Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 6/15 bl. 26-31
  • Oorlewing of vernietiging tydens die “groot verdrukking”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Oorlewing of vernietiging tydens die “groot verdrukking”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nie al die dode sal opgewek word nie
  • Die finaliteit van Jehovah se oordele
  • Oorlewing of vernietiging
  • Die vlug na die Koninkryk vir oorlewing
  • Die krag van die opstandingshoop
    Aanbid die enigste ware God
  • Wat is die Oordeelsdag?
    Ontwaak!—2010
  • Die enigste oplossing!
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Die Koninkryk en die opstandingshoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 6/15 bl. 26-31

Oorlewing of vernietiging tydens die “groot verdrukking”

“Hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.”—Mattheüs 25:46.

1, 2. Watter mening het party gelug, en waarom is dit gevaarlik en moet dit vermy word?

DIE gedagte dat sekere persone vir ewig vernietig sal word, is vir party weersinwekkend. Dit is waar van universaliste, wat glo dat almal eindelik gered sal word. Reeds in die derde eeu G.J. het die godsdiensskrywer Origenes die gedagte van uiteindelike redding vir almal begin voorstaan. Sonder om so ver te gaan, lug party wat bely dat hulle Christene is vandag die mening dat almal moontlik opgewek sal word, onder meer alle toekomstige slagoffers van die “groot verdrukking”.—Mattheüs 24:21, 22.

2 Diegene wat hierdie gedagte huldig, kom onwetend gevaarlik naby aan die valse Christendom se leerstelling oor ’n “algemene opstanding”. Die groot kerke leer dat die dooie liggame van ALLE afgestorwenes opgewek sal word om met hulle onderskeie siele in die hemel of in die “hel” verenig te word. Maar die Bybel leer nie so ’n “algemene opstanding” soos die valse Christendom dit verstaan nie, en ook nie dat AL die dode, selfs die goddelose, opgewek of weer lewend gemaak sal word nie.

Nie al die dode sal opgewek word nie

3. Hoe het Jesus getoon dat nie almal opgewek sal word nie?

3 Jesus het getoon dat nie almal opgewek sal word nie. Hy het geantwoord op ’n strikvraag van die Sadduseërs, wat geglo het dat niemand opgewek gaan word nie. Hy het gepraat van “dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood” (Lukas 20:35, NTP). Sy woorde impliseer dat nie almal waardig geag sal word om in God se beloofde nuwe stelsel opgewek te word nie.

4. Waaruit sal die dode volgens Openbaring hoofstuk 20 kom, maar watter simboliese plek se dode kom nooit weer uit nie?

4 In Openbaring hoofstuk 20, wat handel oor die opstanding van die “ander dode” wat nie deel het aan die “eerste opstanding” nie, sê die Bybel dat die “see” en die “doderyk [ha’des, Grieks]” die dode daarin gegee het. Dit sê nie dat die dode voortgekom het uit die “poel van vuur” of “die tweede dood” wat elders “Gehenna” (Ge’i Hinnom’, Hebreeus) genoem word nie (Lukas 12:5, NW). Net soos die woord “see” die gesamentlike watergraf aandui van diegene wat in die dieptes omgekom het en wie se liggame nooit gevind is om in die grond begrawe te word nie, verwys die Griekse woord ha’des nie na ’n individuele graf nie, maar eerder na die gemeenskaplike aardse graf van die mensdom. Dit kom ooreen met die woord “Sheol” wat in die Hebreeuse Skrifte aangetref word. Jesus sê: “Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk [ha’des, Grieks] en van die dood” (Openbaring 1:18). Gedurende sy duisendjarige bewind sal hy hierdie “sleutels” gebruik om “dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood” uit die dood te bevry.

5. Wat word deur “Gehenna” afgebeeld?

5 Die Skrif sê andersyds nêrens dat Christus die sleutels van Gehenna het nie. Hy het van Gehenna gepraat en gesê: “Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom [Jehovah] liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel [Gehenna]” (Mattheüs 10:28, vgl. NW). Waar professor Oscar Cullmann oor hierdie gedeelte kommentaar lewer in sy boek Die onsterflikheid van die siel of die opstanding van die dode? (Frans), skryf hy: “psy·khe’ [siel] beteken hier nie die Griekse begrip van siel nie, maar moet eerder met ‘lewe’ vertaal word. . . . W. G. Kümmel . . . skryf ook met goeie rede: Matt. 10:28 ‘probeer nie om die onsterflikheid van die siel te beklemtoon nie, maar onderstreep die feit dat net God nie alleen aardse lewe nie, maar ook hemelse lewe kan vernietig’.” Ja, Gehenna beeld algehele vernietiging af waaruit daar geen opstanding moontlik is nie. The New Bible Commentary (Tweede uitgawe, bladsy 786) definieer Gehenna as “’n beskrywing van ‘die tweede dood’”.—Openbaring 21:8.

