Die Koninkryk en die opstandingshoop
“Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk.”—2 Timotheüs 4:1.
1. Waarom is die opstandingshoop so belangrik in die lig van die aantal mense wat al gelewe het, maar watter vrae ontstaan?
DAAR is ramings van hoeveel mense al ooit op die aarde gelewe het wat wissel van 14 miljard tot 20 miljard. Ongeag wat die regte syfer is, twee dinge is seker: (1) Jehovah God weet presies hoeveel mense al ooit gelewe het, en hy het die mag om lewend te maak wie hy wil; (2) die huidige ongeëwenaarde wêreldbevolking van nagenoeg 4,4 miljard mense is klaarblyklik slegs ’n klein breukdeel van die aantal mense wat al ooit gelewe het. Die onvermydelike gevolgtrekking is: Verreweg die grootste aantal mense is dood en enige hoop op toekomstige lewe hang van die opstanding af. Maar waarom het hulle gesterf? En watter hoop is daar dat hulle ooit weer sal lewe?
2. Wat het Petrus omtrent Christus se opstanding en Sy verband met die opstandingshoop gesê?
2 In die jaar 36 G.J. het die apostel Petrus gesê: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen. Hom welgevallig is. . . . Hom [Jesus Christus] het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat deur God vantevore verkies is, aan ons wat met Hom saam geëet en gedrink het nadat Hy uit die dode opgestaan het. En Hy het ons bevel gegee om aan die volk te verkondig en met krag te betuig dat dit Hy is wat deur God bestem is as Regter van lewende en dode. Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang.”—Handelinge 10:34-43.
3. (a) Waarom het soveel duisendmiljoene mense gesterf? (b) Verduidelik hoe Christus se dood en opstanding die grondslag vir die opstandingshoop is.
3 Ja, die rede vir die ophoping van duisendmiljoene dooie mense in die graf is sonde, sonde wat van die eerste man Adam geërf is. “Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring . . . Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer” (Romeine 5:12, 17, NTP). Maar Christus het gesterf en is “lewend gemaak in die gees” (1 Petrus 3:18, NW). Deur geloof in sy vergote bloed kan “elkeen” onder die “lewende en dode” “vergifnis van sondes” ontvang en van die tirannieke heerskappy van Koning Dood bevry word. Hiervoor sal die grootste deel van die mensdom ’n opstanding nodig hê. Paulus skryf dus: “Aangesien die dood deur ’n mens [Adam] is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens [Jesus]” (1 Korinthiërs 15:21). Christus het dit beaam deur vir Martha te sê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (Johannes 11:25). Christus se dood en opstanding is die grondslag vir die opstandingshoop.
Die “eerste opstanding”
4, 5. (a) Wat het Johannes aangaande die “eerste opstanding” geskryf, en watter mag en amp ontvang diegene wat aan hierdie opstanding deel het? (b) Wat het Jesus aan die 11 getroue apostels oor hulle toekomstige amp gesê?
4 Die Bybel toon dat Christus die “lewende en dode” nie alleen sal oordeel nie. Die apostel Johannes het ’n geïnspireerde gesig soos volg beskryf: “En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier [Satan se politieke organisasie] en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”—Openbaring 20:4, 6.
5 Die 11 lojale apostels was onder die eerste van hierdie toekomstige konings en regters wat as getroue getuies van Jesus en sy Vader, Jehovah, gesterf het. In Lukas 22:28-30 sê Jesus dat hulle saam met hom in sy koninkryk op trone sal sit “om die twaalf stamme van Israel [wat nie priesters was nie en dus die res van die mensdom afbeeld] te oordeel”.
6. Hoeveel mederegters sal Christus bystaan wanneer hy die lewende en die dode oordeel, en watter verandering ondergaan hulle wanneer hulle opgewek word?
6 Ander tekste toon dat hierdie unieke voorreg om medekonings en -regters van Christus in sy koninkryk te wees beperk is tot ’n “klein kuddetjie” van 144 000 getroue Christene wat “van die aarde vrygekoop is” wat “gekoop is uit die mense” (Lukas 12:32; Openbaring 14:1-4). Hulle gee die normale en natuurlike hoop om vir ewig op aarde te lewe prys om “met Hom [Christus] een [te] wees in sy opstanding” (Romeine 6:5, NTP). Van sulke persone het Paulus ook geskryf: “So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; . . . ’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. . . . vlees en bloed [kan] die koninkryk van God nie . . . beërwe nie; . . . en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.”—1 Korinthiërs 15:42-53.
