’n Opgeleide tong—“Om die vermoeides te bemoedig”
“EK SAL aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand [insig, NW]” het Jehovah God beloof. Is dit nie verkwikkend om versorg te word deur geestelike herders wat kennis en insig besit nie?—Jeremia 3:15.
Insig behels meer as oppervlakkige behandeling. Dit vereis dat ’n mens iets op die keper beskou. In Jesaja 44:18 (NW) word insig geassosieer met die hart, nie met die oog nie. Hierdie hartgrondige insig is veral nodig wanneer herders met “terneergedrukte siele” te doen het. Jesaja het nog iets gemeld wat nodig is: “Die Here GOD het My die taal van die geleerdes gegee, sodat ek weet hoe om te praat om die vermoeides te bemoedig.”—Jesaja 50:4, Beck se vertaling.
’n Mens moet deur Jehovah geleer en opgelei word om te weet “hoe om te praat om die vermoeides te bemoedig”. Deur goed vertroud te raak met die Bybel, dit te gebruik en hartgrondige insig aan die dag te lê, kan ouere manne talle terneergedrukte persone met welslae help. Die meeste ouere manne waardeer nuttige wenke in verband met hulle herderswerk. Hulle besef, moontlik weens ’n spytige ondervinding, dat party pogings teleurstellend kan wees al het hulle goed daarmee bedoel. Die materiaal wat hier volg, handel oor hoe om terneergedrukte persone te help. Die ouere manne sal ’n lid van die gemeente wat “tugteloos” is of wat “onsin praat” ongetwyfeld anders behandel.—1 Thessalonicense 5:14, vgl. NW; Titus 1:10-13.
Wanneer voorbeelde met mekaar vergelyk word, help dit ’n mens dikwels om te sien watter metodes reg en watter verkeerd is.
“Treurige vertroosters”
Toe Job terneergedruk was, het drie van sy metgeselle van sy verknorsing gehoor en gekom om “hom hul deelneming te betuig en hom te troos” (Job 2:11). Omdat hulle die verkeerde beskouing gehad het, was hulle swak toegerus vir die taak. Hulle het met ’n vooropgesette teorie gekom—as ’n persoon ly, is dit omdat hy iets slegs gedoen het. Hulle het gevolglik nie begryp wat die oorsaak van Job se probleme was nie. Die Interpreter’s Bible takseer hulle “troos”:
“Dit word irriterend. . . . Dit is ’n kommentaar van ’n buitestaander, met ’n bietjie goeie raad daarby. . . . soos iemand wat veilig op die strand staan en stomme siele wat in die donker dieptes spartel terwyl groot golwe hulle asem wegslaan, iets bemoedigends toeroep. Wat Job nodig het, is die medelye van ’n mensehart. Hy kry egter ’n reeks volkome ‘waar’ en pragtige godsdiensclichés en morele gemeenplase.”
Wat was party van die benaderinge wat hom geïrriteer het? Elifas het ongevoelig geredeneer: ‘Kyk, jy het ander versterk. Maar noudat dit jou tref, is jy verslae. Behoort jy nie vertroue in jou eie onkreukbaarheid te hê nie?’ Bildad het bygevoeg: ‘As jy tog maar net meer na God soek, sal hy jou herstel.’ Hoe ongevoelig! Veral aangesien Job reeds op God vertrou het. Hoe sou jy gevoel het? In plaas daarvan om Job te troos, het daardie oënskynlik welmenende woorde hom “verbrysel”. Geen wonder dat hy uitgeroep het nie: ‘As julle maar net in my plek was!’—Job 4:3-6; 8:5, 6; 16:2, 4, 5; 19:2.
Geen ouere man in die Christengemeente sal natuurlik die gesindheid of demongeïnspireerde filosofie van daardie “vriende” wil weerspieël nie (Job 4:15, 16). Maar soms moet herders wat ander vertroos, oppas dat hulle nie dieselfde fout begaan nie. Wanneer ouere manne ’n ‘terneergedrukte siel’ probeer help, sal hulle waarskynlik probeer vasstel waarom die persoon so sleg voel. Die terneergedrukte persoon meen moontlik dat hy God se gees verloor het. Ouere manne weet uit Skriftuurlike voorbeelde soos die van Dawid dat sondige gedrag terneergedruktheid kan veroorsaak (Psalm 38:2-7). Hulle kan gedeeltes uit die Bybel wat oor ’n Christen se gedrag handel saam met die persoon lees en dan moontlik vra: ‘Meen jy, in die lig van wat die Bybel sê, dat jy werklik rede het om te dink dat God sy gees van jou weggeneem het?’ In plaas daarvan om vir die persoon te sê dat hy iets verkeerds gedoen het of moontlik te impliseer dat dit die geval is, sal dit nuttig wees om die persoon sy eie gevolgtrekking te laat maak. Hy sal dalk besef dat sy skuldgevoelens geen grondslag het nie. En as hy gesondig het, kan die ouere manne hom help om “reguit paaie vir [sy] voete” te maak en weer eens Jehovah se goedkeuring te geniet.—Hebreërs 12:12, 13.