6. Toon uit die Bybel dat party voor die duisendjarige Oordeelsdag na Gehenna toe gaan en gevolglik geen hoop het om opgewek te word nie.

6 Die Bybel toon duidelik dat party in die simboliese Gehenna beland voordat die duisendjarige Oordeelsdag begin. Jesus het vir die onberouvolle skrifgeleerdes en Fariseërs gesê dat hulle en hulle nie-Joodse proseliete ‘kandidate vir Gehenna’ of, letterlik, ‘kinders van Gehenna’ is. (Mattheüs 23:15, 33-35, Die Lewende Nuwe Testament; kyk ook Johannes 9:39-41; 15:22-24.) As selfs ’n proseliet van die Fariseërs ’n kandidaat vir Gehenna geword het ‘twee maal erger as hulle self, hoeveel te meer dan nie Judas Iskariot, wat so ’n verskriklike ooreenkoms met hulle aangegaan het om God se Seun te verraai nie! Jesus het dit te kenne gegee toe hy Judas “die seun van die verderf” genoem het (Johannes 17:12). Onberouvolle afvalliges gaan eweneens by die dood nie na Sheol of Hades nie, maar na Gehenna (Hebreërs 6:4-8; 2 Petrus 2:1). Dieselfde is waar van toegewyde Christene wat in moedswillige sonde volhard of diegene wat “terugdeins” (Hebreërs 10:26-31, 38, 39, NTP). Dit is bloot voorbeelde om te toon dat party, selfs in “hierdie bedeling” die sonde gedoen het waarvoor daar geen vergifnis is nie, nie eens in die “toekomstige” bedeling nie. (Mattheüs 12:31, 32, NTP; vergelyk 1 Johannes 5:16.) Hulle sal gevolglik nie opgewek word nie.

Die finaliteit van Jehovah se oordele

7. Watter verdere bewys is daar dat Jehovah party selfs gedurende hierdie bedeling of stelsel finaal veroordeel?

7 Die blote feit dat Jesus gesê het dat “lastering teen die Heilige Gees” “nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige” vergewe sal word nie, behoort enige persone met twyfelgedagtes oor die onderwerp daarvan te oortuig dat Jehovah party selfs gedurende “hierdie bedeling” finaal veroordeel. Hulle is “skuldig aan ’n ewige sonde”. Hulle “kry in ewigheid geen vergifnis nie” (Markus 3:28, 29, Die Katolieke Nuwe Testament). Daar is dus geen nodigheid om hulle op te wek nie.

8. (a) Hoe moet ons dieselfde gesindheid as Jehovah toon? (b) Waarom moet ons Jehovah en sy Seun as Regters vertrou, en watter voorbeeld kan aangehaal word om die finaliteit van goddelike oordele toe te lig?

8 As waardige getuies van ons God Jehovah dreig ons mense nie links en regs met vernietiging nie. Ons deel Jehovah se beskouing. Daar word gesê dat hy “lankmoedig” is omdat hy nie wil “hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9). Ons moet andersyds oppas dat ons nie te emosioneel word en moontlik onwetend Jehovah se hantering van sake kritiseer nie. Jehovah is ’n volmaakte Regter (Deuteronomium 32:4). Dieselfde is waar van Christus Jesus (Johannes 5:30). Wanneer ’n saak deur onvolmaakte menseregters verhoor word en deur die hele regsproses gaan, van die laagste hof reg tot by die hoogste hof van die land, meen mense dat reg geskied het, en kan daar geen verdere appèl aangeteken word nie. Waarom moet ons dan twyfel aan Jehovah se oordele en die finaliteit daarvan?—Psalm 119:75.

9. Hoe toon Mattheüs 10:28 die finaliteit van Jehovah se oordele?

9 Hoewel Jehovah wonderlik “lankmoedig” is omdat hy wil hê “dat almal tot bekering moet kom” weet hy dat nie alle mense hulle sal bekeer nie. Dit is waarom Jesus ons sterk aangeraai het om Hom te vrees “wat die siel [lewe] sowel as die liggaam kan verderwe in die hel [Gehenna, NW]”. Waar die New International Dictionary of New Testament Theology oor hierdie gedeelte kommentaar lewer, sê dit: “Matt. 10:28 leer nie die potensiële onsterflikheid van die siel nie, maar die onherroeplikheid van goddelike oordele oor die onberouvolles.”

10. Wat het Jesus aangaande die “baie” en die “min” gesê, en wat is die betekenis van die Griekse woord wat met “verderf’ vertaal word?