7. Wat sê ’n woordeboek aangaande onsterflikheid, en wat het Paulus en Petrus omtrent die hemelse hoop geskryf?
7 Dit is interessant dat The New International Dictionary of New Testament Theology die onskriftuurlike gedagte dat elkeen ’n onsterflike siel het, weerspreek deur te sê: “Onsterflikheid is nie iets wat alle mense op die oomblik besit nie, maar iets wat Christene in die toekoms sal verkry. Volgens 1 Kor. 15:42, 52 e.v. is dit eers na die opstandings-transformasie dat gelowiges met onsterflikheid ‘beklee’ word. . . . daar kan geen onsterflikheid sonder ’n voorafgaande opstanding wees nie.” Nie alle Christene ontvang in werklikheid onsterflikheid as prys nie, maar slegs diegene wat deel het aan “die vroeër opstanding uit die dood”. Vir sulkes word “’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis . . . in die hemele bewaar”.—Kyk Romeine 8:20-22; Filippense 3:10, 11, NW; 1 Petrus 1:3, 4.
Die tyd vir die “eerste opstanding”
8. (a) Wanneer sou die “eerste opstanding” volgens die Skrif plaasvind? (b) Verduidelik 1 Thessalonicense 4:14-17 en 1 Korinthiërs 15:51, 52.
8 Die Skrif verbind hierdie “eerste opstanding” met Christus se “teenwoordigheid [Grieks, parousia]” (1 Korinthiërs 15:23, NW). Die apostel Paulus skryf: “Die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het [van die eerste eeu af tot met Christus se koms na die geestelike tempel in 1918], sal eerste opstaan.” Paulus sê ook dat die gesalfde Christene “wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms [teenwoordigheid, NW; Grieks, parousia] van die Here” en wat gevolglik gedurende die parousia sterf, dadelik opgewek en “in wolke weggevoer [sal] word die Here tegemoet in die lug” (1 Thessalonicense 4:14-17). Hulle hoef nie in die graf te “slaap” terwyl hulle op die opstanding wag nie. By hulle dood word hulle “in ’n oomblik, in ’n oogwink” “verander”.—1 Korinthiërs 15:51, 52.
9. (a) Wanneer het Christus se onsigbare teenwoordigheid begin? (b) Wat moes gedurende sy teenwoordigheid plaasvind, en waarom kan gesalfde Christene wat gedurende Christus se teenwoordigheid sterf as “salig” gereken word?
9 Gebeure ter vervulling van Bybelprofesieë toon dat Christus se teenwoordigheid of parousia in die betekenisvolle jaar 1914 begin het (Mattheüs 24:3, 7-14). Toe het “die koninkryk van die wêreld die koninkryk van onse Heer [Jehovah] en van sy Christus geword”. Na hierdie kardinale gebeurtenis het “die tyd van die dode om geoordeel te word” aangebreek. Hierdie beoordeling en beloning van verdienstelikes het begin met diegene wat deel gehad het aan die “eerste opstanding” vanaf Christus se koms na die tempel (Openbaring 11:15-18, vgl. NW). Die gesalfde Christene wat getrou sterf na die oprigting van God se koninkryk word “salig” of “gelukkig” genoem. Waarom? Omdat hulle oombliklik opgewek word sodat hulle dadelik hulle nuwe pligte saam met Christus Jesus in die hemel kan waarneem.—Openbaring 14:13.
10. Waarom word die opstanding van die 144 000 die “eerste opstanding” genoem?
10 Die opstanding van al 144 000 gesalfde Christene wat geroepe is om saam met Christus in die hemel te heers, word gepas “die eerste opstanding” genoem. Dit is die geval omdat dit die aardse opstanding van die mensdom oor die algemeen voorafgaan en die 144 000 “eerstelinge vir God en die Lam” word (Openbaring 14:1, 4; Jakobus 1:18). Dit maak hulle belangrik, aangesien geen ander mense sonder hierdie 144 000 priesters, konings en regters “volmaak” kan word nie (Hebreërs 11:40b; Openbaring 22:1, 2). Dit is bowendien beter as enige aardse opstanding daar die 144 000 deur ‘die gelykvormigheid aan Christus se opstanding’ opgewek word tot onverderflike, onsterflike lewe as geesseuns van God.—Romeine 6:5.
Die aardse opstanding
11. Watter verdere opstanding word in Openbaring hoofstuk 20 gemeld?
11 As daar ’n “eerste opstanding” is, moet daar logies ’n latere opstanding wees. Waar die apostel Johannes beskryf wat sal gebeur gedurende die duisendjarige oordeelsdag wat vroeër in dieselfde hoofstuk gemeld is, het hy geskryf:
“En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.”—Openbaring 20:12.
12, 13. (a) Waarom is dit onlogies om te sê dat die ander dode eers na die millennium opgewek sal word? (b) Wat is dan die betekenis van die uitdrukking “herlewe” in Openbaring 20:5? (c) Hoe sal daar bepaal word wie se name uiteindelik in “die boek van die lewe” opgeskryf word?
12 Hierdie “dode” is dieselfde as “die ander dode” wat in vers vyf van dieselfde hoofstuk gemeld word en wat “nie herlewe [het] totdat die duisend jaar voleindig was nie”. Dit kan nie beteken dat hulle eers na die duisendjarige oordeelsdag opgewek word nie, want diegene wat deel het aan die “eerste opstanding” ontvang “die oordeel” en sal “die duisend jaar lank” saam met Christus “priesters” wees en “as konings regeer” (Openbaring 20:4-6). Oor wie sal hulle oordele vel en as konings heers, en ten behoewe van wie sal hulle as priesters optree, as “die ander dode” eers aan die einde van die duisend jaar opgewek word?
13 Die uitdrukking “herlewe” moet dus verwys na die situasie aan die einde van die duisendjarige Oordeelsdag. Dit beteken dat hierdie persone “herlewe” in die sin dat hulle eindelik menslike volmaaktheid bereik. Hulle sal in dieselfde volmaakte toestand wees as wat Adam en Eva in die tuin van Eden was. Hoe sal Jehovah dan bepaal wie se name in “die boek van die lewe” geskryf moet word? Deur middel van ’n laaste toets vir die mensdom (Openbaring 20:7-10, 12, 15). Diegene wat gedurende die laaste toets aan God getrou bly, sal deur Jehovah self ‘regverdig verklaar word’ en ‘die vryheid wat hoort by die heerlikheid van die kinders van God’ op aarde ontvang (Romeine 8:21, 33, NTP). Anders as Adam, wat nie in die toets geslaag het nie en wat deur gerubs, wat deur God gestuur is, verhinder is om die “boom van die lewe” te bereik, sal hulle die goddelike waarborg van ewige lewe ontvang.—Genesis 2:9; 3:22-24.
14. In watter opsigte sal die opstanding van mense op aarde gedurende die millennium ’n opstanding tot beter geleenthede wees?
14 Aangesien al “die ander dode” wat gedurende Christus se duisendjarige bewind opgewek word aldus die geleentheid sal hê om te bewys dat hulle name verdien om permanent in Jehovah se “boek van die lewe” geskryf te word en om vir ewig onder God se koninkryk te lewe, is hulle opstanding ’n opstanding tot beter geleenthede as dié van die paar mense wat in Bybeltye opgewek is maar weer gesterf het (1 Konings 17:17-24; 2 Konings 4:17-37; 13:20, 21; Mattheüs 9:18, 23-26; Lukas 7:11-15; Johannes 11:38-44; Handelinge 9:36-41; 20:7-12). Dit was om ’n “beter opstanding” onder die koninkryk of “stad” van die Messias te verkry dat manne en vroue van die ou tyd tot die dood toe aan Jehovah getrou gebly het.—Hebreërs 11:10, 13, 14, 35.
Die opstanding en die oordeel
15, 16. (a) Moet ons die Oordeelsdag vrees? Verduidelik. (b) Wie sal die oordele vel, en op watter grondslag?
15 Ons het gesien dat “die ander dode” gedurende die millennium opgewek word om “volgens hulle werke” van daardie tyd geoordeel te word (Openbaring 20:12). Die aaklige gedagte van ’n oordeelsdag wanneer almal wat ooit gelewe het verantwoording moet doen vir hulle sondes van die verlede is nie op die Bybel gebaseer nie. Die verband toon dat goddelike “boeke” wetboeke, geopen sal word en dat die verrese dode “geoordeel [sal word] na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” dit wil sê, volgens hulle gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan sulke goddelike instruksies.
16 Wie sal die oordele vel? Die apostel Paulus het geskryf dat Christus Jesus “die lewende en die dode sal oordeel” en het in dieselfde asem gepraat van Christus se “verskyning en sy koninkryk” (2 Timotheüs 4:1). Gedurende Christus se duisendjarige koninkryk sal 144 000 mederegters saam met hom op “trone” sit (Lukas 22:28-30; Openbaring 20:4, 6). Paulus het geskryf: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie?”—1 Korinthiërs 6:2.
17, 18. (a) Bestaan daar enige teenstrydigheid tussen Johannes 5:29 en Openbaring 20:12? Verduidelik. (b) In watter sin sal party “uitgaan . . . tot die opstanding van die veroordeling”?
17 Met verwysing na die dinge wat sal plaasvind gedurende sy duisendjarige bewind, wat ook ’n duisendjarige Oordeelsdag is, het Jesus gesê: “Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee, . . . Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.”—Johannes 5:22-29.
18 Is dit ’n weerspreking van Openbaring 20:12, waar ons lees dat die dode “geoordeel [sal word] na wat in die boeke geskryf is” boeke wat eers gedurende die millennium “geopen” sal word? Glad nie. Jesus se woorde in Johannes hoofstuk 5 moet verstaan word in die lig van sy latere openbaring aan Johannes (Openbaring 1:1). “Die wat goed gedoen het” sowel as “die wat kwaad gedoen het” sal onder “die dode” wees wat geoordeel sal word “elkeen volgens sy werke” na hulle opstanding (Openbaring 20:13). Toe Jesus ’n teenstelling getref het tussen “die opstanding van die lewe” en “die opstanding van die veroordeling [Grieks, a·na’sta·sis kri’seos]” het hy verwys na die eindresultaat van sulke opstandings. Thayer’s Greek-English Lexicon definieer a·na’sta·sis kri’seos as opstanding “gevolg deur veroordeling”. Die persoon word nie opgewek om summier veroordeel te word nie, maar sy opstanding sal gevolg word deur veroordeling as hy weier om te doen “wat in die boeke geskryf is” met die gevolg dat sy naam “nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie”. Hy sal dan “die tweede dood” sterf met geen hoop op ’n opstanding nie.—Openbaring 20:14, 15; 21:8.
19. en voetnoot. (a) Hoe gee ’n Franse Bybelvertaling Johannes 5:29 weer, en slegs wanneer sal dit duidelik word dat ’n opstanding ’n “opstanding van die lewe” of “van die veroordeling” was? (b) Kom die “regverdiges” en die “onregverdiges” wat in Handelinge 24:15 gemeld word onderskeidelik uit tot ’n “opstanding van die lewe” en ’n “opstanding van die veroordeling”? Verduidelik.
19 Dit is interessant om te sien dat die Franse Ecumenical Translation (wat deur ’n groep Katolieke sowel as Protestantse geleerdes uitgegee is) Johannes 5:29 soos volg weergee: “Die wat goed gedoen het, sal uitkom tot die opstanding wat tot die lewe lei; diegene wat kwaad gedoen het, tot die opstanding wat tot veroordeling lei.” Slegs wanneer die eindresultaat van ’n persoon se opstanding duidelik is, sal ’n mens weet of sy opstanding ’n “opstanding van die lewe” of ’n “opstanding van die veroordeling” was.a
20. (a) Wie sal die “water van die lewe” moet drink, en waarom? (b) Watter vraag sal in die volgende artikel bespreek word?
20 Die verrese dode sowel as die “groot menigte” oorlewendes van die “groot verdrukking” wat voor die deur is, moet die “water van die lewe” drink, dit wil sê, Christus se losprysoffer en al die ander voorsienings van Jehovah om die mensdom van sonde en die dood te verlos, dankbaar aanneem (Openbaring 7:9, 10, 14, 17; 22:1, 2). Hierdie voorsienings sal gedurende die duisendjarige Koninkryk deur Christus en sy 144 000 priesterlike mederegters aangewend word. Maar sal al die dode terugkom om geoordeel te word, die slagoffers van die naderende “groot verdrukking” inkluis? Die volgende artikel sal daarop ingaan.
[Voetnoot]
a Diegene wat opgewek word tot ’n “opstanding van die lewe” of ’n “opstanding van die veroordeling” moet nie verwar word met die “regverdiges” en die “onregverdiges” wat Paulus in Handelinge 24:15 gemeld het nie. Paulus praat daar van die reputasie van persone wanneer hulle opgewek word, op grond van hulle gedrag voor hulle dood. Die “regverdiges” sal op hulle regverdige weg moet voortgaan deur gehoorsaam te wees aan die dinge wat in die “boeke” geskryf staan. Anders kan hulle opstanding ’n “opstanding van die veroordeling” wees. Omgekeerd, as enige “onregverdiges” berouvol is. Christus se losprysoffer aanneem en gehoorsaam is aan die dinge wat in die “boeke” geskryf staan, kan hulle opstanding ’n “opstanding van die lewe” wees.
VRAE TER HERSIENING
◻ ln watter sin is Christus “die opstanding en die lewe”?
◻ Wie is die “eerste opstanding” deelagtig, en met watter take sal hulle die koning Jesus Christus bystaan?
◻ Waarom is die uitdrukking “eerste opstanding” gepas?
◻ ln watter sin “herlewe” “die ander dode” na die millennium, en in watter opsig is hulle opstanding beter as dié van persone wat in Bybeltye tot lewe op aarde opgewek is?
◻ Op grond waarvan sal die verrese dode geoordeel word, en wat sal hulle nodig hê om van sonde en die dood verlos te word?
[Lokteks op bladsy 21]
“Onsterflikheid is nie iets wat alle mense op die oomblik besit nie, maar iets wat Christene in die toekoms sal verkry. . . . daar kan geen onsterflikheid sonder ’n voorafgaande opstanding wees nie.”—The New International Dictionary of New Testament Theology
[Prent op bladsy 23]
Die Bybel toon dat baie ’n opstanding tot lewe op aarde sal ontvang