Terneergedrukte persone word dikwels om geen gegronde rede nie deur skuldgevoelens oorweldig. Insig sal ouere manne help om sulke situasies te herken. Een terneergedrukte Christin wat die besoeke van haar liefdevolle herders om haar te help innig waardeer het, was daarvan oortuig dat sy God se gees verloor het. “Dink goed na en kyk of jy iets slegs gedoen het” het ’n ouere man op een stadium gesê. Die vrou het net daar gesit en huil. “Maar ek kan aan niks dink nie. Wil julle hê dat ek iets moet versin? Sal dit help?” het sy gesnik. Die ouere manne het die punt gesnap en op ander maniere probeer help.
Job se raadgewers het uit die staanspoor besluit dat Job iets verkeerds gedoen het. Ouere manne wat weet “hoe om die vermoeides te bemoedig” sal elke situasie “sonder vooroordeel” hanteer en “niks uit partydigheid doen nie” (1 Timotheüs 5:21). Wanneer hulle indringende vrae stel, doen hulle dit nie op ’n beskuldigende wyse nie, maar met empatie deur hulself in die ander persoon se plek te stel.
Raadgewers met insig
Alhoewel Elihu nie doekies omgedraai het toe hy raad gegee het nie, het hy insig aan die dag gelê. Hy was ’n goeie luisteraar. Hy het nie ‘antwoord gegee voordat hy gehoor het nie’, iets wat die Bybel onomwonde “’n sotheid en ’n skande” noem (Spreuke 18:13). Hy het Job geprys vir sy getrouheid en hom aangespoor om sy gedagtes uit te spreek. Sulke insig het “oorredingskrag” aan Elihu se woorde verleen.—Job 32:4, 11; 33:5-7, 32; Spreuke 16:23, NW.
Jehovah is die grootste voorbeeld van ’n raadgewer met insig. Die wyse waarop hy die profeet Jona behandel het, getuig van oordeelkundige empatie en medelye. Jona het kwaad geword toe Jehovah besluit het om nie die Nineviete te vernietig en sodoende die profeet se doemboodskap te vervul nie. Jona was so terneergedruk dat hy wou sterf. Hoe het Jehovah hom toe behandel? Het hy gesê: ‘Jona, jy is nou net egosentries. Het jy dan geen liefde in jou hart nie? Al waaroor jy besorg is, is wat ander van jou dink!’ Dit sou waar gewees het. Maar dit sou hom waarskynlik slegs net nog skuldiger en meer terneergedruk laat voel het. Wat het Jehovah gedoen?
“Het jy rede om vertoornd te wees?” het Jehovah gevra. Ja, ’n eenvoudige vraag om hom te laat dink. Geen beskuldiging nie. Geen veroordeling nie. Selfs al het Jona nie dadelik geantwoord nie, het Jehovah nie moed opgegee nie maar ’n groot plant voorsien om hom teen die stekende son te beskerm. Toe het Jehovah ’n illustrasie gebruik wat skynbaar Jona se hart geraak het. Hy het die groot plant laat doodgaan. Toe Jona kwaad geword het oor die dood van die plant, het Jehovah hom gehelp om te sien dat die lewens van die Nineviete baie kosbaarder was as die lewe van daardie plant. Behoort hy nie vir hulle jammerder te gevoel het as oor die dood van ’n blote plant nie? Eenvoudig dog doeltreffend!—Jona 4:1-11.
Wanneer ouere manne probeer om terneergedrukte siele te bemoedig, moet hulle Jehovah en Elihu se voorbeeld navolg. Moenie aarsel om die persoon te prys waar julle kan nie. Gebruik eenvoudige, direkte verklarings en vrae. Gebruik maklike taal. Moenie doekies omdraai nie, maar vermy intimiderende vrae. Illustrasies wat die persoon kan laat dink of emosioneel betrokke kan laat raak by ’n saak wat effens verskil (byvoorbeeld Jona se toorn oor die dood van die plant), kan gebruik word om ’n individu te help om die verkeerdheid van sy denke te besef. Maar onthou: “Goue appels op versierde silwerborde, so is ’n woord op sy tyd gespreek” (Spreuke 25:11). As ’n persoon verkeerd redeneer, moet julle hom help om sy denke geleidelik reg te stel. Lê julle daarop toe om sy lae dunk van homself te verbeter. “Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer, maar ’n vriendelike woord vrolik dit op.”—Spreuke 12:25.
Maar watter soort wenke kan ’n ouere man aan ’n terneergedrukte persoon gee?
Die hulp van sinvolle gebede
“Alhoewel ek gemeen het dat Jehovah die saak volkome begryp het, was daar tye wanneer ek so terneergedruk of paniekbevange was dat ek gedink het dit nutteloos was om te bid” het een terneergedrukte siel gesê. Alhoewel ouere manne besef dat talle terneergedrukte persone so voel, kan hulle hulle aanspoor om in die gebed te volhard. Maar waarvoor moet hulle bid?
“Ek het gebid dat Jehovah my moes help om te volhard of my moes lei na ’n plek waar ek hulp kon kry” het een terneergedrukte jong vrou gesê. ’n Drie-en-dertigjarige moeder met ’n ongelowige man wat op haar geskel het, het terneergedruk geraak. Sy het gesê: “Wanneer ek baie benoud, gespanne of vreesbevange geraak het, het ek dadelik na Jehovah gegaan en hom in trane, soms op my knieë, gesmeek om my te help om dit te bowe te kom. Dit was baie belangrik om spesifieke gebede te doen. Ek het dikwels dadelik verligting gekry.” Een een-en-veertigjarige vrou het gesê: “Wanneer ek terneergedruk was, het ek dit moeilik gevind om ’n gebed saam te stel. Maar Romeine 8:26 was vir my ’n groot troos. Ek het dus net vir Jehovah gevra: ‘Help asseblief!’”
Die ouere manne kan saam met en vir die persoon bid. Hulle moet natuurlik verklarings vermy wat die persoon nog skuldiger sal laat voel. As Jehovah in die teenwoordigheid van die terneergedrukte persoon versoek word om hom of haar te help om te begryp hoe lief ander en selfs Jehovah hom of haar het, sal dit beslis opbouend wees. Daar kan ook vir die lyer getoon word watter verligting opregte gebed, tesame met vertroue op Jehovah, kan verskaf.—1 Samuel 1:9-18.
Help die vermoeides om insig te verkry
Soms meen mense dat hulle hulle geloof verloor het en dan voel hulle dikwels baie skuldig daaroor” verduidelik dr. Nathan Kline, hoof van die Departement van Geesteshigiëne van die Staat New York aan Rockland-Navorsingsinstituut. “Alhoewel daar gevalle van geestelike gebrek is, is dit myns insiens in baie gevalle waarskynlik nie ’n gebrek aan godsdienstige geloof nie, maar ’n vroeë teken van depressie.” Hy het hierdie verklaring gedoen nadat hy hierdie simptome waargeneem het in ’n aantal van sy pasiënte wat baie godsdienstig was. As ’n persoon wat aan ernstige depressie ly, gehelp kan word om dit te besef, kan dit dikwels van onnodige skuldgevoelens ontslae raak.
Een Getuie wat ’n aantal “terneergedrukte siele” gehelp het om gesond te word, het gesê: “Dit is ongelooflik met hoeveel onnodige skuld party hulself opsaal. Ek voel skuldig oor die verkeerde dinge wat ek gedoen het, maar ek glo ook dat as Jehovah die losprys voorsien het om hierdie dinge tot niet te maak, ek myself nie vir ewig daarvoor kan verwyt nie. Dit is een van die gedagtes wat ek hard probeer om tuis te bring by diegene wat ek help.” Die persoon moet besef dat as hy waarlik berouvol is oor ’n verkeerde daad, die begeerte het om dit nooit weer te doen nie en waarlik probeer om ‘die onreg te herstel’, hy daarvan seker kan wees dat die losprys sy gewete sal reinig. As persone met ‘godvrugtige droefheid’ gehelp word om te besef hoe barmhartig en vergewensgesind Jehovah is, verlig dit dikwels hulle neerslagtigheid.—Psalm 32:1-5, 11; 103:8-14; 2 Korinthiërs 7:9-11, vgl. NW.
Selfs al word ’n terneergedrukte siel deur verkeerde gedagtes gekwel, hoef hy nie te voel dat hy nutteloos en “deur God veroordeel” is nie. Dit is die kweek en die ‘volbrenging’ van sulke gedagtes waarteen die Bybel waarsku (Jakobus 1:14, 15; Galasiërs 5:16). Solank ’n persoon dus hard probeer om van sulke gedagtes ontslae te raak, hoef hy nie deur skuldgevoelens oorweldig te word nie.
’n Terneergedrukte persoon kan byvoorbeeld toornig word of ’n wrok koester. Dit help nie baie as ’n ouere man vir die persoon sê nie: ‘Jy moenie so voel nie.’ Die feit is dat die persoon wel so voel! Hoewel die Bybel realisties erken dat ’n persoon soms toornig sal word, waarsku dit ons om nie aan sulke toorn uiting te gee nie (Psalm 4:5; 37:8). Dit spoor ons aan om nie toornig te bly nie (Efesiërs 4:26, 27). Die skerpsinnige ouere man kan dus met ’n paar eenvoudige vrae uitvind waarom die lyer toornig is. Nadat die persoon (net soos Jona) gehelp is om die situasie te ontleed, sal hy dalk sien dat daar geen rede vir sy toorn bestaan nie. En as iemand hom te na gekom het, kan hy gehelp word om sekere Skriftuurlike stappe te doen en aldus van die wrok ontslae te raak.—Kolossense 3:13; Mattheüs 5:23, 24; Lukas 17:3, 4.
As ’n ouere man op sy hoede is vir negatiewe gesindhede by vermoeides, wanneer die neerslagtigheid nog in sy vroeë stadium is, kan ’n persoon dikwels gehelp word sodat hy nie in ernstige depressie wegsink nie—’n kwaal wat dalk mediese hulp sal verg. Ook hier kan die ouere man die terneergedrukte persoon of sy gesin help om te besef wanneer die kwaal die punt bereik het waar mediese aandag nodig is. Dit beteken nie dat die ouere manne hulle ‘lyf dokter sal hou’ of ’n vorm van behandeling sal voorskryf nie. Hulle wil dalk die betrokke persone se aandag vestig op die artikel “Die bestryding van ernstige depressie—Professionele vorme van behandeling” in Ontwaak! van 22 Februarie 1982, wat verskeie vorme van behandeling bespreek en nogtans geeneen voorstaan nie.
Hulp om ewewig te herwin
“Dit was elke minuut van elke dag ’n worsteling” is hoe een veertigjarige Christenmoeder haar aanval van ernstige depressie beskryf het. Na haar herstel het sy een van die oorsake gemeld: “Omdat ek niemand in die steek wou laat nie of in geen aspek van my gesinslewe of diens eens ’n bietjie minder wou doen nie, het ek ’n rooster gevolg wat my uitgeput het. Ek het dit agt jaar lank gedoen; en volgens die dokter het ek eindelik ‘breekpunt’ bereik. Agterna beskou meen ek dat hoewel my redes vir so ’n rooster nie ligsinnig was nie, ek redeliker moes gewees het.”
Weens die gevaar dat ’n persoon onredelik kan word, moet ouere manne ’n terneergedrukte persoon soms help om sy ewewig in sy bedrywighede te herwin. Hulle sal beslis heelhartige diens aan God voorstaan. Trouens, wanneer party wat ’n kwaai aanval van ernstige depressie gehad het nie van huis tot huis kon preek nie, is daar reëlings getref dat die lyer ’n ander Getuie se Bybelstudie bywoon, mits sy toestand dit toegelaat het. Die terneergedrukte persoon het dan daaraan deelgeneem soos sy krag hom toegelaat het.
Jy sal onthou dat die apostel Paulus Christene beveel het om hulle “liggame aan te bied as ’n slagoffer wat lewend, heilig en aan God welgevallig is, ’n heilige diens met julle denkvermoë” (Romeine 12:1, NW). Ja, ’n persoon se denkvermoë moet by die saak betrokke wees. Die Griekse woord (logikos) wat met “denkvermoë” vertaal word, beteken letterlik “logies”. God verwag dus dat ons moet doen wat redelik en logies is. Geen twee persone het dieselfde vermoëns, fisiese uithouvermoë en omstandighede nie. Diens met jou hele siel beteken om alles te doen wat jou siel en krag kan doen, nie iemand anders s’n nie.—Markus 12:30; Kolossense 3:23.
Wanneer ’n persoon siek is, is hy swakker, selfs al wil sy hart en verstand net soveel in God se diens doen as tevore. Almal wat die ewige lewe wil beërf, moet weliswaar ‘al hulle kragte inspan’, maar sulke inspanning word nie altyd gemeet bloot aan die hoeveelheid werk wat ’n mens doen nie. Toe Epafroditus siek was, sou hy nie soveel in die “werk van die Here” kon doen as toe hy gesond was nie. Paulus het hom egter oor die algemeen geprys vir sy inspanning.—Lukas 13:24, NTP; Filippense 2:25-30, NW.
Veranderde omstandighede, soos siekte, kan ons verhinder om alles te doen wat ons hart wil doen. Die vrou van ’n reisende opsiener het byvoorbeeld aan ernstige depressie begin ly. Sy het berig: “Ek was my hele lewe lank baie bedrywig en het my diens aan God terdeë geniet. Maar omtrent nege maande lank het ek onophoudelik die nare gevoel gehad dat ek in die dieptes van die aarde was.” Sy en haar man moes ’n ruk lank ophou om gemeentes te besoek sodat sy doktersbehandeling kon ontvang. Na meer as ’n jaar het sy haar gesondheid dermate herwin sodat hulle weer hierdie veeleisende vorm van diens kon hervat. Sy dien nou weer net so heelhartig soos tevore en skryf: “Ek is weer gelukkig in my diens. Maar wanneer ek te moeg en uitgeput voel, bly ek tuis en rus ek en probeer ek om op my liggaam se tekens ag te slaan. Ek herken nou die simptome en ek is Jehovah so dankbaar dat ek op die weg na herstel is.”
Ja, hoe dankbaar kan ons tog almal wees dat ons ’n God het wat ons gawes en offers aanneem ‘volgens wat ons besit, nie volgens wat ons nie besit nie’. Dit is waar of ons offerandes nou geestelik, stoflik of van ons krag is.—2 Korinthiërs 8:12.
Maar soms moet ’n terneergedrukte persoon gehelp word om sy krag oordeelkundiger te gebruik. Een suster wat aan ernstige depressie gely het, het gesê: “Ek was ongebalanseerd. Ek het nie geweet hoe om ‘Nee’ te sê nie. Wanneer iemand my gevra het om iets te doen, was die antwoord altyd: ‘Ja, goed.’ Ek moes leer om te sê: ‘Nee, ek is jammer. Ek kan werklik nie. Ek sal jou dalk volgende keer kan help.’ Ek moes leer om dit te doen, anders sou ek rasend geword het.” ’n Persoon wat voortdurend probeer om meer te doen as waartoe hy in staat is, kan op die ou end aan ernstige depressie ly. Die wyse man het die volgende raad gegee: “Wees nie alte regverdig en hou jou nie buitengewoon wys nie: waarom sou jy jouself te gronde rig? Wees nie alte goddeloos, en wees nie dwaas nie: waarom sou jy sterwe voor jou tyd?”—Prediker 7:16.
Dit verg groot inspanning om terneergedrukte siele te bemoedig. ’n Mens moet leer hoe om dit te doen deur ag te slaan op die raad in God se Woord. ’n Mens moet ook insig verkry. Maar die resultate is die moeite werd.
Stel jou die vreugde voor wat ’n mens ervaar wanneer jy sien hoedat iemand wat gebroke is—en sy of haar gevoelens met betraande oë beskryf—begin verander. Geleidelik word die trane met ’n vonkeling vervang. ’n Glimlag verhelder nou die gesig. Hoe dankbaar is so ’n persoon tog teenoor ’n liefdevolle simpatieke herder! En, bowenal, hoe bly is ons medelydende hemelse Vader tog, wat “die neerslagtiges opbeur”.—2 Korinthiërs 7:6, NTP.
[Prent op bladsy 10]
Ons moet nie treurige vertroosters wees soos Job se metgeselle was nie
[Prent op bladsy 11]
Dra jy by tot die probleme van terneergedrukte persone, of vertroos jy hulle werklik?
[Prent op bladsy 13]
Die ouere manne kan saam met en vir die persoon bid, en verklarings vermy wat die persoon nog skuldiger sal laat voel