10 In sy Bergpredikasie het Jesus gesê: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf [Grieks, apoleia] lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mattheüs 7:13, 14). Griekse woordeboeke definieer apoleia as “uitwissing”“ewige vernietiging” (Arndt & Gingrich) of “finale vernietiging, nie bloot in die sin van die uitwissing van die fisiese bestaan nie” (Theological Dictionary of the New Testament). Daar bestaan dus geen Bybelse grondslag om sentimenteel te glo dat die mense wat vandag lewe en die grootste “verdrukking” in die wêreld se geskiedenis tegemoetgaan, enige ander keuse as dié tussen “lewe” en “verderf of vernietiging het nie.—Mattheüs 24:21, 22.

Oorlewing of vernietiging

11. (a) Wat word bedoel met die uitdrukking “dag van die HERE”? (b) Watter “groot dag van die HERE” lê nog voor, en wat sal dan gebeur?

11 “Naby is die groot dag van die HERE” (Sefanja 1:14). Daardie woorde was nog nooit onheilspellender nie. Daar was weliswaar ander spesiale tydperke in die geskiedenis toe Jehovah sy oordele voltrek en sy heilige naam verheerlik het, en elk van hulle was ’n “dag van die Here” in die kleine. Ontroue Jerusalem, Babilon en Egipte het sulke ‘dae’ ondervind (Jesaja 2:1, 6-17; 13:1-6; Jeremia 46:1-10). Maar die grootste “dag van die HERE” lê nog voor. Dit is die “dag” wanneer Jehovah se oordeel oor die valse Christendom, die res van Satan se wêreldryk van valse godsdiens en sy hele goddelose stelsel voltrek sal word. Dit is “’n dag van grimmigheid, ’n dag van benoudheid en angs, ’n dag van woestheid en verwoesting”. Die profesie sê voorts: “Ek sal die mense in benoudheid bring . . . omdat hulle teen die HERE gesondig het . . . Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die HERE te red nie, maar deur die vuur van sy ywer sal die hele aarde verteer word; want Hy bring vernietiging, ja, ’n verskriklike, oor die inwoners van die aarde. . . . voordat daar oor julle kom die toorngloed van die Here, voordat oor julle kom die dag van die toorn van die HERE. Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.”—Sefanja 1:15-2:3.

12. Het Sefanja se profesie slegs op Juda betrekking, of het dit ’n breër toepassing?

12 Selfs baie van die Christendom se Bybelnavorsers erken dat hierdie profesie nie net op Juda van toepassing was nie, maar ’n profesie was oor “’n universele oordeel oor die hele wêreld” (Keil-Delitzsch), “die einde van ’n eeu van sonde” (Franse Ecumenical Bible), “die ‘dag’ wanneer universele oordeel aan alle goddeloosheid voltrek sal word en die toorn van God uitgegiet gaan word op almal wat God nie ken nie en wat die evangelie van onse Here Jesus Christus nie gehoorsaam is nie”.—New Bible Commentary, Tweede uitgawe.

13. (a) Wanneer sal die “dag van die HERE” volgens Paulus aanbreek? (b) Wat is “die mens van sonde” en watter oordeel wag op daardie simboliese “mens”?

13 Die apostel Paulus het die “dag van die HERE” geassosieer met die “wederkoms [teenwoordigheid, NW] van onse Here Jesus Christus” (2 Thessalonicense 2:1, 2). Nadat hy gepraat het van die “afval” wat mettertyd “die mens van sonde”—die afvallige klas geestelikes van die Christendom se kerke—voortgebring het, voeg Paulus by: “Dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thessalonicense 2:3, 8). Die afvallige geestelikes sal reg aan die begin van die “groot verdrukking” “verdelg” en ‘tot niet gemaak’ word (Openbaring 17:1-5, 16, 17). Daardie klas word ook “die seun van die verderf [apoleia]” genoem, wat beteken dat hulle afstuur op “ewige vernietiging” in Gehenna, net soos hulle ewe-knieë in Jesus se dag.—2 Thessalonicense 2:3; Mattheüs 23:33.

14. Waarom sal baie ander “verlore gaan” en watter keuse het die hele mensdom gevolglik?

14 Maar wat van al die mense wat die geestelikes en hulle “verleiding van ongeregtigheid” gevolg het? Die apostel Paulus praat van hulle as “die wat verlore gaan [letterlik: “hulself vernietig”], [as vergelding] omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thessalonicense 2:10-12, vgl. NW). Die wêreld het vandag ’n moeras van goddeloosheid, onsedelikheid en verdorwenheid geword. Die meerderheid van die mensdom ‘het behae in die ongeregtigheid’ en het ‘die liefde tot die waarheid nie aangeneem om gered te word nie’. (Vergelyk Esegiel 9:4-7.) Hulle sal gevolglik “geoordeel” word en sal verlore gaan “as vergelding”. Die keuse tydens die komende “groot verdrukking” is baie duidelik. Dit is òf oorlewing òf vernietiging.

