’n Toekoms vir vandag se jeug
NADAT George ’n ruk lank by ’n versekeringsmaatskappy gewerk het, moes hy die firma om persoonlike redes verlaat. Hy was destyds 20 jaar oud, wat beteken dat hy omtrent so oud soos die “verlore geslag” was. Maar toe hy daar weg is, het ’n veertigjarige vrou saam met wie hy gewerk het, die volgende brief aan hom geskryf:
“Ek wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om jou geluk, gesondheid, vreugde en voorspoed toe te wens. Dit was aangenaam om jou te ken en saam met jou te werk. Jy is ’n voorbeeldige jong man en strek jou gesin tot eer. In hierdie tyd wanneer die wêreld so onderstebo is en die jeug van vandag so verlore lyk, is dit verkwikkend om ’n hoflike en eerbiedige persoon soos jy te ontmoet. Mag God jou altyd seën.”
Dit is duidelik dat George van baie van vandag se jongmense verskil. Hy lyk nie “so verlore” nie. Waarom nie? In ’n brief het hy verduidelik: “Met behulp van die Bybel het my ouers my deur die lewe gestuur om te word wat ek nou is.”
Ja, George se ouers was bewus van die nodigheid om hom deur die valstrikke van jongmenswees te “stuur”. Maar waarom het hulle sukses behaal wanneer so baie ander ouers misluk het? Omdat hulle dit gedoen het “met behulp van die Bybel” soos George gesê het. Dit is weliswaar vandag nie in die mode om na die Bybel te gaan vir leiding nie. Maar hier het ons ’n geval waar die toepassing van Bybelraad gewerk het.
Wil jy as ouer graag weet wat George se ouers hom geleer het terwyl hy grootgeword het, dinge wat so ’n goeie uitwerking op hom gehad het in die dae van sy jonkheid? En as jy ’n tienderjarige is, kan jy gerus self ’n paar van hierdie dinge beskou. Dit het George gehelp om die doelloosheid en ontevredenheid wat vandag so algemeen in die wêreld is, te vermy. Dit kan jou op dieselfde wyse help.
Die beste begin
Dit is duidelik dat George se ouers eerstens besef het dat dit hulle verantwoordelikheid was om hom groot te maak, nie iemand anders s’n nie. Hulle weet dat die volgende woorde in die Bybel spesifiek tot ouers gerig is: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg: dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spreuke 22:6). En George was natuurlik bereid om die onderrig wat hy van sy ouers ontvang het, te aanvaar.
Die Bybel vergelyk jong kinders met “pyle in die hand van ’n held” (Psalm 127:4). Indien ’n pyl nuttig en doeltreffend moet wees wanneer ’n mens dit nodig het, moet dit vaardig voorberei word. Om ’n pyl op koers te hou, word vere teen ’n effense hoek agterop vasgemaak sodat die pyl tydens sy vlug sal tol. Anders sal dit maklik van koers af gaan.
Tensy jongmense gehelp word om koersvas te wees, sal hulle eweneens maklik die pad byster raak. Dit blyk uit ’n meningspeiling onder nagenoeg 5 000 jongmense tussen die ouderdom van 10 en 18 in 160 skole dwarsoor Engeland. Van die tienjariges het 71 persent gemeen dat almal tot God moet bid, terwyl slegs 34 persent van die agttienjariges so gedink het.
Waarom die verskil tussen die jonger en ouer kinders? Namate hulle ouer geword het, is die tienderjariges klaarblyklik beïnvloed deur die sinisme en skeptisisme van die wêreld om hulle. Of miskien het hulle vrae gestel wat niemand kon beantwoord nie.
Iets om voor te lewe
Waarom is George nie nadelig deur daardie skeptisisme beïnvloed nie? Hy sê dat hy van die “wonderlike weë en liefdevolle eienskappe” van Jehovah God by sy ouers geleer het. Hy het gevolglik ’n verhouding met God gehad asook die wete dat hy Hom ken en deur Hom geken word. Dit het aan George rigting en ’n doel in die lewe gegee. En dit het hom gehelp om verhewe sedelike standaarde na te leef.
Maar hoe help dit om verhewe standaarde en doelwitte te hê wanneer die toekoms so onseker is en dit lyk of hierdie hele stelsel verbrokkel?
Die verval van hierdie stelsel is geen verrassing vir ernstige Bybelstudente nie. Hulle weet die Bybel waarsku dat mense in ons dag “liefhebbers van hulleself [sou] wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde . . . ” en so meer. En dit is natuurlik juis die dinge wat die wêreld so onbestendig gemaak het.—2 Timotheüs 3:1-5.
Maar die Bybel verseker ons dat God bewus is van die mens se verkeerde gedrag en dit nie onbepaald sal laat voortduur nie. Hy gaan eerder ‘die verderwers van die aarde verderf (Openbaring 11:18). Maar dit sal nie die einde van alles beteken nie. Die Bybel beloof ook “nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon”.—2 Petrus 3:13.
Die heersers in hierdie nuwe stelsel sal nie slinkse politici of meedoënlose nyweraars wees nie. Daar is eerder aan ons beloof: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit. . . . Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”—Psalm 37:9, 11.
Wanneer jy dit lees, sê jy miskien: “Dit is onmoontlik!” Maar George glo dat dit sal gebeur. En duisende ander glo dit ook. Hulle is nie liggelowig of goedgelowig nie. Nee, net soos hedendaagse jongmense oral verlang hulle bewyse voordat hulle iets glo. En toe hulle ondersoek ingestel het na die bewys dat hierdie beloftes betroubaar is, het dit hulle oortuig.
Ons stel voor dat jy nie hierdie beloftes verwerp voordat jy self ondersoek ingestel het nie. Watter ander hoop is daar immers vir die toekoms?
’n Suksesvolle lewe nou
Jy kan moontlik begryp waarom jongmense soos George so anders is as baie van vandag se jongmense. Hulle is normale jongmense, in die sin dat hulle met dieselfde druk en probleme as alle ander jongmense te kampe het.
Maar hulle het ’n goeie toekoms. Hulle het rigting, en gevolglik is hulle nie “verlore” nie. En omdat hulle in die Bybel glo, het hulle bowendien toegang tot ’n merkwaardige bron van leiding wat hulle help om valstrikke te vermy en nou sukses met hulle lewens te behaal.
Jongmense wat maagvol is vir hierdie wêreld probeer byvoorbeeld dikwels om anders te wees. Maar het hulle dan enigiets beters om aan te bied? Is dit nie so dat talle jong rebelle onsedeliker, meer ongebalanseerd, gewelddadiger en selfsugtiger is as die stelsel wat deur hulle veroordeel word nie?
Die Bybel spoor ons weliswaar aan om anders te wees. Dit sê: “Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie.” Maar dan wys dit vir ons hoe ons dit met welslae kan doen. “Word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). ’n Ware Christen word dus anders omdat hy probeer om hoër standaarde as dié van hierdie wêreld te handhaaf. Hy probeer om te lewe soos God sê ’n mens moet lewe, en sodoende word hy nie deur die wêreld verderf nie.
En Jesus het gesê: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Dit is nie die algemene gesindheid nie. Mense meen vandag dat hulle ‘na hulself’ moet omsien. Maar het daardie gesindheid geluk gebring? Natuurlik nie. ’n Christen wat gevolglik op die Bybel se raad ag slaan en onselfsugtig optree, toon wat die regte manier is om op te tree. Het jy al opgelet hoedat ‘vrygewigheid vrygewigheid wek’? ’n Vrygewige persoon skep ’n aangename atmosfeer om hom. Hy is ook gelukkig omdat hy eienskappe aankweek waarmee God die mens oorspronklik begaaf het.—Lukas 6:38.
Die Bybel vermaan ons ook om hard te werk en nie lui te wees of op ander staat te maak om ons te voed nie (Efesiërs 4:28; 2 Thessalonicense 3:12). Dit is goed vir ons. Ons is gemaak om te werk, en dit verskaf tevredenheid en vreugde as ’n mens dinge bereik (Prediker 2:24). Diegene wat werk vermy, gaan sedelik en fisies agteruit.
Ons word ook gewaarsku om geld nie te verafgood nie. Ons moet ’n bestaan maak, maar dit kan tragiese gevolge hê as ons die verkryging van geld ons hoofdoelwit in die lewe maak. Die Bybel sê: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels” (1 Timotheüs 6:9, 10). Jy het waarskynlik al gelees van mense wat baie hard gewerk het om skatryk te word. Was hulle gelukkig? Hulle het dikwels hulle gesondheid, geluk, gesin en vriende opgeoffer om hulle doel te bereik.
Nee, God gee ons waardevoller dinge om voor te werk. Verstandige mense slaan ag op die raad: “Dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ’n skat weglê, ’n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.”—1 Timotheüs 6:18, 19.
Het dit vir jou sin? Die beginsellose manier waarop dinge in hierdie wêreld gedoen word, het beslis nie sin nie. Maar miljoene vind vandag dat ’n lewenswyse wat berus op diens aan God en ons medemens en op ’n gewisse hoop om die goeie toekoms te geniet wat God vir ons voor het, suksesvol sowel as redelik is. Dit werk.
As jy ’n ouer is, dink jy moontlik nou: ‘Ek is nie toegerus om vir my kinders so ’n sterk vertroue in die toekoms en sulke kragtige beginsels te gee nie. Ek weet eenvoudig nie genoeg nie.’ Of tienderjariges kan wonder: ‘Waar kan ek daardie soort inligting bekom?’ Wel, die basiese inligting is in die Bybel. Maar Jehovah se Getuies het George se ouers gehelp om by daardie inligting uit te kom. Hierdie Bybelstudente is bereid om almal—jonk sowel as oud—te help om dieselfde kennis te verkry en om self te sien hoe prakties dit is.
Aanvaar gerus hulle hulp. Die lewe hoef nie frustrerend en doelloos te wees nie. As jy jonk is—of selfs al is jy nie meer so jonk nie—kan jy gerus die voorbeeld volg van duisende wat net soos George rigting aan hulle lewe gegee het. Geniet nou ’n bevredigende lewe, en verkry vertroue in ’n toekoms wat sal werk.
[Prent op bladsy 5]
Tensy jongmense gehelp word om koersvas te wees, kan hulle maklik die pad byster raak
[Prent op bladsy 6]
Ongelukkig is talle jong rebelle vandag gewelddadiger of selfsugtiger as die stelsel wat deur hulle veroordeel word
[Prent op bladsy 7]
Toe hulle ondersoek ingestel het na die bewys dat hierdie beloftes betroubaar is, het dit hulle oortuig
[Lokteks op bladsy 8]
Moenie hierdie beloftes verwerp voordat jy self ondersoek ingestel het nie. Watter ander hoop is daar immers vir die toekoms?