulle te begin toerus om hierdie verantwoordelikhede te aanvaar.—1 Timotheüs 5:4, 8.
Party wonder of hulle hulle kinders vir universiteitsopleiding moet voorberei. Waarom? In ’n arm land lyk dit of universiteitsopleiding die beste manier is om vooruitgang te maak. Dit bied oënskynlik finansiële sekuriteit, en selfs meer. ’n Nigeriese opvoedkundige het gesê: “Vaders . . . wil hê dat hulle kinders geneeshere, ingenieurs, argitekte en rekenmeesters moet word sodat hulle gesinne groter status kan geniet.”
Maar is dit die dinge wat ’n Christenouer eerste moet stel wanneer hy die opleiding van sy kind beplan? Baie ouers is ’n ander mening toegedaan. Hulle verkies om ander maniere te gebruik om hulle kinders vir die lewe voor te berei. Waarom? Omdat die voordele van ’n universiteitsopleiding dikwels nie die koste werd is nie.
Die koste
Die Nigeria Daily Times het die aandag op die finansiële koste gevestig: “Gemeenskappe het hulself . . . swaar belas; ouers het hulself luukse en soms broodnodige items ontsê, terwyl jongmense in besoldigde diens ’n groot deel van hulle loon bygedra het, net om te verseker dat hulle kinders, pleegkinders en hulself van die vrugte van hoër onderwys smaak.”
Sou dit verstandig van Christenouers wees om sulke opofferings te maak om hulle kinders universiteit toe te stuur? Jy kan dit moontlik finansieel bekostig. Is daar ander koste wat in aanmerking geneem moet word? Beslis. Een jongman se ouers het hom byvoorbeeld toegelaat om Europa toe te gaan om aan ’n universiteit te studeer. Het dit vir hom finansiële sekuriteit meegebring of sy gesin tuis se status verhoog? Nee. Op aandrang van sy nuwe “vriende” by die universiteit het hy dwelmmiddels gebruik en weens ’n oordosis gesterf. ’n Ander jong Afrikaan het aan ’n universiteit in die Verenigde State gaan studeer. Hy is huis toe gestuur met vermoedelike breinskade weens dwelmmiddels en alkohol. Watter hoë prys het die ouers van hierdie jongmanne tog betaal!
Ander Christenouers het ook ’n hoë prys betaal. ’n Jongman het ingeskryf by ’n universiteit in sy eie land, maar ver van die huis af. Hy het opgehou om met mede-Christene om te gaan en om Jehovah te dien. Hy het al die dinge vergeet wat hy “van kleins af” geleer het, en nou trek hy selfs die leerstellings van die Bybel in twyfel.
Hierdie jongman is ongelukkig nie ’n uitsondering nie. Daar is ander wat grootgemaak is om God te dien maar wat nou evolusioniste en ateïste is en Bybelwaarheid kritiseer. Is dit omdat die Bybel verkeerd het en die hedendaagse filosofie reg het? Glad nie. Dis omdat hulle op universiteit voortdurend bestook is met goddelose idees terwyl hulle van ander Christene geskei was. Hulle geloof het gevolglik verswak en eindelik gesterf. Die tragedie is dat hulle dikwels deur hulle ouers in daardie situasie geplaas is.
“Slegte geselskap bederf goeie sedes” het die apostel Paulus gesê (1 Korinthiërs 15:33, NTP). Van die ergste omgang wat ’n Christen kan hê—op geestelike sowel as morele gebied—word op universiteitskampusse aangetref. Die voormelde ondervindinge toon wat kan gebeur wanneer onervare jongmense wat van hulle gesinne geskei is, in ’n milieu van onsedelikheid, dwelmmiddels of alkoholmisbruik, perversie en opstandige politieke idees gewerp word. Is groter aansien vir die gesin of die moontlikheid van ’n beter besoldigde betrekking die prys werd wat moontlik betaal moet word?
Gebalanseerde beskouing
Maar iemand opper dalk die beswaar dat nie elkeen wat universiteit toe gaan sy Christelike geloof verloor of aan ’n oordosis dwelms beswyk nie. Dit is waar. Party gegradueerdes het nuttige en hardwerkende lede van die Christengemeente geword. Maar onthou, dit is ook waar dat nie elke kind wat in ’n besige straat speel deur ’n motor doodgery sal word nie. Party oorleef dit en word groot. Maar sal jy jou kinders in ’n besige straat laat speel omdat dit die geval is?
Beteken dit dat dit verkeerd is om universiteit toe te gaan? Dit is ’n besluit wat elke ouer vir sy kind moet neem. Maar wanneer hy die besluit neem, moet hy die gemelde feite in aanmerking neem. Die student kan moontlik by sy ouers inwoon terwyl hy aan die universiteit studeer. Of hy kan moontlik by familielede woon wat sal toesien dat hy nie met die verkeerde mense omgaan nie en hom sterk aanspoor om sy Christelike verantwoordelikhede na te kom. Maar alles in ag genome, sal dit die tyd en inspanning werd wees? Sal dit hom beter toerus om sy God te dien?
Baie ouers meen dat die moontlike voordele van ’n universiteitsopleiding nie die moontlike verskriklike koste werd is nie, veral nie wanneer die kinders sonder toesig in ’n ander stad of land moet gaan woon nie. Hulle laat hulle kinders eerder ’n ambag leer. Is daar byvoorbeeld op middelbare skool kursusse in tegniese vakke wat ’n jong persoon kan help om ’n vaardigheid te verkry wat hom in staat sal stel om ’n bestaan te maak nadat hy sy skoolloopbaan voltooi het? In party lande is daar gespesialiseerde ambagskole waar ’n ambag in ongeveer ’n jaar geleer kan word, of waar die vaardighede wat ’n jong persoon op middelbare skool verkry het, verder ontwikkel kan word.
Sulke ouers het ook ernstig nagedink oor wat hulle wil hê hulle kinders met hulle lewens moet doen. Wil hulle hê dat hulle kinders die gesin eer moet aandoen? Ryk moet word? Of hulle ouers moet versorg wanneer dié bejaard is? Vir ’n gesin sonder Christelike geloof is sulke doelwitte te begrype. Maar ’n Christen het tog seker meer verhewe doelwitte.
Die apostel Paulus het gewaarsku: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang” (1 Timotheüs 6:9). Jesus het ook gewaarsku: “Julle kan nie God én Mammon dien nie!” (Mattheüs 6:24). Stem jy nie saam dat een rede waarom so baie universiteitstudente hulle geloof verloor, is omdat baie van hulle “Mammon dien” of “ryk wil word” nie? Deur nie ag te slaan op Bybelraad oor hulle gesindheid teenoor materiële besittings nie, stel hulle hulle bloot aan ander geloofvernietigende idees en gedrag.
Die apostel Johannes het gesê: “Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). As jy dit glo, sal jy jou kind ’n opleiding gee wat hom hoofsaaklik sal toerus om God se wil te doen. Maar party sal sê: ‘Die lewe is vandag moeilik, en ’n jong persoon—veral een wat uit ’n arm huis kom—het al die hulp nodig wat hy kan kry.’ Dit is waar. Maar God het beloof dat indien ons sy koninkryk eerste in ons lewe stel, ons al die lewensbenodigdhede sal kry (Mattheüs 6:33). Kan ons beter hulp as dit verlang?
Voordat koning Dawid koning geword het, was hy genoodsaak om as ’n vlugteling in die woestyn te woon. Hy het dus geweet wat dit beteken om gebrek te ly. Hy het nogtans gesê: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie” (Psalm 37:25). God is vandag nog net so by magte om ons te help as wat hy in Dawid se dag was as sy koninkryk voorkeur in ons lewens geniet.
Die beste opleiding wat ons ons kinders kan gee, sal gevolglik geestelike betref, is dit goed om ag te slaan op die apostel Paulus se raad: “Die tyd is kort; van nou af onderrig met sekulêre opleiding laat balanseer. Sekulêre geleerdheid het sy waarde. Maar as ’n mens dit ten koste van geestelike dinge nastreef, is dit nie die koste werd nie. Wat die opleiding van ons kinders moet . . . die wat hierdie wêreld gebruik, [wees] asof hulle dit nie ten volle gebruik nie; want die gedaante van hierdie wêreld gaan verby.”—1 Korinthiërs 7:29-31.
Die resultate van ’n gebalanseerde opleiding maak alle Christenouers bly. Kinders verkry sterk geloof, loof God en strek hulle ouers tot eer. Talle jong Christene wat op hierdie wyse grootgemaak is, dien nou as voltydse predikers of sendelinge, en hulle lewens is waarlik sinvol. Hoe trots moet hulle ouers tog nie op hulle wees nie! Hulle ‘dink waarlik aan hulle Skepper in die dae van hulle jonkheid’, en toon aldus hulle geloof in Hom eerder as in hierdie wêreld.—Prediker 12:1.
Wanneer hierdie stelsel eindelik eindig, sal jongmense wat ’n gebalanseerde, godvrugtige opleiding ontvang het en daarop gereageer het, saam met hulle godvresende ouers behoue bly om God vir ewig te dien. Is dit wat jy vir jou kind begeer? Help hom dan om ’n opleiding te kry wat hom vir ewig tot voordeel sal strek.—Johannes 17:3.
[Lokteks op bladsy 13]
Is die moontlike voordele van ’n universiteitsopleiding die prys werd wat dalk betaal moet word?
[Lokteks op bladsy 14]
Ouers, wat hoop julle gaan julle kinders met hulle lewens doen?
[Lokteks op bladsy 15]
Indien sekulêre geleerdheid ten koste van geestelike dinge nagestreef word, is dit nie die koste werd nie