Die vlug na die Koninkryk vir oorlewing

15. Hoe toon die gelykenis van die “skape” en die “bokke” die keuse vir alle nasies van die mensdom?

15 Ja, “naby is die groot dag van die HERE, naby en baie haastig” (Sefanja 1:14). Ons lewe in ’n oordeelstyd wanneer “al die nasies” voor Christus Jesus versamel word. Die mense van al daardie nasies word in twee klasse verdeel, die “skape” en die “bokke”. Die eindresultaat word duidelik gestel: “ewige lewe” vir die “skape” en “ewige straf vir die “bokke”.—Mattheüs 25:31-33, 46.

16, 17. (a) Hoe toon 2 Thessalonicense 1:6-9 die finaliteit van Jehovah se oordeel wat tydens die “groot verdrukking” voltrek word? (b) Wie benewens vervolgers van God se volk sal vernietig word, en waarom?

16 Die finaliteit van Jehovah se oordeel blyk weer eens wanneer Paulus skryf dat “dit reg is by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te vergelde, en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring [apokalypsis] van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf.”—2 Thessalonicense 1:6-9.

17 Let daarop dat die wat “’n ewige verderf” as “straf ondergaan” nie net diegene is wat God se volk “verdruk” nie, maar ook “die wat God nie ken nie” en “die wat aan die evangelie . . . nie gehoorsaam is nie”. In sy brief aan die Romeine verduidelik Paulus waarom “die wat God nie ken nie” “geen verontskuldiging het nie” en waarom hulle geoordeel gaan word (Romeine 1:18-20; 2:5-16). Die ‘engel wat in die middel van die lug vlieg’ en waarvan Openbaring hoofstuk 14 melding maak, sê aan al “die bewoners van die aarde”: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom.” Mense word dus aangespoor: “Aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see . . . gemaak het.” Diegene wat versuim om dit te doen, en almal wat op Satan se politieke “dier” vertrou eerder as op God se Messiaanse koninkryk, sal saam met daardie “dier” in “die groot parskuip van die grimmigheid van God” vernietig word.—Openbaring 14:6, 7, 9, 10, 14-20; 19:11-21.

18. (a) Wat moet almal wat hoop om die “groot verdrukking” te oorlewe nou doen? (b) Wie sal volgens die Bybel die “groot verdrukking” oorlewe, en watter vooruitsig het hulle?

18 Almal wat “verborge [wil] bly op die dag van die toorn van die HERE” moet ‘geregtigheid en ootmoedigheid soek’ en ‘Jehovah se ordening onderhou’ eerder as om dit te kritiseer (Sefanja 2:2, 3). Almal wat hoop om deur Jehovah se aangestelde Regter as “skape” geklassifiseer te word sodat hulle tydens die “groot verdrukking” gespaar kan word, moet toon dat hulle “regverdiges” is wat Christus se gesalfde “broeders” wat die “getroue en verstandige dienskneg”-klas uitmaak, daadwerklik bystaan en ondersteun (Mattheüs 25:33, 40, 46; 24:45-47). Die enigstes aan wie die Bybel die hoop uithou om die “groot verdrukking” te oorleef, is Christus se “broeders” of “uitverkorenes” en die “groot menigte” “skape” wat sonder onderbreking ‘vir God heilige diens verrig’ en voortdurend die volgende sê sodat almal dit kan hoor: “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” As gedoopte dissipels wat uit “al die nasies” kom, word hierdie “groot menigte” deur die Lam, Christus Jesus, opgepas, en hy lei hulle na “lewende waterfonteine” wat nooit sal opdroog nie. “En God sal alle trane van hulle oë afvee.”—Mattheüs 24:21, 22; 25:34; 28:19, 20; Openbaring 7:9-17.

VRAE TER HERSIENING

◻ Wat bedoel die Christendom se kerke met die “algemene opstanding” van die dode, maar is hierdie leerstelling Bybels?

◻ Watter tekste toon dat nie al die dode opgewek sal word nie?

◻ Wat is “Gehenna”?

◻ Wat toon dat Jehovah party selfs in die teenswoordige stelsel finaal veroordeel?

◻ Wat sal in die “dag van die Here” gebeur, en sal diegene wat tereggestel word, opgewek word?

◻ Wat moet mense doen om die “groot verdrukking” te oorleef, en watter werk is gevolglik dringender as ooit?

[Prent op bladsy 27]

Judas, “die seun van die verderf” sal onder diegene wees wat nie opgewek word nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel